fbpx

Oraniërs en die media

 

Oraniërs en die media

Oraniërs verstaan hoe dit voel  om onder die vergrootglas te wees. Ons Afrikanertuiste, wat nog betreklik klein is in die lig van ons groot vryheidsdroom, gryp die wêreld se verbeelding aan. Dit beteken mense kom kyk; nuuskieriges, verbygangers, opportunistiese politici, plaaslike en internasionale media, regeringsamptenare, onafhanklike videomakers, onverwagte vriende, duidelike vyande en veel meer.
Oraniërs het  al oor die jare geleer hoe om besoekers op wakker en slim maniere te hanteer, wat dikwels ‘n blywende indruk laat.

In die lig van die verkiesing deel ek graag ‘n paar wenke oor hoe om moeilike situasies te bestuur en joernaliste te hanteer.
Die doel hiervan is tweeledig. Eerstens om risiko vir ons gemeenskap en inwoners te beperk en ons mense veilig te hou. Tweedens, en baie belangrik , om Orania so aan te bied dat ons, ons vryheidsdroom bevorder.

Hoekom kom joernaliste na Orania toe?

Joernaliste, hoofstroom sowel as “podgooiers” en YouTubers, kom eintlik maar net om  een rede Orania toe: Orania-stories “verkoop”. Dit kry honderde duisende of selfs miljoene kyke, koerante en TV-stasies se stories loop wyd, lok debat uit en maak belangstelling los. Hoe meer skokkend hulle dit kan aanbied, hoe beter verkoop dit.

Volgens die Orania Beweging se ontleding word media-stories meestal in die volgende kategorieë verdeel (of in ‘n kombinasie van die faktore).

  1. Apartheid en Orania as ‘n kwansuise “teruggryp na die verlede”;
  2. Dienslewering in Orania (veral ORASOL, die nuwe rioolplaas, groei, nuwe erwe en veiligheid);
  3. Sensasie (van misdaad tot skinderstories ensovoorts, alles is “erger” omdat dit in Orania gebeur!);
  4. Afrikanerkultuur/Volkstaat/Vryheid. (Die unieke aard van Orania se toekomsdroom).Beteken dit die dekking is meer negatief as positief?

 

Waarom laat ons nog joernaliste in Orania toe?

Wat sal gebeur indien Oraniërs besluit dat geen joernalis  meer welkom is nie, en dat toegang verbied word?
Die eerste vraag is of dit sal werk. Sal dit media-aandag na Orania keer, of eerder die hoeveelheid aandag na Orania verdubbel a la Noord-Korea? Sal dit nie eerder veroorsaak dat joernaliste allerhande slinkse planne beraam om in te sluip en hulleself as besoekers of vakansiegangers voor te doen nie? Sal skelm opneem en afneem die norm word, sodat elke Oraniër eerder moet wonder of enige besoeker aan ons gasvrye gemeenskap nie eintlik verdag is nie?

 

Die tweede vraag is of Oraniërs enige iets het om weg te steek. Orania is nie onwettig nie. Afrikaners is ‘n volk in eie reg en verdien ‘n plek. Ons tree binne wettige raamwerke op en selfs artikel 235 van die grondwet gee ruimte vir selfbeskikking.
Maar daar is meer: Oraniërs is tog opgewonde oor ons vryheidsplan en wil dit met die wêreld deel. Ons bied ‘n oplossing wat ander gemeenskappe kan gebruik om ook te werk in die rigting van vryheid.
Dus, om media te verbied sal eerstens nie werk nie, maar eerder die teenoorgestelde gevolg hê, en tweedens ons staan onbeskaamd by ons plan.

 

Tog, baie joernaliste, veral hoofstroom Westerse Media, is toenemend antagonisties teenoor Oraniërs. In ‘n onlangse geval het joernaliste selfs ‘n onderhoud met kinders oor Apartheid gedoen, sonder ouertoesig of -toestemming.

Die Orania Beweging is tans besig om insette te versamel, maar het reeds ‘n de facto strenger beleid begin implementeer.

‘n Wyle gelede is die BBC blatant geweier omdat hulle vorige artikels vol feitefoute was, en hulle bedoeling baie duidelik was om Orania as die  “Apartheid stronghold” voor te hou.
Net so, na die storm wat Britse Kanaal 4-tv oor Orania veroorsaak het, het die Orania Beweging Engelse media wat die Kanaal 4 leuens  nagepraat het enige verdere onderhoude geweier totdat hulle, hulle leuens regstel en verskonings publiseer. Dit het nie gebeur nie.

