fbpx

Orania Veiligheidsdienste slaan toe op koperdiewe

 

 

Lede van Orania Veiligheidsdienste het saam met plaaslike boere en die SAPD in die vroeë oggendure ‘n suksesvolle reaksie-operasie uitgevoer en drie vermeende koperdiewe, wat die omgewing met kriminele aktiwiteite geteister het, gearresteer.

Orania Veiligheidsdienste (OVD) is ‘n professionele en geregistreerde veiligheidsmaatskappy wat ‘n vol filiaal van Orania Dorpsraad is, en dit ten doel stel om Orania en die omgewing veilig te hou en openbare orde te handhaaf. Die OVD personeel bestaan uit ‘n kombinasie van professionele en vrywillige lede (wat onder die Orania Weerbaarheidvereniging resorteer) waarvan sommige spesialisopleiding ontvang om hulle take te kan uitvoer.

Lede van OVD het die afgelope week die aktiwiteite van ‘n kriminele bende wat die omgewing met misdaadaktiwiteite geterroriseer het, gemonitor. Na verskeie insidente waar veral koperkabels van spilpunte op omliggende plase gesteel is, het OVD se spanne en vrywilligers ‘n hommeltuig, honde, nagsigtoerusting en voorafopgestelde kameras op plase rondom Orania ingespan. Op Donderdag 9 November het lede van OVD, wat die OVD Taakspan, Reaksiespan, Reserwegroep en AfriForum Protospan insluit, weer berig gekry van ‘n misdaad wat in proses was en spanne het met hulle toerusting ontplooi.

 

Foto: ‘n Verdagte is op beeld vasgevang deur nagsigkameras wat OVD en plaaslike boere vooraf in die veld opgestel het.

 

Van die spanne het as stoppergroepe opgetree, terwyl ander die verdagtes deur nagsigtoerusting dopgehou het, en deur radio-kommunikasie die spanne tot by die verdagtes gelei het.

Toe die veiligheidspanne inbeweeg vir die arrestasie, het die vermeende diewe probeer ontsnap en is deur veiligheidspersoneel ingehaal. Drie verdagtes, twee diewe en die span se ontsnapvoertuigbestuurder, is gearresteer en ‘n saak is by die Suid-Afrikaanse polisie aanhangig gemaak. Die verdagtes word ook volgens SAPD inligting moontlik aan ander rowe en dwelmbedrywighede verbind.

Orania se veiligheidsgroepe opereer goed saam met ander rolspelers en werk baie goed saam met die plaaslike boerderygemeenskap, ander veiligheidsgroepe en die SAPD.

 

Foto: OVD personeel tydens ‘n vorige beplanningsessie

 

Theuns Wessels, weerbaarheidsbestuurder by OVD het gesê dat die verskillende spanne goed saamgewerk het tot ‘n gedeelde doel. “Ons kon daarin slaag om met samewerking en die aanwending van tegnologie effektief te ontplooi en weereens ‘n goeie wen vir die veiligheidspoging in die streek te kry.”

Ettiene de Lange, hoof van OVD, het hierby aangesluit deur te sê dat deel van Orania se veiligheidstrategie daarin lê om die streek te help beveilig.

“ ‘n Veilige streek beteken ‘n veilige Orania” het Ettiene gesê.

Verteenwoordigers van die gemeenskap het hulle dank teenoor die spanne uitgespreek.

 

Foto: OVD en noodmediese personeel in Orania tydens ‘n vorige aksie

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za