fbpx

Ek sien nou dat daar weer ‘n bohaai is oor godsdiens wat uit skole verwyder gaan word. Basies reken die een standpunt dat die aaklige geskiedenis van godsdiens as onderdrukkende krag beteken dat dit verwyder moet word. Die teenpool argumenteer dat ons basies ons waardes gaan verloor as godsdiens op die agtergrond gestoot word.

Ek vind dat ek nie eintlik beïndruk was met hoe “godsdienstig” my skole ooit was nie, al was hulle Christelike skole. Daar was klasse waarin met gebed geopen is (die een outjie in die klas met ouers wat nie wou hê dat hy hieraan blootgestel moes word nie, het dan buite gaan staan en moes ingeroep word nadat die gebed afgehandel is) en dit was naastenby dit. Ander grade het nie eens dit gehad nie. Terloops is ek nie bewus daarvan dat ons die outjie anders hanteer het nie – dit was binne ‘n paar dae maar net een van die dinge wat ‘n Gr 1 aanvaar en nie weer bevraagteken nie.

Daarom my verwarring: is daar nog godsdiens in skole? Watter vorm sou dit aanneem? Is dit die soort godsdienstigheid waarin meneer of juffrou vir jou vertel dat as jy nie glo nie, jy boos is en eintlik sommer dom ook? Sou so ‘n boodskap enigsins as godsdienstig beskryf kon word? Daardie boodskap kan tog sekerlik beveg word vanuit die standpunt dat dit ‘n onchristelike ding is om te maak of Christene beter is as die res.

Dis seker darem nie waarvoor mense veg wat wil sien dat hulle kinders in ‘n skool met hulle eie waardesisteem sal wees nie. Hulle baklei tog sekerlik om as Christene hulle kinders aan Christelike norme bloot te stel, tuis én by die skool.

Dan word daar teruggekap dat daardie kinders in ‘n droomwêreld groot word, waar hulle net aan hulle “eie mense” blootgestel word. Hierdie ongebalanseerde kontak sou hulle dan onvoorbereid maak vir ‘n wêreld waarin hulle soort mense nie die enigstes is nie. Hierdie opdring van ‘n wêreldbeeld sou dan diskrimineer teen almal wat dit nie aanhang nie.

Die geveg is glo in die belang van die Moslemkind in Ventersdorp wat nie ‘n keuse het in watter skool hy gaan wees nie. Tog is die skool op die lys skole soos Garsfontein, waar kinders die keuse van so 5 of 10 meer bekostigbare skole in dieselfde direkte omgewing het.

En dis hier waar ek by die debat aansluit: Ek glo dat daar ‘n sterk argument uit te maak is vir juis so ‘n spesifiekte paradigma as ‘n Garsfontein wat onderwysers toelaat om hulle Christenskap uit te leef. Ek handel met drie sake:

  • Die drie tipes godsdienstige wêreldbeelde
  • Die twee wat geweeg word
  • Gaan skole anders wees?

Die drie tipes godsdienstige wêreldbeelde

My argumnet sal  eerstens gaan oor die maniere waarop jy die waarnemings wat jy van die wêreld maak, in paradigma kan plaas. Hieronder is een van die nuttiger opsommings wat ek nog teëgekom het en ek gee basies net “The Myth of Religious Neutrality” weer. Dis ‘n boek wat ek in ‘n vorige skrywe ook al aanbeveel het.

Die grondaanname is dat daar “geloofsopvattings” onderliggend aan enige verstaan is. Hierdie posisies is punte waarop hulle aanhangers voel dat enige vraagteken wat daaraan gekoppel word, sinneloos is. Ons neem hierdie punte aan, want die wêreld “is mos maar net so”. Dis die punt waarop jy uitkom as jy genoeg kere gevra het hoekom en dan vra jy dit vir die antwoord ook, en vir die antwoord op die antwoord tot jy uiteindelik net sê: “Dit is so want dit is so want dit is so”.  ‘n Mens het hierdie beginpunte nodig as vaste verwysing vir enige verdere denke.

