“Visie vir Afrikaans 2030” Konferensie. Deur Sebastiaan Biehl

Ek was verlede week by ʼn twee dae lange konferensie oor Visie vir Afrikaans 2030. In die konferensie, aangebied deur Solidariteit en onder voorsitterskap van akademici in Afrikanerkringe, is die Afrikaanse gemeenskap (die konferensie se beskrywing) se huidige toestand en hoe om die voortbestaan in die toekoms te verseker, bespreek.

Myns insiens kan dit bevraagteken word dat daar iets soos ʼn Afrikaanse gemeenskap is, maar daar is wel ʼn groot groep Afrikaanssprekendes vir wie die voortbestaan van Afrikaans van belang is. ʼn Aanbieding van dr. Willa Boesak van die Khoisanraad oor bruin identiteit het eintlik juis bevestig dat daar geen gemeenskaplike Afrikaanse identiteit is nie. Vir die voortbestaan van Afrikaans is dit egter belangrik dat daar hande gevat word.

Die demografiese verslag wys dat Afrikaanssprekendes se persentasie afneem, maar dat dit nog steeds ʼn belangrike taal sal bly in die toekoms, en dat die totale getalle Afrikaanssprekendes rondom 7 miljoen is, groter as talle minderheidstale in die wêreld. Daar is dus genoeg rede en ruimte vir Afrikaanse instellings. Die probleem van Afrikaanssprekendes (en spesifiek Afrikaners) is die wye verspreiding oor Suid-Afrika en deesdae oor die hele wêreld. Daarom is konsentrasie nodig. Dit is een van Orania Beweging se hoofdoelwitte. Terwyl Orania Beweging ʼn konsentrasie in die yl bevolkte Noordwes-Kaap, met Orania as fokuspunt bepleit, omdat dit die enigste plek is waar Afrikaners ʼn meerderheid kan vorm (en in die kleine reeds het) wat die voorvereiste vir selfbeskikking of ten minste outonomie is, is Solidariteit se aanbeveling dat Afrikaanssprekendes in sekere ankerdorpe en stede, waar daar reeds aansienlike getalle Afrikaanssprekendes is, moet saamtrek (sien my vorige artikel “Tyd om te trek”). In elke provinsie is sekere ankerdorpe geïdentifiseer, maar slegs in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en (in ʼn mindere mate) in Gauteng het Afrikaans ʼn langtermyn kans op oorlewing. In die ankerdorpe moet veral verseker word dat Afrikaanse onderwys van kleuterskool tot matriekvlak, en op sekere plekke selfs tot tersiêre vlak aangebied word. Openbare Afrikaanse skole word minder en die langtermyn-opsie moet private Afrikaanse onderwys wees. Daar moet ook na maniere gekyk word hoe dit bekostigbaar en nog steeds van hoë gehalte kan wees.

Een wesenlike insig (wat die Orania Beweging al sedert sy stigting verinnerlik het) van Visie 2030 is dat daar nie op die staat en die regering staat gemaak kan word nie. Van die talle grondwetlike bepalings wat Afrikaans erken en beskerm het min indien enigiets gekom en selfs die waarborge kan oornag verwyder word. Dit het blykbaar in Namibië gebeur, waar oornag, ten spyte van die feit dat Afrikaans die de facto lingua franca is en dat daar feitlik geen moedertaal Engelssprekendes in die land woon nie, Engels die enigste taal van openbare onderwys geword het. Afrikaans bestaan het voort in enkele privaatskole.

