Geleenthede moet in verval van Weste gevind word

7649839_f520Die agteruitgang van die Westerse beskawing word toenemend duidelik. Massa-immigrasie van mense uit Derde Wêreldlande skep multikulturele samelewings regoor Europa wat tot kultuur-, taal- en intergeloofkonflik aanleiding gee.

Die bevolkingsaanwas in Wes-Europa is reeds vir ‘n geruime tyd onder die vervangingskoers. Wanneer jy vir Europeërs vra waarom hulle so min kinders kry, is die antwoord baie keer anders as wat ‘n mens sou verwag. Ja vroue wat professionele loopbane volg en hoë lewenskostes speel beide ‘n rol, maar die antwoord is toenemend eerder ‘n vrees oor die toekoms.

Die finansiële krisis wat reeds sedert 2007 in die VSA en Europa woed maak dinge nie juis makliker nie. Die meeste Westerse lande het enorme staatskuld met geen vooruitsig om dit vinnig af te betaal nie. Massa-immigrasie uit die Derde Wêreld plaas groot druk op staatsbegrotings en veral welsynsdienste. Die Nederlandse minister van Buitelandse Sake, Frans Timmermans, het ook onlangs beklemtoon dat Westerse lande in die toekoms weer meer geld aan verdediging sal moet spandeer wat verdere druk op begrotings sal plaas.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het byna die hele wêreld, maar in besonder die Weste daarin geslaag om ‘n omgewing van vrede en sekerheid vir burgers te verseker. Dit het aanleiding gegee tot hoë vlakke van ontwikkeling en ekonomiese groei in Europa, die VSA en Australasië gedurende die tweede helfde van die twintigste eeu.

Die wêreldgeskiedenis word breedweg gekenmerk deur tye van vrede en voorspoed en tye van onrus, agteruitgang en verval. Stabiliteit in sekere wêrelddele is gekenmerk deur die bestaan van sterk ryke en in baie gevalle sterk leiers. Alexander die Grote is ‘n goeie voorbeeld van ‘n leier wat ‘n sterk, stabiele ryk gebou het. Na sy dood het die ryk in duie gestort en het chaos en oorlog ontstaan. Die Romeinse Ryk en later die Britse Ryk verteenwoordig ook tye van stabiliteit en vooruitgang.

Die afgelope ses dekades was die Westerse Wêreld onder leiding van veral die VSA ‘n bron van stabiliteit. Dit het tot ‘n tydperk van redelike vrede in meeste wêrelddele aanleiding gegee. Ekonomieë het ontwikkel en miljarde mense is uit absolute armoede geneem.

Vandag lyk dit egter of die tydperk van vrede en voorspoed besig is om tot ‘n einde te kom. Die oorlog in Oekraïne vererger eerder as dat ‘n oplossing gevind word. Daarmee saam kom die verhoogde spanning tussen die VSA en Europa aan die eenkant en Rusland aan die anderkant. In die Ooste is spanning tussen China en Japan aan die opbou. Die Midde-Ooste verval toenemend in chaos en selfs Turkye, vir dekades reeds bekend as ‘n stabiele pro-Westerse Moslemland, word toenemend in die oorloë in Sirië en Irak betrek.

Die verval van Westerse mag is onvermydelik. Magsverhoudinge tussen state sal noodgedwonge binne die volgende paar jaar drasties moet verander. Die vraag is of nuwe wêreldmagte sal ontwikkel. Rusland het duidelik aspirasies. So ook China. Dit bied groot bedreigings vir Westerse volkere, maar ook geleenthede. As Afrikaners hulself goed organiseer en die regte vriende maak kan ons die geo-politieke spanning en verandering wat op pad is dalk net tot ons voordeel aanwend.

Daar is nie iets soos godsdienstige neutraliteit nie

kruisOnlangs was daar nuus oor ‘n organisasie met die Orwelliaanse naam “Organsiasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie”. Genoemde organisasie het opsleg gemaak omdat hulle namens ‘n ouer van Oudtshoorn verskeie skole met hofsake wil dwing om die Christelike godsdiens, wat sy uitdrukking vind in open met gebed, die vertoning van die kruissimbool en godsdiensonderwys, te verwyder.

Eintlik moes die naam gewees het “Organisasie vir radikale sekularisme”. Die afskaffing van die Christelike godsdiens is juis die teendeel van godsdiensonderrig en demokrasie is ‘n woord wat alles vir almal kan wees en daarom sy oorspronklike betekenis verloor het. Die enigste konsensus oor demokrasie is dat dit vaagweg goed is en niemand daarteen kan wees nie. Om die rede noem selfs diktatorskappe hulleself “demokraties”. Die doel van die organisasie is eintlik om die bietjie Christelike godsdiens wat Suid-Afrika nog in die openbaar het, tot niet te maak in die naam van “godsdiensneutraliteit”.

