Op ‘n vroegherfsoggend in Leiden in ‘n koffiehuis op die Rapenburg kom dinge genoegsaam tot stilstand dat ek ‘n ou voorneme kan uitvoer. Dit is om op Vrydagoggende vir Orania se blog te skrywe. Vir my ‘n nuwe genre en ‘n bietjie te persoonlik – nog altyd geglo die woord ek hoort nie eintlik op papier nie. Maar nuwe dinge moet mens ook probeer en gedagtig aan die voortreflike skrywers wat almal van dié medium gebruik maak, pak ek dit met gepaste beskeidenheid aan.
Vir jare lank het ek ‘n gereelde rubriek in Beeld gehanteer en dit het my geleer hoe waardevol die dwang van ‘n spertyd kan wees. Alles wat mens onder sulke druk skryf is sekerlik nie ewe goed nie, maar dit forseer jou uit die gemaklike swye van een wie se mening nie gevra word nie. En wie het gesê vrywilligheid is bo alles goed? Verantwoordelikheid is ook ‘n verpligting en iets wat mens nie altyd vra nie.
Daarmee sny ek ‘n onderwerp aan wat hoogstens terloops deel van hierdie skrywe moet wees, naamlik my dubbelsinnige houding jeens en ervaring van die libertarisme. Daaraan het ek dit te danke dat ek uit Leiden, Nederland skryf – en verlede Vrydag uit Parys, Frankryk sou geskryf het as ek nie die strate ingevaar het en my skryftyd weggestap het ná ‘n intense gesprek met ‘n opkomende Franse politikus nie. Maar dink en stap gaan saam en dit is dikwels nodig.
In werklikheid het my en Jaco se Europese skakelbesoek nie in Europa begin nie, maar in Klein Asië waar ons ‘n libertariese konferensie bygewoon het en ek ‘n referaat oor Orania gelewer het. Dié word apart gepubliseer, soos ook my vertolking van die verhouding tussen die Orania Beweging en die libertariese ideologie wat in die volgende Voorgrond verskyn. Nietemin, die konferensie in Bodrum was ‘n onvergeetlike geleentheid en het hopelik nie net ‘n paar meningsvormers se belangstelling in Orania geprikkel nie, maar ook vriende gewen.
Om die waarheid te sê, ‘n reis soos hierdie wat, selfs as mens dit besparend aanpak, baie geld kos en wat ons vir meer as drie weke van huis, gesin en kantoor wegneem, laat mens jouself deeglik afvra of dit die moeite werd is. Vriende maak? Gedagtes deel? Hoe belangrik kan dit wees? Die antwoord daarop het ons amper terloops van ‘n diplomatieke ontleder gekry wat ons meegedeel het dat die ANC-regering, met foute en al, nog ‘n lang pad met die Nederlandse politieke elite sal loop “eenvoudig danksy ou vriendskappe waarop hulle hul beroep”.
Dit is aan ‘n ingewikkelde klomp kragte te wyte dat ons “ou vriende” in die stamlande min is en nie altyd tot die beluitnemers behoort nie. Ons sal nuwe vriende moet maak as ons, wanneer dit selfs nodiger word as nou, die bystand wil kry wat ons saak verdien. Ons ervaring is duidelik: dat mens nie eenvoudig ‘n geloofwaardige verhouding op ‘n enkele mededeling of ontmoeting bou nie en dat mens jou eie saak moet stel; om dit aan ander oor te laat, kan selfs nadelig wees. Ook belangrik om mense te bereik voordat hulle te veel van ‘n mening oor jou saak het, dan kan jy dit self bepaal en hoef jy nie dalk met die agterstand van ‘n slegte beeld te begin nie.
Ten slotte twee eenvoudige waarnemings. Eerstens: die Orania-gedagte se ontvangs in Europa het die afgelope tien jaar geleidelik, maar merkbaar verbeter. Interne ontwikkelinge en vraagstukke, byvoorbeeld dié van massa-immigrasie, het hulle perspektiewe aansienlik verander; die beeld van Suid-Afrika onder ANC-regering het gewis nie vooruitgegaan nie, maar agteruit; en ons boodskap is geloofwaardig en word goed ontvang – nie net in voorheen goedgesinde geledere nie, maar ook op plekke in die sogenaamde hoofstroom. Daarmee moet die ontvangs wat ons geniet nie oorskat word nie, maar ons keer bemoedig terug.
Tweedens: Orania se heil sal in Orania self en in Suid-Afrika besleg word. Skakeling is belangrik, vriende kan op ‘n kritieke oomblik ‘n belangrike deur oopmaak en dit kan onder sekere omstandighede die deurslag gee, maar wat ons nie doen nie, kan hulle nie ondersteun nie. Die werklike werk is by die huis en ons is te meer daarvoor gemotiveer. Môre besoek ons Friesland en dan is ons oppad terug!