fbpx

Hoekom is daar ‘n Verwoerdhuis in Orania?

Verwoerd4Daar is feitlik geen artikel van ‘n buitelandse joernalis wat nie prominent die Verwoerdhuis en die granietbeeld van dr Verwoerd vertoon nie. Dikwels met ‘n negatiewe bedoeling om te wys dat “Orania in die verlede leef en die argitek van apartheid vereer en daarmee sy haat en minagting vir die reënboognasie uitdruk” of iets soortgelyks.

Waarom is daar ‘n Verwoerdmuseum in Orania? Is dit ’n stelling teen die “nuwe” Suid-Afrika en ‘n “bewys” dat ons nie vrede maak met die hede nie?

Allermins. Die rede waarom daar ’n Verwoerdhuis in Orania is, is in die eerste plek dat dit ‘n historiese monument is wat bewaar moet word vir die die nageslag en vir diegene wat meer oor dr Verwoerd wil weet. Ongeag of ‘n mens ‘n bewonderaar van dr Verwoerd is of nie, die feit bly staan dat hy seker die persoon was wat Suid-Afrika in die 20ste eeu die meeste gevorm het en wat nie eenvoudig verswyg kan word nie. Al word alle Verwoerdbeelde en alle verwysings na hom deur die ANC-regering verwyder, bly sy handskrif in die vorming van die moderne Suid-Afrika nog altyd bestaan.

Die Verwoerdhuis in Orania was van 1992 tot 2000 die woning van sy weduwee mev Betsie Verwoerd, ‘n merkwaardige persoon in eie reg wie se verbintenis met Orania en die Afrikaner se vryheidstrewe ook nie misken moet word nie. Anders as menige vroue van politici, wat maar net hulle mans se vroue was, het mev Verwoerd ook na haar man se tragiese dood betrokke gebly op allerhande terreine van die Afrikanerkultuur soos die Voortrekkers, SABRA, die Afrikaner-Volkswag en Avstig, om maar enkele voorbeelde te noem. Na haar vreedsame afsterwe in 2000 op 98-jarige ouderdom het haar klein, beskeie maar smaakvolle woning behoue gebly en is die tweede deel van die huis, die opsigterswoning, omskep in ‘n museum wat dr. Verwoerd se nalatenskap uitstal.

Elke gewese eerste minister of president van ‘n land het gewoonlik ‘n museum in sy geboortehuis of die huis waar hy die langste tyd gewoon het. Aangesien dr Verword in Amsterdam, Nederland gebore is en in Suid-Afrika weens sy politieke betrokkenheid veel rondgetrek het en weens die feit dat hy vermoor is ook nie ‘n plek vir sy oudag gehad het nie, is daar geen plek  wat hom leun tot ‘n Verwoerdmuseum nie, behalwe sy weduwee se laaste woonplek. Ander eerste ministers of presidente soos Paul Kruger, Jan Smuts, JG Strijdom, JBM Hertzog en ander het almal ‘n huis wat aan hulle herinner en daar word geen ophef van gemaak nie, want dit is historiese figure en hulle word as sodanig behandel. Dat Orania ‘n Verwoerdmuseum het, beteken dus nie dat ons dr Verwoerd se beleid een vir een onderskryf nie, maar ons is ook nie skaam vir die groot rol wat hy gespeel het nie. Hy is net so deel van die Afrikanererfenis soos Andries Pretorius, Paul Kruger, Christiaan de Wet of Koos de la Rey.

Sonder om te veel in te gaan in dr Verwoerd se beleid en sy tyd moet eenvoudig erken word dat hy in sy tyd uiters suksesvol en gewild was onder sy volk en ook deur vele swart mense gerespekteer is. Dit was ‘n tyd van voorspoed en relatiewe vrede en alle volksgroepe het daarby gebaat. Die ANC en ander swart nasionalistiese groepe het destyds nie die meerderheid swart mense verteenwoordig nie en was boonop deurspek met kommuniste wat gestaan het vir ‘n wêreldrevolusie en die vernietiging van ‘n Westerse en geordende samelewing. Eers heelwat later het die ANC meer gematig geword. Om dus die 1960’s te beoordeel na die hand van die huidige siening van menseregte en individualistiese vryhede wat heers sedert die val van die ystergordyn is amper absurd.

