fbpx

Struktuur

Struktuur

Orania se georganiseerde veiligheidstrukture bied aan Oraniërs die vertroue en sekerheid om in vryheid te kan leef. 

Die georganiseerde veiligheidstrukture binne Orania:

Orania Veiligheidsdienste (OVD) bestaan uit georganiseerde voltydse personeel wat 24/7 Orania moniteer en polisieer. Daar is ook verskeie reaksiegroepe op bystand vir verskeie scenario’s, as voorbeeld ‘n politieke span asook ‘n opgeleide taakmag. 

AfriForum se streeksveiligheidkantoor ressorteer binne Orania, wat veiligheid in die groter gebied hanteer asook belyning binne die nasionale strategie fasiliteer. 

AfriForum Buurtwag is een van die georganiseerde strukture waarbinne die gemeenskap van Orania eienaarskap van Orania se veiligheid opneem.

Strategie

Orania staan alom bekend as die veiligste plek in Suid-Afrika. Die redes hiervoor is te vinde binne Orania se veiligheidstrategie wat op vier pilare gevestig is. 

Eerstens die politiekestrategie as veiligheidsmeganisme. Orania glo in goeie buurmanskap en goeie verhoudinge met die res van Suid-Afrika. Met hierdie aanslag verlaat besoekers, van alle groeperinge, plaaslik en internasionaal, Orania met ‘n positiewe beeld van wat ons hier nastreef. Die politiekestrategie is toegestem om disinformasie reg te stel, en die stigma te verbreek. Dit beteken dat georganiseerde groepe, wat Orania oorspronklik negatief gesind was, heimlik of in die openbaar, na hul kontak met ons, ‘n beter beeld van die werklikheid kan vorm. 

Tweedens ons meerderheidstrategie. Met ons beginsels van Afrikanerarbeid en selfwerksaamheid het ons effektief hierdie gebied in die Noord-Kaap beset, wat beteken dat alle inwoners en meeste besoekers, Afrikaners is. Volgens navorsing, en die bewyse van Orania self ook, is misdaad in homogene gemeenskappe aansienlik minder as in multikulturele omgewings. 

Derdens die gemeenskapstrategie. Orania se veiligheid was en is nog altyd, elke OraniĂ«r se verantwoordelikheid gewees. Ons neem elkeen eienaarskap van ons en ons mense se veiligheid. Die gemeenskap is ieder en elk, nie net betrokke by veiligheid nie, maar as’t ware die eerste linie van veiligheid. 

Vierdens ‘n inligtingstrategie. Om proaktief die veiligheid van Orania te benader, was en is nog steeds een van die belangrikste aspekte van ons sukses. Goeie inligting bied aan ons die geleenthede om op te tree, om moontlike krisisse en bedreigings te identifiseer en te ontlont, lank voor dit ‘n insident kan word. Die gebruik van sosiale media, konvensionele hoofstroommedia en politieke uitsprake, vorm deel van die spektrum van ons inligtingstrategie, maar ook die gebruik van ons kamerastelsel wat die hele Orania dek. Dit bemagtig ons met die nodige inligting om insidente te voorspel en dan te voorkom. Interne kommunikasie met die hele Orania is ook deel van hierdie strategie.