by Sebastiaan Biehl | Nov 10, 2014 | Nuus |
Die middeltermyn-verkiesing vind elke 4 jaar plaas, tradisioneel in die helfte van die president se termyn, en is gewoonlik ‘n toets vir die president se gewildheid en ’n beoordeling van sy bekwaamheid, al is hy nie self verkiesbaar nie. President Obama is deur die kiesers gestraf vir sy swak en besluitelose regering. Die Demokratiese Party se kandidate het bykans swakker gevaar as in 2010. Talle Demokratiese kandidate het probeer om hulle van Obama te distansieer, maar dit het nie gehelp nie. Daar is voor die tyd ‘n swaai na die Republikeine verwag, maar nie so duidelik soos wat dit uiteindelik afgespeel het nie. Bykans oral waar ‘n kop-aan-kop verkiesing voorspel is, het die Republikeine gewen.
Daar is gestem vir die Huis van Verteenwoordigers, talle setels van die senaat en die goewerneurskappe en kongresse in meeste van die 50 state.
Die Huis van Verteenwoordigers het 435 setels en bestaan uit die verteenwoordigers vir elke kiesafdeling in elke staat. Voor die verkiesing het die Republikeine reeds ‘n meerderheid gehad van 233 en het dit nog verder opgestoot na 244 teenoor 180 vir die Demokrate (en 3 setels nog onbeslis).
Interessant was veral die verkiesing vir die senaat. Die senaat bestaan uit 100 verteenwoordigers, 2 vir elkeen van die 50 state, ongeag bevolkingsgrootte of oppervlakte. Die Huis van Verteenwoordigers was reeds onder Republikeinse beheer, maar die senaat onder Demokratiese beheer en dus het die twee huise mekaar verlam en was die laaste 4 jaar deur politieke stagnasie gekenmerk. Die beheer oor die senaat was dus vir die Republikeine van groot belang en was die hooffokus van die verkiesing. Tot dusvêr was daar 53 Demokrate teenoor 45 Republikeinse senators (en 2 onafhanklikes), maar die Republikeine het nou ook die beheer oor die senaat gekry met 52 setels tot dusver en `n verdere vyf setels wat nog beslis moet word. Talle state wat voorheen die Demokrate gesteun het, het na die Republikeine gegaan, soos West Virginia, Colorado en Iowa. Die enigste ligpunt vir die Demokrate was New Hampshire, ‘n staat wat wel Demokraties leun maar ‘n “swing-state” is waar hulle naelskraap gewen het.
Wat die goewerneursverkiesings betref, het die Republikeine ook goed gedoen. Omtrent alle state waar hulle regeer het, het hulle behou en nog enkele state gewen. Hulle beheer nou 31 state, teenoor die Demokrate se 17 (in twee moet nog uitklopverkiesings plaasvind). Selfs in tradisioneel Demokratiese state soos Massachusetts, Illinois, Michigan, Wisconsin en Maryland kon hulle deurbrake maak. In Florida, een van die belangrikste state in die VSA en een wat altyd op die mespunt staan, kon die Republikeinse goewerneur net-net wen teen sy Demokratiese teenstander.
Die oorblywende twee jaar van mnr. Obama se termyn raak nou vir hom besonder moeilik en dit blyk dat hy nie een van sy groot verkiesingsbeloftes en projekte kan deurvoer nie. ‘n President in die VSA het selde die kans om beide huise van die kongres te beheer en moet dus kompromieë aangaan, iets waarmee mnr. Obama nie goed is nie. Sy hoofprojek, die hervorming van die gesondheidstelsel, het gesneuwel en ook van ander geliefkoosde projekte soos amnestie vir onwettige immigrante het nie veel gekom nie. Wat buitelandse sake betref het mnr. Obama min ondervinding en het geen konsekwente en duidelik sigbare beleid nie.
Amerika word deur hierdie verkiesing meer konserwatief, want talle konserwatiewe kandidate het liberale en linkse kandidate vervang. Nogtans het die verkiesing nie so seer oor waardes en groot, polariserende onderwerpe gegaan nie maar was veral ‘n afrekening met mnr. Obama en sy swak leierskap. Die Tea Party Beweging, wat met die vorige verkiesing ‘n groot rol gespeel het om konserwatiewe kiesers te mobiliseer, was die keer minder prominent. Die VSA het ‘n groot middelgrond onbesliste kiesers, sogenaamde onafhanklikes, wat in enige rigting kan swaai en wat die keer veral na die Republikeine geswaai het. Die Demokrate se lojale kiesers soos swart mense oftewel Afro-Amerikaners het die keer ook met ‘n redelik lae stempersentasie deelgeneem. Die Republikeinse oorwinning is aangevuur deur hulle lojale steunbasis, wit en veral ouer kiesers.
