fbpx

53db27c7dcd5888e145e927e_serdar-ekrem-beyoglu-istanbul-shopping-turkeyDie bekroonde Turkse skrywer, Orhan Pamuk, beskryf in een van sy boeke die verhaal van ‘n Turkse man in Istanbul wat mannekyne vervaardig het. Sy hele kelder was later vol mannekyne. Dié meesterlik vervaardigde winkelpoppe het egter geen aftrek by die winkeleienaars van Istanbul gekry nie. Die rede is dat hulle ‘n Turkse voorkoms gehad het. Winkeleienaars in Istanbul het aangevoer dat kliënte eerder winkelpoppe met ‘n Europese voorkoms verkies. Veral die jonger generasie Turke streef na ‘n Westerse voorkoms.

Stap jy in die strate van Leiden, Rotterdam of Amsterdam sien jy dat die winkelpoppe van Nederland deesdae dieselfde tendens volg. Met ‘dieselfde’ word bedoel dat winkelpoppe in Nederland ook toenemend anders lyk as die inheemse bevolking. Afrika- en Midde-Oosterse voorkomste is hier toenemend gewild.

Die voorkoms van winkelpoppe in Turkye en Nederland mag dalk vir ons na nuttelose inligting lyk, maar hierdie tendense is belangrik as ons identiteitspolitiek in vandag se globale wêreld probeer verstaan.

Identiteitsverlies vind regoor die wêreld plaas. In die Derde Wêreld styg mense uit armoede uit op en sien hulle ‘n Westerse identiteit as ‘n soort sleutel tot ‘n beter selfbeeld en uiteindelik ‘n beter plek in die samelewing. In die Weste word nasionale- en volksidentiteite vervang deur multikulturele samelewings waar ‘n diepe identiteitsbewussyn as ‘n struikelblok beskou word.

Identiteit is veronderstel om ‘n dieper interne besef van wie jy is, te wees. Ons identiteit behoort bepaal te word deur ons geloof, taal, kulturele assosiasies en tradisies. Tog sien ons vandag toenemend gemanipuleerde identiteite wat aan die hand van uiterlike voorkoms vergestalt word.

Turkye is tog ‘n land met ‘n diep gewortelde identiteit wat voortspruit uit die Ottomaanse erfenis. Kan ‘n jong Turk wat soos ‘n Amerikaner aantrek, Amerikaanse musiek luister en by Burger King eet, ‘n ander identeit as sy Turkse identiteit opneem?

Dieselfde vraag geld vir Westerse lande wat ‘n beeld van multi-kulturalisme en verdraagsaamheid probeer voorstaan. Doen Nederland afstand van haar ou gevestigde identiteit deur die gebruik van persone met verskillende identiteite in televisie-advertensies, die afskaffing van ou gevestigde tradisies en gebruike en die verdere sekularisering van die openbare en privaatlewe?

In Suid-Afrika is Erfenisdag verlede week gevier. Twintig jaar na die politieke verandering van 1994 behoort ons almal te besef dat daar nie iets soos ‘n enkel Suid-Afrikaanse identiteit en erfenis is nie. Ja ons is almal Suid-Afrikaners weens ons nasionaliteit, maar ons is ‘n land met ‘n groot verskeidenheid identiteite. Ongelukkig sien ons ook pogings tot die manipulering van identiteit deur die miskenning van sommige tale, kulture en tradisies en die kunsmatige skep van ‘n soort nuwe nasionale identiteit.

In beide Turkye en Nederland beleef jongmense vandag ‘n identiteitskrisis. Die verwydering van hul historiese identiteit bring mee dat mense nie meer presies weet wie hulle is nie. Indien Suid-Afrika ernstig is oor erfenis en die beskerming van alle kulture in ons land sal ons nie Suid-Afrikaanse winkelpoppe probeer skep nie, maar eerder erken dat daar plek vir Afrikaner-, Zoeloe-, Xhosa- en talle ander winkelpoppe in ons spreekwoordelike winkelvensters behoort te wees.