by Sarel Roets | Jul 7, 2014 | Nuus |
Dat daar in die wêreld rykes en armes, wyses en dwase, slimmes en dommes, werkgewers en werknemers is, is ’n natuurlike verskynsel wat sedert die begin van die skepping af bestaan en tot eendag by die wederkoms sal bestaan. Mens kan egter baie maklik die fout maak om te dink dat rykes, wyses, slimmes en werkgewers in een groep is teenoor die armes, dwase, dommes en werknemers. Dit het egter baie meer met seëninge te doen. so kan ’n slim persoon maklik die werknemer van `n dom werkgewer wees. Net so kry mens dalk meer arm wyses en ryk dwase as omgekeerd.
As daar vandag gepraat word van rykdom en armoede moet ons ook besef dat dit baie relatiewe begrippe is. Jy is so ryk as wat die armes om jou is. So kan ’n persoon in Sandton met ’n inkomste van R20 000 per maand arm voorkom, teenoor sy buurman se R200 000 per maand.
Rykdom en armoede is ook veranderlik oor tyd. Vandag se armes is dikwels beter af as die rykes van die Middeleeue. Dink maar aan dinge soos sanitasie, water en krag, mediese dienste en lewensverwagting.
Die kwessie van ryk teenoor arm en werkgewer vs werknemer is in Suid-Afrika ’n tydbom. Ons verneem dat die EFF veg vir ekonomiese vryheid vir swartmense en vir wette wat boere sal verplig om 50% van hul plase aan swart werkers af te staan. Dan is daar nog Swart Ekonomiese Bemagtiging, Affirmative Action en dreigende nasionalisering wat op baie meer as net myne en boere van toepassing sal wees.
Dit alles terwyl tot soveel as 25% (600 000 tot 800 000) van ons Afrikaners reeds verarm is. Wit plakkerskampe en bedelaars by stopstrate is al ou nuus terwyl die onlangse krisis in Rustenburg ’n hele nuwe vlak van verarming teweeggebring het.
Die feit van die saak is, dit gaan nog baie slegter gaan voor dit beter sal word. Vandag se bangmaakstories mag gouer as later realiteit word. As Afrikaners kan ons dit nie bekostig om soos ’n volstruis ons koppe in die sand te steek en te dink dat die arbeid probleem in Suid-Afrika sonder meer sal verbygaan nie. Alhoewel Orania alreeds ’n veiliger hawe vir Afrikaners is en waarskynlik net ’n al groter rol sal speel in die toekoms, is Orania nie vrygestel van die probleem nie. Inteendeel, Orania is in sekere opsigte aan die voorfront van die probleem deur leiding te gee in die bemagtiging van arm Afrikaners deur volkseie arbeid.
Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê ‘charity begins at home.’ Die Suid-Afrikaanse regering pas dit met mening toe wanneer hulle wette soos SEBen Affirmative action toepas. Afrikaners word met mag en mening uitgeskuif. Nie net uit ons werk en een van die dae dalk ook eiendom nie. Ook ons armes word doelbewus afgeskeep. Klop maar by enige weeshuis aan en hoor wat van hulle vereis word om te kwalifiseer vir staatsfondse. Hoe goed sien ons na ons armes om en is daar `n oplossing?
Ons het nie ’n staatstruktuur aan wie ons, ons verantwoordelikheid kan afskuif nie. Ook kan ons nie verwag dat ons al armer kerke of enkele welsynsorganisasies soos Helpende hand of Orania se Helpsaamfonds alleen die probleem hokslaan nie. Nee, die verantwoordelikheid lê op elke Afrikaners se skouers. Kyk wat staan in Psalm 82:3 – 4:
Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.
Ons het ’n Christelike verantwoordelikheid teenoor ons armes. Hieroor spreek die Bybel hom gereeld uit, maar dit is dikwels vir ons ’n ongemaklike onderwerp. Dalk omdat ons onkundig is of dalk omdat die probleem vir ons te groot voorkom. Dalk is ons te gemaksugtig?
Armoedeverligting behels meer as jou tiende aan die kerk gee. Ook is jy nie besig met armoedeverligting wanneer jy R5 vir ’n bedelaar op straat te gee nie.
Die pad van opheffing loop van ARMOEDE deur ARBEIDER en SOSIALE BYSTAND na SELFRESPEK. En daar is nie kitsoplossings nie.
