fbpx

 

Orania in isolasie? Orania Beweging eerder ‘n fakkeldraer

 

Deur Joost Strydom

Isolasie?

Westerse media slinger gereeld aantygings na Orania wat ons gemeenskap met Apartheid vergelyk, en as ‘n desperate poging tot isolasie uitbeeld. Antagonisme van hoofstroom media is iets wat die Orania Beweging al tot ‘n mate as vanselfsprekend aanvaar het, en om hulle guns te wen is nie vir ons ‘n bestaandoel nie. Wat egter bekommerenswaardig kan word, is wanneer mede-Afrikaners Orania op ‘n positiewe wyse as ‘n geïsoleerde gemeenskap begin verstaan, en selfs so bemark.
Isolasie is nog nooit Orania se doel gewees nie, en dit sal ‘n baie groot fout wees om Orania so te verstaan.
Indien ons egter in skaarste lewe, en glo dat bewaring slegs deur isolasie kan plaasvind, dit wil sê Afrikanerkultuur, Afrikaans as taal en ons Christelike geloof so verdoem is dat ons dit êrens in die donkerste hoekie van die land moet wegsteek uit vrees dat iemand ons die laaste bietjie wat ons oor het ook gaan ontneem, kan ons verseker wees dat ons sal faal.
Behalwe vir die logiese argumente teen isolasie, ekonomies, meta-polities, internasionale vriendskap en meer, is Orania inherent die teenoorgestelde.
Ons behoort ons kultuur en kulturele-waardes oop en duidelik te kommunikeer vir die wêreld om te sien. Indien ons dit nie doen nie, vervaag ons Orania en Afrikaner-identiteit tot ‘n kwesbare en stadig uitdofende vlammetjie.

Orania is eerder ‘n groeipunt

Om deel te wees van ‘n groeipunt is dan ook eerder ‘n verantwoordelikheid. Belangstellendes moet nie vlug nie na Orania nie, maar eerder hulleself kom aanmeld om ‘n waardestelsel (klassiek Westers in dinge soos filosofie en die regstelsel, en Afrikaner in identiteit en handelswye) te help beskerm, en ook uit te bou.

Voornemende inwoners kom steek nie hulle talente onder die spreekwoordelike maatemmer weg nie, maar moet eerder voorberei om hulleself diensbaar te maak vir die Stad op die berg, gegewe ons Christelike Geloof wat ons grootste en belangrikste roeping behoort te wees.
Indien ons deur vrees en skaarste gemotiveer word sal Orania ‘n tydelike verskynsel wees. Indien ons fakkeldraers van die Orania-idee is, met ons Geloof, taal en kultuur as riglyne, kan ons ander gemeenskappe inspireer en sodoende ‘n onstuitbare golf aanwakker.
Indien jy dus wil vlug, is emigrasie ‘n beter geleentheid.
Indien jy wil kom aanmeld, is Orania ‘n wonderlike roeping.

Dankie aan elke lid van die Orania Beweging wat Orania help groei en hierdie roeping help opneem, en aan elke Oraniër wat elke dag bou aan die Afrikanertuiste.

 

 

Foto: Die Orania Beweging ontmoet met die Konsul-Generaal van die Indonesiese Konsulaat in Suid-Afrika, tydens ‘n besoek aan Orania.