Soos gewoonlik, wanneer ‘n radikale ideologie nagestreef word, stel die een wat krap waar dit nie jeuk nie, homself daar as die een wat veg vir die belange van die arme onderdruktes. Een persoon wat kamstig te na gekom word deur die Christelike godsdiens, soos ‘n Moslemkind of die kind van ‘n ateïs, word gewoonlik voorgestoot om daarmee die hele skool “godsdiensneutraal” te maak. Terwyl die ateïste vir Christene nie die uitlewing van hulle godsdiens gun nie, ook nie in skole nie, waar die oorweldigende meerderheid skoliere en hulle ouers Christene is, speel hulle die rol van die onderdrukte slagoffer wat deur gebed en kruise geboelie word. In die huidige, reeds sterk sekulêre Suid-Afrika kan jy mos met woorde soos “diskriminasie” en “onverdraagsaamheid” enige argument wen en is die meningsvormers en invloedrykes gewoonlik instinktief aan jou kant.

Die hele argument van die ateïste dat instellings soos skole “neutraal” moet wees is in elk geval ‘n drogredenasie. Niemand is neutraal wat godsdiens, waardes en oortuigings betref nie, allermins die ateïste. Om godsdiens in skole te beoefen is ‘’n stelling, maar daarom nie te beoefen is ook ‘’n stelling en allermins “neutraal”. Ateïsme is eintlik ook ‘n soort godsdiens, wel sonder God, maar met afgode soos “die mens”, “wêreldvrede”, “’n beter samelewing” ens. in die plek daarvan.

Waarheen samelewings afstuur wat God uit die openbare sfeer wil verwyder en kamstig neutraal is, is orals te sien, sowel in die geskiedenis asook in die hede. Waar God uit ‘n samelewing verwyder word en mense nie meer God mag bely en eer nie, word die leemte met ideologiese ywer gevul wat rampspoedig is. Kyk maar na die Franse Revolusie, die ou Sowjet-Unie, Kuba, Noord-Korea, ens.

Natuurlik kan en moet godsdiens nie in mense se kele afgedwing word nie, soos dikwels die beskuldiging van die ateïste teenoor Christelike instellings is. Wat hulle daarby egter geriefshalwe verswyg, is dat die bekendstelling aan die Christelike geloof jou nie dwing om ‘n Christen te word nie. Dis in elk geval onmoontlik om tot `’n geloof gedwing te word. Die verwydering van God uit die skole en uit die openbaar dwing jou egter om God te verswyg en om te buig voor die afgod van sekularisme.

Ateïste, Moslems of wie ook al wat ongemaklik voel met die Christelike etos van ‘n skool het die vryheid om hulle eie skole te stig (al kry ek die kinders jammer wat daar moet skoolgaan), maar dit is nie vir hulle genoeg nie. Dit gaan vir hulle nie oor godsdiensvryheid nie, dit gaan daaroor om hulle ateïstiese sienings op almal af te dwing onder die dekmantel van “neutraliteit”.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

‘n Heilige fontein

Toe ek ‘n week gelede in Holland besluit het om my tot ‘n weeklikse blogbydrae te verbind, was ek net mooi drie weke weg van die huis. Dit was skynbaar lank genoeg om te vergeet hoe dit in Orania met mens gaan. Ek het in my geestesoog gesien hoe ek voortaan op Vrydagoggende, nadat Anje en die kinders skool toe is, ‘n laat ontbyt by die Oewer gaan eet en oor die water sit en tuur terwyl die storie homself as’t ware skrywe. Die werklikheid? Dit was vandag weer Vrydag – en ek sit in Pretoria!

Op die lang pad Pretoria toe het ek my nog tussen twee wêrelde gevoel – bietjie soos op die brug oor die Bospheros wat Europa en Asië verbind. Op ‘n verhewe snelweg deur die Noord-Vrystaatse vlaktes het ek aan die Afsluitdyk waarop mens oorry Friesland toe gedink. Dit is meer as 30km  lank en het die Noordsee van die Suidsee geskei en van die Suidsee die Ijselmeer gemaak. Só is die eeueoue  oorstromings van stede en plase hok geslaan en nuwe droogleggings moontlik gemaak. Dat ‘n land darem soveel water en so min grond kan hê!

Beelde van brûe het by my opgekom. Die bruggie oor ‘n grag waarop die Pelgrimvaders met skuite hawe toe is om met die Mayflower Amerika toe te vaar en ‘n nuwe begin te gaan maak. Ek het nooit geweet dat hulle Holland eers beproef het nie. En ‘n plat brug wat ons heen en weer gekruis het, byna sonder om dit agter te kom. Een aand toe ons daaroor stap, vra ‘n Nederlandse vriend of ons geweet het dit was vroeër die westelike grens van die Romeinse Ryk. Nouja, ons het nie.