Die probleem is dat verskillende mense by verskillende finale standpunte uitkom aan die einde van hulle reduksies. Ek noem dit hieronder die “onverklaarbare”. Onverklaarbare verwys vir my na iets wat ‘n verklaring is, sonder dat dit self ‘n verklaring benodig.

Tipe 1

Die eerste beeld van die wêreld wat ek bespreek, plaas die onverklaarbare buite ons waarnemingsveld en is gemeen tot die Jodendom, Christendom, Islam en moontlik nog ‘n paar ander.

Grafies lyk dit so:

Henri1

 

Die posisie is dat hulle god buite die waarneembare bestaan plaas. Dis om te sê die grondoorsaak vir alle sienlike en onsienlike dinge, is nie self so dat ons ‘n meetinstrument kan vat en ‘n lesing kan optel wat verander en daaruit weet: hier het ons nou vir god gemeet nie.

Hierdie beeld werk op ‘n skeppende en onderhoudende krag wat self nie deel van tyd en ruimte is nie. Wat nie op ‘n plek is of iets weeg nie. Die beeld staan en val by die onvoltooidheid van wat ons kan waarneem. Dis ‘n beeld wat sê daar is nood aan ‘n verklaring wat nooit self waargeneem sal word nie en daarom juig hulle elke keer wat die wetenskap agterkom dat daar antwoorde is wat buite ons heelal gesoek moet word.

‘n Tipiese standpunt oor godheid in hierdie wêreldbeeld plaas “god buite die skepping”.

 

Tipe 2

Die tweede beeld reken daar is iets in die waarneembare wêreld wat eintlik vir ons meer waarde het as enige ander. Dis die posisie van die Griekse gode, Materialiste** en so aan.

Henri3

Hierdie posisie sê daar is dinge wat ons waarneem wat nie ‘n verklaring nodig het nie. Vir die antieke Grieke was dit dinge soos seisoene of weerlig. Hierdie dinge bestaan bloot. En dan het hulle persoonlikhede aan hierdie waarnemings gegee en dit gode genoem. Zeus is dus die manier waarop weerlig verstaanbaar gemaak is.

Richard Dawkins reageer op hierdie persoonlikhede van die natuurverskynsels as hy sê daar is geen god nie. En hy’s reg. Ons wen niks deur weerlig aan die hand van ‘n ou oom in die wolke se bui te verklaar nie. Dis baie nuttiger om te verwys na die ladings wat opbou tot balans in ‘n kragtige knal herstel word. Daardie kennis stel ons in staat om weerlig-afleiers te maak wat lewens red.

Dawkins is egter vir my die ikoniese voorbeeld van iemand wat net een wêreldbeeld erken: hierdie een wat sê die onverklaarbare moet waargeneem word. Hy het net ‘n ander onverklaarbare as die antieke Grieke se gode. Sy onverklaarbare is energie. As alles vereenvoudig word tot op die laaste, sal alles aan die hand van energie verklaar word.

Energie is definisieloos in die wetenskap. My wetenskaphandboek het gesê: “Die vermoë om werk te doen”, wat tog vir ons sê watter impak energie het, maar nie wat energie is nie. Vir al die gedreun oor wat die verklaring vir jou god is, as jou god dan alles verklaar, sukkel dieselfde mense hulle dood om energie te verklaar.

Die punt is dat energie optree as verklaarder van alles wat is sonder dat dit self verklaar hoef te word. Hierdie is ‘n godsbegrip van “god in die skepping”.

 

Tipe 3

Die derde beeld is een wat reken dat alles onverklaarbaar is. Hierdie beeld word aangehang deur meeste Oosterse gelowe: Hindoeïsme, Buddhisme, Taoïsme, ens.

