fbpx

Afrikaners en die slaggat van neo-konserwatisme

Russell_KirkDie konserwatiewe persoon is voor alles gemoeid met die herlewing van die geestelike en die karakter – met die godsdienstige sanksie waarop enige lewe wat die moeite werd is, gebou word. Dit is die konserwatiewe tradisie op sy beste – Russell Kirk

Afrikaners het ’n lang geskiedenis met die konserwatiewe tradisie. Die besef van wie jy is, watter waardes jou vorm, en hoe jou omgewing en die instellings waarvan jy deel is tot jou menswees bydra in die lang en moeisame pad om vir jouself en jou naastes ’n toekoms van geluk en sukses te verseker, was nog altyd deel van die Afrikaner se mondering. Russell Kirk se verwysing na die herlewing van die geestelike en die karakter kan ook raakgesien word in die wyse waarop die Afrikaner telkens na moeilike tye opgestaan het. Vas in die geloof en trots op ons Afrikanerwees het die Afrikaner nog elke keer na ’n krisistyd hergroepeer. Afrikaners was in ons geskiedenis tot dusver in ’n groot mate tradisionele of paleo-konserwatiewe mense. Afrikaners is vir lank gekenmerk deur ’n interne lokus van beheer, dus ’n tradisionele lewensbeskouding, eerder as ’n eksterne lokus van beheer waaroor ons beslis dieper moet nadink.

Konserwatiewe bewegings in talle Westerse lande, ook in Suid-Afrika, is sedert die Tweede Wêreldoorlog deur neo-konserwatiewes oorgeneem. Hierdie neo-konserwatiewes verskil wesenlik in hul uitkyk op die hantering van verskeie beleidskwessies van die meer tradisionele of paleo-konserwatiewe persoon.

Tradisionele konserwatiewes se negatiewe reaksie op neo-konserwatisme het heelwat te make met die wyse waarop konserwatisme as begrip skielik toegeëien is. Neo-konserwatiewes verskil van tradisionele konserwatiewes op ’n hele paar kenmerkende wyses wat direk verbond hou met ’n eksterne beskouing oor beheer. Daar is byvoorbeeld die kenmerkende intervensionistiese buitelandse beleid in die VSA. Onder leiding van neo-konserwatiewes soos George W Bush, Dick Cheney en Donald Rumsfeld is die oorloë in Irak en Afganistan aangemoedig. Neo-konserwatiewes glo ook in ’n sterk sentrale regering. Hoewel hulle nie sosialiste is nie, glo hulle dat ’n regering heelwat goeie dinge kan en moet doen. ’n Sterk sentrale regering verseker volgens hulle ’n soort sekerheid onder burgers. Neo-konserwatiewes is ook meer op die individu as die gemeenskap gefokus en glo aan die absolute vryemark sonder enige meganismes om ongelykhede in die globale mark in ag te neem.

Neo-konserwatiewes en tradisionele konserwatiewes verskil wesenlik oor buitelandse beleid. Tradisionele konserwatiewes glo dat lande hul by hul eie sake moet hou terwyl neo-konserwatiewes glo dat Westerse regerings demokrasie en die vryemark teen alle koste na lande met diktatorskappe en ondemokratiese regerings moet neem.

Die twee kampe verskil ook op sosiale terrein. Hoewel die meeste neo-konserwatiewes tot ’n mate konserwatiewe standpunte oor kwessies soos homoseksualiteit, aborsie en die rol van geloof in openbare ruimtes inneem, verkies hulle om nie op hierdie kwessies nie, maar eerder op ekonomiese en internasionale sake te fokus. Neo-konserwatiewes stel dus die geestelike aspek en die vormende aard van karakter sekondêr tot eksterne invloede.

