fbpx

die ekonomie van orania

Ekonomiese selfstandigheid is seker een van die belangrikste vereistes vir enige ander vorme van selfstandigheid om te volg. ʼn Groot deel van Orania se huidige ontwikkelingsplan is die pad van dorp na (landelike) stad, en die geleenthede rondom spesialisrigtings wat hiermee saamgaan.

As gevolg van die goeie groei wat die dorp ervaar, is daar ongelooflike geleenthede in konstruksie, eiendomspryse styg en munisipale dienslewering is van top gehalte. Hiermee saam sien ons dat privaat sakeondernemings toenemend in Orania vestig.

Kyk gerus die video hieronder om meer uit te vind:

die ora: orania se eie ruilhandelmiddel

Die Ora is alombekend as Orania se eie ruilhandelmiddel. Dit is belangrik om te verstaan dat die Ora nie ʼn geldeenheid is nie, maar ʼn koeponstelsel. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank verbied die skep van enige ander monetêre stelsel binne die Suid-Afrikaanse grense, sodat daar nie kompetisie vir die Rand is nie. Die Ora is dus ʼn koeponstelsel wat gerugsteun word deur Rande in die bank, die verhouding is dus 1:1. R1 = ϕ1. Die A-reeks Oras is in 2004 deur die Orania Sakekamer bekendgestel en is dadelik in gebruik geneem.

Die voordele van die Ora is legio. Eerstens stimuleer die stelsel die plaaslike ekonomie deurdat die note in die gemeenskap sirkuleer (en dus nie geld is wat uit Orania vloei nie maar die interne ekonomie versterk). Tweedens is daar veiligheidsvoordele daaraan verbonde om ʼn ruilmiddel te gebruik wat slegs in Orania geldig is – dit haal die inisiatief uit die krimineel se hande omdat die potensiële bruikbaarheid van gesteelde geld baie moeiliker word. In samewerking met Orania Spaar en Krediet (OSK) word geld, veral salarisse wat in Oras getrek word, vrygestel van bankkoste, wat beteken die entrepreneurs het meer besteebare inkomste wat die ekonomie versterk.

Elke driejaar verval die reeks Oras wat op daardie stadium in gebruik is. Nie net vereis die kredietwet dat koeponne aan ʼn vervaldatum gekoppel moet word nie, dit het ook voordele vir die gebruikers. Omdat die Ora deur Rande gerugsteun word, is daar ʼn bepaalde rentevoordeel vir die Orania Sakekamer. Wanneer die reeks in gebruik verval, kan daardie rente bereken word en aangewend word vir ekonomiese ontwikkeling in Orania. ʼn Groot hoeveelheid Oras word ook jaarliks uit Orania geneem as aandenkings deur beide Suid-Afrikaanse en internasionale toeriste. Wanneer die reeks verval kan daar bereken word presies hoeveel van die Oras uit die ekonomie geneem is, aangesien die toeriste byvoorbeeld 10 Ora ruil vir R10, word die fisiese waarde nie uit die ekonomie geneem nie, net die papiernoot. Daar is tydens elke vervalperiode ʼn maandelange inligtingsveldtog wat gebruikers herinner om ou note vir nuwes te gaan verruil.

Die d-Ora

Die d-Ora het al verskeie opslae, selfs internasionaal, gemaak vir die reuse inisiatief en reuse gevolge daarvan. Die d-Ora is ʼn blokskakel (‘block chain’) gebaseerde, elektroniese weergawe van die Ora. Dit beteken dat die d-Ora tans nie ʼn kripto-geldeenheid is nie, omdat dit aan die Rand gekoppel is, alhoewel dit op dieselfde, baie veilige tegnologie gekoppel is.