Volkseie arbeid is iets wat al jare bespreek en deur baie bevorder word. Goeie redes hiervoor is natuurlik veiligheid (veral op plase) en in Orania se geval die demografiese vestiging van ’n meerderheid in ’n beplande volkstaatgebied. Ons Christelike verantwoordelikheid is egter ’n veel groter rede.
In die onstabiliteit wat ons tans in Suid-Afrika beleef is dit hoogtyd dat ons afsien van ons eeue oue verknogtheid aan goedkoop swart arbeid.
Ons moet besef dat ons internasionaal nie die reël is nie, maar die uitsondering. In Duitsland doen gewone Duitsers die fabriekswerk. In Amerika bou gewone Amerikaners die MacDonalds hamburgers in die kombuis. In Frankryk is dit gewone Franse wat die plase bewerk. In Nederland is dit gewone Nederlanders wat in die huise en tuine werk. Daar word op niemand neergesien nie en die mense wat hierdie werk doen voel ook nie minderwaardig nie. Daar is nie iets soos ’n swart man se werk nie!
Ons kan nie nou die gevolgtrekking maak dat die fout net by die armes is, wat te sleg is om te werk nie. Ja, daar is sulke gevalle, maar die meerderheid middelklas Afrikaners het oor geslagte heen aangeleer om neer te sien op ’n sogenaamde “arbeidersklas”
Die uitdaging is dus tweeledig.
- Eerstens om van verarmde Afrikaners trotse arbeiders te maak wat met selfrespek arbeid kan verrig sonder om te voel dis minder waardig as om te bedel langs die pad.
- Tweedens om werkgewers te leer dat Afrikaner arbeid menswaardig behandel moet word. Anders as wat die eeue oue gewoonte is met swart arbeid wat as minderwaardig beskou is.
Dit is ’n delikate proses om hierdie verhouding reg te ontwikkel, omdat beide partye eintlik ’n nuwe wêreld betree. Al is dit wêreldwyd die norm is ons nie gewoond daaraan nie.
Werklike opheffing is ook nie net om iemand aan te stel en ’n billike salaris te betaal nie. Selfs groter as die finansiële opheffing is ons SOSIALE verantwoordelikheid. Die dae van ’n Zoeloevrou in die kombuis wat skoonmaak, kosmaak en kinders grootmaak sonder dat ons eens weet hoe haar kinders lyk is verby.
Barmhartigheid is dus persoonlike begeleiding. Die hartseer is dat ons deur dekades heen ons armes so verwaarloos het dat baie in ’n kultuur van armoede verval het. Dwelm- en drankmisbruik word van een geslag na die volgende oorgedra. Gesonde finansiële bestuur is dikwels totaal afwesig en die belangrikheid van goeie opvoeding en skoolopleiding word nie besef nie.
Wysheid is, soos ons in die Bybel leer, om te weet hoe om God se wil op aarde uit te voer. Ons het wyse werkgewers nodig wat deur middel van verantwoordelike barmhartigheid en geregtigheid opheffingswerk deur volkseie arbeid verrig.
Opsommend: Opheffing van verarmde Afrikaners is nie net belangrik vir die voortbestaan van die Afrikanervolk nie. Dis ook nie net ’n manier om onsself te beveilig teen die regering en die moordbendes wat Suid-Afrika, ons buurte en ons plase regeer nie. Dit is ’n Christelike plig.
Daar is nie meer tyd vir filosofeerr en vergaderings hou sonder uitvoering nie. Dit het tyd geword dat elke Afrikaner wat nog ’n liefde vir sy God en volk het die daad by die woord sal voeg. Stel Afrikaners aan as werkers op ons plase, by ons huise, by ons besighede en in ons fabrieke. Betaal die arbeider wat hy werd is soos die Bybel ons leer. Lewer die nodige sosiale bystand en doen die opheffingswerk waar nodig. Doen dit met ’n ferm hand maar ook met geduld en liefde.
So red ons, as die Here wil, nie net ons volk nie, maar werk ons ook as werktuie in die hand van God om die swakkes en behoeftiges te red uit die hand van die goddelose.
by Jaco Kleynhans | Jul 1, 2014 | Nuus |
Die Sokkerwêreldbeker wat tans in Brasilië plaasvind, wys op interessante wyses uit hoe Suid-Afrikaners volgens identiteit internasionaal identifiseer. Suid-Afrika se swak sokkerspan het nie eers vir dié toernooi gekwalifiseer nie en gevolglik behoort Suid-Afrikaners nie juis vreeslik direk in die Wêreldbeker belang te stel nie. Tog is ‘n daar baie Suid-Afrikaners wat vasgenael voor die kassie sit om sekere wedstryde dop te hou. Swart Suid-Afrikaners ondersteun enige Afrikaland, terwyl Afrikaners bankvas agter die Nederlandse span staan.