Die VSA sit egter ook met demografiese tendense wat vir die hele weste geld: die (Engelssprekende) witmense, tans nog ‘n meerderheid, word minder teenoor swartmense en sogenaamde Hispanics of Latinos, Spaanssprekendes met wortels in Latyns-Amerika. Die Republikeine begin egter uitreik na die Hispanics wat ‘n al hoe belangriker segment raak, veral in sleutelstate soos Florida, Colorado en Texas. Daar is egter redelike kulturele verskille tussen die klassieke ondersteuner van die Republikeine (wit, protestants, Engelssprekend en middelklas) en die Hispanics, wat eerder katoliek, Spaanssprekend en dikwels armer is. ‘n Sterk standpunt teen (Latyn-Amerikaanse) immigrasie en teen welsynstoelae wat deel uitmaak van die Republikeine se kernoortuigings, is ook nie gewild onder meeste Hispanics nie.
Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.
by Jaco Kleynhans | Okt 30, 2014 | Nuus |
In die noordooste van Nederland, in die provinsie Drenthe, is die dorpie Oranje. Dié dorp met sy 140 inwoners was laas in die nuus toe die plaaslike aartappelverwerkingsfabriek gesluit het. Die afgelope tyd is Oranje egter weer in die nuus. Daar is besluit om 1400 Siriese asielsoekers in Oranje te huisves. Die asielsoekers het reeds begin arriveer en daarmee saam die wese van Oranje verander. ‘n Dorp met 140 inwoners wat skielik 1400 nuwe bewoners uit ‘n vreemde land, wat ‘n vreemde taal praat en wat glad nie ekonomies aktief is nie, moet huisves, kan nooit weer dieselfde wees nie.
Oranje is nou wel ‘n ekstreme voorbeeld van die toepassing van Nederland se asielbeleid, maar hoewel ekstreem is dit nie geïsoleerd nie. Regoor Nederland word duisende Siriese asielsoekers voortdurend in alles van ou fabrieke tot leë skoolgeboue, hotelle en ouetehuise geplaas.
Die sogenaamde “Centraal Orgaan Opvang Asielzoekers” (COA) is volgens wetgewing verantwoordelik vir die hantering van alle vlugtelinge wat in Nederland om asiel aansoek doen. Tans stroom meer as 800 mense per week na die oorvol sentrums van die COA om vir asiel aansoek te doen. Hierdie mense word regoor die land geplaas. Hoewel die meeste asielsoekers uit Sirië kom, stroom asielsoekers uit Irak, Libië, Egipte en toenemend ook Eritrea na Nederland.
Die verstommende realiteit is dat Nederland eintlik redelik ver van al hierdie lande geleë is. Waarom sal mense dus al die moeite doen om byvoorbeeld uit Eritrea na Nederland te reis om daar om asiel aansoek te doen? Die antwoord lê in die wyse waarop die Nederlandse regering asielsoekers hanteer. Relatief aangename behuising word vir hulle gevind en asielsoekers kry heelwat regte en voordele. Die meeste van hulle keer waarskynlik nooit na hul lande van oorsprong terug nie.
Die verhaal van Oranje en ander dorpe en stede regoor Nederland, is ook die verhaal van dorpe en stede in België, Duitsland, Frankryk en ander Europese lande. Honderde duisende asielsoekers uit geweldgeteisterde derdewêreldlande stroom jaarliks na Europa. Liberale wetgewing oor die hantering van vlugtelinge maak dit maklik vir hierdie mense om verblyf in van die veiligste lande met die hoogste lewenstandaard in die wêreld te kry.
Elke dorp en stad in Europa is besig om in ‘n multikulturele samelewing te ontaard. Die Europese droom van integrasie het reeds in duie gestort. Immigrante uit die derde wêreld weier meestal om hul nuwe land se taal en kultuur aan te leer en selfs hul kinders word nie geassimileer nie. Moskees word gebou en volle woonbuurte word beset. Daar word selfs op die toepassing van Sharia-wette aangedring. Die Westerse wêreld se oopgrense en ooparms beleid begin reeds byt. Misdaad, druk op die welsynstaat en agressie teenoor onder andere Jode en homoseksueles deur immigrante is enkele van die bewyse dat die multikulturele projek misluk het.
