kruisOnlangs was daar nuus oor ‘n organisasie met die Orwelliaanse naam “Organsiasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie”. Genoemde organisasie het opsleg gemaak omdat hulle namens ‘n ouer van Oudtshoorn verskeie skole met hofsake wil dwing om die Christelike godsdiens, wat sy uitdrukking vind in open met gebed, die vertoning van die kruissimbool en godsdiensonderwys, te verwyder.

Eintlik moes die naam gewees het “Organisasie vir radikale sekularisme”. Die afskaffing van die Christelike godsdiens is juis die teendeel van godsdiensonderrig en demokrasie is ‘n woord wat alles vir almal kan wees en daarom sy oorspronklike betekenis verloor het. Die enigste konsensus oor demokrasie is dat dit vaagweg goed is en niemand daarteen kan wees nie. Om die rede noem selfs diktatorskappe hulleself “demokraties”. Die doel van die organisasie is eintlik om die bietjie Christelike godsdiens wat Suid-Afrika nog in die openbaar het, tot niet te maak in die naam van “godsdiensneutraliteit”.

Soos gewoonlik, wanneer ‘n radikale ideologie nagestreef word, stel die een wat krap waar dit nie jeuk nie, homself daar as die een wat veg vir die belange van die arme onderdruktes. Een persoon wat kamstig te na gekom word deur die Christelike godsdiens, soos ‘n Moslemkind of die kind van ‘n ateïs, word gewoonlik voorgestoot om daarmee die hele skool “godsdiensneutraal” te maak. Terwyl die ateïste vir Christene nie die uitlewing van hulle godsdiens gun nie, ook nie in skole nie, waar die oorweldigende meerderheid skoliere en hulle ouers Christene is, speel hulle die rol van die onderdrukte slagoffer wat deur gebed en kruise geboelie word. In die huidige, reeds sterk sekulêre Suid-Afrika kan jy mos met woorde soos “diskriminasie” en “onverdraagsaamheid” enige argument wen en is die meningsvormers en invloedrykes gewoonlik instinktief aan jou kant.

Die hele argument van die ateïste dat instellings soos skole “neutraal” moet wees is in elk geval ‘n drogredenasie. Niemand is neutraal wat godsdiens, waardes en oortuigings betref nie, allermins die ateïste. Om godsdiens in skole te beoefen is ‘’n stelling, maar daarom nie te beoefen is ook ‘’n stelling en allermins “neutraal”. Ateïsme is eintlik ook ‘n soort godsdiens, wel sonder God, maar met afgode soos “die mens”, “wêreldvrede”, “’n beter samelewing” ens. in die plek daarvan.

Waarheen samelewings afstuur wat God uit die openbare sfeer wil verwyder en kamstig neutraal is, is orals te sien, sowel in die geskiedenis asook in die hede. Waar God uit ‘n samelewing verwyder word en mense nie meer God mag bely en eer nie, word die leemte met ideologiese ywer gevul wat rampspoedig is. Kyk maar na die Franse Revolusie, die ou Sowjet-Unie, Kuba, Noord-Korea, ens.

Natuurlik kan en moet godsdiens nie in mense se kele afgedwing word nie, soos dikwels die beskuldiging van die ateïste teenoor Christelike instellings is. Wat hulle daarby egter geriefshalwe verswyg, is dat die bekendstelling aan die Christelike geloof jou nie dwing om ‘n Christen te word nie. Dis in elk geval onmoontlik om tot `’n geloof gedwing te word. Die verwydering van God uit die skole en uit die openbaar dwing jou egter om God te verswyg en om te buig voor die afgod van sekularisme.

Ateïste, Moslems of wie ook al wat ongemaklik voel met die Christelike etos van ‘n skool het die vryheid om hulle eie skole te stig (al kry ek die kinders jammer wat daar moet skoolgaan), maar dit is nie vir hulle genoeg nie. Dit gaan vir hulle nie oor godsdiensvryheid nie, dit gaan daaroor om hulle ateïstiese sienings op almal af te dwing onder die dekmantel van “neutraliteit”.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

3 Comments

  1. Dante'

    My opinie is dat hierdie eintlik glad nie oor geloof gaan nie, dis maar net nog een aanslag van die linkse koalisie. Hulle argumente is almal dieselfde en ons het dit al so baie gehoor oor ras, taal, homoseksualiteit, geloof. Dit gaan oor die vernietiging van ons hele bestaan en dit is n globale tendens. As ateiste regtig in niks glo nie hoekom pla dit hulle as ander mense hoogtens 5 minuute per dag aan hierdie niks spandeer nie? Omdat hulle nie aan niks glo nie! Hulle is deel van die linkse marxsistiese geloof. Of as ‘n persoon na n skool gaan waar die meerderheid mense moslems is kan jy nie vreeslik geskok wees as jy iets uit die Koran hoor nie? Hoekom is dit dan so vir Christelike skole? Jy is reg dit klink baie Orwelliaans. Vryheid van geloof, spraakvryheid, vryheid van assosiasie, taalregte, ens ens is alles goed waarop die linkses roem en vir hulself ge-eis het, maar in werklikheid is hulle die aardsvyande van vryheid en waarheid…

    Reply
  2. Jan Greeff

    Dit is alles waar en korrek.

    Daar is egter ‘n bydraende probleem aan ons kant van die draad.

    Dualistiese sieninge wat hoogty vier stel die kerk bloot aan afwatering wat dit op sy beurt kragteloos maak wat sy Goddelike opdrag betref.

    Daar word al hoe meer staatgemaak op professionele christene om die “werk” te doen terwyl die res, die liggaam waar die werk eintlik moet gebeur, toekyk, kritiseer en verval in tradisie en cliches.

    Kerk-wees het geleidelik maar doelgerig, aangehelp deur die leuens en misleiding van die vyand, ontaard in “kerktoe gaan” en die ledemate van die liggaam van Christus het lidmate van klubsoortige instellings geword wat kerke genoem word.

    Sulke instellings word maklik ondermyn deur aanslae soos die waarvan Sebastiaan skryf.

    Reply
  3. Anita

    Sekulere skole is gevaarlik. Dit is nou oulik en braaf om homoseksueel te wees. Pornograffie dra by maar die bron van die kwaad is dat bybel studie afgeskeep word deur ouers. Vaders word opdrag gegee om geestelikke leiers te wees in Deuteronomium 6:6 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
    7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
    8 Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees.
    9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.

    My Pa was n goeie mens maar hy het nie n finger gelig om hierdie opdrag te voltooi nie. Ek dra nie kennis van een pa in my gesin of vriende-kring wat die opdrag uitvoer nie. Die Organisasie vir radikale sekularisme is gestuur om ons almal bietjie wakker te klap!

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

one × 5 =