fbpx

Die verkiesing is verby. Die mense van Orania is ietwat verlig. Rondom elke verkiesing, probeer opportunistiese verslaggewers om een of ander storie op te maak oor Orania. Hul soek nie eintlik die waarheid nie, maar hou van ʼn lekker soetsappige storie wat kykers vir ʼn oomblik kan laat vergeet van die horibale toestand waarin Suid-Afrika verkeer. Daar is darem iets wat egter is as ʼn staat wat besig is om te misluk, vrot is van korrupsie en waarvan die moordsyfer sommige mislukte state s’n oortref.
Dit was juis in aanloop tot die 2019 verkiesing dat ʼn redelik onverteenwoordigende groep van eNCA, ondersoek wou instel waarom Orania nie meer verteenwoordigend van Suid-Afrika se diversiteit is nie. Die doel van hul besoek was eenvoudig om Orania se bestaansreg weereens onder verdenking te bring.
Dit kan afgelei word uit ʼn peiling wat op hul webblad geplaas is, waarvan die uitslae later vinnig verwyder is omdat dit nie hul agenda gepas het nie. In kort het eNCA se eie lesers in ʼn groot meerderheid gesê: “Los hierdie gemeenskap uit, hul het niemand skade gedoen nie”.
In ʼn ietwat sombere afskeidsartikel (want hul kon toe nie vir die hele wêreld bewys Orania is rassiste nie) het eNCA ʼn wel ʼn berig geplaas met die opskrif “The ‘immoral people of Orania’”. Dit het my getref hierdie berig oor Orania eintlik oorweging positief was, met tye selfs ontnugterend vir die naïewe besoekers. Selfs so positief dat die verslaggewer, dalk op ʼn stadium gewonder het of hy sy werk sal behou as hy ʼn onkritiese artikel oor Orania skryf. Daarom moes hy tog op die ou end iets negatiefs vind om die wêreld (eintlik liberale pers) se vooroordele oor Orania te bevestig. Van ware joernalistiek was hier nie veel sprake nie. Uiteindelik is die informasie wat hul agenda gepas het opgeblaas, en die res was agtergrond.
Die sydelingse insident, wat nie erg genoeg was om ʼn substansiële klag mee te bring nie, word toe die hoofstorie. Gelukkig kon eNCA se nuusspan op grond van ʼn geïsoleerde insident waar ʼn verbyganger glo hulle ʼn paar woorde toegesnou het, afgelei het dat al die mense van Orania steeds ʼn immorele gemeenskap is. Boonop, om alles nog erger te maak word, beweer dat hulle hul laaste aand bevrees in die “Oewer Hotel” geslaap het, wat die wat Orania ken, sal weet dat dit hoogs onwaarskynlik was.
Eerstens moet daarop gewys word dat eNCA uitgaan van ʼn verskraalde individualistiese vertrekpunt, wat in werklikheid geen ruimte laat vir die bestaan van minderhede soos die Afrikaner nie. Tweedens is die posisie wat Orania in die nuwe Suid-Afrika inneem wel geregverdig, selfs moreel. Nader beskou, blyk dit eerder dat diegene wat die gemeenskap met dwang wil integreer in ʼn mislukkende Suid-Afrika immoreel is, en dat Orania as ʼn gemeenskap eintlik die morele hoë grond besit in vandag se politiek debat. Dit sal hul onder geen omstandighede wil erken nie, maar hier volg ‘n moontlike verduideliking.
Die ideologie van nuwe Suid-Afrikanisme
Die vraag of ʼn gemeenskap soos Orania bestaansreg in die nuwe Suid-Afrika behoort te hê, is ʼn eintlik ʼn vreemde vraag. Hier is ʼn gemeenskap wat werklik bestaan, niemand skade aan gedoen het nie en boonop met bitter min hulpbronne ʼn funksionerende dorp opgerig het. Orania behoort eintlik hiervoor erkenning te kry, maar die realiteit (bestaan van Orania) word hier beoordeel aan die hand van ʼn uitgediende idee (dat Suid-Afrika uit ʼn veelheid van individue bestaan). Dit bied in werklikheid nie voldoende beskerming aan gemeenskappe nie. Suid-Afrika bestaan in werklikheid nie uit ʼn veelheid van individue nie, maar uit ʼn veelheid van gemeenskappe. Die mens is nie alleenlik individu nie, maar ewe fundamenteel ʼn gemeenskapswese.
Orania gee aan die werklike stand van sake gestalte en wys dat die idee van ʼn reënboognasie nie veronderstel dat elke duimbreed van Suid-Afrika presies dieselfde hoef te lyk nie. Die idee dat die reënboognasie idee veronderstel dat die land se rassedemografie op elke denkbare deel van Suid-Afrika presies so moet uitsien, is eintlik ʼn dekmantel vir die ANC se begeerte vir totale oorheersing. Want indien dit wel so gebeur, sal daar geen enkele duimbreed van Suid-Afrika wees waar hul nie die volle sê het nie.
Die idee van ʼn reënboognasie wat Orania nastreef veronderstel eerder dat daar binne die reënboog ruimte moet wees vir verskillende gemeenskappe om hul verskeidenheid uit te leef. Dit moet liefs op ʼn natuurlike wyse gebeur, dat die land se vorm gevorm word deur mense op grondvlak se keuses. Orania wil in kort vir diegene vir wie hul Christelike oortuigings, Afrikanerkultuur en toekoms van hul kinders belangrik is, ʼn plek gee om hierdie keuses te maak.