“Breuke en brûe.” Dis hoe ek meer as een maal aan Nederlanders en Vlaminge ons hedendaagse verhouding tot ons Suid-Afrikaanse en Afrikanergeskiedenis beskryf het. Natuurlik “is ons nog ons” en wil ons die toekoms as Afrikaners tegemoet gaan, maar ons het voor enorme breuke te staan gekom: staatkundig het ons ons vryheid verloor; kultureel is die band met ons stamlande verbreek; institusioneel is ons van die instellings wat ons identiteit moet oordra, vervreem; simbolies is ons mense tuisteloos, uitgeskop, nie die minste nie deur pleknaamveranderings.

Tuisteloos – en vandag beraadslaag ons nogeens oor die Afrikaanse universiteitswese.

*

14-10-3Foto1Ek ry van Kleinfontein se kant af stad toe tussen rante deur waar ‘n skoolmaat van my se pa destyds ‘n plasie gehad het. Langs die snelweg let ek weer iets op wat iemand onlangs aan my verduidelik het: ‘n plek waar daar altyd ‘n paar karre staan. Dit is heeltemaal ongebruiklik op ‘n snelweg, dalk selfs onwettig, maar dit is só, daar staan altyd karre. Dit lyk gevestig van baie gebruik en dit word dalk versorg, maar daar is geen bordjies op nie en geen af- of oprybane nie. Eintlik nogal gevaarlik.

“Hier is ‘n Pedi-stam se oorsprongsfontein” het my broer Willem verklaar toe ons noudiedag daar verbyry. “Jy sal altyd mense sien wat stop om water te kom kry.” Op die ingewing van die oomblik stop ek ook en kyk rond. Van die kar wat daar staan, sien ek niemand nie, maar tien tellings later stop daar ‘n bakkie met ‘n middeljarige man en kleuterseuntjie. Ons groet en ek beny, soos dikwels tevore, my oorlede pa sy vloeiende Sepedi. Ons praat Engels en hy vertel van ‘n fontein met gesonde water daar naby, hy sal my wys.

Ons klim deur die draad – een van daardie “ja-nee verskynsels” van ons mense: span ‘n draad wat niemand uithou nie, maar darem wys “dis my grond dié” – en hy vertel my dat hy die fontein as ‘n kind leer ken het en dat die water regdeur die jaar eenvoudig uit die grond uitborrel, dit was nog nooit droog nie. “Dit is wonderlike water, dit maak mens sterk”, sê hy. Vyftig treë verder lê die fontein daar, sonder pretensie, hoewel met ‘n paar vreemde munte in die water. Hy sê dat party mense geld daar ingooi, “maar ons doen dit nie. Ons bid net – as ek hom sal verskoon” en hy en die seun draai hulle rug op my. Ek groet maar en stap terug.

*

‘n Universiteit, sê Danie Goosen later, is net ‘n universiteit in enige betekenisvolle sin van die woord as dit vir studente hulle plek in die groot geheel van dinge kan aanwys. Nie die vlak van spesialisering, die toegang tot beroepsgeleenthede, die getal studente, die regte ideologie of die klimop teen die hoofgebou maak van ‘n na-skoolse opleidingsinstelling ‘n universiteit nie, hoewel goeie universiteite dit en meer kan insluit. Maar as dit alles nie deur ‘n bepaalde insig in die geheel van dinge onderlê word nie en as die studente nie gelei word om hulle plek in dié geheel te herken nie, beskik die beste opleidingsinstelling nog nie oor die grondslag om in werklikheid ‘n universiteit te wees of te word nie.

14-10-3foto2 ‘n Heilige fontein, niks minder nie. Wie aan die Afrikaners van die toekoms hulle eie universiteit wil skenk (en dit sal geen Willem van Oranje wees soos in Leiden se geval nie, dit sal baie van ons saam moet wees), moet ‘n heilige fontein in gedagte hê. Wie van dié fontein kom drink, moet hulle ware plek tussen hemele en aarde, en tussen gawe en maaksel kan inneem. Niks minder nie.

Ruimte behoort vir elke identiteit gelaat te word

53db27c7dcd5888e145e927e_serdar-ekrem-beyoglu-istanbul-shopping-turkeyDie bekroonde Turkse skrywer, Orhan Pamuk, beskryf in een van sy boeke die verhaal van ‘n Turkse man in Istanbul wat mannekyne vervaardig het. Sy hele kelder was later vol mannekyne. Dié meesterlik vervaardigde winkelpoppe het egter geen aftrek by die winkeleienaars van Istanbul gekry nie. Die rede is dat hulle ‘n Turkse voorkoms gehad het. Winkeleienaars in Istanbul het aangevoer dat kliënte eerder winkelpoppe met ‘n Europese voorkoms verkies. Veral die jonger generasie Turke streef na ‘n Westerse voorkoms.

