AardeIn die Belorussiese hoofstad Minsk vind tans die vredeskonferensie oor die voortgesette konflik in die Oekraïne plaas. Die state wat deelneem is Rusland, Oekraïne, Duitsland en Frankryk. Reeds vooraf het die Duitse kanselier, Angela Merkel, haar optrede met ander Westerse leiers afgespreek, soos president Obama van die VSA en Kanada se eerste minister Steven Harper. Anders as die EU-lande Duitsland en Frankryk wil die VSA en Kanada meer aggressief teenoor Rusland optree en wapens aan Oekraïne lewer. Duitsland en Frankryk glo egter onverpoosd aan die sukses van diplomasie, alhoewel dit tot dusver min opgelewer het. Die wapenstilstand wat reeds onderhandel is, is verskeie kere verbreek. Die Russiese separatiste het in die laaste tyd weer heelwat grondgebied gewen nadat dit sowat `n halwe jaar gelede gelyk het asof hulle op die agtervoet is voor die eerste wapenstilstandsooreenkoms van September 2014. Die houding van die Weste en die Oekraïne is dat afskeiding nie `n moontlikheid is nie. Die separatiste wil van Oekraïne afskei en waarskynlik by Rusland ingelyf word soos die Krim. Rusland ondersteun die separatiste nie openlik met wapens nie en is ook versigtig om aansluiting by Rusland te bepleit, maar agter die skerms werk die Russe waarskynlik in daardie rigting. President Putin is ‘n uiters geslepe politikus en magsmens en weet hoe om te manipuleer. Vir Rusland gaan dit dalk nie in die eerste plek oor die vergroting van sy grondgebied nie, maar daaroor om die Oekraïne swak en binne die Russiese invloedsfeer te hou.

 Wedersydse beskuldigings van volksmoord deur Kroasië en Serwië is deur die Internasionale Geregshof afgewys. Dié twee lande was van 1991 tot 1995 in ‘n oorlog gewikkel toe Kroasië van Joegoslawië (waarvan Serwië die grootste deel was) afgeskei het. In die proses is groot getalle mense vermoor en nog veel meer verdryf. Dorpe en stede is ook vernietig. Kroasië het na die oorlog, in 1999, ‘n saak van volksmoord teen Serwië by die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak. Die saak het veral betrekking op die Serwiese aanval op Vucovar, ‘n stad naby die grens met Serwië, waarin meer as 200 Kroasiërs doelbewus gedood is deur paramilitêre magte en vele meer verdryf is. Die stad het ’n aansienlike Serwiese bevolking gehad en Serwië wou die stad en omgewing “etnies suiwer”.

Serwië het as reaksie in 2010 ‘n teen-aanklag teen Kroasië aanhangig gemaak. Dit het betrekking op die Kroasiese herowering van die Krajina. Dit is ‘n streek binne Kroasië wat hoofsaaklik deur Serwiërs bewoon word. Tydens die oorlog het die Krajina hulself afgeskei van Kroasië, maar is in 1995 deur Kroasiese magte herower. Feitlik alle Serwiërs is verdryf, maar baie min doelbewus gedood.

Sedert die klagtes aanhangig gemaak is, het die verhoudinge tussen die lande egter aansienlik ontspan en beide het gedemokratiseer. Kroasië is die nuutste lid van die Europese Unie en Serwië het aansoek gedoen om toelating en word selfs daarin van Kroasië ondersteun. Die wonde in die betrokke bevolking is nog rou, maar die houding van die regerings is eerder dat die verlede nou agtergelaat moet word. Die uitspraak van die Internasionale Geregshof het die pad van die minste weerstand gevolg en altwee sake as ongegrond verwerp. Die uitspraak kan beslis bevraagteken word, maar is ‘n pragmatiese een wat rekening hou met die veranderde omstandighede. Die argument van die hof is dat die twee gevalle wel neerkom op etniese uitdrywing, maar nie sterk genoeg is vir volksmoord nie, omdat die bedoeling nie was om die hele volk uit te wis nie maar slegs om sekere dele “etnies te suiwer”. Die geval van Vukovar bevat egter beslis elemente van volksmoord al was dit op `n klein skaal.