Westerlinge staan voor ‘n keuse. Of hulle maak die grense van hul lande digter toe en oorleef of hulle word binne enkele dekades ‘n minderheid in hul eie lande soos wat die 140 Nederlanders in Oranje binne enkele dae ‘n minderheid in hul eie dorp geword het.
by Sebastiaan Biehl | Okt 29, 2014 | Nuus |
Van die stigting van Orania in 1991 was die klem daarop om so gou as moontlik so veel as moontlik Afrikaners na die aangewese volkstaat te trek. Orania was nooit bedoel om die volkstaat te wees nie, maar slegs ‘n groeipunt en beginpunt in die toekomstige volkstaat, soos prof. Carel Boshoff dikwels beklemtoon het. Die verwagtings van die 1990’s, dat Orania en die volkstaatgebied binne enkele jare derduisende Afrikaners trek, het ongelukkig nie so gerealiseer nie.
Alhoewel die voorspellings oor die toedrag van sake in Suid-Afrika onder ANC-bewind amper woord vir woord waar geword het (misdaad kry die oorhand, munisipale dienste verval, Afrikaans en Afrikaanse onderwys word uitgefaseer, Christelike waardes word deur sekularisme en materialisme vervang, stakings verlam die land, die eiendomsreg word uitgehol ens), het die volkstaatstigters twee dinge nie reg voorspel nie, naamlik die aanpasbaarheid van Afrikaners aan die verslegtende omstandighede, en die sterk emigrasiestroom. Van die begin af is te veel op die stootfaktore en te min op die trekfaktore gefokus. Die Afrikaner se vryheidstrewe, waarvoor die volk in die verlede bereid was om groot offers te bring soos die Groot Trek en die Vryheidsoorloë teen die magtige Brittanje, is telkens as bewys aangehaal dat die volk wel op ‘n punt soos een man sal opstaan en sy toekoms self sal vorm. Daarby is egter net na die Eerste Afrikaner (die mense van die Groot Trek en die Boererepublieke) verwys en nie in berekening gebring dat die Afrikaner fundamenteel verander het na die neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog, vergelykbaar met die Duitsers na die Tweede Wêreldoorlog.
As iemand wat reeds vanaf 1996, in die pionierstyd, by Orania betrokke is onthou ek goed die gesprekke tussen volkstaters en gewone Afrikaners, wat dikwels bymekaar verby gepraat het. Die volkstaters was vol idealisme en het die groot prentjie geskilder van waarheen die land onder ‘n ANC-bewind op pad is en watter wonderlike geleenthede die volkstaat vir Afrikaners bied en hoe kosbaar vryheid en selfstandigheid is. Die deursnee Afrikaners het egter telkens vasgehaak by klein dinge wat vir hulle die trek na Orania onaantreklik gemaak het: die droë omgewing, die onnet sypaadjies en tuine, die gebrek aan goed betaalde werk, die afwesigheid van winkelsentrums, mediese dienste, en vermaak en die vrees vir isolasie.
Deesdae word baie meer op trekfaktore gefokus en ‘n beleid van klein treë vorentoe gevolg. Estetika van ‘n dorp is natuurlik nie so belangrik soos behuising en werksgeleenthede nie, maar dit is dikwels die eerste indruk wat by voornemende intrekkers die uitslag gee om te kom of nie te kom nie. Die Dorpsraad en Orania Beweging het al ‘n paar jaar gelede begin om openbare tuine aan te lê. Dit het geleidelik die inwoners beïnvloed en deesdae is meeste tuine netjies, talle is selfs ‘n ware lus vir die oog. ‘n Mens kan nie netheid afdwing nie, maar jy kan ‘n voorbeeld stel en jou omgewing beïnvloed.
Die aanbod aan winkels en ontspanningsgeleenthede het ook aansienlik toegeneem, veral sedert die bou van die Saamstaan Winkelsentrum in 2005, en sal later vanjaar, wanneer Stokkiesdraai Avontuurpark en Ou Karooplaas Winkelsentrum voltooi is, ‘n verdere groot hupstoot kry.
Die dorpsuitleg is ook georden en word geleidelik van die pioniersdorp met die voorkoms van ‘n “Wilde Weste dorp” waar almal in hulle erwe en huise doen wat hulle wil, verander na ‘n amper Europese dorp wat netjies en gestruktureerd is en ingedeel is volgens sones vir woon, werk, ontspanning en besigheid.
Mediese dienste, vir lank ‘n groot rede vir mense om nie na Orania toe te kom nie, verbeter ook geleidelik. Vir die basiese mediese behoeftes is ‘n kliniek ingerig, en daar word aktief gewerf vir ‘n voltydse dokter. ‘n Oogkundige praktyk sal ook binnekort in Orania gevestig wees.