’n Groot probleem wat tradisionele konserwatiewes verder met neo-konserwatiewes het, is hul totale miskenning van die belang van die gedesentraliseerde gemeenskap. ’n Gemeenskap van mense wat in dieselfde rigting dink weens hul interne lokus van beheer is buite die denkraamwerk van die neo-konserwatiewe persoon. Neo-konserwatiewes is geneig om mag op te wentel na die sentrale regering eerder as af te wentel na die gemeenskap. George W Bush se eerste wesenlike stuk wetgewing nadat hy president van die VSA geword het, was ’n nasionale plan om seker te maak dat kinders wat agterstande op skool ontwikkel, ekstra aandag geniet. Tradisionele konserwatiewes glo dat die federale regering in die VSA eintlik niks met onderwys te doen moet hê nie en dat onderwys aan die state en plaaslike gemeenskappe oorgelaat moet word. Opvoeding moet dus vanuit die interne eerder as die eksterne inisiatiewe plaasvind. Nog ’n voorbeeld van neo-konserwatiewes se benadering tot onderwys is die regering van Angela Merkel in Duitsland wat drakoniese stappe teen ouers wat aan hul kinders tuisonderrig wou bied, geneem het. Tuisskoling is onwettig in Duitsland omdat Merkel se regering glo dat slegs die regering weet hoe om kinders behoorlik op te voed.

Die Amerikaanse paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, gaan sover as om te sê dat neo-konserwatiewes ’n groter bedreiging as sosialiste inhou. Sy standpunt is gebaseer op die basis dat ons almal sosialisme min of meer verstaan en bewus is van die strewes van sosialiste. Die probleem met neo-konserwatiewes is dat hulle die woord konserwatief hul eie gemaak het terwyl hulle op verskeie terreine afgewyk het van die oorspronklike beginsels van die konserwatiewe tradisie.

Ook Afrikaners het die afgelope tyd in die slaggat van neo-konserwatisme begin trap deur toe te laat dat eksterne oorwegings ons rigting bepaal. Ons het van ’n interne lokus van beheer na ’n eksterne lokus van beheer verskuif, met verlies aan belangrike geestelike oorwegings. Verskeie Afrikaners bepaal deesdae hul prioriteite volgens wêreldse eise in plaas van om dit vanuit ’n herontdekking van die geestelike en die karakter te doen.

Ons instellings het ’n groot taak om ons mense weg van die neo-konserwatisme na ’n herontdekking van die geestelike, tradisie, en ons Afrikanerkarakter te lei. Hierin behoort die kerk ’n leidende rol te vervul.

*Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging en skryf vir verskeie publikasies oor temas wat direk, maar veral ook indirek verband hou met die Afrikaner se strewe na selfbeskikking. Hierdie artikel is vir die Afrikaanse Protestantse Kerk se webblad (www.apk.co.za) geskryf.

Versnelde privatisering van ons taal en kultuur reeds sigbaar

AfrikaansIsGrootDie privatisering van die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur het die afgelope paar dae nog meer duidelik geraak. Die afgelope twee naweke het 80 000 mense, die meeste nog, die Afrikaanse musiekkonsert, Afrikaans is Groot, bygewoon. Afrikaanse musiekverkope breek voortdurend rekords en die Afrikaanse filmbedryf lewer beter en meer suksesvolle films as ooit in die verlede.

Afrikaans gedy op privaattelevisiekanale soos kykNET en Afrikaanse gemeenskapsradiostasies soos Radio Pretoria toon groeiende luistertalle. Orals skiet klein privaat uitgewerye op wat Afrikaanse boeke en veral boeke oor die Afrikaner se geskiedenis en kultuur publiseer.

Ons het egter ook die afgelope paar dae beleef hoe die SAUK die bietjie, meestal swak, Afrikaans wat nog op hul kanale oor is verder afskaal. Die gewilde natuurleweprogram 50/50 het ‘n nuwe taalbeleid waarvolgens slegs 20% van die programinhoud voortaan in Afrikaans sal wees. Slegs enkele Afrikaanse programme van goeie gehalte op die SAUK se kanale bly oor en hierdie programme bestaan hoofsaaklik weens privaatinisiatiewe. Elzilda Becker, redakteur van die glanstydskrif DeKat, verdien ‘n pluimpie vir haar inisiatief om ‘n program, DeKat-TV, saam te stel. Sou dit nie vir hierdie soort privaatinisiatiewe gewees het nie, sou daar nog minder Afrikaans op die SAUK se kanale gewees het.

Een van die terreine waar die behoud en uitbou van ons taal en kultuur egter die meeste openbare veld verloor, is die akademie. Die probleem begin reeds op skoolvlak waar die meeste Afrikanerkinders vandag nie meer oor hul geskiedenis en kultuur onderrig word nie. ‘n Klein groepie privaatskale swem toenemend stroom op en doen belangrike werk om hierdie tendens teen te werk.