Die immoraliteit waarvan eNCA melding maak het ten diepste te doen met hul oortuiging dat Orania ten diepste ʼn rassistiese gemeenskap is, terwyl die leierskap van Orania duidelik gestel het dat Orania ʼn kultuurgemeenskap is. Dit was wel nie wat die nuuskanaal wou hoor nie. Dus speel hul tot vervelens toe die rassekaart wat spruit uit hul eie vertolking van die reënboognasie. Skynbaar is hul hoogs ontsteld en seergemaak dat die demografiese profiel van Suid-Afrika nie eenvoudig soos ʼn rasseformule op elke denkbare vierkant van die grondgebied van Suid-Afrika afgedwing kan word nie. En laat hul maar ontsteld wees, en laat Lesufi maar sy speelgoed uit die kot gooi. Dit is nie hoe dinge in die werklike lewe gebeur nie. Politici kan nie besluit met wie mense op grondvlak mag assosieer of nie. Dat daar byvoorbeeld ʼn oorwegend bruin gemeenskap op die Kaapse vlak is, of areas in Natal is waar Indiërs in die meerderheid is, is nie iets wat nuus maak nie.
Die nuuskanaal se berig oor Orania verklap verder ʼn statistiese vertrekpunt. Hul wil klaarblyklik hê dat die staat een of ander tyd, as daar genoeg publieke druk is, moet ingryp en Orania binne die res van Suid-Afrika met dwang moet inlyf. Dit sou natuurlik uiters onverdraagsaam wees en as ʼn mens die eNCA se eie stoute woorde wil gebruik hoogs “immoreel”. Terwyl dit internasionaal hoog aangeprys word om minderhede te beskerm, word minderheidsregte in Suid-Afrika blatant ignoreer. ʼn Duidelike bewys hiervan is die feit dat plaasmoorde steeds nie as ʼn prioriteitsmisdaad beskou word nie.
Uiteindelik is dit waarskynlik nie vergesog om te sê dat die arme verslaggewers eintlik nie anders kon as om ʼn negatiewe berig oor Orania te skryf nie. Dit het duidelik geblyk uit die boodskap uit hoofkantoor waar die betrokke persoon in totale onkunde gestel het dat Orania die plek is “waar swart mense net werk kan kry as jy ʼn tuinwerker of bediende is”. Sjoe, ek het nie eers gedink dat die pers die bal so ver kan mis slaan nie. Trouens het hulle hierdie bal heeltemal gemis. Met sulke wanpersepsies oor Orania, is dit dalk net weer ʼn keer nodig om Orania se posisie uiteen te sit. Vir diegene wat eintlik nie geweet het nie, is dit wat volg ʼn uiteensetting van die moraliteit van Orania se vertrekpunt.
My eerlike mening is dat die nuusberig eintlik ʼn ander doel gehad het. Die raaiselagtige gebeurtenis dat ʼn gemeenskap wat nie eens 2000 inwoners het nie soveel aandag geniet, wys eerder op ʼn gebrek aan werklik nuuswaardige gebeurtenisse elders in Suid-Afrika. Dit kan m.i. eerder as ʼn desperate poging om die aandag van die vele mislukkings in die res van Suid-Afrika af te lei, beskou word.
Die moraliteit van Orania se standpunt
Orania het vandag die morele hoë grond. Die gemeenskap het hul grond op ʼn wettige wyse bekom, dit met hulle eie arbeid opgebou en bedryf hul sake op ʼn ekonomies volhoubare wyse, terwyl hul ook die belange van die omgewing in ag neem. Buiten die ekonomiese volhoubaarheid, word daar ook baie maatskaplike hulp verskaf. Die werkloosheid in Orania is byna niksseggend.
Verder het Orania histories gesproke ʼn skoon rekord. Hul het geen ander gemeenskap enige onreg aangedoen in die oorspronklike grondtransaksie of deur hul arbeid teen ʼn lae koste uit te buit nie. Hiermee saam betaal Orania se inwoners dubbele belasting. Elke inwoner van Orania betaal belasting aan SARS, maar die dorpsraad lewer al die dienste wat ʼn munisipaliteit gewoonlik sal lewer met addisionele fooie wat van Oraniërs gehef word. Hulle doen dit wel baie meer effektief as wat ʼn mens in meeste dele van Suid-Afrika sien. Die dorp skep verder ʼn goeie indruk. Dit is skoon en netjies. Die inwoners voel buitendien veilig en is volgens ʼn 2019 verslag van Helpende Hand gelukkig, ten spyte van laer as gemiddelde inkomste van die inwoners.
Die dorp is eintlik ʼn reusagtige suksesverhaal, veral teen die agtergrond van Suid-Afrika wat vandag as ʼn mislukkende staat beskou kan word. Tans is Suid-Afrika 88ste van 174 lande op die Fragile State Index, en beweeg steeds teen ʼn konstante tempo by die ranglys op. Hoe hoër op jy op hierdie lys is, hoe groter word jou risiko geskat. Suid-Afrika word volgens hierdie indeks as toenemend meer onstabiel as lande soos Botswana en Namibië beskou en val tans in die kategorie “waarskuwing”.

