7649839_f520Die agteruitgang van die Westerse beskawing word toenemend duidelik. Massa-immigrasie van mense uit Derde Wêreldlande skep multikulturele samelewings regoor Europa wat tot kultuur-, taal- en intergeloofkonflik aanleiding gee.

Die bevolkingsaanwas in Wes-Europa is reeds vir ‘n geruime tyd onder die vervangingskoers. Wanneer jy vir Europeërs vra waarom hulle so min kinders kry, is die antwoord baie keer anders as wat ‘n mens sou verwag. Ja vroue wat professionele loopbane volg en hoë lewenskostes speel beide ‘n rol, maar die antwoord is toenemend eerder ‘n vrees oor die toekoms.

Die finansiële krisis wat reeds sedert 2007 in die VSA en Europa woed maak dinge nie juis makliker nie. Die meeste Westerse lande het enorme staatskuld met geen vooruitsig om dit vinnig af te betaal nie. Massa-immigrasie uit die Derde Wêreld plaas groot druk op staatsbegrotings en veral welsynsdienste. Die Nederlandse minister van Buitelandse Sake, Frans Timmermans, het ook onlangs beklemtoon dat Westerse lande in die toekoms weer meer geld aan verdediging sal moet spandeer wat verdere druk op begrotings sal plaas.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het byna die hele wêreld, maar in besonder die Weste daarin geslaag om ‘n omgewing van vrede en sekerheid vir burgers te verseker. Dit het aanleiding gegee tot hoë vlakke van ontwikkeling en ekonomiese groei in Europa, die VSA en Australasië gedurende die tweede helfde van die twintigste eeu.

Die wêreldgeskiedenis word breedweg gekenmerk deur tye van vrede en voorspoed en tye van onrus, agteruitgang en verval. Stabiliteit in sekere wêrelddele is gekenmerk deur die bestaan van sterk ryke en in baie gevalle sterk leiers. Alexander die Grote is ‘n goeie voorbeeld van ‘n leier wat ‘n sterk, stabiele ryk gebou het. Na sy dood het die ryk in duie gestort en het chaos en oorlog ontstaan. Die Romeinse Ryk en later die Britse Ryk verteenwoordig ook tye van stabiliteit en vooruitgang.

Die afgelope ses dekades was die Westerse Wêreld onder leiding van veral die VSA ‘n bron van stabiliteit. Dit het tot ‘n tydperk van redelike vrede in meeste wêrelddele aanleiding gegee. Ekonomieë het ontwikkel en miljarde mense is uit absolute armoede geneem.

Vandag lyk dit egter of die tydperk van vrede en voorspoed besig is om tot ‘n einde te kom. Die oorlog in Oekraïne vererger eerder as dat ‘n oplossing gevind word. Daarmee saam kom die verhoogde spanning tussen die VSA en Europa aan die eenkant en Rusland aan die anderkant. In die Ooste is spanning tussen China en Japan aan die opbou. Die Midde-Ooste verval toenemend in chaos en selfs Turkye, vir dekades reeds bekend as ‘n stabiele pro-Westerse Moslemland, word toenemend in die oorloë in Sirië en Irak betrek.

Die verval van Westerse mag is onvermydelik. Magsverhoudinge tussen state sal noodgedwonge binne die volgende paar jaar drasties moet verander. Die vraag is of nuwe wêreldmagte sal ontwikkel. Rusland het duidelik aspirasies. So ook China. Dit bied groot bedreigings vir Westerse volkere, maar ook geleenthede. As Afrikaners hulself goed organiseer en die regte vriende maak kan ons die geo-politieke spanning en verandering wat op pad is dalk net tot ons voordeel aanwend.

Blog Single

Geleenthede moet in verval van Weste gevind word

by | Okt 14, 2014 | Nuus | 9 comments

9 Comments

  1. Anita

    Erg en eerlik. Watter aanwending het jy in gedagte? Uitvoere van rooibos tee is n reuse sukses in die dorpie waar ek woon- die vrouens koop R200 se rooibos maandliks. Met die regte bemarking… kan vriende gemaak word en voordeel aangewend word 🙂

    Reply
    • Jaco Kleynhans

      Anita jy is reg. My ervaring is dat daar in verskillende vlakke van chaos ook goeie geleenthede is. Kyk maar net hoe party Afrikaners ekonomiese geleenthede in die huidige moeilike Suid-Afrikaanse omstandighede kon skep. Die uitvoer van rooibostee is ‘n goeie voorbeeld. Ek was onlangs in Europa en vind dat Nederlanders en Vlaminge al hoe meer rooibostee drink. Hulle noem vir my dat dit al hoe meer algemeen op spyskaarte van koffiewinkels is. Ons moet globale geleenthede soek en eenvoudig die beste diens/produk lewer.

      Reply
  2. Tom

    Moet lees “tweede helfte van 20e eeu”. Ons het nog nie die 2de helfte van die 21e eeu beleef nie.

    Reply
    • Jaco Kleynhans

      Tom. Dankie dat jy dit uitwys. Dit is nou ‘n lelike blaps. Ek sal dit gaan regmaak.

      Reply
  3. Johan

    Ek reken die grootste geleentheid wat Westerse verval bied, is iets heel anders – indien ons ‘n Afrikanerland as een van die enigste oorblywende, Westerse, vrye, vryemark, en Christenland kon posisioneer, sou ons ‘n reuse invloei van nuwe proto-Afrikaners kon kry soos met die uitvloei van die Hugenote laas. ‘n Voorvereiste sou egter wees dat die kulturele dominansie van Afrikanerwees so sterk, duidelik en aantreklik moes wees, dat assimilasie ondubbelsinnig ‘n Afrikaner as eindpunt sal hê. Sal tragies wees om hierdie historiese geleentheid mis te loop omdat ons nie gereed is vir wanneer dit kom nie.

    Reply
    • Jaco Kleynhans

      Johan jy slaap die spyker op die kop. Die volke wat die flinkste dink en die beste planne maak was nog altyd dié wat na ‘n groot krisis oorleef of selfs sterker daaruit gekom het.

      Reply
      • Anita

        Is so n aantreklike Afrikaner land moontlik sonder n aantreklike ekonomie (diamant of goud myn, olie of vervaardigings-industie ens)? Is dit Argentinie se ‘cash-cow’ die beesvleis uitvoere? Wat kan Orania se groot geld wees?

        Reply
        • Sebastiaan

          Anita, eerste wêreldlande word gekenmerk deur ‘n wye verskeidenheid uitvoerprodukte, derde wêreldlande het gewoonlik net een of twee hoofuitvoerprodukte en is dus baie afhanklik van markskommelings. Argentinië se ekonomie is baie wisselvallig en swaai die hele tyd tussen “boom en bust”, om die Engelse term te gebruik.
          Orania se ekonomie moet juis gediversifiseerd wees en is dit ook reeds: landbouprodukte, verwerkte produkte, dienste, toerisme bring almal inkomste in. Kwatiteit is daarby belangriker as kwantiteit. Dit sou sleg wees om net een daarvan te oorbeklemtoon. Switserland byvoorbeeld het geen minerale nie, min landbougrond en geen seetoegnag nie maar ‘n hoogs gediversifiseerde ekonomie en groei nog altyd

          Reply
    • Philip

      Johan vir President!
      Ons moet net uitpluis hoe ons meer spykers op die kop gaan slaap sonder enige seetoegnag…hehe
      Groete mense, ek trek sommer julle been.
      Bly om te hoor daar is nog regdenkendes.
      Bou voort!

      Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

20 − four =