Die Nederlandse sokkerspan presteer vanjaar weer goed. Daarteenoor doen Afrikaspanne betreklik sleg. Sou jy die sosiale media hieroor gaan bestudeer, sien jy hoe verskeie Afrikaners elke Nederlandse oorwinning hul eie maak. Die Nederlandse span word ook elke Afrikaner se volksbesit. Netso assosieer swart Suid-Afrikaners sterk met die Afrikaspanne en selfs net met swart spelers in Westerse lande se spanne. Afrikaners beskou hulself lankal nie meer as vreeslik “Nederlands” nie en formele verhoudinge tussen die Afrikaner en Nederland is uiters beperk. Die Afrikaner se kultuur is ook in ‘n groot mate deur sy ervaringe in Afrika en deur Britse kolonialisme beïnvloed wat beteken dat daar vandag kulturele verskille tussen Afrikaners en Nederlanders is.
Tog assosieer Afrikaners met Nederland. Hierdie assosiasie beteken nie dat Afrikaners terughunker na Nederland of selfs net smag om meer “Nederlands” te wees nie. Nee die assosiasie met Nederland het veel meer te doen met die Afrikaner se totale vervreemding binne ‘n Suid-Afrika wat by die dag meer Afrikaniseer. Afrikaners voel ontuis in ‘n samelewing wat ver verwyderd is van dit waaraan hulle gewoond is. Regeringskorrupsie, nepotisme, kaderontplooiing, wrede misdadigheid en selfs net klein kultuurverskille soos “Afrikatyd” waaroor ons soms kan spot is alles deel van die vreemde Afrikabestel waarbinne ons moet funksioneer.
Die Afrikaner is ‘n Westerse volk wat soos ‘n klein boodjie op die Afrika-see ronddobber. Hy staan uit of hy nou wil of nie. Na elke oorwinning van die Nederlandse sokkerspan is daar swartmense wat op plekke soos Twitter en Facebook sarkasties sê dat Afrikaners seker nou feesvier. Politieskorrekte Afrikaners sal probeer om daarvan weg te skram. Dit is verkeerd. Afrikaners moet met trots met ander Westerse volke assosieer. Ons moet juis meer en nie minder nie ander Westerse volke ondersteun en vriendskapsbande mee smee.
Die Afrikaner se voortbestaan aan die suidpunt van Afrika is in die verlede nog elke keer verseker nie deur te Afrikaniseer nie, maar juis deur by ons sterk Westerse beginsels en kultuur te bly staan en dan waar nodig aan te pas om die uitdagings van Afrika te bowe te kom. Wanneer die Nederlandse sokkerspan of selfs die Belgiese of Duitse span speel mag en moet ons hulle ondersteun. Dit kan onder jonger generasies Afrikaners weer ‘n trots op hul Westerse kultuur en agtergrond wakker maak.
Soos wat swart Suid-Afrikaners solidariteit met ander Afrikane toon moet ons solidariteit met ander Westerlinge toon. Watter beter plek om daarmee te begin kan daar nou wees as op sagter nie politieke terreine soos sport?