In die lig van die bogenoemde gegewens, sou die verantwoordelik ding eerder wees om meer aandag te bestee Suid-Afrika se spoedige agteruitgang. Dit sou natuurlik minder sensasioneel wees, veral voor ʼn belangrike verkiesing wat die ANC graag wou wen. Daar is wel ʼn ander rede waarom Orania vandag soveel aandag trek.
Terwyl die internasionale gemeenskap vir Suid-Afrika sê: “pasop” en jong mense uit die land vlug bied Orania vandag eintlik hoop. Orania het ʼn gemiddelde groeikoers van 10% vir die afgelope 5 jaar gehandhaaf. Vir diegene wat nie wil immigreer nie of dalk nie kan nie, word Orania ‘n alternatief vir menigte Afrikaners. Orania se sukses is eintlik ʼn groot verleentheid vir vele munisipaliteite wat vandag kniediep in die skuld is veral vir diegene wat meen dat Afrikaners eintlik net diewe is en geen bestaansreg in Afrika het nie. Die dorp is vandag ʼn bewys dat Afrikaners sonder om ander mense se uit te buit of hul grond te steel ʼn stad kan bou. Orania is nie skuldig aan een van die twee klagtes nie. Hul het niemand se grond gesteel nie en geen ander gemeenskap se arbeid uitgebuit nie.
Die enigste kaart wat die linkse media speel en waarmee hul keer op keer Orania se bestaansreg probeer bevraagteken is die rassekaart, hoewel daar keer op keer gestel is dat Orania ʼn kultuurgemeenskap is. Die linkse media se probleem is dat indien hul nie Orania van rassisme kan beskuldig nie, hul eintlik geen ander opsie het as om Orania se bestaansreg te aanvaar nie. Dat Orania eenvoudig ʼn kultuurgemeenskap is, wat ʼn gemeenskaplike geloof, erfenis en belewenis van Afrikanerskap met mekaar deel is vir hul net te moeilik om te aanvaar, veral as ʼn mens graag nog na 1994 na Suid-Afrika met ʼn rassebril wil kyk.
Daar word nie van die bruin mense in Kaap verwag om wit mense daarin te integreer nie, of van die swart mense in Soweto om meer wit mense daar toe te laat nie. Mense assosieer natuurlik met wie hul graag wil assosieer. Die tipe pogings spruit eerder uit ʼn ideologies gedrewe en ongrondwetlike idee (Sien DKD hofsaak) dat die land se demografie presies dieselfde moet lyk om elke hoek en draai. Dit is die Lesufi’s van ons tyd wat met dwang rasformules wil afdwing op gemeenskappe. Hy wil van sy gesagsposisie af vir mense op grondvlak sê met na watter skole hulle moet gaan, met wie hulle wil vriende maak en wie weet wat nog als.
In werklikheid sien dinge anders uit. Mense moet vry wees om te assosieer met wie hulle wil. Die punt is dat Orania eintlik vandag die morele hoë grond besit. As Christelik-Afrikaanse gemeenskap het hul die volle reg om hul Godgegewe roeping na te streef. Hierdie Godgegewe reg word vandag nog in die grondwet gewaarborg, maar sou selfs met die afwesigheid van so artikel moeilik wees om te omseil.
Ja, selfs indien die reg tot selfbeskikking nie in die grondwet gestaan het nie, sal ʼn mens ʼn baie sterker saak as ras moet uitmaak om ʼn gemeenskap wat van niemand gesteel het en die dorp met eie arbeid opgebou het, se bestaansreg op te hef nie. Dit is ook eNCA se groot fout. Hul dink dat Orania gaan ophou bestaan as die staat ingryp. Nee, inteendeel Orania bestaan reeds, het die volle reg om te bestaan en se bestaan is self noodsaaklik in die lig van die onsekerheid van die Afrikanerminderheid se toekoms in Suid-Afrika.
Hoe sterker Orania groei, hoe moeiliker word dit om iets teen Orania se bestaan te doen. Hoewel Orania wel die morele hoë grond het, is daar nog baie werk wat voorlê.
Victor Correia

Blog Single

Orania het die morele hoë grond: Deur Victor Correia

by Mei 28, 2019Nuus1 comment

1 Comment

  1. Duarte Marques

    Inspiring! Excellent insight, broad and impartial ! It´s “lekker” when people talk about things they do know well… This very article is also “a challenge” to the Mainstream Media´s biased views, and it would be great if more & more people could be reading its contents! Congratulations to all Oranians for their resilience and courage!…

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

19 − 7 =