Die belangrikste nalatenskap van dr Verwoerd vir Orania is die Oranjerivier-Waterskema met sy damme en kanale, waarsonder hierdie streek nie die oase met die landboumoontlikhede sou wees wat dit is nie. Sonder die waterskema sou ook geen dorp Orania destyds in die 1960’s gestig gewees het nie en sou die tweede stigting in 1991 as volkstaatdorp nie moontlik gewees het nie.

Besoekers aan die Verwoerdhuis is elke keer aangegryp. Ouer mense word herinner aan ‘n era wat hulle as besonder voorspoedig beleef het en die groot skok wat die sluipmoord op dr Verwoerd vir die destydse samelewing was. Jonger mense raak geïnteresseerd om meer te lees oor ‘n persoon en sy tyd waarvan hulle min weet en gewoonlik net enkele trefwoorde buite konteks gehoor het. Vir diegene wat navorsing doen oor die era van Verwoerd is die museum ook ‘n belangrike bron van eerstehandse inligting.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Die waarde van tradisie, godsdiens en kultuur

Burke2As ons die meningsvormers van ons tyd, soos dr Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg moet glo, is tradisie, geloof en kultuur dinge wat ons terughou en wat oorkom moet word deur progressiewe denke, oftewel liberalisme. Hy noem uiterste voorbeelde van die misbruik wat in die naam van tradisie, kultuur en geloof gepleeg word, soos die onderdrukking van vroue in die Moslemwêreld in die naam van geloof. Hy is reg dat nie enige wanpraktyk stilswyend aanvaar of selfs goedgekeur moet word net omdat dit in die naam van kultuur, tradisie en geloof plaasvind nie.

Om egter die drie begrippe te reduseer tot wanpraktyke en om die bevryding van kultuur, godsdiens en tradisie deur middel van liberalisme te bepleit, skiet vêr te kort. ‘n Baie dieper denker as Croucamp is Edmund Burke, wat  in die 18de-eeuse Engeland polities en veral as denker en filosoof aktief was en wie se denke nog vandag geldigheid het. Die mensdom het wel sedertdien tegnologies geweldig ontwikkel, maar sy denkpatrone het deur die eeue breedweg dieselfde gebly. Reeds in die antieke tydperk was daar diegene wat ten alle koste aan ‘n onwerkbare stelsel wou vashou, diegene wat dit radikaal omvêr wou werp en diegene wat wanpraktyke wou afskaf sonder om die baba met die badwater uit te gooi. Laasgenoemde groep is die konserwatiewes en Burke was by uitstek ‘n verteenwoordiger van die denke en houding. Anders as wat algemeen daaronder verstaan word (en deur misplaaste name soos die “Konserwatiewe Party” van weleer versterk word) is konserwatiewes nie per se teen verandering nie en wil nie enige uitgediende stelsel teen alle koste verdedig nie. Konserwatiewes in die tradisie van Burke beroep hulle op die tradisie juis om wanpraktyke en onwerkbare afwykings van ‘n stelsel weer reg te stel. Die stelsel word hervorm om dit te behou, nie om dit af te skaf nie. Radikale (linkses) daarenteen wil die stelsel omverwerp en met iets wat ongetoets is, vervang. Reaksionêre wil ten alle koste aan alles, ook aan wanpraktyke vashou en lok daarmee juis revolusies uit.