Stap jy in die strate van Leiden, Rotterdam of Amsterdam sien jy dat die winkelpoppe van Nederland deesdae dieselfde tendens volg. Met ‘dieselfde’ word bedoel dat winkelpoppe in Nederland ook toenemend anders lyk as die inheemse bevolking. Afrika- en Midde-Oosterse voorkomste is hier toenemend gewild.

Die voorkoms van winkelpoppe in Turkye en Nederland mag dalk vir ons na nuttelose inligting lyk, maar hierdie tendense is belangrik as ons identiteitspolitiek in vandag se globale wêreld probeer verstaan.

Identiteitsverlies vind regoor die wêreld plaas. In die Derde Wêreld styg mense uit armoede uit op en sien hulle ‘n Westerse identiteit as ‘n soort sleutel tot ‘n beter selfbeeld en uiteindelik ‘n beter plek in die samelewing. In die Weste word nasionale- en volksidentiteite vervang deur multikulturele samelewings waar ‘n diepe identiteitsbewussyn as ‘n struikelblok beskou word.

Identiteit is veronderstel om ‘n dieper interne besef van wie jy is, te wees. Ons identiteit behoort bepaal te word deur ons geloof, taal, kulturele assosiasies en tradisies. Tog sien ons vandag toenemend gemanipuleerde identiteite wat aan die hand van uiterlike voorkoms vergestalt word.

Turkye is tog ‘n land met ‘n diep gewortelde identiteit wat voortspruit uit die Ottomaanse erfenis. Kan ‘n jong Turk wat soos ‘n Amerikaner aantrek, Amerikaanse musiek luister en by Burger King eet, ‘n ander identeit as sy Turkse identiteit opneem?

Dieselfde vraag geld vir Westerse lande wat ‘n beeld van multi-kulturalisme en verdraagsaamheid probeer voorstaan. Doen Nederland afstand van haar ou gevestigde identiteit deur die gebruik van persone met verskillende identiteite in televisie-advertensies, die afskaffing van ou gevestigde tradisies en gebruike en die verdere sekularisering van die openbare en privaatlewe?

In Suid-Afrika is Erfenisdag verlede week gevier. Twintig jaar na die politieke verandering van 1994 behoort ons almal te besef dat daar nie iets soos ‘n enkel Suid-Afrikaanse identiteit en erfenis is nie. Ja ons is almal Suid-Afrikaners weens ons nasionaliteit, maar ons is ‘n land met ‘n groot verskeidenheid identiteite. Ongelukkig sien ons ook pogings tot die manipulering van identiteit deur die miskenning van sommige tale, kulture en tradisies en die kunsmatige skep van ‘n soort nuwe nasionale identiteit.

In beide Turkye en Nederland beleef jongmense vandag ‘n identiteitskrisis. Die verwydering van hul historiese identiteit bring mee dat mense nie meer presies weet wie hulle is nie. Indien Suid-Afrika ernstig is oor erfenis en die beskerming van alle kulture in ons land sal ons nie Suid-Afrikaanse winkelpoppe probeer skep nie, maar eerder erken dat daar plek vir Afrikaner-, Zoeloe-, Xhosa- en talle ander winkelpoppe in ons spreekwoordelike winkelvensters behoort te wees.

Drie godsdienstige* wêreldbeelde

Ek sien nou dat daar weer ‘n bohaai is oor godsdiens wat uit skole verwyder gaan word. Basies reken die een standpunt dat die aaklige geskiedenis van godsdiens as onderdrukkende krag beteken dat dit verwyder moet word. Die teenpool argumenteer dat ons basies ons waardes gaan verloor as godsdiens op die agtergrond gestoot word.

Ek vind dat ek nie eintlik beïndruk was met hoe “godsdienstig” my skole ooit was nie, al was hulle Christelike skole. Daar was klasse waarin met gebed geopen is (die een outjie in die klas met ouers wat nie wou hê dat hy hieraan blootgestel moes word nie, het dan buite gaan staan en moes ingeroep word nadat die gebed afgehandel is) en dit was naastenby dit. Ander grade het nie eens dit gehad nie. Terloops is ek nie bewus daarvan dat ons die outjie anders hanteer het nie – dit was binne ‘n paar dae maar net een van die dinge wat ‘n Gr 1 aanvaar en nie weer bevraagteken nie.

Daarom my verwarring: is daar nog godsdiens in skole? Watter vorm sou dit aanneem? Is dit die soort godsdienstigheid waarin meneer of juffrou vir jou vertel dat as jy nie glo nie, jy boos is en eintlik sommer dom ook? Sou so ‘n boodskap enigsins as godsdienstig beskryf kon word? Daardie boodskap kan tog sekerlik beveg word vanuit die standpunt dat dit ‘n onchristelike ding is om te maak of Christene beter is as die res.