Daar was ook ʼn lang bespreking en aanbieding oor internasionale voorbeelde van hoe minderhede hulleself handhaaf, veral met verwysing na Europa. Alhoewel Europa danksy sy klem op menseregte en sy veroordeling van nasionalisme besonder gunstig teenoor minderhede is, is ook daar die stryd om erkenning ʼn lang en moeilike een, en bestaan daar ten spyte van dekades van uitreik na mekaar nog vooroordele teenoor sekere minderhede. Dit voorspel eintlik niks goeds vir Suid-Afrika nie, waar daar boonop nog ʼn heel ander ideologie (sosialistiese staatsnasionalisme) heers en die erkenning van minderhede ten beste lippetaal is. Die kanse om deur middel van internasionale organisasies druk op die regering uit te oefen is skraal. Die Afrikaner se lot is feitlik onbekend in die wye wêreld en druk moet eers op streeksvlak, met ander woorde vanuit Afrika, geskied. Die beste wat daar op gehoop kan word, is, soos een van die deelnemers dit genoem het, goedgunstige verwaarlosing, met ander woorde ʼn regering wat aan minderhede sê: “moenie enige hulp van ons verwag nie, maar as julle self skole (of wat ook al) wil bedryf en finansieer, doen dit.” Dit is min of meer ook die houding wat Orania Beweging ingeneem het en waarmee ons goed vaar. Enige hoop op amptelike steun van die regering of selfs finansiële hulp sal tot teleurstelling lei. As die regering nie eers sy ondersteuners se basiese behoeftes aan kan voorsien nie, wat is die kans dan nog dat hulle vir Afrikaans sal opkom bloot omdat dit ʼn amptelike taal is?

Al voel vir ons as Orania Beweging Visie 2030 dalk halfhartig en te veel gerig op die taal en te min op die veel wyer begrip van volk of kultuurgemeenskap, bevat dit wel ʼn paar belangrike doelwitte wat ons steun, naamlik konsentrasie, selfdoen en die wil om voort te bestaan as Afrikaanssprekendes en Afrikaners. Immers kan Orania ook moeilik floreer as daar geen Afrikaners in die res van die land meer oor is nie.

 

 

Vryheid en internasionale howe. Deur Dr. Wynand Boshoff

Mense wat op hulle kulturele identiteit gesteld is, waarsku nogal dikwels teen ‘n sogenaamde nuwe wêreldorde waarin daar net een wêreldregering sal wees. Al wil ons by debatte oor die betekenis van Openbaring verbystuur, moet ‘n mens erken dat daar sterk magte is vir wie ‘n enkele wêreldmark met ‘n enkele wêreldtaal en sonder godsdiens, baie voordelig sal wees. Dit is inderdaad nie die toekoms waarvoor ons, wat vir ons volk, taal en bo alles die Here lief is, werk nie.

Wat my verbaas is hoeveel mense wat sterk teen die nuwe wêreldorde gekant is, dink dat ons reg op selfbeskikking deur een of ander hof herstel kan word. Ons hoor dikwels dat hierdie of daardie groep hulle
eis voor die grondwetlike hof, of die Verenigde Nasies voorberei. Hulle noem internasionale verdrae oor selfbeskikking en artikel 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet op, dui aan wanneer ons in die verlede oor ons self beskik het en hoe onregverdig daardie reg ontneem is, en sien daarna uit dat ons reg deur ingryping herstel sal word.

Dit is nie onverstaanbaar dat mense so dink nie. Ons is gewoond dat, as jy veronreg word, dit die hof se taak is om aan jou reg te laat geskied. Die strafregstelsel straf oortreders, terwyl die siviele reg gebruik word om skade wat mens deur ‘n ander se doen of versuim gely het, te herstel. As ‘n volk dus iets onregmatig verloor het, moet daar seker ‘n soortgelyke stelsel wees? Mense wat so redeneer, neem die VF Plus nogal kwalik dat ons nie lankal hierdie kanale gebruik het nie.

Hulle is ongelukkig verkeerd. ‘n Regstelsel kan jou net beskerm as daar ‘n regering is wat die regstelsel beskerm. Terwyl ons nie ‘n wêreldregering het nie (en ook nie wil hê nie) is daar nie ‘n regstelsel wat ons posisie gaan herstel nie.

Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog was daar ook ‘n gedagte dat ons vryheid uit internasionale oord herstel sal word. Afrikaners het, heel tereg, verstaan dat die Amerikaanse president, Woodrow Wilson, geglo het volgende oorloë kan voorkom word deur volke se selfbeskikkingsreg te erken. So het talle nuwe state in Europa tot stand gekom. As dit so is, het ‘n groep leiers gereken, moet ons hulle net vertel met hoeveel onreg ons republieke van ons ontneem is, dan sal ons
dit terugkry. Die ANC het dieselfde bestemming met dieselfde doel besoek.

Die “Vryheidsdeputasie” (soos dit bekend was) en die ANC het albei met leë hande teruggekeer. Al die mooi praatjies oor selfbeskikking het net gegeld vir volke wie se posisie tot die oorlog aanleiding gegee het, met ander woorde in Sentraal- en Oos-Europa. Boonop is net volke onderhorig aan ryke wat die oorlog verloor het, bevry.

As ‘n mens mooi daaraan dink, was die internasionale gemeenskap se manier van dink heel verstaanbaar. ‘n Staat is ‘n komplekse stelsel wat uit kleiner stelsels bestaan. Dit is nie iets wat sommer maklik geskep of verdeel kan word nie. Almal moet doodseker wees die voordele gaan die onvermydelike ontwrigting oortref.

Sedert 1919 het die internasionale reg baie verander en talle state is in die tussentyd gestig. Tog het ‘n paar goed dieselfde gebly: Die internasionale gemeenskap hou nie van ontwrigting nie en staatstigting is altyd ontwrigtend. Vra maar diegene wat Brexit moet werklikheid maak.

Staatstigting volg óf op langdurige konflik, óf op langdurige onderhandeling. In albei gevalle moet ‘n streek se bevolking bewys dat die oorwig van sy inwoners hulle eie staat wil hê en dat hulle oor die vermoë beskik om ‘n staat te bedryf.

Wat ook al die besonderhede van elke verhaal, erkenning deur die internasionale gemeenskap van ‘n volk se selfbeskikking is die einde van ‘n proses, nie die begin nie.

Wie ook al selfbeskikking wil hê, moet begin deur daarvoor te stem. Dan moet hulle die werklikheid stap vir stap tot stand bring – dit help niks om te sê hulle het dit een of ander tyd in die verlede gehad nie.

‘n Stem vir selfbeskikking is ‘n begin. Dit is net ‘n begin. Maar dit is ook ‘n noodsaaklike begin. Want as ‘n kultuurgemeenskap nie eers daarvoor stem nie, sal geen verdere stappe ernstig geneem word nie.

Dis tyd om te trek

Onlangs het Solidariteit Beweging ʼn demografiese verslag bekend gestel waarin die Afrikaner se afnemende getalle onder oënskou geneem word en as een van die teenstrategieë ʼn konsentrasie in sowat 30 sentrums of ankerdorpe aanbeveel word. Daardie sentrums is almal stede waar die Afrikaner nog noemenswaardige getalle het, en so om en by 10-20% van die totale bevolking verteenwoordig. In party stede neem die getalle Afrikaners selfs volgens voorspellings toe, maar in meeste neem dit af en selfs daar waar Afrikaners meer word, sal hulle nooit ʼn meerderheid word nie, omdat die demografiese tendense van natuurlike aanwas en migrasie na die stede van swartmense net te sterk is.