by Sebastiaan Biehl | Jun 30, 2014 | Nuus |

‘n Regering wat ‘n regime verteenwoordig, dus vir homself opeis om nie net sy plig na die beste van sy vermoë vir die volgende termyn te doen nie, maar om die samelewing volgens sy ideologie te omvorm, heers nie soseer met brute geweld nie, maar deur die beheersing van die openbare debat en veral deur die gebruik van sekere sleutelwoorde. Dit is eie aan alle regimes dat hulle hulle harde ideologie wat talle mense teen die bors stuit, verpak in mooiklinkende woorde en frases sodat dit onskuldig of selfs goed klink. Ook die ANC-regering, wat vir homself opeis om swartmense van die nalatenskap van “apartheid” te bevry, beskik oor ‘n verskeidenheid van sulke woorde wat van hulle oorspronklike betekenis gestroop word om ‘n linkse ideologie aan die burgers te verkoop. George Orwell het in sy boek “1984” die term “newspeak” vir sulke ideologies verwronge woorde gebruik. Hier is ‘n paar van die ANC-regering se gewildste “newspeak” terme:
Regstellende Aksie en Verteenwoordigendheid: Dié term veronderstel dat iets wat verkeerd is, reggestel word. In praktyk beteken dit egter dat die hele samelewing verswart moet word en daar vir minderhede nêrens ‘n plek, instelling, vereniging of maatskappy is waar hulle die meerderheid is nie. Die ANC-redenasie is dat onder gewone omstandighede alle bevolkingsgroepe orals gelyk, dit wil sê volgens hulle nasionale bevolkingsgetalle, verteenwoordig sou wees, maar dat weens diskriminerende wetgewing tydens apartheid minderhede bevoordeel is sodat hulle nog steeds op te veel plekke oorverteenwoordig is. Dit moet nou reggestel word. Op die oog af klink die redenasie billik, maar dit is ‘n drogredenasie en maak van “verteenwoordigendheid” ‘n absolute wat net deur middel van diskriminasie en staatsinmenging bereik kan word. By die verabsolutering van verteenwoordigendheid word buite rekening gelaat, of gerieflikheidshalwe verswyg, dat net instellings wat almal in dieselfde mate bedien, soos die Departement van Binnelandse Sake, wat aan alle landsburgers ID-boeke uitreik, verteenwoordigend van die hele bevolking kan wees. Interessant genoeg is juis ‘n instelling soos Binnelandse Sake waarskynlik ook nie verteenwoordigend nie, maar het meer swartmense in sy diens as wat die demografiese teikens vereis. In werklikheid is daar egter bitter min instellings en ook bitter min maatskappye wat op almal ewe sterk fokus. ‘n Maatskappy wat grimering of naellak bemark, sal mos nie 50% manlike verkopers en bemarkers aanstel om verteenwoordigend van die hele bevolking te wees nie. So sal ‘n maatskappy wat in ‘n tradisionele Xhosa-area bemark, nie Afrikaanssprekendes of Zoeloesprekendes aanstel nie, en as hulle dit doen, sal hulle besigheid swak wees. Net so min kan ‘n Christelike kerk “verteenwoordigend” wees en sy kwota Hindoes, Moslems en Ateïste volgens die bevolkingsamestelling insluit by sy ledemate en amptsdraers. Die mooiklinkende eis van “verteenwoordigendheid” is inderwaarheid ‘n manier om elke aspek van die samelewing te oorheers met mense wat die ANC-ideologie bevorder.
Transformasie: Die term, wat op sigself ‘n neutrale of selfs positiewe klank het, word benut om aan te dui dat dit wat boos en sleg was, nou goed en algemeen aanvaarbaar gemaak word. Transformasie word ook in dieselfde asem as verandering gebruik,om daarmee te insinueer dat dit onvermydelik is en dat diegene wat daarteen gekant is vasklou aan ‘n slegte en onregverdige verlede en in elk geval besig is met ‘n verlore stryd. Elke keer wanneer nog ‘n Afrikaanse skool of universiteit verengels word en sy Christelike etos met een van sosialisme of links-liberalisme vervang word, dan word van “transformasie” gepraat sodat elke aksie wat op sigself ontwrigtend is en mense ontstel, ondergeskik gestel kan word aan die hoër, edele doel van ‘n “oop samelewing”. In praktyk beteken transformasie egter dat geen verskille, geen uitblinkers, geen ander opinies geduld word nie.
Demokrasie: Die term word nou al vir dekades en nie net in Suid-Afrika nie, so baie rondgegooi en deur almal, van links tot regs, gebruik, dat dit sy betekenis verloor het en alles vir almal geword het. Almal skryf “demokrasie” op hulle vaandels want niemand kan in vandag se tyd nog teen demokrasie wees nie. Eintlik beteken demokrasie ‘n regeringsvorm van publieke deelname gegrond op ononderhandelbare regte, wat die belange van die verskillende groepe in ewewig probeer bring. Die ANC eis egter vir hom die alleenreg op demokrasie op omdat hulle na vele jare van ‘n kommunisties geïnspireerde stryd, dikwels gewelddadig, in 1994 na ‘n onderhandelde skikking deur middel van ‘n algemene, “demokratiese” verkiesing aan bewind gekom het. Dit beteken dan ook by implikasie dat, as ‘n ander party behalwe die ANC iewers ‘n verkiesing wen, demokrasie gesneuwel het en met alle middele weer herstel moet word. Die onverdraagsaamheid van die ANC teenoor die opposisie is ‘n bewys daarvan. Demokrasie beteken vir die ANC dat hulle deur hulle verkiesingsoorwinning die mandaat het om die land volgens hulle idees te vorm, nie net vir die volgende termyn nie, maar vir altyd. Nog geen leier van ‘n ware demokrasie het ooit gesê dat sy party sal regeer “tot en met die Wederkoms” nie en dat diegene wat nie vir die regerende party stem nie, “hel toe sal gaan”.