Dis seker darem nie waarvoor mense veg wat wil sien dat hulle kinders in ‘n skool met hulle eie waardesisteem sal wees nie. Hulle baklei tog sekerlik om as Christene hulle kinders aan Christelike norme bloot te stel, tuis én by die skool.

Dan word daar teruggekap dat daardie kinders in ‘n droomwêreld groot word, waar hulle net aan hulle “eie mense” blootgestel word. Hierdie ongebalanseerde kontak sou hulle dan onvoorbereid maak vir ‘n wêreld waarin hulle soort mense nie die enigstes is nie. Hierdie opdring van ‘n wêreldbeeld sou dan diskrimineer teen almal wat dit nie aanhang nie.

Die geveg is glo in die belang van die Moslemkind in Ventersdorp wat nie ‘n keuse het in watter skool hy gaan wees nie. Tog is die skool op die lys skole soos Garsfontein, waar kinders die keuse van so 5 of 10 meer bekostigbare skole in dieselfde direkte omgewing het.

En dis hier waar ek by die debat aansluit: Ek glo dat daar ‘n sterk argument uit te maak is vir juis so ‘n spesifiekte paradigma as ‘n Garsfontein wat onderwysers toelaat om hulle Christenskap uit te leef. Ek handel met drie sake:

  • Die drie tipes godsdienstige wêreldbeelde
  • Die twee wat geweeg word
  • Gaan skole anders wees?

Die drie tipes godsdienstige wêreldbeelde

My argumnet sal  eerstens gaan oor die maniere waarop jy die waarnemings wat jy van die wêreld maak, in paradigma kan plaas. Hieronder is een van die nuttiger opsommings wat ek nog teëgekom het en ek gee basies net “The Myth of Religious Neutrality” weer. Dis ‘n boek wat ek in ‘n vorige skrywe ook al aanbeveel het.

Die grondaanname is dat daar “geloofsopvattings” onderliggend aan enige verstaan is. Hierdie posisies is punte waarop hulle aanhangers voel dat enige vraagteken wat daaraan gekoppel word, sinneloos is. Ons neem hierdie punte aan, want die wêreld “is mos maar net so”. Dis die punt waarop jy uitkom as jy genoeg kere gevra het hoekom en dan vra jy dit vir die antwoord ook, en vir die antwoord op die antwoord tot jy uiteindelik net sê: “Dit is so want dit is so want dit is so”.  ‘n Mens het hierdie beginpunte nodig as vaste verwysing vir enige verdere denke.

Die probleem is dat verskillende mense by verskillende finale standpunte uitkom aan die einde van hulle reduksies. Ek noem dit hieronder die “onverklaarbare”. Onverklaarbare verwys vir my na iets wat ‘n verklaring is, sonder dat dit self ‘n verklaring benodig.

Tipe 1

Die eerste beeld van die wêreld wat ek bespreek, plaas die onverklaarbare buite ons waarnemingsveld en is gemeen tot die Jodendom, Christendom, Islam en moontlik nog ‘n paar ander.

Grafies lyk dit so:

Henri1

 

Die posisie is dat hulle god buite die waarneembare bestaan plaas. Dis om te sê die grondoorsaak vir alle sienlike en onsienlike dinge, is nie self so dat ons ‘n meetinstrument kan vat en ‘n lesing kan optel wat verander en daaruit weet: hier het ons nou vir god gemeet nie.

Hierdie beeld werk op ‘n skeppende en onderhoudende krag wat self nie deel van tyd en ruimte is nie. Wat nie op ‘n plek is of iets weeg nie. Die beeld staan en val by die onvoltooidheid van wat ons kan waarneem. Dis ‘n beeld wat sê daar is nood aan ‘n verklaring wat nooit self waargeneem sal word nie en daarom juig hulle elke keer wat die wetenskap agterkom dat daar antwoorde is wat buite ons heelal gesoek moet word.

‘n Tipiese standpunt oor godheid in hierdie wêreldbeeld plaas “god buite die skepping”.

 

Tipe 2

Die tweede beeld reken daar is iets in die waarneembare wêreld wat eintlik vir ons meer waarde het as enige ander. Dis die posisie van die Griekse gode, Materialiste** en so aan.

Henri3

Hierdie posisie sê daar is dinge wat ons waarneem wat nie ‘n verklaring nodig het nie. Vir die antieke Grieke was dit dinge soos seisoene of weerlig. Hierdie dinge bestaan bloot. En dan het hulle persoonlikhede aan hierdie waarnemings gegee en dit gode genoem. Zeus is dus die manier waarop weerlig verstaanbaar gemaak is.