Burke bespreek breedvoerig twee tipes “rewolusies” wat in sy tyd, of kort voor sy tyd, plaasgevind het. Die “Glorieryke Revolusie” van 1688 in Brittanje kry die steun van Burke want dit het, na ‘n tydperk van ‘n burgeroorlog, weer die balans tussen koning en parlement herstel. Die burgeroorlog het ontstaan omdat die koning, James II, juis van die oeroue tradisie van balans afgewyk het en homself absolute mag wou toeëien en boonop die katolieke godsdiens in Engeland wou invoer. Die parlement, gesteun deur adelikes, het toe die Nederlandse stadhouder Willem van Oranje gevra om hulle verligte koning te wees en het in ‘n onbloedige revolusie koning James gedwing om te bedank. Willem van Oranje het koning Willem III geword en het die magsbalans weer herstel en saam met die parlement regeer soos wat dit eeue oue Britse praktyk was.

Dieselfde geld vir die Amerikaanse Revolusie (1775-1783).  Volgens Burke, wat begrip vir die Amerikaanse koloniste gehad het, al was hy ‘n lid van die Britse parlement, is inbraak gemaak op die fundamentele regte en vryhede van die koloniste en was hulle opstand ten magsmisbruik deur die Britse regering en veral die koning dus geregverdig. Hulle wou nie ‘n ander bestel hê nie, en ook nie bande met Brittanje verbreek nie, maar wou bloot terugkeer na die vryhede waaraan hulle gewoond was. Die aanvoerder van die koloniste, George Washington, was ‘n konserwatiewe en hoogs gekultiveerde mens en het gewerk vanuit waardes soos verantwoordelikheid en vryheid met geregtigheid. Die hardhandige houding van die Britse regering het egter daartoe gelei dat die koloniste geen ander uitweg gesien het as om in opstand te kom en hulle vry te verklaar. Die Verenigde State wat daaruit gebore is was egter ‘n staat wat die waardes wat konserwatiewes koester juis in beskerming geneem het en die Amerikaanse grondwet is ‘n voorbeeld van die balans van persoonlike vryhede en verantwoordelikhede. Nadat die Amerikaners hulle onafhanklikheid bekom het, het hulle hulle staat van onder af opgebou en bestaande strukture eerbiedig en die Britse tradisie eerbiedig.

Die Franse Revolusie (1789-1792), daarenteen, wou nie net wanpraktyke soos die absolute mag van die koningshuis en die adellikes, en verskriklike armoede aanspreek nie, maar het ‘n radikaal ander bestel sonder enige historiese voorbeeld nagestreef. Die revolusionêre leiers soos Danton en Robespierre was gedryf deur die skepping van ‘n utopiese samelewing wat wegdoen met tradisie en godsdiens en kan as voorlopers van menige, verwoestende kommunistiese revolusies beskou  word. Meer nog, die revolusionêre ywer het nie gestop in Frankryk nie, maar het ‘n streeksoorlog teen die heersende orde in Europa ontketen. Die Glorieryke Revolusie en die Amerikaanse Revolusie was gemik op misbruike in die betrokke lande en het nie die aanspraak gehad om ‘n wêreldrevolusie te ontketen nie.

Tradisie verteenwoordig iets wat ingewortel is in ‘n volk en net soos kultuur en godsdiens ‘n baie lang pad kom. Kultuur verander oor tyd, sekere tradisies sterf uit en ook godsdienstige praktyke bly nie altyd dieselfde nie. Wanpraktyke soos die wat deur dr Croucamp beskryf word moet beveg word. Liberaliste wil egter nie net wanpraktyke beveg nie, maar wil wegdoen met die fondasie daarvan en gebruik wanpraktyke as regverdiging daarvoor. Sodoende maak hulle die deur oop vir diegene wat die stelsel omvêrgooi. ‘n Stelsel sonder die tempering van kultuur, godsdiens en tradisie ontaard feitlik altyd in ‘n orgie van chaos en geweld, omdat dit geen fondasie het nie en die onderste boontoe gekeer word. Ons sien dit in vandag se tyd waar ongeletterde aanhitsers die agenda bepaal en die samelewing in barbarisme verval.