Grafies lyk dit so:

Henri4

 

 

Hierdie beeld plaas al ons waarnemings in die onverklaarbare en sal standpunte inneem soos dat weerlig inherent anders is as die elektriese krag in elektriese proppe. Niks moet aan die hand van iets anders verklaar word nie. Die dam is nie die water in die dam nie. Dis ‘n ander entiteit as die som van die dele.

Vir hierdie wêreldbeeld is die punt nie om een ding as funksie van ‘n ander te beskou nie, maar om die harmonie en vloei tussen verskillende ewe waar en ewe regtige dinge in te sien en te leef.

Tipiese geloofsverklarings hier is dinge soos “alles is god” of “niksheid is god”.

Die twee wat geweeg word

Die wetenskaplike revolusie het nie in Sjina gebeur nie al het hulle al die hulpmiddele tot hulle beskikking gehad. Een van die verklarings daarvoor is dat hulle dominante wêreldbeeld een is wat nie verklarings najaag nie. Waar die tipe 1-beeld reken dat ons ‘n ordelike skepping bekyk en waar tipe 2 reken dat daar een deel van die skepping is wat die ander kan verklaar, meen tipe 3 dis ‘n mors van tyd om enigiets ondergeskik aan ‘n ander te wil stel. Die wind is ewe veel ‘n verklaring vir die berge as wat dit daardeur verklaar word.

Hoewel die Westerse wêreld al meer die waarde van ‘n lewe in harmonie en in balans verstaan en so leen by die insigte van die derde tipe wêreldbeeld, is die twee in kompetisie vandag die eerste twee.

As ons sê godsdiens moet uit skole verwyder word, dan vra ons vir iets wat geheel onmoontlik is. Wetenskaplike ondersoek kan nie gedoen word sonder dat jy onbewese (en onbewysbare) aannames maak nie. Die eksakste van wetenskappe is waarskynlik wiskunde en daar moet ‘n mens op ‘n stadium sê: Dit is net so. Hulle weet darem wat die 12 dinge is wat hulle moet aanneem vir 1+1 om 2 te wees en al die res. Maar die wêreldbeeld wat energie verafgod, noem homself nie ‘n geloof nie, al deel dit al die eienskappe wat gemeenskaplik is tot die gelowe van die mensdom.

Daarom is elke oproep om geloof uit skole te haal in werklikheid ‘n vraag daarna dat ‘n spesifieke geloof aangehang en verkondig sal word, naamlik ‘n soort materialisme wat materie en energie (wat danksy Einstein se , in woorde,  dieselfde ding is) tot verklaring vir alles verhef. Die idee dat hierdie wêreldbeeld neutraal is, is vals en dis waar die groot fout in die redenasie lê.

 

Gaan skole anders wees?

‘n Mens kan twee skole opstel uit die twee wêreldbeelde wat hierbo bespreek is. Die inhoud van hulle onderrig sal op verbasend min punte verskil. Uiteindelik is spelreëls dieselfde, of jy nou blindelings gelowig is en of jy ‘n geloof aanhang wat ontken dat dit ‘n geloof is. Drie plus drie is ewe veel ses of jy nou dink dit is uiteindelik afhanklik van botsende partikels of afhanklik van die harmonie tussen die wind en die see.

Daarom reken ek dat die skole in hulle dag tot dag bestaan, nie enige impak gaan voel nie.

Lewensoriëntering is seker die enigste vak wat beïnvloed word. Maar hier leer kinders in elk geval van verskeie gelowe, eerder as enige spesifieke geloof se inhoud (ons moes wel op ‘n slag ‘n geloofsverklaring skryf wat seker moeilik sou wees vir die ateïs wat nie besef het hy glo eintlik ‘n klomp goed nie). Die behoefte wat die hofaansoeker probeer bevredig, is in hierdie opsig reeds vervul.

Gevolgtrekking

So, hoekom dan baklei vir godsdiens in skole as godsdienstige skole nie anders is nie? Ek doen dit, want jy’s nie onakademies as jy ‘n wêreldbeeld aanhang wat verskil van die een wat toenemend die internasionale norm raak nie. Jy’s nie bejammerenswaardig oor jy gelowig is nie.