Vryheid: Nes demokrasie is dit ook ‘n term wat al so baie misbruik is dat dit alles vir almal kan beteken. Vir die meer konserwatiewes en die klassieke liberales beteken dit om vry te wees om die regte ding te doen, sonder om deur die staat voorgeskryf te word. Dit is dus ‘n term wat die vryheid om te skep, om jouself te wees en om vir jouself te sorg, impliseer. Vir linksgesindes en veral vir Afrikaniste beteken dit bevryding van iets of iemand. Net soos met demokrasie, eis die ANC en sy trawante vir hulleself op dat net hulle vryheid gebring het en weet wat dit beteken, en dat net swartmense na vryheid strewe terwyl blankes per se onderdrukkers is en ander van hulle vryheid wil ontneem. Die klem lê nie op dit wat jy met jou vryheid wil doen as jy dit het nie, maar op dit wat jy aan die vermeende onderdrukker of die instellings wat jou gevange hou, wil doen, naamlik om hulle te ontmagtig, te vernietig of te omvorm tot jou eie voordeel. Opvallend is dat wel luidkeels “20 jaar van Vryheid” gevier word, maar dat feitlik alle wetgewing daarop gemik is om “die mense te bevry” deur middel van inmenging in die ekonomie, grondgryp, gedwonge rasseteikens by instellings en maatskappye, bevoordeling van die sogenaamd “voorheen benadeeldes”, ens. Daar het ook nog nooit ‘n punt gekom waar ‘n swart nasionalistiese regering gesê het dat sy mense nou werklik bevry is en nou hulle pligte moet opneem om hulle vryheid ook sinvol te gebruik nie. Die lys van euwels waarvan die mense eers nog bevry moet word, selfs vele dekades na onafhanklikheid, het geen einde nie: die nalatenskap van kolonialisme, onregverdige en onderdrukkende strukture, rassisme, kapitalisme, minderhede wat kapitaalkragtig is, buitelandse inmenging en uitbuiting, ens.
Diversiteit: Dit is ‘n verdere mooiklinkende maar niksseggende term wat deel is van die ANC se newspeak-versameling. Dit is ook ‘n begrip wat so gekies is dat dit regverdig en goed voorkom en niemand eintlik daarteen kan wees nie en dat diegene wat so iets teenstaan, hulleself as rassisties of ten beste as eng ontbloot. Diversiteit op sigself beteken eintlik net ‘n groot mate van verskeidenheid. Waar jy ‘n groot verskeidenhied het om van te kies, is dit ‘n goeie ding. As egter vir jou voorgesê word wat jy moet kies, en as op die rak van verskeidenheid net items beskikbaar is wat jy nie wil hê nie en wat alles variasies van dieselfde is, dan is dit nie ‘n goeie ding nie. Suid-Afrika was nog altyd ‘n uiters diverse land, ook in die tye van streng apartheid. Daar was nog altyd ‘n verskeidenheid volke, tale, gelowe, geure, kossoorte, landskappe, leefwyses, ens. Die ANC se vertolking van die verlede is egter dat Suid-Afrika ‘n eensydig wit, Afrikaanse, manlike en streng Kalvinistiese land was waar alles wat anders was, verdruk is. Diversiteit volgens die newspeak beteken om almal tot hulle reg te laat kom. In praktyk beteken dit egter onverdraagsaamheid teenoor diegene wat nie wil inval nie by dit wat as “divers” beskou word nie. Pleks daarvan om diversiteit te akkommodeer deur middel van instellings soos skole en universiteite, kerke en verenigings vir elke groep en taal, beteken dit volgens die ANC dat net dit wat swart, Engels en nie-christelik, oftwel alles behalwe wit, christelik en Afrikaans is, as ‘divers’ en dus toelaatbaar en gesond beskou word. Dié soort onverdraagsaamheid in die naam van diversiteit is onlangs weer bewys deur uitsprake van prof Adam Habib, rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, wat ‘n hoofsaaklik wit en Afrikaanse (en by implikasie christelike) universiteit soos byvoorbeeld Potchefstroom as onversoenbaar met die ideale van die nuwe, demokratiese Suid-Afrika beskou het, omdat dit nie “divers” is nie. ‘n Universiteit wat egter oorweldigend swart is en Engels as enigste voertaal het, is volgens die logika wel “divers”. Diversiteit beteken dus in praktyk maar net “val in by ons, die meerderheid.”