So lei een tree tot die volgende een en die hekkie vir voornemende inwoners word al hoe laer. Daarby moet ons egter nooit die groot doel uit die oog verloor nie. Alles wat Orania se inwoners en uitwoners al vir dekades ingesit het, is en was nie bedoel om net ‘n oulike en mooi dorpie, waarvan daar talle in Suid-Afrika is, te skep nie. Die doel is nog altyd die totstandkoming van ‘n eie, vrye Afrikanergebied waar ons volgens ons waardes, tradisies en oortuigings kan leef en beheer oor ons eie toekoms kan neem.
Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.
by Carel Boshoff | Okt 22, 2014 | Nuus |
Die goeie voorneme om elke Vrydag ‘n rubriek te plaas, het tot dusver meer skipbreuk gely as geslaag. Een rede is ‘n vol program, maar die ander, groter rede is dat ek nie té gou oor ‘n groot ervaring kan skryf nie. Nie sonder om iets soos ‘n onverteerde kouseltjie gras uit te spoeg nie. Só ‘n groot ervaring was die Verwoerd-gedenklesing twee Vrydae gelede, maar ook die Noord-Kaapse sinode van die NG Kerk gedurende die week daarna. En anders as sulke lang vergaderings wat ek in die verlede bygewoon het, het die sinode geen tyd vir buitewerk gelaat nie.
Om die waarheid te sê, dit voel soos ‘n mallemeule waarop ek Maandagoggend geklim het en Donderdag eers van afgesteier het. Daarom kan ek ook nie nou al sinvol oor die enorme en spannende ervaring wat die sinode vir my was, skryf nie, maar kom ek terug op ‘n aspek van die gedenklesing wat die afgelope dae vir my op die voorgrond getree het. Terugskouend kom baie van wat ons tydens die afgelope Europese besoek beleef het, ook in die spel.
Maar kom ons begin by één waarneming tydens die lesing, in besonder met betrekking tot dr Verwoerd se radiorede by sy verkiesing as Eerste Minister, wat as deel van die lesing voorgespeel is. Die waarneming, wat iets van dr Verwoerd se grootheid vertel, is dat hy in sy ampsaanvaarding alreeds sy politieke testament geformuleer het. Met ‘n bietjie verbeelding en ‘n paar klein aanpassings kan ons hom byna dieselfde rede op 7 September 1966 hoor lewer.
Daarmee sê ek nog lank nie dat hy bo kritiek verhewe is of dat die byna vyftig jaar sedertdien hom uitsluitlik reg bewys het nie. Inteendeel, ek wil juis ‘n aspek van hierdie selfde politieke testament aan terugskouende kritiek onderwerp, die teendeel daarvan oorweeg en uiteindelik ‘n ander benadering as beide aan die orde stel. Maar kom ons begin met ‘n aanhaling uit die radiorede, gelewer op 3 September 1958. Hy sê onder andere:

Dr Christiaan Verwoerd lewer die nege en dertigste HF Verwoerd-gedenklesing op 10 Oktober 2014 in Orania
“Die kleurbeleid binne die Unie word nog steeds misverstaan. Veral diegene wat nie uit ervaring kan meepraat nie, begryp nog steeds nie dat apartheid of aparte ontwikkeling berus op die besef dat die swakkere alleen teen die sterkere beskerm kan word en die andersoortige en getalsmindere teen die getalsmeerdere veilig voel, met ander woorde dat botsing alleen vermy kan word, indien daar soveel moontlik skeiding kom.
“Skeiding, of dit woongebied of landgebied of lewensterrein betref, beoog nie verdrukking nie. Dit beoog volle kanse vir almal – wat weliswaar net benut kan word tot die mate waarin die persoon of groep op verskillende stadia daartoe opgewasse is. So-iets kan net vir elkeen binne sy rassegemeenskap beplan en bewerkstellig word. Dié basiese oogmerk én gevolg moet op die mees onomwonde wyse gestel word: met die beleid van aparte ontwikkeling word geluk, veiligheid en die anker van ‘n eie tuis-, taal- en bestuursgebied aan Bantoe sowel as Blanke gegun en nagestreef.