Richard Dawkins reageer op hierdie persoonlikhede van die natuurverskynsels as hy sê daar is geen god nie. En hy’s reg. Ons wen niks deur weerlig aan die hand van ‘n ou oom in die wolke se bui te verklaar nie. Dis baie nuttiger om te verwys na die ladings wat opbou tot balans in ‘n kragtige knal herstel word. Daardie kennis stel ons in staat om weerlig-afleiers te maak wat lewens red.

Dawkins is egter vir my die ikoniese voorbeeld van iemand wat net een wêreldbeeld erken: hierdie een wat sê die onverklaarbare moet waargeneem word. Hy het net ‘n ander onverklaarbare as die antieke Grieke se gode. Sy onverklaarbare is energie. As alles vereenvoudig word tot op die laaste, sal alles aan die hand van energie verklaar word.

Energie is definisieloos in die wetenskap. My wetenskaphandboek het gesê: “Die vermoë om werk te doen”, wat tog vir ons sê watter impak energie het, maar nie wat energie is nie. Vir al die gedreun oor wat die verklaring vir jou god is, as jou god dan alles verklaar, sukkel dieselfde mense hulle dood om energie te verklaar.

Die punt is dat energie optree as verklaarder van alles wat is sonder dat dit self verklaar hoef te word. Hierdie is ‘n godsbegrip van “god in die skepping”.

 

Tipe 3

Die derde beeld is een wat reken dat alles onverklaarbaar is. Hierdie beeld word aangehang deur meeste Oosterse gelowe: Hindoeïsme, Buddhisme, Taoïsme, ens.

Grafies lyk dit so:

Henri4

 

 

Hierdie beeld plaas al ons waarnemings in die onverklaarbare en sal standpunte inneem soos dat weerlig inherent anders is as die elektriese krag in elektriese proppe. Niks moet aan die hand van iets anders verklaar word nie. Die dam is nie die water in die dam nie. Dis ‘n ander entiteit as die som van die dele.

Vir hierdie wêreldbeeld is die punt nie om een ding as funksie van ‘n ander te beskou nie, maar om die harmonie en vloei tussen verskillende ewe waar en ewe regtige dinge in te sien en te leef.

Tipiese geloofsverklarings hier is dinge soos “alles is god” of “niksheid is god”.

Die twee wat geweeg word

Die wetenskaplike revolusie het nie in Sjina gebeur nie al het hulle al die hulpmiddele tot hulle beskikking gehad. Een van die verklarings daarvoor is dat hulle dominante wêreldbeeld een is wat nie verklarings najaag nie. Waar die tipe 1-beeld reken dat ons ‘n ordelike skepping bekyk en waar tipe 2 reken dat daar een deel van die skepping is wat die ander kan verklaar, meen tipe 3 dis ‘n mors van tyd om enigiets ondergeskik aan ‘n ander te wil stel. Die wind is ewe veel ‘n verklaring vir die berge as wat dit daardeur verklaar word.

Hoewel die Westerse wêreld al meer die waarde van ‘n lewe in harmonie en in balans verstaan en so leen by die insigte van die derde tipe wêreldbeeld, is die twee in kompetisie vandag die eerste twee.

As ons sê godsdiens moet uit skole verwyder word, dan vra ons vir iets wat geheel onmoontlik is. Wetenskaplike ondersoek kan nie gedoen word sonder dat jy onbewese (en onbewysbare) aannames maak nie. Die eksakste van wetenskappe is waarskynlik wiskunde en daar moet ‘n mens op ‘n stadium sê: Dit is net so. Hulle weet darem wat die 12 dinge is wat hulle moet aanneem vir 1+1 om 2 te wees en al die res. Maar die wêreldbeeld wat energie verafgod, noem homself nie ‘n geloof nie, al deel dit al die eienskappe wat gemeenskaplik is tot die gelowe van die mensdom.

Daarom is elke oproep om geloof uit skole te haal in werklikheid ‘n vraag daarna dat ‘n spesifieke geloof aangehang en verkondig sal word, naamlik ‘n soort materialisme wat materie en energie (wat danksy Einstein se , in woorde,  dieselfde ding is) tot verklaring vir alles verhef. Die idee dat hierdie wêreldbeeld neutraal is, is vals en dis waar die groot fout in die redenasie lê.

 

Gaan skole anders wees?

‘n Mens kan twee skole opstel uit die twee wêreldbeelde wat hierbo bespreek is. Die inhoud van hulle onderrig sal op verbasend min punte verskil. Uiteindelik is spelreëls dieselfde, of jy nou blindelings gelowig is en of jy ‘n geloof aanhang wat ontken dat dit ‘n geloof is. Drie plus drie is ewe veel ses of jy nou dink dit is uiteindelik afhanklik van botsende partikels of afhanklik van die harmonie tussen die wind en die see.

Daarom reken ek dat die skole in hulle dag tot dag bestaan, nie enige impak gaan voel nie.