by Jaco Kleynhans | Jun 24, 2014 | Nuus |
As jy aan Irak dink, dink jy noodgedwonge aan geweld en oorlog. Die VSA se agt-jaarlange oorlog in Irak wat vanaf 2003 tot 2010 geduur het en volgens ‘n nuwe studie van die Brown Universiteit se ‘Koste van oorloë-projek’ Amerika tussen 3.2 en 4 triljoen dollar gekos het, is steeds vars in die geheue. Byna 4500 Amerikaanse soldate het hul lewens tydens die oorlog verloor. ‘n Paar honderdduisend Irakese het op direkte of indirekte wyse weens die oorlog gesterf. Elke sent en elke lewe wat vir dié oorlog opgeoffer is, kan vandag as ‘n vermorsing beskou word.
Die totale mislukking van George W. Bush se droom van Westerse demokrasie in die Midde-Ooste speel vandag duidelik in Irak af. Die VSA se model van demokrasie is sterk gebou op ‘n homogene samelewing binne ‘n territoriale staat of minstens ‘n welvarende samelewing waar daar met groot gemak na die belange van minderhede omgesien kan word. Sowat 65% van Irak se bevolking is Shia-Moslems. Sedert die oorlog beheer die Shia-meerderheid die land se regering. Dit het tot ‘n opvlamming van hernude sektariese geweld gelei.
Sektariese geweld tussen die Shia-meerderheid en Sunni-minderheid is niks nuuts nie. Irak is vir die grootste deel van die twintigste eeu gekenmerk deur geweld, staatsgrepe, wrede diktatorskappe en die ysterhand van outoritêre heersers. Saddam Hoesein sal onthou word vir sy oorlog met Iran, die inval in Kuwait en sy gebruik van geweld en selfs chemiese wapens teen opstandiges. Nog ‘n minderheidsgroe, die Koerde maak tussen 17 en 23% van Irak se bevolking uit en is hoofsaaklik gesetel in die Noord-Ooste van die land. Hulle streef reeds vir lank na selfbeskikking en beheer die grootste deel van die Noord-Ooste van Irak.
Dit is egter die Sunni-minderheid wat gesorg het dat Irak weer die afgelope paar weke in die nuus is. Die sogenaame terroriste-organisasie “Die Islamitiese Staat van Irak en Sirië” het die afgelope tyd met geweld groot dele van die Noorde van Irak oorgeneem. Die ISIS soos wat die groep bekend staat is ‘n Sunni-groep met sterk bande in Sirië en Saudi-Arabië, twee lande met ‘n meerderheid Sunni-bevolking. Die ISIS streef na ‘n onafhanklike Sunni Islamitiese Staat.
Die volgehoue onafhanklikheidstrewe van Sunni’s en Koerde is net nog ‘n bewys dat die eenheidstaatgedagte en die mooi ideaal van Westerse demokrasie in Irak misluk het. Irak het eintlik met sy huidige landsgrense geen bestaansreg oor nie. Kan dieselfde nie ook gesê word oor Libië wat op die rand van ‘n burgeroorlog staan en Sirië wat reeds deur ‘n burgeroorlog verwoes is nie? Verskeie Afrikalande insluitende Nigerië en die Demokratiese Republiek van die Kongo ervaar voortslepende geweld weens die feit dat etniese groepe wat min met mekaar in gemeen het in een territoriale staat saamgegooi is.
Ten spyte van al die mooi woordjies oor minderheidsgroepe se reg op selfbeskikking hou die Verenigde Nasies en die Weste hulself egter steeds besig met pogings om mislukte territoriale state te laat slaag in plaas daarvan om hul vir ‘n herbedink van landsgrense te beywer. Irak se probleme sal eers ophou wanneer Irak nie meer bestaan nie en wanneer sy volkere elkeen hul reg op onafhanklikheid gekry het. Dit geld ook vir talle ander saamgeflansde lande.
by Henri Boshoff | Jun 13, 2014 | Nuus |
Ek deel ‘n huis met ‘n paar ou koshuismaats.