Orania se sukses en vermoë om in vyandige omstandighede te floreer het baie te doen met sy grondslag, naamlik die Christendom met sy waardes en die Afrikanerkultuur en tradisie.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Middeltermynverkiesing in VSA lewer groot sege vir Republikeine op

RepubliekDie middeltermyn-verkiesing vind elke 4 jaar plaas, tradisioneel in die helfte van die president se termyn, en is gewoonlik ‘n toets vir die president se gewildheid en ’n beoordeling van sy bekwaamheid, al is hy nie self verkiesbaar nie. President Obama is deur die kiesers gestraf vir sy swak en besluitelose regering. Die Demokratiese Party se kandidate het bykans swakker gevaar as in 2010. Talle Demokratiese kandidate het probeer om hulle van Obama te distansieer, maar dit het nie gehelp nie. Daar is voor die tyd ‘n swaai na die Republikeine verwag, maar nie so duidelik soos wat dit uiteindelik afgespeel het nie. Bykans oral waar ‘n kop-aan-kop verkiesing voorspel is, het die Republikeine gewen.

Daar is gestem vir die Huis van Verteenwoordigers, talle setels van die senaat en die goewerneurskappe en kongresse in meeste van die 50 state.

Die Huis van Verteenwoordigers het 435 setels en bestaan uit die verteenwoordigers vir elke kiesafdeling in elke staat. Voor die verkiesing het die Republikeine reeds ‘n meerderheid gehad van 233 en het dit nog verder opgestoot na 244 teenoor 180 vir die Demokrate (en 3 setels nog onbeslis).

Interessant was veral die verkiesing vir die senaat. Die senaat bestaan uit 100 verteenwoordigers, 2 vir elkeen van die 50 state, ongeag bevolkingsgrootte of oppervlakte. Die Huis van Verteenwoordigers was reeds onder Republikeinse beheer, maar die senaat onder Demokratiese beheer en dus het die twee huise mekaar verlam en was die laaste 4 jaar deur politieke stagnasie gekenmerk. Die beheer oor die senaat was dus vir die Republikeine van groot belang en was die hooffokus van die verkiesing. Tot dusvêr was daar 53 Demokrate teenoor 45 Republikeinse senators (en 2 onafhanklikes), maar die Republikeine het nou ook die beheer oor die senaat gekry met 52 setels tot dusver en `n verdere vyf setels wat nog beslis moet word. Talle state wat voorheen die Demokrate gesteun het, het na die Republikeine gegaan, soos West Virginia, Colorado en Iowa. Die enigste ligpunt vir die Demokrate was New Hampshire, ‘n staat wat wel Demokraties leun maar ‘n “swing-state” is waar hulle naelskraap gewen het.

Wat die goewerneursverkiesings betref, het die Republikeine ook goed gedoen. Omtrent alle state waar hulle regeer het, het hulle behou en nog enkele state gewen. Hulle beheer nou 31 state, teenoor die Demokrate se 17 (in twee moet nog uitklopverkiesings plaasvind). Selfs in tradisioneel Demokratiese state soos Massachusetts, Illinois, Michigan, Wisconsin en Maryland kon hulle deurbrake maak. In Florida, een van die belangrikste state in die VSA en een wat altyd op die mespunt staan, kon die Republikeinse goewerneur net-net wen teen sy Demokratiese teenstander.

Die oorblywende twee jaar van mnr. Obama se termyn raak nou vir hom besonder moeilik en dit blyk dat hy nie een van sy groot verkiesingsbeloftes en projekte kan deurvoer nie. ‘n President in die VSA het selde die kans om beide huise van die kongres te beheer en moet dus kompromieë aangaan, iets waarmee mnr. Obama nie goed is nie. Sy hoofprojek, die hervorming van die gesondheidstelsel, het gesneuwel en ook van ander geliefkoosde projekte soos amnestie vir onwettige immigrante het nie veel gekom nie. Wat buitelandse sake betref het mnr. Obama min ondervinding en het geen konsekwente en duidelik sigbare beleid nie.

