Toe ek ‘n week gelede in Holland besluit het om my tot ‘n weeklikse blogbydrae te verbind, was ek net mooi drie weke weg van die huis. Dit was skynbaar lank genoeg om te vergeet hoe dit in Orania met mens gaan. Ek het in my geestesoog gesien hoe ek voortaan op Vrydagoggende, nadat Anje en die kinders skool toe is, ‘n laat ontbyt by die Oewer gaan eet en oor die water sit en tuur terwyl die storie homself as’t ware skrywe. Die werklikheid? Dit was vandag weer Vrydag – en ek sit in Pretoria!
Op die lang pad Pretoria toe het ek my nog tussen twee wêrelde gevoel – bietjie soos op die brug oor die Bospheros wat Europa en Asië verbind. Op ‘n verhewe snelweg deur die Noord-Vrystaatse vlaktes het ek aan die Afsluitdyk waarop mens oorry Friesland toe gedink. Dit is meer as 30km lank en het die Noordsee van die Suidsee geskei en van die Suidsee die Ijselmeer gemaak. Só is die eeueoue oorstromings van stede en plase hok geslaan en nuwe droogleggings moontlik gemaak. Dat ‘n land darem soveel water en so min grond kan hê!
Beelde van brûe het by my opgekom. Die bruggie oor ‘n grag waarop die Pelgrimvaders met skuite hawe toe is om met die Mayflower Amerika toe te vaar en ‘n nuwe begin te gaan maak. Ek het nooit geweet dat hulle Holland eers beproef het nie. En ‘n plat brug wat ons heen en weer gekruis het, byna sonder om dit agter te kom. Een aand toe ons daaroor stap, vra ‘n Nederlandse vriend of ons geweet het dit was vroeër die westelike grens van die Romeinse Ryk. Nouja, ons het nie.
“Breuke en brûe.” Dis hoe ek meer as een maal aan Nederlanders en Vlaminge ons hedendaagse verhouding tot ons Suid-Afrikaanse en Afrikanergeskiedenis beskryf het. Natuurlik “is ons nog ons” en wil ons die toekoms as Afrikaners tegemoet gaan, maar ons het voor enorme breuke te staan gekom: staatkundig het ons ons vryheid verloor; kultureel is die band met ons stamlande verbreek; institusioneel is ons van die instellings wat ons identiteit moet oordra, vervreem; simbolies is ons mense tuisteloos, uitgeskop, nie die minste nie deur pleknaamveranderings.
Tuisteloos – en vandag beraadslaag ons nogeens oor die Afrikaanse universiteitswese.
*
Ek ry van Kleinfontein se kant af stad toe tussen rante deur waar ‘n skoolmaat van my se pa destyds ‘n plasie gehad het. Langs die snelweg let ek weer iets op wat iemand onlangs aan my verduidelik het: ‘n plek waar daar altyd ‘n paar karre staan. Dit is heeltemaal ongebruiklik op ‘n snelweg, dalk selfs onwettig, maar dit is só, daar staan altyd karre. Dit lyk gevestig van baie gebruik en dit word dalk versorg, maar daar is geen bordjies op nie en geen af- of oprybane nie. Eintlik nogal gevaarlik.
“Hier is ‘n Pedi-stam se oorsprongsfontein” het my broer Willem verklaar toe ons noudiedag daar verbyry. “Jy sal altyd mense sien wat stop om water te kom kry.” Op die ingewing van die oomblik stop ek ook en kyk rond. Van die kar wat daar staan, sien ek niemand nie, maar tien tellings later stop daar ‘n bakkie met ‘n middeljarige man en kleuterseuntjie. Ons groet en ek beny, soos dikwels tevore, my oorlede pa sy vloeiende Sepedi. Ons praat Engels en hy vertel van ‘n fontein met gesonde water daar naby, hy sal my wys.
Ons klim deur die draad – een van daardie “ja-nee verskynsels” van ons mense: span ‘n draad wat niemand uithou nie, maar darem wys “dis my grond dié” – en hy vertel my dat hy die fontein as ‘n kind leer ken het en dat die water regdeur die jaar eenvoudig uit die grond uitborrel, dit was nog nooit droog nie. “Dit is wonderlike water, dit maak mens sterk”, sê hy. Vyftig treë verder lê die fontein daar, sonder pretensie, hoewel met ‘n paar vreemde munte in die water. Hy sê dat party mense geld daar ingooi, “maar ons doen dit nie. Ons bid net – as ek hom sal verskoon” en hy en die seun draai hulle rug op my. Ek groet maar en stap terug.
*
‘n Universiteit, sê Danie Goosen later, is net ‘n universiteit in enige betekenisvolle sin van die woord as dit vir studente hulle plek in die groot geheel van dinge kan aanwys. Nie die vlak van spesialisering, die toegang tot beroepsgeleenthede, die getal studente, die regte ideologie of die klimop teen die hoofgebou maak van ‘n na-skoolse opleidingsinstelling ‘n universiteit nie, hoewel goeie universiteite dit en meer kan insluit. Maar as dit alles nie deur ‘n bepaalde insig in die geheel van dinge onderlê word nie en as die studente nie gelei word om hulle plek in dié geheel te herken nie, beskik die beste opleidingsinstelling nog nie oor die grondslag om in werklikheid ‘n universiteit te wees of te word nie.
‘n Heilige fontein, niks minder nie. Wie aan die Afrikaners van die toekoms hulle eie universiteit wil skenk (en dit sal geen Willem van Oranje wees soos in Leiden se geval nie, dit sal baie van ons saam moet wees), moet ‘n heilige fontein in gedagte hê. Wie van dié fontein kom drink, moet hulle ware plek tussen hemele en aarde, en tussen gawe en maaksel kan inneem. Niks minder nie.
Baie kragtige fondasiegedagte Carel.
Mens kan nie anders as om te voel dat na die wiel van die geskiedenis by die Post Modernisme verbygerol het, en hy tot sy kataklismiese einde gekom het…..al wat sal oorbly en standvastig gaan wees, die enkele Heilige dinge sal wees wat nie op die sand gebou is nie.