Die doel van die konsentrasie in 30 sentrums is dan ook nie om weer politieke beheer te kry nie, maar om gekonsentreerd te wees in plekke waar die getalle Afrikaners groot genoeg is vir die bestaan van instellings wat nodig is vir handhawing en oorlewing en ʼn aanvaarbare lewenstyl: Afrikaanse skole en waar moontlik hoër onderwysinstellings, kerke, hospitale, spesialisdienste en natuurlik genoeg mede-Afrikaners vir interaksie. Van die ankerdorpe of-stede is plekke soos Pretoria, Kaapstad, Port Elizabeth, Nelspruit, Pietersburg, Potchefstroom, Rustenburg, Bloemfontein, Middelburg, Secunda en ander, alles stede waar Afrikaners nog in ʼn aansienlike mate gekonsentreer is. Terwyl sowat 10 jaar gelede in meeste dorpe en stede ʼn groot genoeg Afrikanerkonsentrasie was om nodige dienste, instellings en geriewe te verseker, het die demografie so drasties verander, dat konsentrasie noodsaaklik geword het. Die vinnige ontvolking van die platteland word as onstuitbare gegewe beskou.

Afriforum het juis tot stand gekom met die doel om Afrikaners te help om hulle lewe op allerhande maniere draagliker te maak waar hulle ook al is, terwyl die Orania Beweging se klem nog altyd was om ʼn meerderheid Afrikaners in ʼn yl bevolkte gebied in die Noordwes-Kaap te konsentreer. Orania word in die Solidariteit-verslag as een van die 30 ankerdorpe genoem, maar ook sy besondere aard uitgelig, naamlik dat Orania heelwat kleiner getalle het as die ander sentrums, maar dat die demografiese druk wat in ander sentrums geld, nie hier ter sprake is nie. Alhoewel Solidariteit nie die standpunt van die Orania Beweging van konsentrasie in die Noordwes-Kaap oorgeneem het nie, is die beginsel van konsentrasie in enkele sentrums per provinsie reeds ’n kopskuif in die regte rigting. Ons besef ook dat nie alle Afrikaners Orania toe kan trek nie en dat die ankerdorpe ten minste ʼn tydelike uitkoms kan bied, veral vir mense uit kleiner dorpe wat heeltemal verval en waar die lewe ondraaglik geword het.

Orania sit nog steeds met die uitdaging van genoegsaam getalle. Vanaf sowat 5000 inwoners is Orania al ’n soort klein stad wat dienste en geleenthede betref, ten minste in ʼn yl bevolkte gebied soos die Noord-Kaap (in Gauteng sou dit slegs ʼn onbeduidende voorstad wees), met 10 000 mense sal groei amper vanself kom, en 10 000 Afrikaners is ook die rigtinggewende getal in die verslag van Solidariteit om ʼn ankerdorp te wees. Orania het boonop die groot voordeel dat die 10 000 Afrikaners ʼn absolute meerderheid verteenwoordig. Reeds nou het Orania egter die nog groter voordeel dat dit die enigste dorp in Suid-Afrika is waar Afrikaners oor hulleself op plaaslike vlak regeer.

Om by die magiese getal van 10 000 of selfs 5000 uit te kom, is nie maklik nie, veral nie solank talle Afrikaners nog wag met hulle trek tot Orania eendag groot genoeg is vir hulle behoeftes. Dit is egter die enigste plek in Suid-Afrika wat vir Afrikaners ʼn volhoubare en langtermyn toekoms bied. Hier het Afrikaners as enigste dorp in die land beheer oor hulleself, wat ook nie deur ʼn verkiesing weer verloor kan word nie. Hier is groei, werksgeleenthede, hier word Afrikaans, die Afrikanerkultuur en -erfenis beskerm, hier is dit veilig en leef mense hulle Christenskap en gesinswaardes uit. ʼn Groot aftreeoord (wat ʼn versorgingseenheid en voltydse mediese personeel sal insluit) is in beplanning, en meer mense bring ook meer besighede mee. Verder is hier genoeg water en grond sodat ontwikkeling nog lank kan voortgaan.

Dit help nie om vir ewig uit te stel nie. Daar sal altyd geriewe wees wat nog kort, maar wie te lank wag moet later besef dat die beste eiendom uitverkoop is en dat sy bates in Suid-Afrika weggekwyn het.