Die afgelope paar dae het dit ook aan die lig gekom dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans die primêre taal van onderrig is, nou ook getransformeer sal word. Die raad van die Universiteit van Stellenbosch het op teleurstellende wyse aangekondig dat Afrikaanse en Engels voortaan gelyke status by dié universiteit sal geniet.

Voorheen was Afrikaans die primêre onderrigtaal. By die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus was Afrikaans tot nou toe die primêre onderrigtaal. Die rektor Dan Kgwadi se transformasieplan, wat onlangs uitgelek het, bewys egter duidelik dat hy beplan om Afrikaans by dié universiteit af te skaal. Dit raak toenemend moontlik dat Afrikaans binne  die volgende paar jaar totaal as onderrigtaal by openbare universiteite kan uitsterf.

In skrille kontras met die verval van Afrikaans aan openbare tersiêre onderriginstellings soos universiteite, universiteite van tegnologie en kolleges breek ‘n nuwe era vandag aan met die aankondiging van die uitbreiding van die privaatuniversiteit, Akademia, se aanbod. Die vakbond Solidariteit het ‘n paar jaar gelede die inisiatief geneem om Akademia op die been te bring en ons kan maar net almal hoop dat Akademia in die komende paar jaar die gaping in Afrikaanse naskoolse onderrig sal kan vul.

Die ANC-regering werk pro-aktief aan die uitwerk van Afrikaans en die Afrikanerkultuur uit alle openbare ruimtes. Ons het almal ‘n plig om elke inisiatief wat ons taal en kultuur in privaatruimtes bevorder, te ondersteun.

Westerse leiers soek oplossings op verkeerde plekke

Russia's President Vladimir Putin speaks at a news conference at the end of the G20 summit in BrisbaneLeiers van die G20-lande het die afgelope naweek in Brisbane Australië byeengekom. Sedert die vorige byeenkoms van die G20-leiers verlede jaar in St Petersburg in Rusland het heelwat dinge gebeur wat verhoudinge tussen die leiers van die wêreld se sterkste ekonomieë beïnvloed het.

Die belangrikste gebeure is die krisis in Oekraïne, die voortspelende geweld in Sirië en Irak, die Europese verkiesing en meer onlangs President Obama se pakslae by die stembus in die VSA. Hierdie gebeure staan egter binne die konteks van ‘n wêreld met groter geo-politieke veranderinge.

Hoewel Westerse leiers dit nie wil besef nie, is die afgelope jaar se internasionale gebeure deur veral twee kategorieë van probleme gekenmerk. Die eerste is die feit dat kiesers in byna elke Westerse land kwaad is en ‘n groot verwydering tussen hulself en die politieke elite beleef. Euroskeptiese partye het groot opgang in die Europese verkiesing gemaak en daardeur ‘n duidelik boodskap aan leiers in Europa gestuur. Die onlangse verkiesing in Amerika was ook ‘n boodskap van Amerikaanse kiesers dat hul omgekrap is met die huidige politieke stelsel. Westerse burgers is onrustig weens die ekonomiese agteruitgang in hul lande, onbeheerde immigrasie en ‘n algemene rigtingloosheid van Westerse leiers.

Die tweede kenmerk van die afgelope twaaf maande se politieke gebeure staan binne die drang na groter selfbeskikking in verskillende wêrelddele. Die krisis in Irak en Sirië het meer te make met territoriale state wat nie sin maak nie as wat dit met Moslemekstremisme te make het. Irak moet opgebreek word om nuwe nasiestate te skep. Dieselfde geld vir Sirië en selfs Oekraïne. Die meeste van hierdie lande is maaksels van Westerse imperialisme. Die referendum om onafhanklikheid in Skotland het binne dieselfde konteks plaasgevind. Westerse leiers vrees ‘n opbreek van multi-kulturele territoriale state regoor die wêreld, aangesien dit hul magsposisie kan bedreig. Daarom veg hulle op die vuilste maniere denkbaar om die status-quo te handhaaf.

Uit die afgelope naweek se gebeure in Brisbane is dit duidelik dat die Weste sy leierskapsrol in die wêreld verloor en voortdurend na strooihalms gryp om sy posisie van mag te probeer behou. Die voortdurende aanvalle op Vladimir Putin is een manier waarop Westerse leiers die morele hoëgrond probeer handhaaf. Die feit dat Westerse leiers dus die naweek soos ‘n trop wildehonde op Putin toegesak het, kom as geen verrassing nie. Hul doel was duidelik: Maak Putin die skuldige-party in die krisis in Oekraïne en beveg so die argument dat selfbeskikking vir die verskillende volkere in Oekraïne eintlik die oplossing is.

Op ekonomiese terrein moet Westerse leiers reeds voor leiers uit Oosterse lande kruip. Australië se ekonomie is deesdae grootliks afhanklik van die uitvoer van natuurlike hulpbronne aan China. Die VSA skuld die Chinese soveel geld dat Obama nie anders kan as om mooi broodjies by die Chinese te bak nie.

Die oplossing vir talle wêreldkrisisse lê nie in die behoud van die status quo nie, maar eerder in die afbreek van uitgediende territoriale state en die reg van nasies om hulself, selfstandig te regeer.

Europa moet haar grense digter toemaak

001cd-netherlandsshariaIn die noordooste van Nederland, in die provinsie Drenthe, is die dorpie Oranje. Dié dorp met sy 140 inwoners was laas in die nuus toe die plaaslike aartappelverwerkingsfabriek gesluit het. Die afgelope tyd is Oranje egter weer in die nuus. Daar is besluit om 1400 Siriese asielsoekers in Oranje te huisves. Die asielsoekers het reeds begin arriveer en daarmee saam die wese van Oranje verander. ‘n Dorp met 140 inwoners wat skielik 1400 nuwe bewoners uit ‘n vreemde land, wat ‘n vreemde taal praat en wat glad nie ekonomies aktief is nie, moet huisves, kan nooit weer dieselfde wees nie.

Oranje is nou wel ‘n ekstreme voorbeeld van die toepassing van Nederland se asielbeleid, maar hoewel ekstreem is dit nie geïsoleerd nie. Regoor Nederland word duisende Siriese asielsoekers voortdurend in alles van ou fabrieke tot leë skoolgeboue, hotelle en ouetehuise geplaas.

Die sogenaamde “Centraal Orgaan Opvang Asielzoekers” (COA) is volgens wetgewing verantwoordelik vir die hantering van alle vlugtelinge wat in Nederland om asiel aansoek doen. Tans stroom meer as 800 mense per week na die oorvol sentrums van die COA om vir asiel aansoek te doen. Hierdie mense word regoor die land geplaas. Hoewel die meeste asielsoekers uit Sirië kom, stroom asielsoekers uit Irak, Libië, Egipte en toenemend ook Eritrea na Nederland.

Die verstommende realiteit is dat Nederland eintlik redelik ver van al hierdie lande geleë is. Waarom sal mense dus al die moeite doen om byvoorbeeld uit Eritrea na Nederland te reis om daar om asiel aansoek te doen? Die antwoord lê in die wyse waarop die Nederlandse regering asielsoekers hanteer. Relatief aangename behuising word vir hulle gevind en asielsoekers kry heelwat regte en voordele. Die meeste van hulle keer waarskynlik nooit na hul lande van oorsprong terug nie.

Die verhaal van Oranje en ander dorpe en stede regoor Nederland, is ook die verhaal van dorpe en stede in België, Duitsland, Frankryk en ander Europese lande. Honderde duisende asielsoekers uit geweldgeteisterde derdewêreldlande stroom jaarliks na Europa. Liberale wetgewing oor die hantering van vlugtelinge maak dit maklik vir hierdie mense om verblyf in van die veiligste lande met die hoogste lewenstandaard in die wêreld te kry.

Elke dorp en stad in Europa is besig om in ‘n multikulturele samelewing te ontaard. Die Europese droom van integrasie het reeds in duie gestort. Immigrante uit die derde wêreld weier meestal om hul nuwe land se taal en kultuur aan te leer en selfs hul kinders word nie geassimileer nie. Moskees word gebou en volle woonbuurte word beset. Daar word selfs op die toepassing van Sharia-wette aangedring. Die Westerse wêreld se oopgrense en ooparms beleid begin reeds byt. Misdaad, druk op die welsynstaat en agressie teenoor onder andere Jode en homoseksueles deur immigrante is enkele van die bewyse dat die multikulturele projek misluk het.

Westerlinge staan voor ‘n keuse. Of hulle maak die grense van hul lande digter toe en oorleef of hulle word binne enkele dekades ‘n minderheid in hul eie lande soos wat die 140 Nederlanders in Oranje binne enkele dae ‘n minderheid in hul eie dorp geword het.

Landbou-organisasies moet reguit praat oor grond

10646984_10152876832787009_8267255284772692968_nAgri SA, Suid-Afrika se grootste landbou-organisasie het verlede week tydens hul jaarkongres ‘n ambisieuse grondhervormingsplan bekend gemaak. Die president van Agri SA, Johannes Möller, het hom sterk ten gunste van grondhervorming uitgespreek.

Dit is duidelik dat die strategie van Agri SA daarop geskoei is om ‘n pro-aktiewe benadering tot grondhervorming te volg. Die boodskap wat hulle dus uitstuur is een waar grootskaalse grondhervorming ‘n gegewe is en waar die redes daarvoor reeds bestudeer en aanvaar is. Hoewel Agri SA waarskynlik reg optree deur nie ‘n strategie van konfrontasie met die regering te volg nie, maak hy egter ‘n fout deur nie die motiewe agter die grondhervorminggeraasmakers se propaganda te bevraagteken nie.

Waarom vra die leierskap van Agri SA nie meer indringende vrae oor huidige grondbesit in Suid-Afrika nie? Waarom gebruik die organisasie nie die lae persentasie swart Suid-Afrikaners wat gedurende die vorige grondeiseproses vir grond bo geld gekies het, as bewys dat die regering se boodskap oor grondhervorming skeefgetrek is nie? Sou dit nie beter gewees het vir Agri SA om eerder ‘n sterk boodskap teen grootskaalse grondhervorming te formuleer as om eenvoudig so ‘n proses as ‘n gegewe te aanvaar nie?

Daar is heelwat rede om te glo dat grondhervorming ‘n beperkte bydrae tot die lewensgehalte van swart Suid-Afrikaners sal lewer. Ons sien vandag steeds grootskaalse verstedeliking in Suid-Afrika. Die meeste swart Suid-Afrikaners wil graag ‘n goeie stedelike lewe lei en daar is baie min swartmense by wie daar nog ‘n agrariese tradisie bestaan. Die grootste struikelblokke vir swart Suid-Afrikaners is onderwys, toegang tot naskoolse opleiding, ekonomiese vaardighede, kapitaal en dienslewering. Toegang tot grond beteken nie toegang tot welvaart nie en die invloed van klimaat, insetkoste, internasionale mededinging en tegnologiese vooruitgang maak boerdery ‘n moeilike en duur bedryf.

Indien die regering eerlik is oor swartmense se behoefte om grond te besit moet die vraag gevra word waarom die regering dan nie sy grondhervormingsproses begin deur eenvoudig die miljoene swartmense wat op staatsgrond en in staatshuise woon eiendomsreg te gee nie? Die ekonomiese impak hiervan sal reeds enorm groot wees omdat hierdie mense, baie van hulle in die ou tuislande, skielik toegang tot kapitaal sal kry wat kommersiële boerdery makliker sal maak.

Die idee dat meer swartmense kommersiële boere moet word is goed, maar om dit te forseer sou onsinnig wees. Op plekke waar suksesvolle swart kommersiële boere aangetref word, is dit meestal deur hul eie toedoen dat hul suksesvol geraak het en nie omdat die regering vir hulle ‘n stukkie grond gegee het nie. Daar is voortdurend ‘n toename in suksesvolle swartmense wat binne die vryemark plase aankoop. Dit gekoppel aan groter eiendomsreg sal op ‘n ongedwonge wyse swartmense se deelname aan kommersiële landbou verhoog.

Grootskaalse grondhervorming en nuwe grondeise skep onsekerheid wat wesenlike skade aan Suid-Afrika se landboubedryf kan aanrig. Landbou-organisasies moet pro-aktief dink en mag kreatiewe grondhervorming steun, maar hulle kan nie toelaat dat die regering en aktiviste met leuens verkeerde en selfs gevaarlike persepsies oor grond skep nie.

* Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging en skryf vanuit sy persoonlike hoedanigheid op die Orania Blog. Verskeie van sy plasings is as nuuskommentare vir ander media saamgestel en is algemene kommentaar oor plaaslike en internasionale nuus. Inskrywings moenie as beleidstellings van die Orania Beweging beskou word nie.