Lewensoriëntering is seker die enigste vak wat beïnvloed word. Maar hier leer kinders in elk geval van verskeie gelowe, eerder as enige spesifieke geloof se inhoud (ons moes wel op ‘n slag ‘n geloofsverklaring skryf wat seker moeilik sou wees vir die ateïs wat nie besef het hy glo eintlik ‘n klomp goed nie). Die behoefte wat die hofaansoeker probeer bevredig, is in hierdie opsig reeds vervul.

Gevolgtrekking

So, hoekom dan baklei vir godsdiens in skole as godsdienstige skole nie anders is nie? Ek doen dit, want jy’s nie onakademies as jy ‘n wêreldbeeld aanhang wat verskil van die een wat toenemend die internasionale norm raak nie. Jy’s nie bejammerenswaardig oor jy gelowig is nie.

Maar dis presies die indruk wat ‘n aktiewe verwydering van geloof uit skole sal skep. Dit laat dit voorkom of hierdie wêreldbeeld eintlik net skadelik is en dat ons van die oorlas ontslae wil raak. Asof die ideaal is dat almal net in hulle openbare hoedanigheid sal optree asof hulle nie glo nie, en dan kan hulle in hulle privaat tyd doen wat hulle wil. Hierdie gedwonge dubbel lewe kan tog nie inpas met die “ruimte vir almal”-argument nie. Die ideale burger sal dan die een wees wat binne die ruimte wat die wet laat, sy eie gang gaan en sy eie belang soek.

Dit is dan dat daardie paradigma hom vasloop in mense wat eiebelang bo die groep stel.

Iewers het die individualisme van elkeen vir homself die deur toe gemaak dat ons mekaar nie meer vertrou nie, want ek is mos net hier om myself te dien, so ek neem aan jy ook.

Ons kan nie staat maak op mekaar nie.

Hierdie optrede versterk die idee dat elkeen net self moet sorg.

Om iemand anders uit te buit, is eintlik reg as jy net binne die wet is. ‘n Mens sou kon argumenteer dat dit nie uitbuiting is as dit nie teen die wet is nie.

Groeiende ongelykheid wek kommer.

Politici belowe die regering kan help.

Die regering faal want hy’s vol mense wat elkeen vir hulleself staan.

‘n Gebrek aan gemene waardes het selfs die banke al bekommerd. Maria Ramos spandeer haar tyd eerder aan ‘n “sosiale verbond” om die probleem dat die samelewing misluk oor ons waardes in die binnekamer te wil indruk, as dat sy haar tyd spandeer om mense sover te kry om lenings uit te neem. Dis vir my die duidelikste bewys van dié week dat wat jy glo nie net jou eie saak mag wees nie.

Die oomblik wanneer ons besef dat die privaatwaardesmodel nie werk nie, is nie die tyd om die alternatiewe paradigma te verwyder wat nog heeltyd gemeenskaplike waardes bevorder nie. Hoeveel foute die aanhangers van die paradigma ook al in die verlede gehad het, is die ideologie nie verkeerd omdat mense eensaam gevoel het nie.

Daar is vir seker waarde daarin om kinders vooraf te waarsku dat hulle nou ‘n Christelike of ‘n Joodse of ‘n Sekulêre skool betree. Daar is geen rede om kinders tot ‘n spesifieke geloof te dwing nie, maar dan moet ateïsme eweneens nie opgedwing word nie.

 

*Ek gebruik deurlopend die kleinletter, hoewel ek as Christen die tradisie van God met ‘n hoofletter skryf waardeer en gewoonlik ook doen. Die rede hiervoor is dat ek telkens vind dat my argumente oor die Godheid wat ek voer uit my Christelike perspektief ewe toepaslik is vir ‘n beeld van die Joodse geloof of Islam in watter geval die kleinletter gepas sou wees. Hiermee wil ek bloot wys op die ooreenstemming in redenasie.

** Wanneer ek sê “materialisme”, verwys ek nie na grypsug of gierigheid nie, ek verwys na die oortuiging dat materie al is wat daar is. Een van die noodwendige gevolge van hierdie wêreldbeeld is natuurlik dat die dood die einde is. Dan is daar dus niks immoreel daaraan om vir jouself so goed moontlik te sorg voor die dood nie. Vandaar dat die woord al meer gebruik word as ons bedoel dat jy net op geld ingestel is.

Henri het aan NWU studeer en op verskeie komitees gedien. In Engelse Debat het hy tot by die nasionale semifinaal gevorder.  Hy het ‘n Meestersgraad in Finansiële Wiskunde wat hy het met lof behaal het. Tans is hy `n kredietrisiko en kliëntewaardasie ontleder by ABSA. 