‘n Onderhoud met ‘n Turkse joernalis is ook kortgeknip omdat hy aanhou hamer het op Apartheid eerder as om oor Orania te praat.

In die betrokke geval waar joernaliste met kinders sonder ouertoestemming gesels het, is alle voorafbeplande onderhoude  gekanselleer en moes die joernaliste Orania stert-tussen-die-bene verlaat.

Dit is  nie verkeerd dat Oraniërs kies om sterk te staan hieroor nie. Ons is nie meer verleë oor media-aandag nie. Tog is daar voordeel, ook in die negatiewe berigte. (Dit word verderaan in die skrywe hanteer.)

Wat is die beste manier om die media te hanteer?

‘n Paar belangrike sake om in ag te neem:

  1. Geen Oraniër is ooit verplig om met die media te praat nie, dit is ook in orde om ‘n gesprek of onderhoud waarmee u nie gemaklik is nie te beëindig. Onthou dat die Orania Beweging inwoners graag hierin bystaan sou joernaliste met u wou gesels. Ons het jare se ervaring en  u hoef nie alleen met joernaliste te gesels nie.
  2. Indien u onseker is of amptelike instellings soos die Orania Beweging, Orania Veiligheidsdienste of ander bewus is van die joernalis, maak gerus seker deur te skakel. (Orania Beweging: 053 2070 062 en OVD 060 501 7877.)
  3. Dit is die Orania-manier om altyd hoflik te bly, al is ons ferm.
  4. Onthou dat elkeen van ons saam ons gemeenskap en vryheidsdroom verteenwoordig.
  5. Wie mag in Orania woon? Enige iemand is welkom om aansoek te doen om verblyfreg. Orania is ‘n tuiste vir Afrikaners en die verblyfregpanele sal dit dienooreenkomstig hanteer.
  6. Daar is niks mee fout om Engelse media in Afrikaans te antwoord nie. Orania is ‘n Afrikaanse, Afrikanergemeenskap en joernaliste het toegang tot vertalers.
  7. Antwoord moeilike vrae met ‘n glimlag- of dit nou aan skoonfamilie, besoekers, uitlokkers op sosiale media of joernaliste is! Wie ook al eerste sy humeur verloor, verloor.
  8. Oraniërs bly hoflik, bly by feite en raak nie beledigend of ongeskik nie.
  9. Ons gemeenskap staan eerste, en joernaliste se besoek is ‘n voorreg en nie ‘n reg nie.

 

Wat is ‘n “wen” vir Orania?

‘n Goeie vriend van Orania het onlangs tydens ‘n besoek aan New York  die “Young Republicans” en ander rolspelers ontmoet. Volgens hom weet Amerikaners ten minste drie goed van Suid-Afrika baie goed: Plaasmoorde, Beurtkrag, en … Orania!

Wat dit veral interessant maak is die feit dat hierdie republikeine juis van Orania weet as gevolg van die negatiewe dekking oor ons gemeenskap.
Omdat hulle bewus is  van die slinksheid van hoofstroommedia, glo hulle presies die teenoorgestelde as wat geskryf word. Dit ontlok reuse belangstelling in, en steun aan Orania. Ná onlangse negatiewe dekking oor Orania deur Channel 4 in Engeland, het Orania honderde ondersteuners bygekry.
Vanuit Amerika en Europa word openbare steun toegesê, en donasies gemaak vir ontwikkeling in Orania, infrastruktuurprojekte, skoolfondse vir behoeftige skoolkinders in Orania en vele meer.
Ironies genoeg is die steun vir Orania die hoogste na die slegste aanvalle.
Hoewel dit nie altyd lekker is nie, help dit ons gemeenskap eintlik, ons sluit waardevolle konserwatiewe vriendskappe regoor die wêreld.

 

‘n Wen vir Orania is nie hoe joernaliste hulleself in Orania gedra nie, maar hoe Oraniërs hulleself handhaaf wanneer die wêreld ons dophou en toets.

Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!

Skakel gerus met die Orania Beweging vir enige navrae oor media of joernaliste.

Joost Strydom
joost@orania.co.za

word 'n lid!

Orania Beweging nuusstories word volledig deur ons lede befonds. Indien u hierdie storie geniet het, sluit aan as lid deur hierdie skakel te volg. Baie dankie!

Orania Beweging-nuusspan

Opgestel deur die Orania Beweging se nuusspan

Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za