My meisie vra my nou die dag wat dink een van hulle en ek gee sommer vir hom die foon om self per teks te antwoord. Soos dit maar soms gebeur as koshuismaats ‘n pinkie gegee word, ontvang ek toe my foon die volgende oggend terug na hy met haar gesprek gevoer het as “ek”.
Die situasie hou vir my ‘n klomp lesse in.
1) Ek het heelwat insig gekry in wat die idee is wat ek uitstraal
Ek dink ek het meer geleer oor wie hy dink ek is in die boodskappe wat hy gestuur het toe hy soos ek probeer skryf het, as wat ek sou leer as ons vir dae aaneen in diep gesprekke was. Die tipe taalgebruik, die frases wat ek dikwels gebruik wat hom opgeval het, die onderwerpe wat hy aangeraak het… Alles aan die gesprek het ‘n beeld vir my geskets van wie hy dink ek is. As sodanig het ek myself leer ken.
2) Kontra-intuïtief was dit nie ek wat blootgelê is nie maar hy
As jy iemand anders probeer wees en daardie iemand anders lees hoe jy hulle speel, dan val die filters weg. Ek het uitgevind wie hy is. Op ‘n heeltemal ander vlak as wat ek sou as ons met mekaar gepraat het.
Wanneer ek wegstroop wat ek weet my persoonlikheid is, bly daar net oor wie hy dink ek is, en wie hyself is. Plato het hierdie gedagte verwoord toe hy gesê het jy kan meer van iemand uitvind deur ‘n uur te speel as in ‘n jaar se gesprekke. Hierdie spesifieke speletjie is een wat fokus op wie hy dink ek is. Daarom is ek in ‘n onregverdige magsposisie om hom te ontleed. Daar is groot dele van hoe ons ‘n rol speel wat maar bloot onsself is.
3) ‘n Mens sluit jouself af vir antwoorde oor mense omdat jy dink dat jy hulle ken
Ek het dinge oor my meisie agtergekom wat ek gedink het ek weet. Daar is dinge wat ek nou al goeie raaie oor gemaak het, so ek vra nie meer nie.
Maar die pêl weet nie, so hy vra. En haar antwoorde was ‘n goudmyn. Naby aan my verwagting in die meeste gevalle en tog nie. Ek het so sterk begin oplet wat ek verwag dat haar ware antwoorde my op plekke verras het.
4) Eerste indrukke is verskriklik belangrik
As die vrae wat ek vra dan so beïnvloed word deur wat ek dink ek weet, is dit waarskynlik van almal waar. Elke feit wat jy oor iemand leer ken word gefilter deur die vorige kennis wat jy van daardie persoon het. Die enigste ongefilterde kennis is die eerste interaksie. Daarom is dit belangriker as enige ander enkele interaksie.
5) Niemand kan lank voorgee nie
In weerwil van punt 4, kan niemand vir ‘n aand lank voorgee om iemand te wees wat hy of sy nie is nie. Nie as die mens met wie jy praat die een ken wat jy naboots nie. Na ‘n paar minute van iemand anders wees verval ons in ons eie gewoontes. Dan word die vermomming deursigtig. Sy’t hom redelik vinnig uitgewerk.
Ons is in veel groter gevaar by diegene wat ons goed ken as by onbekendes daar ver.
6) Die vrug van openheid is veel groter as die risiko
Ek het ‘n risiko geneem toe ek die foon oorhandig het. Hy het hom immers ‘n hele aand lank gehou! Maar hy het ook ‘n kans gewaag om ek te wil wees, so natuurlik was hy net so versigtig soos ek.
Hy kon ook nie eintlik skade maak nie – die mens met wie hy praat ken my darem! Die feit dat daar dinge oor my is wat bekend is, beteken hy sou heelwat teenkanting gekry het as hy iets ongelooflik gesê het.
Die vrug was iets waarna CS Lewis verwys het ná sy vriend Charles Williams, se dood wat sy verhouding met ‘n ander vriend, Ronald Tolkien skade aangedoen het. Daar is dele van mense wat jy nie te voorskyn kan bring nie. Ek het eerstehands beleef dat dele van onsself nie bestaan tot ‘n ander persoon dit ontlok nie. Daar is dele van die mense om jou wat jy nie kan ontlok nie – iemand anders moet dit doen.