Vroegherfsoggend in Leiden

14-10-26Foto

Op ‘n vroegherfsoggend in Leiden in ‘n koffiehuis op die Rapenburg kom dinge genoegsaam tot stilstand dat ek ‘n ou voorneme kan uitvoer. Dit is om op Vrydagoggende vir Orania se blog te skrywe. Vir my ‘n nuwe genre en ‘n bietjie te persoonlik – nog altyd geglo die woord ek hoort nie eintlik op papier nie. Maar nuwe dinge moet mens ook probeer en gedagtig aan die voortreflike skrywers wat almal van dié medium gebruik maak, pak ek dit met gepaste beskeidenheid aan.

Vir jare lank het ek ‘n gereelde rubriek in Beeld gehanteer en dit het my geleer hoe waardevol die dwang van ‘n spertyd kan wees. Alles wat mens onder sulke druk skryf is sekerlik nie ewe goed nie, maar dit forseer jou uit die gemaklike swye van een wie se mening nie gevra word nie. En wie het gesê vrywilligheid is bo alles goed? Verantwoordelikheid is ook ‘n verpligting en iets wat mens nie altyd vra nie.

Daarmee sny ek ‘n onderwerp aan wat hoogstens terloops deel van hierdie skrywe moet wees, naamlik my dubbelsinnige houding jeens en ervaring van die libertarisme. Daaraan het ek dit te danke dat ek uit Leiden, Nederland skryf – en verlede Vrydag uit Parys, Frankryk sou geskryf het as ek nie die strate ingevaar het en my skryftyd weggestap het ná ‘n intense gesprek met ‘n opkomende Franse politikus nie. Maar dink en stap gaan saam en dit is dikwels nodig.

In werklikheid het my en Jaco se Europese skakelbesoek nie in Europa begin nie, maar in Klein Asië waar ons ‘n libertariese konferensie bygewoon het en ek ‘n referaat oor Orania gelewer het. Dié word apart gepubliseer, soos ook my vertolking van die verhouding tussen die Orania Beweging en die libertariese ideologie wat in die volgende Voorgrond verskyn. Nietemin, die konferensie in Bodrum was ‘n onvergeetlike geleentheid en het hopelik nie net ‘n paar meningsvormers se belangstelling in Orania geprikkel nie, maar ook vriende gewen.

Om die waarheid te sê, ‘n reis soos hierdie wat, selfs as mens dit besparend aanpak, baie geld kos en wat ons vir meer as drie weke van huis, gesin en kantoor wegneem, laat mens jouself deeglik afvra of dit die moeite werd is. Vriende maak? Gedagtes deel? Hoe belangrik kan dit wees? Die antwoord daarop het ons amper terloops van ‘n diplomatieke ontleder gekry wat ons meegedeel het dat die ANC-regering, met foute en al, nog ‘n lang pad met die Nederlandse politieke elite sal loop “eenvoudig danksy ou vriendskappe waarop hulle hul beroep”.

Dit is aan ‘n ingewikkelde klomp kragte te wyte dat ons “ou vriende” in die stamlande min is en nie altyd tot die beluitnemers behoort nie. Ons sal nuwe vriende moet maak as ons, wanneer dit selfs nodiger word as nou, die bystand wil kry wat ons saak verdien. Ons ervaring is duidelik: dat mens nie eenvoudig ‘n geloofwaardige verhouding op ‘n enkele mededeling of ontmoeting bou nie en dat mens jou eie saak moet stel; om dit aan ander oor te laat, kan selfs nadelig wees. Ook belangrik om mense te bereik voordat hulle te veel van ‘n mening oor jou saak het, dan kan jy dit self bepaal en hoef jy nie dalk met die agterstand van ‘n slegte beeld te begin nie.

Ten slotte twee eenvoudige waarnemings. Eerstens: die Orania-gedagte se ontvangs in Europa het die afgelope tien jaar geleidelik, maar merkbaar verbeter. Interne ontwikkelinge en vraagstukke, byvoorbeeld dié van massa-immigrasie, het hulle perspektiewe aansienlik verander; die beeld van Suid-Afrika onder ANC-regering het gewis nie vooruitgegaan nie, maar agteruit; en ons boodskap is geloofwaardig en word goed ontvang – nie net in voorheen goedgesinde geledere nie, maar ook op plekke in die sogenaamde hoofstroom. Daarmee moet die ontvangs wat ons geniet nie oorskat word nie, maar ons keer bemoedig terug.

Tweedens: Orania se heil sal in Orania self en in Suid-Afrika besleg word. Skakeling is belangrik, vriende kan op ‘n kritieke oomblik ‘n belangrike deur oopmaak en dit kan onder sekere omstandighede die deurslag gee, maar wat ons nie doen nie, kan hulle nie ondersteun nie. Die werklike werk is by die huis en ons is te meer daarvoor gemotiveer. Môre besoek ons Friesland en dan is ons oppad terug!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel