Beter internasionale skakeling nodig

??????????????????Een van die bekende kenmerke van die ANC voor 1994 was die party se sterk internasionale steunwerwingsprogram. Die party het regoor die wêreld verteenwoordigers en kantore gehad. Dit het dit vir die party moontlik gemaak om voltyds regerings, nie-regeringsorganisasies en die gewone burgers van verskeie lande oor dinge in Suid-Afrika in te lig en om steun vir die party en sy programme te werf.

Ons weet vandag dat die ANC se internasionale strategie uiters suksesvol was en waarskynlik een van die hoofredes is waarom die Nasionale Party-regering laat in die 1980’s onder druk begin swig het. Terwyl die NP sy hande vol gehad het om dinge in Suid-Afrika bymekaar te hou het die ANC met ‘n byna vryhand sy propaganda in oorsese land versprei. Veral die ANC se sterk fokus op Westerse lande het dié lande, organisasies en persone wat moontlik nog bondgenote van die blanke bevolking in Suid-Afrika kon wees, ook teen hulle laat draai. Die ANC se veldtog in die buiteland is goed beplan, goed gekoördineer en meesterlik uitgevoer.

Vandag sien ons dat die res van die wêreld heelwat minder op Suid-Afrika fokus. Die demokratiseringsprojek wat die buiteland in die 1980’s met sanksies en ander vorme van druk op die blanke regering, geloods het, is volgens hulle in 1994 suksesvol afgehandel. Sedertdien word Suid-Afrika as ‘n toonbeeld van ‘n land wat van sogenaamde onderdrukking na Westerse demokrasie oorgegaan het, voorgehou.

Ons weet egter dat die situasie in die land vandag iets totaal anders is. Suid-Afrika verkeer in die magsgreep van die ANC. Die party sentraliseer alle magte en uitvoerende vermoë en het sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die bevolking aan hom getrou en gedienstig te maak, deur  gemeenskappe te ontmagtig, plaaslike ekonomieë te vernietig en meer as 16 miljoen mense se lewens van welsynstoelaes afhanklik te maak.

Die Afrikaner verkeer vandag onder groot druk. Sogenaamde regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, regeringskorrupsie, misdaad en die verval van ons geldeenheid gekoppel aan voortdurende inflasie het ons in ‘n moeilike posisie geplaas. Meer as ‘n kwart van Afrikaners het waarskynlik reeds na die buiteland vertrek. Duisende Afrikaners is sedert 1994 vermoor en soveel meer van ons mense moes die trauma van motorkapings, huisinbrake en ander misdade deurmaak. Verder is ons taal en kultuur verswak, subsidies aan alles van ons museums tot ouetehuise en kinderhuise is onttrek, terwyl vreemde leerplanne vol propaganda teen die Afrikaner op ons skole en kinders afgedwing is.

Die buitewêreld weet egter maar min hieroor. Verlede week is daar ‘n televisieprogram oor die situasie van Afrikaners in Nederland uitgesaai en baie Nederlanders wat dit gekyk het was skoon verbaas. Hoe het dit alles gebeur sonder dat ons daarvan weet? Dit is hulle vraag. Afrikanerorganisasies sal hul internasionale skakeling moet verskerp. Strategieë om steun te werf moet beter bedink word. Ou, verregse retoriek sal agtergelaat moet word en nuwe moderne boodskappe geskep word. Indien die Afrikaner ‘n toekoms in Suid-Afrika wil hê sal ons, ons internasionale skakeling en steunwerwing dramaties moet verbeter.

