fbpx

Klimaat

Daar is verskeie weerelemente wat die klimaat se tendense beïnvloed. Op Orania is dit hoofsaaklik die volgende vier: temperatuur, wind, lugvogtigheid en reënval. Dit beïnvloed ook die aanvoelbaarheid en gemaklikheidsindekse. Dit sneeu nie juis in Orania nie, hoewel ligte kapok soms in Julie of Augustus voorkom. 

Orania is in die Bo-Karoo en het nie net die woestynklimaat wat die Karoo kenmerk nie, maar ook ‘n rivierklimaat omdat die dorp langs die Oranjerivier geleë is. Dit veroorsaak dat Orania werklik ‘n klimaat van uiterstes het – in die somer die versengende hitte van 40°C en baie keer baie warmer en in die winter weer die erge koue van ver onder vriespunt. Die rivierklimaat veroorsaak ook ‘n mikroklimaat met groot verskille binne die dorp van selfs 5°C –  van die Dorpskantoor op die heuwel na Oewerpark by die rivier.

Die heersende windrigting is uit die noordweste, maar hoewel die wind met tye baie en sterk waai en groot dwarrelwinde maak, is dit nie standhoudend genoeg om windenergie ekonomies op te wek nie. 

As gevolg van die erge hitte en wind, is verdamping baie hoog, wat die grond gou uitdroog – daarom is ‘n dik deklaag om plante nodig. Dit hou nie net die vog beter in die grond nie, maar in die winter beskerm dit die grond teen die koue. 

Die reënval is baie laag – die jaargemiddelde reën is maar ongeveer 240 mm. Reëntyd is in die herfs van so Maart tot Mei of Junie, maar buie kom ook ander tye, veral die somermaande voor. Die rede hiervoor is dat Orania in die gebied val, tussen, waar die winter frontale reën ophou en die kant van die somerreënval se laagdrukstelsels. As enige van die twee stelsels baie sterk ontwikkel is en noord genoeg of suid genoeg kom, dan kry Orania die kant van die winter- of somerreën. 

Dus is die klimaat iets waaraan mens gewoond moet word. Mens moet jou leefwyse en geboue daarby aanpas ten einde te verhoed dat die klimaat jou negatief stem.