fbpx

Orania en eie instellings

Lidmaatskap?

Lidmaatskap?

Orania is gebou op drie belangrike beginsels. Eie grond, eie arbeid en eie instellings. Sedert die idee van Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap tot stand gekom het, is hierdie drie beginsels as noodsaaklik beskou.

In 1988 het prof Carel Boshoff en ‘n aantal enersdenkende persone die Afrikanervryheidstigting tot stand gebring. Hierdie organisasie se doel was om Afrikanerselfbeskikking in die Noord-Wes Kaap te verwesenlik. Die idees van die Afrikanervryheidstigting spruit uit navorsing wat die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) gedoen het. SABRA bestaan vandag nog in Orania, wel met ‘n ander naam, EPOG. EPOG is vandag ‘n navorsingsinstelling wat ook op erfenisbewaring fokus en wat die dorp se museums, argief, Africana-boekery en monumente bestuur.

Aankoop van Orania

Die bestuur van die Afrikanervryheidstigting het in 1990 in ‘n advertensie in die Landbouweekblad gesien dat die konstruksiedorp Orania deur die Departement van Waterwese te koop aangebied word. Na ‘n tenderproses het die Afrikanervryheidstigting uiteindelik die geld bymekaar gemaak en is die dorp aangekoop. Die dorp is aangekoop binne ‘n maatskappy, Orania Bestuursdienste (Edms) Bpk (OBD) met die aanvanklike beleggers as aandeelhouers. Vandag bestaan OBD steeds en besit die maatskappy al die onontwikkelde grond in Orania. Soos wat Orania ontwikkel, raak OBD se aandeel in Orania egter kleiner. ‘n Aangrensende plaas Vluytjeskraal 272 (Edms) Bpk is ook kort na die aankoop van die dorp bekom in kleiner plase waar intensiewe landbou vandag bedryf word, verdeel. Die eienaars van hierdie landbougrond suidwes van Orania het voltiteleienaarskap oor  hul grond.

Sedertdien het Orania se grondgebied wesenlik uitgebrei. Inwoners van Orania het die Kambro Koöperasie gestig en plase begin aankoop. Sommige van hierdie landbougrond grens direk aan die dorpskern, terwyl ander ’n paar kilometer buite die dorp is. ’n Paar jaar gelede is die plaas direk noord van die dorp ook aangekoop. Dit is binne ’n maatskappy aangekoop en staan as Vluytjeskraal Noord Landgoed (VKN) bekend. Heelwat ontwikkeling het al op Kambro en VKN se grond plaasgevind en meer en meer Oraniërs woon op ontwikkelings wat deur hierdie grondeienaars bestuur word.

Orania Beweging

Die Afrikanervryheidstigting het na die aankoop van Orania bly voortbestaan met die doel om steeds as ‘n politieke instelling die selfbeskikkingstrewe vanuit Orania te dryf en te bevorder. In 2001 het die Afrikanervryheidstigting met Volkswag en Spansaam saamgesmelt en is die Orania Beweging geskep. Die Orania Beweging fokus vandag op die uitbou van ons idee van groeiende Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap. Die Orania Beweging is ‘n lede-organisasie met lede regoor Suid-Afrika  in meer as 100 lande. Al hierdie mense ondersteun projekte in Orania. Die Helpsaamfonds is ‘n volfiliaal van die Orania Beweging.

Aandeleblokmaatskappy en munisipale status

Nadat Orania in 1991 aangekoop is, moes daar besluit word hoe die dorp bestuur gaan word. Na konsultasie is daar besluit om ‘n aandeleblokmaatskappy te stig. Persone wat eiendom in Orania sou koop sou ‘n aandeleblok bekom. Die aandeleblokmaatskappy is Vluytjeskraal Aandeleblok Bpk, nou Orania Aandeleblok (RF) (Edms.) Bpk, genoem en het vinnig as die Orania Dorpsraad begin bekend staan.

Gedurende die laat negentigerjare het die munisipale bestel in Suid-Afrika begin verander. Munisipaliteite is deur oorgangsrade bestuur. Orania het sy eie oorgangsraad gehad. Die oorgangsraad het sy munisipale funksie aan die Orania Dorpsraad gesekondeer. Met die skep van nuwe, groter munisipaliteite is daar besluit om Orania saam met Hopetown en Strydenburg in een munisipaliteit in te deel. Die Oraniërs het dit teengestaan. Na talle pogings om ‘n skikking te bereik is Orania in Desember 2000, kort voor die munisipale verkiesing hof toe. ‘n Skikking is met die regering in die hof bereik waarvolgens Orania se oorgangsraad kon bly voortbestaan.

Orania Verteenwoordigende Raad

Die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR) word elke vyf jaar op dieselfde datum as Suid-Afrika se munisipale verkiesing verkies. Alle inwoners van die groter Orania (alle Orania-grondgebied) wat oor verblyfreg beskik kan in hierdie demokratiese verkiesing stem.

Die OVR se doel is om Orania se unieke status in stand te hou en om staatkundige ontwikkeling en skakeling op politieke vlak te bevorder. Die OVR is die enigste regeringsliggaam wat deur alle Oraniërs demokraties verkies word en speel ’n belangrike rol om die belange van alle inwoners te verteenwoordig.

Gemeenskapsinstellings

Sedert Orania se stigting het ‘n groot aantal instellings tot stand gekom. Met ons fokus op selfstandigheid was dit vir ons belangrik om sover moontlik seker te maak dat ons nie van instellings buite Orania afhanklik is nie. Daarvoor is eie skole, sport- en kultuurinstellings, die Orania Maatskaplike Raad en talle kerke en ander instellings geskep. Ook op die terrein van veiligheid het Orania besluit om die moeiliker, maar meer volhoubare roete te volg deur self sy eie veiligheidstrukture binne ’n privaat veiligheidsmaatskappy, Orania Veiligheid, daar te stel.

Finansiële instellings was en is steeds baie belangrik. Die totstandkoming van Orania se eie bank is ʼn voorbeeld hiervan. OSK Koöperatiewe Bank is een van die groot suksesverhale van Orania en lewer omvattende finansiële dienste aan inwoners.

Die ontwikkeling van die Ora as eie ruilmiddel vir Orania was ’n groot stap in die rigting van selfstandigheid. Die sesde reeks van die Ora word tans gebruik. Die Orania Groeifonds is ook een van Orania se belangrike finansiële instellings wat veral beleggings buite Orania werf en dan aan ondernemings binne Orania uitleen.

Vandag kan ons met trots sê dat Orania sterk, eie instellings het. Dit saam met eie grond en eie arbeid bring mee dat ons reeds ‘n hoë vlak van selfbeskikking bereik het. Oraniërs moet almal by gemeenskapsinstellings betrokke raak en help om hierdie instellings uit te bou en te versterk.