Staatkundige Ontwikkeling
Soos wat Orania ontwikkel, ontwikkel ook sy strukture. Namate die inwonertal en die grondgebied groei, groei ook die behoefte aan deelname en word die stelsel meer genuanseerd. Orania is wel wat die bevolkingsgetalle betref net op die vlak van ‘n dorp, maar strewe na ‘n eie politieke bedeling en moet dus alle vlakke van die regering verteenwoordig. In embrionale vorm is dit al teenwoordig. Daar word gewerk in die rigting van ‘n sinvolle Trias Politica, met ander woorde die toedeling van die bevoegdhede van die wetgewende, die uitvoerende en die regsprekende gesag. Die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR), Orania Dorpsraad en die Regspaneel verteenwoordig reeds die begin van die drie elemente, onderskeidelik.
Vir Orania se staatkundige ontwikkeling was 2000 ‘n besliste jaar. Orania sou volgens die nuwe munisipale bedeling, waarmee landelike gemeenskappe en plase se bevoegdhede weggevat is, by die groter Thembelihle munisipaliteit (Hopetown en Strydenburg) ingelyf word en daardeur sy selfbestuur verloor. Daarteen is sowel ‘n regs- asook ‘n politieke stryd gevoer wat uiteindelik gewen is deur ‘n uitspraak ten gunste van Orania in die Hooggeregshof van Kimberley. Sedertdien bestaan Orania voort as eie entiteit met ‘n status wat nog in die toekoms deur onderhandeling bepaal moet word. Orania funksioneer dus in praktyk buite die munisipale bedeling, maar met die funksies van ‘n munisipaliteit (en selfs meer) op ‘n private grondslag. Oraniërs stem ook nie in munisipale verkiesings nie, maar wel vir die Orania Verteenwoordigende Raad wat op dieselfde datum as die munisipale verkiesing gekies word. Een van Orania se uitgangspunte is dat erkenning op praktyk volg, en daarom word eers die praktyk geskep. Die Orania Verteenwoordigende Raad wat deur die 2000 hofuitspraak tot stand gekom het, het vir lank sy regte aan die Orania Dorpsraad oorgegee, maar speel sedert die laaste verkiesing in 2016 ‘n toenemend aktiewe rol wat in die toekoms verder ontwikkel moet word.