Amerika word deur hierdie verkiesing meer konserwatief, want talle konserwatiewe kandidate het liberale en linkse kandidate vervang. Nogtans het die verkiesing nie so seer oor waardes en groot, polariserende onderwerpe gegaan nie maar was veral ‘n afrekening met mnr. Obama en sy swak leierskap. Die Tea Party Beweging, wat met die vorige verkiesing ‘n groot rol gespeel het om konserwatiewe kiesers te mobiliseer, was die keer minder prominent. Die VSA het ‘n groot middelgrond onbesliste kiesers, sogenaamde onafhanklikes, wat in enige rigting kan swaai en wat die keer veral na die Republikeine geswaai het. Die Demokrate se lojale kiesers soos swart mense oftewel Afro-Amerikaners het die keer ook met ‘n redelik lae stempersentasie deelgeneem. Die Republikeinse oorwinning is aangevuur deur hulle lojale steunbasis, wit en veral ouer kiesers.

Die VSA sit egter ook met demografiese tendense wat vir die hele weste geld: die (Engelssprekende) witmense, tans nog ‘n meerderheid, word minder teenoor swartmense en sogenaamde Hispanics of Latinos, Spaanssprekendes met wortels in Latyns-Amerika. Die Republikeine begin egter uitreik na die Hispanics wat ‘n al hoe belangriker segment raak, veral in sleutelstate soos Florida, Colorado en Texas. Daar is egter redelike kulturele verskille tussen die klassieke ondersteuner van die Republikeine (wit, protestants, Engelssprekend en middelklas) en die Hispanics, wat eerder katoliek, Spaanssprekend en dikwels armer is. ‘n Sterk standpunt teen (Latyn-Amerikaanse) immigrasie en teen welsynstoelae wat deel uitmaak van die Republikeine se kernoortuigings, is ook nie gewild onder meeste Hispanics nie.

Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.

Hoe trek ons meer mense na Orania?

CR3E2064Van die stigting van Orania in 1991 was die klem daarop om so gou as moontlik so veel as moontlik Afrikaners na die aangewese volkstaat te trek. Orania was nooit bedoel om die volkstaat te wees nie, maar slegs ‘n groeipunt en beginpunt in die toekomstige volkstaat, soos prof. Carel Boshoff dikwels beklemtoon het. Die verwagtings van die 1990’s, dat Orania en die volkstaatgebied binne enkele jare derduisende Afrikaners trek, het ongelukkig nie so gerealiseer nie.

Alhoewel die voorspellings oor die toedrag van sake in Suid-Afrika onder ANC-bewind amper woord vir woord waar geword het (misdaad kry die oorhand, munisipale dienste verval, Afrikaans en Afrikaanse onderwys word uitgefaseer, Christelike waardes word deur sekularisme en materialisme vervang, stakings verlam die land, die eiendomsreg word uitgehol ens), het die volkstaatstigters twee dinge nie reg voorspel nie, naamlik die aanpasbaarheid van Afrikaners aan die verslegtende omstandighede, en die sterk emigrasiestroom. Van die begin af is te veel op die stootfaktore en te min op die trekfaktore gefokus. Die Afrikaner se vryheidstrewe, waarvoor die volk in die verlede bereid was om groot offers te bring soos die Groot Trek en die Vryheidsoorloë teen die magtige Brittanje, is telkens as bewys aangehaal dat die volk wel op ‘n punt soos een man sal opstaan en sy toekoms self sal vorm. Daarby is egter net na die Eerste Afrikaner (die mense van die Groot Trek en die Boererepublieke) verwys en nie in berekening gebring dat die Afrikaner fundamenteel verander het na die neerlaag in die Tweede Vryheidsoorlog, vergelykbaar met die Duitsers na die Tweede Wêreldoorlog.