“Dit word soms uit die oog verloor dat die regering en elkeen wat ‘n gesonde toekoms op morele grondslag wil bou, nie só moet dink aan die voorspoed en tevredenheid en vrymaking van die Bantoe nie, dat hy die Blanke se reg op beskerming vir hom van alles wat hy oor geslagte opgebou het, uit die oog verloor nie. Sý goed, sý vryheid, sý regte kan egter, weens die getalleverhoudings, alleen vir hom behoue bly deur hulle apart te laat besit en beoefen.”
In aanloop tot my kritiek op die aanhaling hierbo, wil ek ‘n ander saak wat onder volkstaters los rondlê, bymekaarvat. Dit het met terminologie – en dadelik meer as terminologie – te doen, naamlik met dr Verwoerd se verwysings na “Bantoe” en “Blanke”. As dit ‘n bietjie uitgepluis is, hoop ek dat my kritiek en alternatief sommer kort gestel kan word.
“Bantoe” was destyds ‘n poging om verby politiek gelaaide en uitdruklik of onregstreeks beledigende woorde te tree en ‘n tegniese, volkekundige term met sy oorsprong in diegene wat dit beskryf, sy eie tale te gebruik. Met watter lading dit ookal later belas is, was dit niks minder nie as ‘n groot, versoenende gebaar om dié woord in die omgangstaal in te voer. Dit beteken nie dat ons dit nog moet probeer gebruik nie, die terme waarmee mense hulleself beskryf, is altyd beter, maar dit is belangrik om in gedagte te hou.
“Blanke” is natuurlik die meer problematiese term omdat dit op die oog af na ‘n rassegroep eerder as ‘n volksgroep verwys, iets waarmee die volkstaters se etniese inslag later ongemaklik geraak het. Dit is al as “Verwoerd se groot fout” uitgewys omdat hy ons daarmee in ‘n rassistiese hoek vasgeverf het eerder as om die meer aanvaarbare, “etniese logika” in te span. Dié beswaar dra egter minder gewig as wat dit met die eerste oogopslag mag lyk.
Eerstens sal dit ‘n fout wees om die aanvaarbaarheid wat etnisiteit in die liberale wêreld geniet, te oorskat. Enigiets wat die idee van “global humanity” ondermyn, die idee dat die mensdom uit individue bestaan wat ten diepste almal dieselfde dinge begeer, word uiteindelik met dieselfde vyandigheid bejeën. Uit liberale oogpunt is etnisiteit hoogstens bruikbaar om die uiteenlopende oorspronge waaruit “global humanity” voortgekom het, te demonstreer. Spore daarvan kan soos die speserye in ‘n geurige gereg herken word, maar identiteitspolitiek wat die diversiteit as grondslag neem en daaraan staatkundige uitdrukking wil gee, bly uit dié oogpunt ewe onaanvaarbaar, hoe dit ookal aangebied word.
Tweedens maak dit eenvoudig nie sin om die Afrikaner van Verwoerd se tyd, apart van die destydse Suid-Afrika te bedink nie; en vervolgens maak dit nie sin om dié Suid-Afrika apart van sy politieke struktuur sedert 1910 te bedink nie, naamlik dat Blankes die toneel sou oorheers, en dat baie sou afhang van die verhouding wat tussen Afrikaners en Engelse tot stand sou kom. Die moderne (tweede) Afrikaner is eerder die gevolg as die oorsaak van dié staatkundige bedeling en sy aspirasies was op republiekwording gerig eerder as op iets soos die herstel van die Boere-republieke – wat in elk geval met dieselfde bevolkingsvraagstukke as die hele Suid-Afrika te kampe sou hê. Boonop het swartmense se politieke aspirasies Engelse en Afrikaners in Suid-Afrika voor dieselfde uitdagings gestel.
Derdens het dr Verwoerd van ‘n sterk sin vir solidariteit met die Weste uitgegaan. Die feit dat dit daarna deur Westerse lande se veroordeling van Apartheid en hulle boikotbeleid teen Suid-Afrika ondermyn is, neem egter nie weg dat ons Afrikaners in ‘n diep en omvattende sin tot die Westerse beskawing behoort nie – ‘n beskawing wat nog dikwels in eie geledere as “Blank” beskryf word sonder dat dit as rassisme gebrandmerk is. Met ons politieke gevoeligheid is dit eintlik verrassend om te hoor hoe maklik en ongelaai Europeërs vandag nog die woord gebruik.