Die uitspraak van die hof mag ook deur die waarneming van sowel Kroasië asook Serwië as aanvallers in die Joegoslawië-oorlog, terwyl Bosnië, wat die ergste deurgeloop het, as die slagoffer gesien word. Die onderskeie volke was egter almal, in mindere of meerdere mate, sowel slagoffers asook aanvallers, maar Serwië het die wreedste opgetree en Bosnië se Moslems het die meeste deurgeloop.

 

Australië se eerste minister, Tony Abbot, oorleef `n mosie van wantroue. Abbot, eerste minister van sedert 2013, het aan bewind gekom na onstuimige jare van verskeie Arbeidersparty-regerings. Die bewind van die linkse Arbeidersparty was woelig en en was gekenmerk deur gereelde verandering van die leier Eers Kevin Rudd, toe Julia Gillard en toe weer Rudd. Moddergooiery was ook nie `n vreemde verskynsel nie. Mnr Abbot van die Liberaal-Nasionale party het stabiliteit aan kiesers belowe. Sy regering was egter nog nie besonder suksesvol nie. Sy besparingsmaatreëls en besnoeiing van welsynsuitgawes, mediese dienste, ouerskapverlof en universiteitsubsidies maak ekonomies sin, maar maak hom ook ongewild by kiesers. Meningspeilings lyk tans sleg vir sy party. Onlangs het hulle ook swak gevaar in ‘n verkiesing in die deelstaat Queensland. Verder het mnr. Abbot die toekenning van ridderskappe aan uitstaande persone, ‘n ou Britse tradisie wat reeds in die 1970’s in Australië afgeskaf is, heringestel en ‘n ridderskap aan Prins Phillip, Koningin Elizabeth se man, laat toeken. Dit het hom oopgestel vir kritiek deur republikeinsgesinde Australiërs wat die bande met die koningshuis as ‘’n oorblyfsel uit die koloniale era” beskou. Verder word ook gevra hoekom die hoogste eer aan ‘n nie-Australiër toegeken word wat boonop oor ‘n magdom titels en toekennings beskik. Die vraag of Australië ‘n republiek moet word of die Britse monarg as staatshoof moet behou is ‘n deurlopende tema, maar in 1999 het die meerderheid vir die behoud van die status quo gestem en sedertdien het die steun vir ‘n republiek eerder verminder.

Die Liberaal-Nasionale party is ‘n samevoeging van twee partye, die Liberale Party en die meer konserwatiewe Nasionale Party. Die spanning tussen die twee rigtings binne die party kom dikwels na vore. Mnr Abbot is deel van die meer konserwatiewe vleuel.

In sy eie party is daar ook ‘n reeks agterbankers wat ontevrede is met sy leierskapstyl en voel dat hulle in besluitneming oor die hoof gesien word. ‘n Rebellie in die party het begin broei en ‘n mosie van vertroue in die leier is in die koukus voorgestel. Voor die tyd moes mnr Abbot en sy aanhangers binne die koukus, bestaande uit alle parlementslede van die party, spook om belangrike mense aan boord te kry om ‘n neerlaag te verhoed. Daar is vermoed dat die onderleier en minister van buitelandse sake, mev Julie Bishop, mnr Abbot gaan uitdaag, maar sy het voor die toets haar steun aan Abbot toegesê en die wind uit die teenstanders se seile gehaal. Die teenstanders het hulle wel geskaar rondom Malcolm Turnbull, die minister van kommunikasie, wat ambisies het om Abbot te ontsetel as leier. Abbot het die steun van 61 lede gekry met 39 teenstemme. Dit was ‘n oorwinning, maar ‘n beperkte een. Hy kry nog ‘n kans maar is gewond en moet nou alles in die stryd werp om sy aansien te verbeter.

Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.

Blog Single

`n Kort opsomming van belangrike internasionale gebeure

by | Feb 18, 2015 | Nuus | 2 comments

2 Comments

  1. riaan

    Hou van die tipe kommentare. Bondig en interessant. Doen so voort.

    Reply
    • Sebastiaan

      Dankie Riaan. Sal so maak.

      Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

17 − 15 =