As iemand wat reeds vanaf 1996, in die pionierstyd, by Orania betrokke is onthou ek goed die gesprekke tussen volkstaters en gewone Afrikaners, wat dikwels bymekaar verby gepraat het. Die volkstaters was vol idealisme en het die groot prentjie geskilder van waarheen die land onder ‘n ANC-bewind op pad is en watter wonderlike geleenthede die volkstaat vir Afrikaners bied en hoe kosbaar vryheid en selfstandigheid is. Die deursnee Afrikaners het egter telkens vasgehaak by klein dinge wat vir hulle die trek na Orania onaantreklik gemaak het: die droë omgewing, die onnet sypaadjies en tuine, die gebrek aan goed betaalde werk, die afwesigheid van winkelsentrums, mediese dienste, en vermaak en die vrees vir isolasie.

Deesdae word baie meer op trekfaktore gefokus en ‘n beleid van klein treë vorentoe gevolg. Estetika van ‘n dorp is natuurlik nie so belangrik soos behuising en werksgeleenthede nie, maar dit is dikwels die eerste indruk wat by voornemende intrekkers die uitslag gee om te kom of nie te kom nie. Die Dorpsraad en Orania Beweging het al ‘n paar jaar gelede begin om openbare tuine aan te lê. Dit het geleidelik die inwoners beïnvloed en deesdae is meeste tuine netjies, talle is selfs ‘n ware lus vir die oog. ‘n Mens kan nie netheid afdwing nie, maar jy kan ‘n voorbeeld stel en jou omgewing beïnvloed.

Die aanbod aan winkels en ontspanningsgeleenthede het ook aansienlik toegeneem, veral sedert die bou van die Saamstaan Winkelsentrum in 2005, en sal later vanjaar, wanneer Stokkiesdraai Avontuurpark en Ou Karooplaas Winkelsentrum voltooi is, ‘n verdere groot hupstoot kry.

Die dorpsuitleg is ook georden en word geleidelik van die pioniersdorp met die voorkoms van ‘n “Wilde Weste dorp” waar almal in hulle erwe en huise doen wat hulle wil, verander na ‘n amper Europese dorp wat netjies en gestruktureerd is en ingedeel is volgens sones vir woon, werk, ontspanning en besigheid.

Mediese dienste, vir lank ‘n groot rede vir mense om nie na Orania toe te kom nie, verbeter ook geleidelik. Vir die basiese mediese behoeftes is ‘n kliniek ingerig, en daar word aktief gewerf vir ‘n voltydse dokter. ‘n Oogkundige praktyk sal ook binnekort in Orania gevestig wees.

So lei een tree tot die volgende een en die hekkie vir voornemende inwoners word al hoe laer. Daarby moet ons egter nooit die groot doel uit die oog verloor nie. Alles wat Orania se inwoners en uitwoners al vir dekades ingesit het, is en was nie bedoel om net ‘n oulike en mooi dorpie, waarvan daar talle in Suid-Afrika is, te skep nie. Die doel is nog altyd die totstandkoming van ‘n eie, vrye Afrikanergebied waar ons volgens ons waardes, tradisies en oortuigings kan leef en beheer oor ons eie toekoms kan neem.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Orania, sy omgewing en die demografie