Met die hele argument wil ek allermins aanvoer dat ons die term “Blank” opnuut in gebruik moet neem, maar probeer ek om dr Verwoerd se gebruik daarvan in perspektief te plaas en om ‘n dieper begrip van wat in sy beleidsrigtings werklik problematies geword het, te kry. Reeds in die eerste sin van die aanhaling hierbo maak hy die kritieke verstelling vanaf “apartheid” na “aparte ontwikkeling” en in dele wat nie aangehaal is nie, behandel hy Suid-Afrika se buitelandse verhoudinge sowel as die verhouding tussen Afrikaners en Engelse op ‘n manier wat van werklik genuanseerde denke spreek. Die volgende kritiek is dus meer op die effek van sy denke as op sy persoonlike houding of insigte gerig.
Die kritiek is dat daar gou oor die hele Suid-Afrika gestaan het “Apart! Apart! Apart!” en dat, al was dr Verwoerd se denke meer genuanseerd, die orde wat hy help vestig het in die teken daavan gestaan het. Die teenoorgestelde, naamlik “Saam! Saam! Saam!” het sedertdien, danksy die ideologiese ywer en onophoudelike herhaling waarmee die liberale voorstanders van “global humanity” dit bevorder het, algemene inslag gevind. Om die waarheid te sê, as Afrikaners sestig jaar gelede geglo het “apart is goed en saam is sleg”, glo die meeste Westerlinge, Afrikaners inkluis, vandag “apart is sleg en saam is goed”.
My punt is dat altwee dié vereenvoudigings die bal heeltemaal mis slaan. Buiten dat elke politieke moralisering met groot verdag bejeën moet word, hou hierdie veralgemening in albei rigtings skadelike gevolge in. “Saam” of “apart” is nie in sigself goed of sleg nie en dit behoort nie as sodanig nagejaag of beveg te word nie; dít kan ook nie sonder om die teendeel op te roep en ‘n slegte dialektiek tot gevolg te hê nie. Die feit is dat ons in sekere verbande en in sekere opsigte soms “saam” en soms “apart” is, of mens dit nou uit taal-, kultuur-, etniese of rasse-oogpunt, of watter ander oogpunt ookal, beskou.
Wat vir ons op die weg lê en gelê het, is om die regte en realistiese kombinasie van “saam” en “apart” te vind, ‘n kombinasie wat uitdrukking aan mense se identiteite gee sonder om óf kwetsend, óf opdringerig te wees; ‘n kombinasie wat aan elke situasie reg laat geskied. Die eenvoudigste voorbeeld het met die verband tussen ekonomie en politiek te doen: dat ekonomiese integrasie wat by markte verby tot in werksplekke en woonplekke strek, politieke apartheid mettertyd tot niet maak. Of anders gestel, ‘n selfstandige gemeenskap word nie op vreemde arbeid gebou nie. Daarmee word selfstandige gemeenskappe nie tot isolasie verdoem nie, want daar is immers altyd plekke en geleentheide, soos markte, waar ons tot almal se voordeel saamkom.
Die probleem met die Suid-Afrika wat dr Verwoerd wou vestig, lê dus nie in die gedagte dat “geluk, veiligheid en die anker van ‘n eie tuis-, taal- en bestuursgebied aan Bantoe sowel as Blanke gegun en nagestreef” is nie; of dat “elkeen wat ‘n gesonde toekoms op morele grondslag wil bou, nie só moet dink aan die voorspoed en tevredenheid en vrymaking van die Bantoe nie, dat hy die Blanke se reg op beskerming vir hom van alles wat hy oor geslagte opgebou het, uit die oog verloor nie”. Daarvoor het hy aanvaarding gevind, maar die gedagte dat “sý [die Blanke se] goed, sý vryheid, sý regte … alleen vir hom behoue bly deur hulle apart te laat besit en beoefen” het tot ‘n eensydigheid aanleiding gegee wat dr Verwoerd se eie nuanses en visie uiteindelik tot niet gemaak het. Prakties gesproke het die probleem by “… soveel moontlik skeiding” ingekom.
Die feit dat die omgekeerde eensydigheid, die verabsolutering van “saam” waaraan ons sedertdien uitgelewer is, al die moeilikhede wat destyds voorsien is, meegebring het, kan ons mense laat voel dat “apart” opnuut tot aller-antwoord verhef moet word. Dit sal egter die grootste fout wees wat ons kan maak; wat ons nodig het, is ‘n samehang wat van erkenning en geregtigheid spreek. Wat ons nodig het, is ‘n samehang wat van erkening en geregtigheid spreek.
by Jaco Kleynhans | Okt 21, 2014 | Nuus |
Agri SA, Suid-Afrika se grootste landbou-organisasie het verlede week tydens hul jaarkongres ‘n ambisieuse grondhervormingsplan bekend gemaak. Die president van Agri SA, Johannes Möller, het hom sterk ten gunste van grondhervorming uitgespreek.
