toerisme in orania
Orania het ʼn sterk toerismesektor wat beteken dat daar verskeie geleenthede is vir besighede wat spesialiseer in gasvryheid, toerisme, avontuur en vermaak. In vakansietye is Orania ʼn besoeker se droom met al die aktiwiteite wat plaasvind in en om die dorp en Desembervakansies het selfs ʼn formele program waaraan besoekers en inwoners kan deelneem. Vir die grootste gedeelte van die jaar egter, word die meeste aktiwiteite in Orania vanuit die privaatsektor aangebied.
begeleide toere

Orania is ʼn unieke gemeenskap, met interessante inisiatiewe, mense, instellings en werkswyses. Baie hiervan kruip egter net onder die oppervlak weg en dit is heel moontlik dat ʼn oningeligte reisiger al hierdie dinge kan miskyk. Die Orania Beweging bied aan enige toeriste, vakansiegangers of joernaliste ʼn gratis begeleide dorpstoer. Hierdie toere word aangebied deur professionele personeel van die Orania Beweging wat Orania nie net in diepte verstaan nie, maar ook elke besienswaardigheid in die dorp kan uitwys. Die toer sluit ook ʼn video oor Orania in waarin baie vrae beantwoord word en Orania se geskiedenis en vooruitsigte mooi uiteengesit word. Die Orania Beweging se toerbus kan 13 passasiers vervoer en maak só voorsiening vir groter toergroepe ook.
Om ‘n dorpstoer te bespreek, skakel die Orania Beweging se Inligtingskantoor by: 053 207 0004
(Geen toere word op Sondae en Christelike vakansiedae aangebied nie)
besienswaardighede

die koeksistermonument
Orania se Koeksistermonument is as tong-in-die-kies projek begin, maar het tog ʼn baie ernstige boodskap. Die monument is nie net vir die soethappie wat so eie aan die Afrikaner is nie, maar ook ʼn verering van die Afrikanervrou en die fondse wat deur die jare vir die bou van kerke of skole ingesamel is met die bak van koeksisters by basaars. Die monument is te siene langs die Orania Dorpswembad vir ʼn vinnige ‘selfie’!

monumentekoppie
Die Orania Monumentekoppie of heldetuin vereer staatsmanne uit die Afrikanergeskiedenis, met een van die mooiste uitsigte in Orania. Die halfsirkel van borsbeelde, met die Klein Reus voor in die middel, simboliseer nie net ons ryk verlede wat agter ons lê nie, maar dat vryheid deur eie arbeid voor ons in die toekoms wag. Besoeke tydens sonsopkoms of –ondergang word veral aanbeveel. Gaan drink ʼn koppie koffie op die verlede en die toekoms!

ierse monument
Tydens die Anglo-Boereoorlog het Ierse vrywilligers die Boere kom bystaan in die stryd teen koloniale Engeland. Baie Iere het hier hulle laaste asems uitgeblaas en so met hulle bloed ons geskiedenis help skryf. Die Ierse Monument is in 1976 in Brixton, Johannesburg onthul waar dit in 2002 afgebreek is om plek te maak vir kommersiële ontwikkeling. Die Vryheidsfront Plus en Orania het saamgewerk om dit ʼn nuwe tuiste in Orania te gee waar dit vandag steeds staan en onderhou word. Besoek gerus hierdie monument op die Orania Monumentekoppie en vereer hierdie Ierse helde.

kaalvoettrappe
Die Kaalvoetvroue van Orania (met verwysing na die Voortrekkervroue wat bereid was om ‘Kaalvoet oor die Drakensberge te gaan’) pak verskeie projekte aan om Orania te verfraai. Die Kaalvoettrap wat twee dele van Orania verbind is ʼn voorbeeld van so ʼn projek. Die trap is met mosaïekteëls versier om ʼn simboliese beeld te skep. Die kunstenaar, Cornelia Holm, het Oraniërs se afhanklikheid van ons Skepper, die landbousektor, seisoene en die omgewing uitgebeeld met ʼn baie sterk Orania boodskap. Aan die een kant van die trap is daar ʼn tydlyn wat Orania se geskiedenis op teëls uitbeeld, aan die ander ʼn kanaal waar fietsryers hulle fietse kan op- of afstoot.

liedjiemuur
Nog ‘n pragkunswerk van Cornelia Holm verfraai die muur by Karoosig Aftreeoord. Die Liedjiemuur beeld verskeie bekende Afrikaanse volksliedjies uit. Hierdie kunswerk is met ‘n tegniek genaamd sgraffito gemaak. Cornelia het op hierdie tegniek besluit weens die lang lewensduur.

fietsmonument
Hierdie monument wat voor Die Duiker staan beeld Orania se fietsrykultuur uit. Fietsryers en wandelaars wat pas die Kaalvoettrappe bestyg het en ook die Liedjiemuur besigtig het, sal verder op hul roete hierdie monument vind.

kultuurhistoriese museum
Stap deur die gange van die Afrikanergeskiedenis. Die Orania Kultuur-Historiese Museum bied ʼn ervaring van Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap deur die Groot Trek, Boererepublieke, vryheidsoorloë en konsentrasiekampe tot by die Grensoorlog, Rebellie, Republiek- en Uniewording. Kom kyk na die wapens, die gereedskap en vlae waarmee ons voorvaders in Afrika oorleef het.

verwoerd gedenkversameling
Kort na die aankoop van Orania het mev Betsie Verwoerd, weduwee van die voormalige eerste minister Hendrik Verwoerd, haar in Orania kom vestig. Mev Verwoerd is selfs deur oud president Nelson Mandela hier besoek. Na haar afsterwe in 2000 is haar voormalige woonhuis omskep in die Orania Verwoerdmuseum. ʼn Deel van die huis is bewaar net soos dit gelyk het in haar leeftyd, terwyl die ander helfte museumstukke uit hulle tyd in die staatsdiens insluit. Dit sluit beelde, besittings, geskenke en selfs die klere wat dr Verwoerd op die dag van sy dood aangehad het, in.