BeeldeBaie is al bespiegel oor Orania se inwonersgetalle, ouderdomsgroepe en geslagsverdeling en hoe die demografie van die omgewing lyk.
Die rede om die eerste groeipunt in Orania in die Noordwes-Kaap in 1991 te stig en om die aangewese volkstaatgebied tussen Oranjerivier en Weskus voor te stel was hoofsaaklik demografie, met ander woorde die feit dat dit ‘n baie yl bevolkte gebied is met min of geen bevolkingsgroei en waar met relatief klein getalle Afrikaners meerderheidsbesetting bereik kan word.
Met die syfers van Sensus 2011 en vergelykende syfers van Sensus 2001 en Orania se eie syfers, kon ‘n paar interessante bevindinge gemaak word rakende Orania en die omgewing se demografie.
Orania as dorp het 867 inwoners (data van Sensus 2011), maar as plaasgrond wat onder die beheer van Orania se maatskappye val, bygetel word, is die syfer amper ‘n duisend inwoners. Intussen het die bevolking nog gegroei, maar die syfer van om en by 1000 inwoners is veilig. Daar vind altyd ’n bietjie ondertellery plaas, maar dit is beter as skattings, wat geneig is om te hoog te wees. Wat nou reeds duidelik is, is dat Orania die grootste konsentrasie Afrikaners in die hele streek huisves.
Wat belangriker is as die getalle, is die feit dat Orania se bevolking geweldig gegroei het tussen 2001 en 2011, naamlik met 72%, en steeds groei. Wat nog meer sê, is dat dit groei is van mense wat hulleself kan onderhou en ekonomies aktief is, nie groei weens plakkery nie, soos wat op talle ander dorpe die geval is. Orania se groei is egter feitlik uitsluitlik weens nuwe intrekkers, nie weens natuurlike aanwas nie. Geboorte- en sterftesyfers is redelik in balans.
Wat die ouderdomsverspreiding betref, lyk Orania baie gesond. Daar is genoeg kinders, maar die grootste groep is mense in die ekonomies aktiewe ouderdomsgrope tussen 20 en 60. Hier is natuurlik ou mense ook, maar anders as wat die persepsie is, is hulle persentasie eintlik min as ’n mens dit vergelyk met die ouderdomsprofiel van die Afrikanervolk as geheel, of met die van ander Westerse volke. In ‘n Derde Wêreld opset, soos die meeste dorpe in die omgewing, is daar baie kinders, minder ekonomies aktiewe mense en baie min ou mense, die klassieke piramiede. In ‘n Westerse samelewing is daar te min kinders en te veel ou mense en die bevolkingssamelstelling neem die vorm van ‘n sampioen aan. Orania s’n is die goue middeweg tussen die twee uiterstes.
Orania het wel heelwat meer mans as vroue (60% teenoor 40%), wat egter vir ‘n pionierssamelewing en ‘n dorp wie se kernbedrywe landbou, konstruksie en herstelwerk is, nie ongewoon is nie. Soos wat hier meer dienstebedrywe en administratiewe poste ontstaan, sal die geslagswanbalans vanself regkom. Dit het reeds verbeter. Vir die bou van ‘n gesonde samelewing is die vorming van gesinne belangrik en dus ‘n balans tussen die twee geslagte.
Wat die omgewing betref (dorpe soos Hopetown, Strydenburg, Vanderkloof, Petrusville, Phillipstown en Luckhoff), is dit opvallend dat die streek oorwegend Afrikaanssprekend is (omtrent 80% praat Afrikaans as moedertaal) en oorwegend deur bruin mense bewoon word. Die getalle van witmense, wat in die streek feitlik almal Afrikaners is, gaan geleidelik agteruit, soos wat ongelukkig orals op die platteland weens trek na die stede te bespeur is. Slegs Vanderkloof trek in ‘n beperkte mate wit mense omdat dit ‘n aftreedorp is. Swartmense in die streek is ‘n minderheid, maar hulle getalle tel nogal merkwaardig op. Asiërs was in 2001 feitlik afwesig en hulle getalle is nog steeds baie klein, maar die toename is sterk. Dit het te doen met die verskynsel van Sjinese handelaars wat deesdae in elke dorp te vinde is. Terwyl die dorpe se getalle styg, ongeag of daar ekonomiese aktiwiteit is of nie, ontvolk die plase. Dit geld vir alle bevolkingsgroepe, maar veral vir bruin en swart plaaswerkers, wat dikwels na die naaste dorp toe trek. Weens meganisasie word plaaswerkers al hoe minder benodig.
Hierdie bevindinge beteken vir die strategie van die Orania Beweging dat op die uitbou van Orania tot ‘n klein stad gefokus moet word, eerder as om te probeer om dorpe in die omgewing oor te neem. Selfs vir die kleinste dorp in die omgewing, Strydenburg, is sowat 3000 Afrikaners nodig om ‘n meerderheid daar te stel. Die aankoop van plase is egter ‘n strategie wat toenemend die moeite werd is soos wat plase ontvolk en voedselsekuriteit belangrik raak. Orania beskik tans egter reeds oor ‘n groot plaasgedeelte.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.