Dit is duidelik dat die strategie van Agri SA daarop geskoei is om ‘n pro-aktiewe benadering tot grondhervorming te volg. Die boodskap wat hulle dus uitstuur is een waar grootskaalse grondhervorming ‘n gegewe is en waar die redes daarvoor reeds bestudeer en aanvaar is. Hoewel Agri SA waarskynlik reg optree deur nie ‘n strategie van konfrontasie met die regering te volg nie, maak hy egter ‘n fout deur nie die motiewe agter die grondhervorminggeraasmakers se propaganda te bevraagteken nie.
Waarom vra die leierskap van Agri SA nie meer indringende vrae oor huidige grondbesit in Suid-Afrika nie? Waarom gebruik die organisasie nie die lae persentasie swart Suid-Afrikaners wat gedurende die vorige grondeiseproses vir grond bo geld gekies het, as bewys dat die regering se boodskap oor grondhervorming skeefgetrek is nie? Sou dit nie beter gewees het vir Agri SA om eerder ‘n sterk boodskap teen grootskaalse grondhervorming te formuleer as om eenvoudig so ‘n proses as ‘n gegewe te aanvaar nie?
Daar is heelwat rede om te glo dat grondhervorming ‘n beperkte bydrae tot die lewensgehalte van swart Suid-Afrikaners sal lewer. Ons sien vandag steeds grootskaalse verstedeliking in Suid-Afrika. Die meeste swart Suid-Afrikaners wil graag ‘n goeie stedelike lewe lei en daar is baie min swartmense by wie daar nog ‘n agrariese tradisie bestaan. Die grootste struikelblokke vir swart Suid-Afrikaners is onderwys, toegang tot naskoolse opleiding, ekonomiese vaardighede, kapitaal en dienslewering. Toegang tot grond beteken nie toegang tot welvaart nie en die invloed van klimaat, insetkoste, internasionale mededinging en tegnologiese vooruitgang maak boerdery ‘n moeilike en duur bedryf.
Indien die regering eerlik is oor swartmense se behoefte om grond te besit moet die vraag gevra word waarom die regering dan nie sy grondhervormingsproses begin deur eenvoudig die miljoene swartmense wat op staatsgrond en in staatshuise woon eiendomsreg te gee nie? Die ekonomiese impak hiervan sal reeds enorm groot wees omdat hierdie mense, baie van hulle in die ou tuislande, skielik toegang tot kapitaal sal kry wat kommersiële boerdery makliker sal maak.
Die idee dat meer swartmense kommersiële boere moet word is goed, maar om dit te forseer sou onsinnig wees. Op plekke waar suksesvolle swart kommersiële boere aangetref word, is dit meestal deur hul eie toedoen dat hul suksesvol geraak het en nie omdat die regering vir hulle ‘n stukkie grond gegee het nie. Daar is voortdurend ‘n toename in suksesvolle swartmense wat binne die vryemark plase aankoop. Dit gekoppel aan groter eiendomsreg sal op ‘n ongedwonge wyse swartmense se deelname aan kommersiële landbou verhoog.
Grootskaalse grondhervorming en nuwe grondeise skep onsekerheid wat wesenlike skade aan Suid-Afrika se landboubedryf kan aanrig. Landbou-organisasies moet pro-aktief dink en mag kreatiewe grondhervorming steun, maar hulle kan nie toelaat dat die regering en aktiviste met leuens verkeerde en selfs gevaarlike persepsies oor grond skep nie.
* Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging en skryf vanuit sy persoonlike hoedanigheid op die Orania Blog. Verskeie van sy plasings is as nuuskommentare vir ander media saamgestel en is algemene kommentaar oor plaaslike en internasionale nuus. Inskrywings moenie as beleidstellings van die Orania Beweging beskou word nie.
by Sebastiaan Biehl | Okt 15, 2014 | Nuus |
Baie is al bespiegel oor Orania se inwonersgetalle, ouderdomsgroepe en geslagsverdeling en hoe die demografie van die omgewing lyk.
Die rede om die eerste groeipunt in Orania in die Noordwes-Kaap in 1991 te stig en om die aangewese volkstaatgebied tussen Oranjerivier en Weskus voor te stel was hoofsaaklik demografie, met ander woorde die feit dat dit ‘n baie yl bevolkte gebied is met min of geen bevolkingsgroei en waar met relatief klein getalle Afrikaners meerderheidsbesetting bereik kan word.
Met die syfers van Sensus 2011 en vergelykende syfers van Sensus 2001 en Orania se eie syfers, kon ‘n paar interessante bevindinge gemaak word rakende Orania en die omgewing se demografie.
Orania as dorp het 867 inwoners (data van Sensus 2011), maar as plaasgrond wat onder die beheer van Orania se maatskappye val, bygetel word, is die syfer amper ‘n duisend inwoners. Intussen het die bevolking nog gegroei, maar die syfer van om en by 1000 inwoners is veilig. Daar vind altyd ’n bietjie ondertellery plaas, maar dit is beter as skattings, wat geneig is om te hoog te wees. Wat nou reeds duidelik is, is dat Orania die grootste konsentrasie Afrikaners in die hele streek huisves.
Wat belangriker is as die getalle, is die feit dat Orania se bevolking geweldig gegroei het tussen 2001 en 2011, naamlik met 72%, en steeds groei. Wat nog meer sê, is dat dit groei is van mense wat hulleself kan onderhou en ekonomies aktief is, nie groei weens plakkery nie, soos wat op talle ander dorpe die geval is. Orania se groei is egter feitlik uitsluitlik weens nuwe intrekkers, nie weens natuurlike aanwas nie. Geboorte- en sterftesyfers is redelik in balans.
Wat die ouderdomsverspreiding betref, lyk Orania baie gesond. Daar is genoeg kinders, maar die grootste groep is mense in die ekonomies aktiewe ouderdomsgrope tussen 20 en 60. Hier is natuurlik ou mense ook, maar anders as wat die persepsie is, is hulle persentasie eintlik min as ’n mens dit vergelyk met die ouderdomsprofiel van die Afrikanervolk as geheel, of met die van ander Westerse volke. In ‘n Derde Wêreld opset, soos die meeste dorpe in die omgewing, is daar baie kinders, minder ekonomies aktiewe mense en baie min ou mense, die klassieke piramiede. In ‘n Westerse samelewing is daar te min kinders en te veel ou mense en die bevolkingssamelstelling neem die vorm van ‘n sampioen aan. Orania s’n is die goue middeweg tussen die twee uiterstes.
Orania het wel heelwat meer mans as vroue (60% teenoor 40%), wat egter vir ‘n pionierssamelewing en ‘n dorp wie se kernbedrywe landbou, konstruksie en herstelwerk is, nie ongewoon is nie. Soos wat hier meer dienstebedrywe en administratiewe poste ontstaan, sal die geslagswanbalans vanself regkom. Dit het reeds verbeter. Vir die bou van ‘n gesonde samelewing is die vorming van gesinne belangrik en dus ‘n balans tussen die twee geslagte.
Wat die omgewing betref (dorpe soos Hopetown, Strydenburg, Vanderkloof, Petrusville, Phillipstown en Luckhoff), is dit opvallend dat die streek oorwegend Afrikaanssprekend is (omtrent 80% praat Afrikaans as moedertaal) en oorwegend deur bruin mense bewoon word. Die getalle van witmense, wat in die streek feitlik almal Afrikaners is, gaan geleidelik agteruit, soos wat ongelukkig orals op die platteland weens trek na die stede te bespeur is. Slegs Vanderkloof trek in ‘n beperkte mate wit mense omdat dit ‘n aftreedorp is. Swartmense in die streek is ‘n minderheid, maar hulle getalle tel nogal merkwaardig op. Asiërs was in 2001 feitlik afwesig en hulle getalle is nog steeds baie klein, maar die toename is sterk. Dit het te doen met die verskynsel van Sjinese handelaars wat deesdae in elke dorp te vinde is. Terwyl die dorpe se getalle styg, ongeag of daar ekonomiese aktiwiteit is of nie, ontvolk die plase. Dit geld vir alle bevolkingsgroepe, maar veral vir bruin en swart plaaswerkers, wat dikwels na die naaste dorp toe trek. Weens meganisasie word plaaswerkers al hoe minder benodig.
Hierdie bevindinge beteken vir die strategie van die Orania Beweging dat op die uitbou van Orania tot ‘n klein stad gefokus moet word, eerder as om te probeer om dorpe in die omgewing oor te neem. Selfs vir die kleinste dorp in die omgewing, Strydenburg, is sowat 3000 Afrikaners nodig om ‘n meerderheid daar te stel. Die aankoop van plase is egter ‘n strategie wat toenemend die moeite werd is soos wat plase ontvolk en voedselsekuriteit belangrik raak. Orania beskik tans egter reeds oor ‘n groot plaasgedeelte.
Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.
Nuutste Opmerkings