Selfbeskikking word toenemend ‘n hoofstroomidee

yes‘n Paar dae gelede het die Katalane in Spanje hul nasionale dag herdenk met groot steun vir onafhanklikheid. Stappe om Katalonië nader aan onafhanklikheid te bring sal waarskynlik binne die volgende paar maande geneem word. Later hierdie week sal die Skotte besluit of Skotland voortaan ‘n onafhanklike staat moet wees. In Suid-Tirool in Italië is die steun vir onafhanklikheid of ‘n herinlywing by Oostenryk die hoogste in dekades. Selfs in Texas in die VSA was daar die afgelope maande ‘n skerp styging in die steun vir sesessie. In België is die Nieuw-Vlaamse Alliantie, ‘n party wat ten gunste van selfbeskikking vir Vlaminge is, tans die grootste party in Vlaandere en ook in die hele België. Sesessie is nie meer ‘n tema wat deur randfigure en randorganisasies bespreek word nie. Die idee van onafhanklikheid vir streke en volkere wat begeer om uit territoriale state te breek en oor hulself te regeer begin ‘n algemene idee te raak.

Tydens ‘n konferensie van die libertariese Vereniging vir Eiendom en Vryheid wat die afgelope vyf dae in Turkye plaasgevind het, is die belang van selfbeskikking en sesessie keer op keer bespreek. Dié vereniging bevorder breë libertariese idees oor eiendomsreg en die vryheid van individue en gemeenskappe om oor hul eie sake te kan besluit. Meer as 100 akademici, sakelui en regskenners van regoor die wêreld woon jaarliks hierdie prestige konferensie by.

‘n Deurlopende tema by vanjaar se konferensie was die vraag oor die wenslikheid al dan nie van volkere om ‘n reg tot selfbeskikking te kan opeis. Spreker na spreker het hul steun vir  selfbeskikking en sesessie uitgespreek. Die motivering hiervoor lê juis in die probleem wat soveel minderhede regoor die wêreld beleef naamlik ‘n staat wat toenemend mag sentraliseer. Regerings plaas toenemend beperkinge op eiendomsreg en onderdruk, soms ongewustelik, sy onderdane deur diskriminerende wetgewing insluitende wetgewing teen diskriminasie en wetgewing wat sukses belas en afhanklikheid aanmoedig. Die libertariese antwoord hierop is dat alles moontlik gedoen moet word om sentrale regerings te verswak. Slegs dan sal gewone burgers die vermoë herwin om groter seggingskap oor hul eie lot te herwin. Meer en kleiner regerings beteken dus meer vryheid vir burgers en beloon prestasie terwyl groter en magtiger regerings toenemend vryhede moet inperk en prestasie eerder belas.

Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, was vanjaar een van die 17 sprekers by die Vereniging vir Eiendom en Vryheid se konferensie. Die idee van Afrikaners wat net soos die Skotte, Katalane, Vlaminge en Suid-Tirolers beheer oor hul eie lot by die sentrale regering wil wegneem en na hul eie gemeenskappe afwentel, is baie positief ontvang.

Daar was egter ook waarskuwings. Afrikaners wat na selfbeskikking strewe moenie in die slaggat trap om een gulsige regering met ‘n ander te wil vervang nie. Ons historiese fokus op die staatlike het ons keer op keer in moeilikheid laat beland. Afgewentelde besluitnemingsvermoëns of regering is die korrekte model. Ons sal ons strewe egter op die regte beginsels naamlik hoë morele waardes, persoonlike vryheid, die vryemark en vryheid van assosiasie of disassosiasie moet maak. Dan sal ons ook aktief kan deel word van die internasionale beweging van volkere wat na vryheid strewe.

Is die einde van globalisering in sig?

globalizationAs jy vandag om jou rondkyk sien jy die gevolge van globalisering. Die klere wat jy aan het is waarskynlik in China gemaak. Jou motor dalk in Duitsland of Japan? Die koffie wat jy drink kom dalk van Kenia of Rwanda? Jou rekenaarsagteware is waarskynlik in die VSA ontwikkel. Globalisering het die wêreld die afgelope paar dekades voorwaar ‘n kleiner plek gemaak. Handel tussen nasies het tot die vinnige ontwikkeling van ekonomieë regoor die wêreld aanleiding gegee en vandag vind ons in elke land produkte en dienste van byna elke ander land op aarde.

Is dit dus gek om te vra of globalisering tans besig is om tot ‘n einde te kom? Waarskynlik nie. Die afgelope twee jaar het die groei in internasionale handel met minder as die groei in lande se BBP gestyg. Orals fokus regerings daarop om meer selfversorgend te raak. Lokalisme en plaaslike produksie is deel van die groter poging van lande om hulself teen onstabiliteite in ander wêrelddele te verskans en ook om die finansiële koste en invloed op die omgewing wat die vervoer van produkte oor duisende kilometers inhou te probeer beperk.

In talle wêreldstede is daar vandag restaurante waar jy ‘n premie vir jou kos betaal omdat die bestanddele plaaslik vervaardig is. Hierdie restaurante is uiters gewild. Orals in die wêreld ontwikkel lande ‘n handelsmerk wat duidelik aandui dat ‘n produk plaaslik vervaardig is. In Suid-Afrika is die sogenaamde “Proudly South African”-veldtog ‘n voorbeeld hiervan.

Regerings regoor die wêreld is besig om meer proteksionistiese wetgewing eerder as wetgewing wat vryhandel aanmoedig, in te stel. In 2013 is drie keer meer wette wat markte beskerm as wette wat markte oopstel wêreldwyd ingestel. Die fokus in handel verskuif dus van die globale na die lokale.

Nog ‘n gebeurtenis wat teen globalisering inwerk is die sanksies wat vroeër vanjaar eers deur die VSA en later deur die Europese Unie teen Rusland ingestel is. Hierdie ekonomiese sanksies bring grootliks mee dat ‘n land soos Rusland nie meer orals handel kan dryf soos hy graag wil nie. Dit veroorsaak egter ook ‘n verdere opkoms van nasionalisme en lokalisme in Rusland waar die Russe besef dat hulle vir hulself moet sorg en minder van ander lande vir produkte en dienste afhanklik moet wees. Ook in die VSA en Europa het hierdie sanksies ‘n negatiewe invloed op globalisering.

In Nederland, wat nie juis proteksionisties van aard is nie, is burgers onlangs aangemoedig om meer vrugte en suiwelprodukte in hul dieët in te sluit omdat Rusland sy invoere van landbouprodukte uit Nederland en ander Europese lande gestaak het. Europese lande sal weens die sanksies dus ook toenemend meer daarop gefokus wees om selfversorgend te raak.

Globalisering het die wêreld totaal verander. Vir goed en vir sleg. Oop markte het ekonomiese geleenthede geskep, maar baie van die lokale insluitende kulture, tale en tradisies het in die slag gebly. Die uitdaging sal voortaan wees om die regte produkte en dienste vir uitvoere te skep, terwyl jy jou vermoë uitbrei om aan plaaslike behoeftes te voldoen.

Strategieë vir die winter van ‘n beskawing

winter3Die metafoor van die winter in ‘n mense se lewe verwys na die nabye einde. Anders as in die geval van mense wat almal moét sterf en selde ouer as 90 jaar word, is daar in die geskiedenis van ‘n volk of ‘n beskawing die moontlikheid van ‘n lente oftewel ‘n herlewing na die winter opgesluit.

Party beskawings vergaan en is net nog ‘n vae herinnering, ander herleef weer, dikwels in ‘n ander gedaante. Die Grieks-Romeinse beskawing, wat telkens as die grondslag van die Westerse beskawing gesien word, het meer as ‘n duisend jaar bestaan en het ‘n eenvoudige begin, opbloei, ‘n lang hoogbloei en geleidelike verval tot uiteindelike ineenstorting beleef. Dit geld vir feitlik alle groot beskawings, veral die wat ‘n sterk onderbou gehad het en nie net ‘n strooivuur was nie.

‘n Beskawing moet natuurlik ‘n sterk militêre been hê, soos die Romeinse beskawing, om homself te kan handhaaf teen sy talle vyande, maar militêre mag alleen is nie genoeg nie. Alexander die Grote (356-323 voor Christus) het in ‘n kwessie van ‘n paar jaar feitlik die hele destydse bekende wêreld verower, maar omdat sy ryk rondom hom as persoon gebou was, het dit na sy vroeë dood verkrummel en is sonder enige blywende nalatenskap. Alexander se generaals het sy reusagtige, multi-etniese ryk onder mekaar verdeel en teen mekaar geveg.

Die Mongole onder Dsjingis Khan en sy opvolgers het in die 13de eeu selfs ‘n nog groter grondgebied verower, van Sjina tot Oos-Europa, die grootste ryk, oppervlakgewys, wat ooit bestaan het. Hulle het egter geen  beskawing gestig nie, maar net ander hoogstaande beskawings vernietig of bedreig. Omdat hulle net met uiterste brutaliteit verower het en self geen hoogstaande kultuur gehad het nie, het daar ook van hulle ryk niks oorgebly nie. ‘n Ryk wat net op geweld en verowering gebou is, het voete van klei en sal verkrummel sodra die militêre mag verswak.

In die geval van die Grieks-Romeinse beskawing, wat in die 4de eeu na Christus deur barbaarse Noord- en Oos-Europese volke soos Hunne en Germane vernietig is, was daar wel ‘n baie sterk kulturele fondasie wat nie afgebreek kon word nie. Selfs in die “donker” vroeë Middel-eeue, wat op die val van die Romeinse beskawing gevolg het (omtrent 400 tot 600 na Christus) kon elemente van die beskawing bewaar word. Nadat die barbare hulle uitgewoed en sonder enige kulturele nalatenskap verdwyn het, kon weer ‘n nuwe beskawing gebou word wat aangeknoop het aan die Grieks-Romeinse erfenis.

Die plekke waar elemente van die Grieks-Romeinse beskawing bewaar is (die kloosters) was die plekke waar die Christendom gebesig is. Klooster beteken direk vertaal plek van afsondering.  Stede was die plekke waar die beskawing (en dikwels ook die dekadensie) sy hoogbloei beleef het, maar in die vroeë Middel-eeue was die stede grootliks vernietig deur die barbare. In die kloosters kon beskawing en kennis egter tot ‘n beperkte mate bewaar word. Die hoofdoel van die kloosters was natuurlik die uitbou van die Christelike geloof, maar daar was sekondêr ook ‘n beskawingstaak. Dit was feitlik net in kloosters waar die vaardigheid van lees en skryf (in Latyn) nog bestaan het en waar dit oorgedra is. Monnike het biblioteke in die kloosters ingerig en boeke gekopieër (‘n tydsame proses omdat alles per hand oorgeskryf moes word) en kennis sodoende help bewaar. Ook ambagte en landbou is vanuit die kloosters beoefen en verder ontwikkel. Die kloosters moes selfvoorsienend wees en het daarom ook landerye en tuine gehad vir die verbouing van voedsel. Die verbetering van landboutegnieke het daarmee gepaard gegaan.

In die kloosters is die saad van die beskawing, naamlik kennis en kundigheid, bewaar terwyl barbaarse hordes buite omtrent alle oorblyfsels van die beskawing vernietig het. Die kloosters was gewoonlik in afgeleë plekke en ver van die aanvalsroetes van die barbare geleë. Terwyl afsondering dikwels gelykgestel word aan agterlikheid, het in die geval van die kloosters afsondering juis gemaak dat kennis en vaardighede, en daarmee saam die beskawing, bewaar kon word. As die omgewing rondom jou vyandig is, is afsondering ‘n oorlewingsmeganisme.

Namate die barbare hulle uitgewoed het, het sekere volkstamme begin om state en selfs ryke te stig ( die Merowinger en later die Karolinger). Die Christendom het die saambindende godsdiens geword en dansky die sendingaktiwiteite van die kloosters kon kennis weer wyer oorgedra word. Daar was ook beskerming deur die owerheid en bevordering van beskawing. Die Frankiese Ryk, waarvan Karel die Groote (768-814 aan bewind) die bekendste heerser was, het elemente van die Romeinse beskawing oorgeneem en gekoester en het homself gesien as die opvolgryk van die Romeinse Ryk. Dit was egter net moontlik omdat die saad van die beskawing in die kloosters oorleef het. Daarsonder sou geen Westerse beskawing kon herleef nie en sou die gewoontes van die barbaarse veroweraarsvolke die “donker Middel-eeue” laat voortbestaan het. Dat verowering sonder die koestering van kultuur geen beskawing kan voortbring nie, sien ons ook vandag in die lande wat deur Islamitiese vegters soos IS (die hedendagse weergawe van die Mongole van destyds) oorrompel word. Veg, nie beskaaf nie, is die enigste doel en sodra die vegters weer deur ‘n ander mag oorwin word, bly daar niks van die veroweraars oor nie.

Sonder om die huidige toestand in Suid-Afrika aan die donker Middel-eeue en die tyd van algehele chaos te wil gelykstel, is dit sonder twyfel so dat die huidige bewind nie gunstig vir die Afrikaner se kultuur en beskawing is nie. Afrikaans word uitgewerk, veral as akademiese taal, museums en monumente gaan tot niet, Afrikaanse dorpe en woonbuurte word demografies oorrompel en verloor enige band met die mense wat die plekke gestig en onderhou het.

In tye soos hierdie is dit daarom nodig om plekke te hê, en nog meer te stig, wat soos kloosters van ouds funksioneer, waar die Christelike geloof bewaar en gekoester word saam met die elemente van beskawing en kultuur: kennis, vaardighede en gewoontes. In Orania word Afrikaans gepraat, in Afrikaans skoolgehou en kennis en vaardighede oorgedra. Die Afrikaner-erfenis word in museums, biblioteke en argiewe bewaar. Volksfeeste laat die kultuur voortleef. Kuns word bevorder.

Hoe die toekoms lyk en of die Afrikanervolk ‘n langtermyn toekoms het, weet ons nie. Maar as die politieke omstandighede vir Afrikaners eendag weer gunstig is, kan die skatte van die beskawing in plekke soos Orania help om weer ‘n nuwe beskawing op ‘n ou fondament te bou.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Laat ons vry wees vir onsself

Danie-GoosenDie bekende Afrikaanse filosoof, skrywer en akademikus prof Danie Goosen lewer onlangs in ‘n toespraak ‘n pleidooi vir Afrikaners om meer land-gerig te wees. Land-gerig word in dié konteks as ‘n metafoor vir begrensing gebruik, terwyl see-gerig as metafoor vir onbegrensdheid dien. Mense wat land-gerig is wil die begrensing waaroor hul beskik in beskerming neem. Volgens Goosen is grense vir landkulture ‘n redding. Grense maak ‘n woning, ‘n egte tuiste, moontlik.

Grense bring sekerheid en geborgenheid, terwyl grensloosheid onsekerheid en tuisteloosheid meebring. Volgens Goosen is mense wat seegerig is, gefokus daarop om vry VAN iets te wees terwyl landgerigte mense daarop gefokus is om VIR iets vry te wees.

In die Westerse wêreld, en ook onder Afrikaners, is daar toenemend ‘n seegerigtheid eerder as ‘n landsgerigtheid. Mense wil bevry word van dinge wat beperkinge op hul plaas, maar hulle streef nie regtig daarna om vry vir iets te wees nie. Dit bring mee dat mense vry voel sonder om werklik ‘n sterk fondament te hê waarop hulle hul strewes kan bou.

Goosen noem vier dinge waarvoor mense vry kan en moet wees. Eerstens moet jy vry wees om grense om jou te trek en jou veiligheid daarbinne na te jaag. Tweedens moet jy vry wees om binne daardie grense gemeenskap te stig. Derdens moet jy vry wees om geregtigheid na te jaag en te sorg dat almal toekom wat hulle verdien en laastens moet jy vry kan wees om die hoogste na te streef.

Hierdie landgerigte ingesteldheid word gereeld in die Westerse wêreld as verstok en verouderd beskou. Dit word verbind met nasionalisme en in sommige gevalle selfs fascisme en liberale denkers doen groot werk om mense te oortuig om eerder ‘n see-gerigte ingesteldheid te volg en uit die begrensing van identiteit los te breek.

Tog het elke mens ‘n ingeboude sin vir plek. Die praktyk wys vir ons dat ‘n suiwer see-gerigte ingesteldheid nie volhoubaar is nie. Mense sonder grense is ook mense wat nêrens het om in ontstuimige tye na terug te keer nie. Jy word vrygestel van die gesag van jou kultuur, volk, gemeenskap en die tradisionele gesin. Wat is jy dan as jy aan niks behoort nie?

Die seegerigte mens raak toenemend weerloos as individu. Die landgerigte mens daarteenoor weet wie hy is, waarheen hy oppad is en het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk van mense en instellings wat vir hom intree, hom onderskraag en hom help betekenis aan die lewe gee.

Volgens Goosen is nog ‘n onderskeid tussen die seegerigte en landgerigte mens die onderskeid tussen ruimte en plek. Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Tog moet ruimte beheer word en indien die individue en sy verbintenisse dit nie beheer nie dan doen ‘n sterkerwordende staat dit. Vir die landgerigte mens kom beheer vanuit die orde van gesin, gemeenskap en volk.

Die Skotte se huidige strewe na onafhanklikheid is ‘n voorbeeld van landgerigtheid. So ook die strewe van die meeste minderheidsgroepe na selfbeskikking. Ook Afrikaners kan gerus meer landgerig wees en dus gefokus daarop om vry te wees vir onsself eerder as van onsself.

Skotse onafhanklikheidsreferendum

Saltire and union flagDie referendum oor Skotse onafhanklikheid vind plaas op 18 September. In die laaste groot televisiedebat voor die referendum tussen die leier van die Skotse nasionaliste, Alex Salmond en die Britse Parlementslid vir ‘n Skotse kiesafdeling, Alistair Darling het die twee teenstanders mekaar gepak en die argumente vir en teen afskeiding weer met mening herhaal. Alistair Darling lei die veldtog “Better together” vir die behoud van die huidige Britanje. Volgens ‘n peiling ná die tyd het Salmond baie beter gevaar as Darling. Die aanhangers van Salmond en van afskeiding was geesdriftig en emosioneel. Onafhanklikheid van ‘n land is iets wat diepe emosies wakker maak, terwyl die behoud van die status quo eerder tot die rede appelleer. Nogtans was die argumente van altwee kante veral op feite en syfers gebaseer en nie op emosies nie.

Die basiese argument vir onafhanklikheid van Skotland geld ook vir ons eie strewe na vryheid, maar ook vir enige vryheidstrewe. Die mense wat aan dieselfde volk behoort kan op grondvlak beter vir hulleself besluit as mense wat aan ‘n ander volk behoort en wat elders is. Niemand hou daarvan as ander mense oor hulle besluite neem nie. Hoe nader die besluitneming aan jouself, hoe beter.

Lede van die Skotse Nasionale Party (SNP) is van mening dat Skotse onafhanklikheid die mense op grondvlak direk bevoordeel omdat Skotland se inkomste direk bestee word aan sy mense en nie eers ‘n ompad na Londen maak en dan van daaraf herverdeel word nie.

Alistair Darling en die ondersteuners van die “Better Together” veldtog wys egter daarop dat Skotland ekonomies nie sterk is nie en in werklikheid meer van die sentrale regering ontvang as wat hulle bydra. Salmond het die stelling natuurlik betwis en praat oor die talle ekonomiese moontlikhede wat ‘n onafhanklike Skotland kan ontsluit as hy sy eie politieke beheer het.

Alhoewel die kwessie van onafhanklikheid nie in regs of links ingedeel kan word nie is die voorstaander van Skotse onafhanklikheid, die SNP, in talle opsigte ‘n linkse party. Dit geld veral vir sy ekonomiese beleid wat sterk klem plaas op staatsinmenging en welsyn, byna soos in Skandinawiese lande. Die Konserwatiewe Party regeer tans oor Groot-Britanje en is die party wat die mees uitgesproke is oor die behoud van die status quo. Mnr Salmond verwys ook gereeld na die voorbeeld van Noorweë wat ‘n land is wat nes Skotland oor olie beskik, ‘n welsynstaat is en in elke opsig welvarend en vooruitstrewend is. Skotse olie sal eendag uitgeput raak, aldus die argument van Darling, en dan sal dit goed wees dat Skotland deel is van ‘n sterk staat wat reeds internasionale bande en ‘n gediversifiseerde ekonomie het.

Die meeste Skotte ondersteun onafhanklikheid van harte maar logiese denke veronderstel dat dit gepaard gaan met talle risikos en veranderinge. Talle kwessies wat vir Skotland belangrik is moet onderhandel word indien die ja-stem wen. Een voorbeeld is die vraag of Skotland outomaties deel van die EU word, of die Britse pond behoue bly (wat die Britse regering nie as gegewe beskou nie),  of Skotland ‘n republiek word en of die Britse koningin as staatshoof behou word. Om die vrees vir die onbekende pad van onafhanklikheid te versag sou die SNP verkies dat die EU-lidmaatskap, die Britse Pond en die koningshuis ten minste aanvanklik behoue bly, maar die “Better together” veldtog wil juis die onsekerheid daaroor gebruik om mense te laat besluit om teen onafhanklikheid te stem.

Dit is ook nie die geval dat die Skotte in die onlangse verlede wreed onderdruk is soos in Eritreë of Suid-Soedan en daarom smag na vryheid nie. As die Skotse afskeiding, indien dit dan wel gebeur, met ‘n ander land s’n vergelyk kan word, dan is ‘n beter voorbeeld die stille en vreedsame skeiding tussen Tsjeggië en Slowakye in 1993. In dié geval was dit egter ‘n parlementsbesluit en geen burgerlike referendum nie.

Tans is die mening nog meerendeels vír die behoud van die status quo, maar die skaal is besig om te  swaai in die guns van die pro-onafhanklikheidskamp. Vir die “beter saam”-veldtog gaan dit daaroor om die meerderheid wat sonder veel emosie die redebesluit vir “nee” gemaak het by die stembus te kry. Die “ja vir onafhanklikheid”-kamp kan staatmaak op geesdriftige ondersteuners wat nie stembus toe gedryf hoef te word nie.Hulle uitdaging is om die onbeslisdes oor te haal, want tans het hulle nog net ‘n minderheid aan hulle kant. Die Britse tydskrif “Economist” beskryf die “Nee”-veldtog as masjien, en die “Ja”-veldtog as karnaval. Eersgenoemde word amptelik  deur die Britse regering gedryf. Interessant is ook die verskeie veldtogte se metodes: die “Better together”-veldtog steun op huis tot huis-werwing, telefoonwerwing, uitdeel van pamflette en tree op soos ‘n politieke party tydens ‘n verkiesing. Die “Ja vir Skotland”-veldtog gebruik huis tot huis-werwing, straatfeeste, stalletjies, konserte, debatvergaderings en het veral ‘n direkte, mens-tot-mens aanslag.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

 

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel