fbpx

Water

Al is Orania langs die Oranjerivier, wat die grootste rivier in Suid-Afrika is, is dit Orania se ingesteldheid om water spaarsamig en met groot omsigtigheid te gebruik. Inwoners word aangemoedig om reënwater op te vang. Orania se water word onttrek uit die Oranjerivier. Dit het ʼn onttrekkingslisensie by die Departement van Waterwese wat die dorp toelaat om 596 956m³ per jaar te ontrek. Op hierdie stadium gebruik Orania 70% van die kapasiteit en die onttrekkingslisensie word elke vyf jaar hersien. Die rivierwater word gepomp na die opgaardam en watersuiweringswerke. Die suiweringswerke is tydens die dorp se ontstaan gebou. Orania se watervoorsiening aan huishoudings is uniek deurdat dit die dubbelstelsel het waar gesuiwerde en ongesuiwerde water aan huishoudings voorsien word. Ongesuiwerde water word gebruik vir besproeiing in die tuine en gesuiwerde water vir huishoudelike gebruik. 

 

Navrae kan aan die Dorpsraad gerig word  – Tel: 053 207 0063

Orania Landbou besproeiingskema

Geskiedenis

Vluytjeskraal 272 (Edms) Bpk (die ontwikkelaar van die 272 Landbou skema) stel homself ten doel om besproeiingswater aan elkeen van die gedeeltes te voorsien. Terselfdertyd moet ook besproeiingswater aan die landbouhoewes, wat deel vorm van Vluytjeskraal Aandeleblok (VAB), verskaf kan word. Vir hierdie doel word ‘n komitee saamgestel wat as die Orania Waterskema bekend staan. Hierdie komitee begin middel 1995 vergader onder leiding van Prof Carel Boshoff, mnre. Danie v/d Linde , Danie van Rensburg, Renus Steyn, Frans de Klerk, Nick Pieterse,  D Kruger en Johan Ferreira. Mnr. Danie van Rensburg is die voorsitter en mnr. Renus Steyn die sekretaris.

Onder die leiding van hierdie komitee word nie net die tegniese beplanning van die skema gedoen nie, maar ook die onderhandelinge met die Departement van Landbou en Waterwese. Waterregte word bekom vir al die gedeeltes wat deur die Departement van Landbou as besproeibare grond  goedgekeur is.

Alhoewel die skema aanvanklik in fases afgehandel sou word, het die belangstelling in die gedeeltes die projekspan geforseer om die afhandeling van die projek te versnel.

Die komitee het na die amptelike ingebruikneming van die skema op 19 Oktober 1996 sy werk getermineer en die verdere verantwoordelikheid vir die bestuur en bedryf van die skema oorgedra aan ‘n nuut gestigte statuêre Watergebruikersvereniging wat as ‘n subgebied van die Vanderkloof Watergebruikersvereniging funksioneer. Mnr. Harry Theron die Besturende Direkteur van Vluytjeskraal 272 (Edms.) Bpk. het as die eerste voorsitter opgetree.

Gedurende 2015 word die Vluytjeskraal 272 Eienaarsvereniging (MSW) gestig en word die volle verantwoordelikheid vir die bestuur en instandhouding van die skema deur die Watergebruikersvereniging aan die Eienaarsvereniging oorgedra.

Tegniese besonderhede

Die skema bestaan uit 12km pypleidings, drie pompstasies, ‘n balanseerdam en ‘n vlot op die rivier wat van die pompe huisves.

Die totale hoeveelheid water wat op ‘n jaarlikse basis gepomp word beloop 3,750,000 m³. Dit word as volg aangewend op:

  • 68ha landbouhoewes in VAB, en
  • 271ha op die plase van wat deur die Vluytjeskraal 272 Eienaarsvereniging bestuur word.
  • Die gewasse wat uit die skema besproei word, is as volg:
  • Lusern: 94ha
  • Koring/mielies: 52ha
  • Veeboerdery: 34ha
  • Pekanneut: 147ha
  • Olywe: 7ha
  • Amandels: 4ha