Maar dis presies die indruk wat ‘n aktiewe verwydering van geloof uit skole sal skep. Dit laat dit voorkom of hierdie wêreldbeeld eintlik net skadelik is en dat ons van die oorlas ontslae wil raak. Asof die ideaal is dat almal net in hulle openbare hoedanigheid sal optree asof hulle nie glo nie, en dan kan hulle in hulle privaat tyd doen wat hulle wil. Hierdie gedwonge dubbel lewe kan tog nie inpas met die “ruimte vir almal”-argument nie. Die ideale burger sal dan die een wees wat binne die ruimte wat die wet laat, sy eie gang gaan en sy eie belang soek.

Dit is dan dat daardie paradigma hom vasloop in mense wat eiebelang bo die groep stel.

Iewers het die individualisme van elkeen vir homself die deur toe gemaak dat ons mekaar nie meer vertrou nie, want ek is mos net hier om myself te dien, so ek neem aan jy ook.

Ons kan nie staat maak op mekaar nie.

Hierdie optrede versterk die idee dat elkeen net self moet sorg.

Om iemand anders uit te buit, is eintlik reg as jy net binne die wet is. ‘n Mens sou kon argumenteer dat dit nie uitbuiting is as dit nie teen die wet is nie.

Groeiende ongelykheid wek kommer.

Politici belowe die regering kan help.

Die regering faal want hy’s vol mense wat elkeen vir hulleself staan.

‘n Gebrek aan gemene waardes het selfs die banke al bekommerd. Maria Ramos spandeer haar tyd eerder aan ‘n “sosiale verbond” om die probleem dat die samelewing misluk oor ons waardes in die binnekamer te wil indruk, as dat sy haar tyd spandeer om mense sover te kry om lenings uit te neem. Dis vir my die duidelikste bewys van dié week dat wat jy glo nie net jou eie saak mag wees nie.

Die oomblik wanneer ons besef dat die privaatwaardesmodel nie werk nie, is nie die tyd om die alternatiewe paradigma te verwyder wat nog heeltyd gemeenskaplike waardes bevorder nie. Hoeveel foute die aanhangers van die paradigma ook al in die verlede gehad het, is die ideologie nie verkeerd omdat mense eensaam gevoel het nie.

Daar is vir seker waarde daarin om kinders vooraf te waarsku dat hulle nou ‘n Christelike of ‘n Joodse of ‘n Sekulêre skool betree. Daar is geen rede om kinders tot ‘n spesifieke geloof te dwing nie, maar dan moet ateïsme eweneens nie opgedwing word nie.

 

*Ek gebruik deurlopend die kleinletter, hoewel ek as Christen die tradisie van God met ‘n hoofletter skryf waardeer en gewoonlik ook doen. Die rede hiervoor is dat ek telkens vind dat my argumente oor die Godheid wat ek voer uit my Christelike perspektief ewe toepaslik is vir ‘n beeld van die Joodse geloof of Islam in watter geval die kleinletter gepas sou wees. Hiermee wil ek bloot wys op die ooreenstemming in redenasie.

** Wanneer ek sê “materialisme”, verwys ek nie na grypsug of gierigheid nie, ek verwys na die oortuiging dat materie al is wat daar is. Een van die noodwendige gevolge van hierdie wêreldbeeld is natuurlik dat die dood die einde is. Dan is daar dus niks immoreel daaraan om vir jouself so goed moontlik te sorg voor die dood nie. Vandaar dat die woord al meer gebruik word as ons bedoel dat jy net op geld ingestel is.

Henri het aan NWU studeer en op verskeie komitees gedien. In Engelse Debat het hy tot by die nasionale semifinaal gevorder.  Hy het ‘n Meestersgraad in Finansiële Wiskunde wat hy het met lof behaal het. Tans is hy `n kredietrisiko en kliëntewaardasie ontleder by ABSA.