fbpx

Geskiedenis

Orania as eerste volkstaatgroeipunt is vroeg in 1991 gestig, maar die aanloop strek heelwat verder terug. Reeds in die 1970’s was daar binne die intellektuele dinkskrum Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-Aangeleenthede (SABRA) besprekings oor ‘n moontlike tuisland vir Afrikaners in ‘n tyd waar elke swart volk sy eie tuisland gekry het. In die 1980’s, met die nuwe grondwetlike bedeling en die besef dat die ou apartheid- en tuislandbeleid nie meer werk nie, het prof Carel Boshoff, dr Chris Jooste en ander binne SABRA meer en meer die idee van ‘n eie Afrikaner-volkstaat as alternatief tot ‘n multi-etniese en uiteindelik swart oorheersde Suid-Afrika verkondig. Met die aanloop tot die 150-jarige herdenking van die Groot Trek in 1988 het dit verdere stukrag gekry en het uitgeloop op die stigting van die Afrikanervryheidstigting (AVSTIG) in 21 Maart 1988, met die uitdruklike doel om ‘n volkstaat vir die Afrikaner te verwesenlik. Na uitgebreide navorsing is besluit dat so ‘n staat net in die yl bevolkte en Afrikaanssprekende noordwestelike deel van die land, tussen die Oranjerivier en Weskus, lewensvatbaar sou wees. Die voorbeeld vir die vestiging van die Afrikanerstaat was die totstandkoming van Israel deur mobilisering, fondswerwing, idealisme, vestiging, ontwikkeling en eie arbeid.  

Eerder toevallig is toe gehoor van ‘n verlate dorp wat aan die Departement van Waterwese behoort, Orania, wat op ‘n veiling te koop aangebied word. Dit was ‘n voormalige konstruksiedorp vir die Oranjerivierwaterskema, wat  leeg en vervalle was. AVSTIG moes vinnig geld bymekaar maak en het uiteindelik daarin geslaag om die dorp Orania in Desember 1990 te koop en daarna as aandeleblokmaatskappy te registreer. Inwoners is uit die kringe van die volkstaatbeweging gewerf en het na die amptelike opening in April 1991 ingetrek. Dit was ‘n moeilike en stadige vestigingsfase, want ‘n hele nuwe samelewing moes van vooraf opgebou word. Daar was geen bloudruk vir ‘n volkstaatdorp nie en veral die beginsel van eie arbeid was ‘n groot uitdaging. Voeg daarby vervalle infrastruktuur en huise, geen bestaande instellings nie, min geld, gebrek aan dienste en produkte en ‘n mens kan jou indink hoe uiters veeleisend dit was om Orania aan die gang te kry. ‘n Vyandige houding van meningsvormers en ongelukkig ook van groot getalle gewone Afrikaners het ook nie gehelp nie. Nogtans het die Oraniërs met pioniersgees voortgegaan en kon die nodige strukture in plek kry: ‘n basiese ekonomie en werksmag, behuising, administrasie, skole, kerke en kulturele aktiwiteite wat die gemeenskap saamgebind het. Plase teenaan Orania is met verloop van tyd bygekoop en ontwikkel in besproeiingshoewes, om werk te skep en inkomste te verdien. Daar was tye van stagnasie en tye van vinnige vooruitgang. Die mylpale van Orania se geskiedenis kan in die tydlyn gesien word.