Wat het al hierdie punte met enigiemand wat nie ekself is nie te doen? Elke punt wat ek hier maak oor persone kan ook direk oorgedra word op plekke, gemeenskappe en groepe. Daarom dink ek strategies vir Orania soos volg:
1) Dis noodsaaklik dat jy gaan kyk wie dink ander is jy. Jy móét lees wat dink die Citizen van Orania. Jy móét sien wat dink Praag. Jy moet baie fyn gaan kyk hoe reageer die ANC op Orania en wat dink Cosatu in die mate as hulle enigsins aan ons dink. My siening is dat hulle nie minder kan omgee oor ‘n ou in die Karoo as daardie ou nie ook ‘n mynbaas of bestuurder van ‘n groot maatskappy is nie. Die beeld wat ‘n plek uitstraal vir ‘n Numsa word nie in persverklarings gelees nie. As jy nie in ‘n optog is nie, let hulle jou nie op nie. Wat beide goed en sleg is.
‘n Mens moet sien of wat jy kommunikeer gehoor word. As ‘n deel gehoor is en die res nie, hoef jy nie volgende keer daardie deel te laat fokus dra nie. Kyk wat is gehoor. Die omgewingsbewustheid van die dorp is vir my ‘n goeie voorbeeld van iets wat dit selde tot in buitestaanders se persepsies maak.
As jy sien wat ander van jou dink ontsluit dit soms dinge oor jouself wat waar is, maar waarvoor jy blind was. Hierdie blindekolle kan’n mens seermaak as jy optree sonder daardie kennis, daarom wil jy hulle so klein moontlik maak. Dit was dus vir my baie waardevol om te lees wat dink ‘n ou in Europa oor ons interaksie met Europa (http://opinieplatform.co.za/2014/06/08/orania-se-internasionale-politiek-kan-anders/). Ek weet te min oor die interne politiek in Europa om die volle meriete te weeg, maar die opinie was waardevol.
2) Dit mag dalk goed wees om te vra wat ander groepe dink jou motiewe is. Gaan luister hoe dink ‘n Malema of ‘n Stephen Groottes oor mense wat hulleself gaan afsonder het tussen mense soos hulle. Nie om te gaan weerlê nie. Nie om ‘n bakleiery te gaan soek oor hulle jou wanvoorstel nie. Gaan luister wat dink hulle. Gaan vra wat maak dat hulle so dink.
En leer daaruit! Jy gaan omtrent ewe veel oor hulle leer as oor jouself. Ons ken immers die storie van Orania. Watter dele hulle dus vir hulleself gaan uitkies het, wys vir ons soveel wie hulle is as wat dit wys wie ons is.
Beter kennis oor wie die ander spelers op die bord is kan tot onverwagse vennootskappe lei. Mnyameni is ’n goeie voorbeeld. Hier moet ons bereid wees om ‘n paar onakkurate voorstellings van onsself te trotseer. Gaan voorbereid in die gesprek in met die volwassenheid om nie opgeruk te raak daaroor nie.
3) Kom ons maak nie of ons weet wat die motiewe van ‘n “derde mag” of ‘n “hulle” of “die kragte van vandag” of watter ongedefinieerde vae “vyand” is nie. My belewenis was tot dusver eenduidig dat niemand die tyd of energie het om ander se ondergang te beplan nie. Jy beplan vir jou eie voordeel.
Alle vooordele wat enige sogenaamde “vyandige” uit ‘n vernietiging van die Afrikaner kon kry het hulle reeds daarin dat daar nie ‘n Afrikaner aan die hoof van enige regeringsdepartement is nie. Hulle hoef ons nie te vernietig nie en het nie die doelwit nie. Optrede uit ‘n agterdogtige voorveronderstelling dat iemand TEEN ons is, lei tot ‘n versterking van alle teenkanting wat wel bestaan en dit kos ons vriende.
Maar soos ek sê: ek weet ook nie alles nie. ‘n Leergierige gees gaan niemand skade doen nie. Gewoonlik is die grootste struikelblok van kennis nie die nuwe goed wat ons moet leer nie, maar die gesukkel om iemand te leer wat dink hulle weet reeds. Dis nie goed as jy daardie rol vir jouself uitkies om te speel nie.
4) Eerste indrukke. Die Afrikaner het al van die Afrikaner-Nasionalisme (minstens) ‘n groot trots daarin dat hy nie sy beeld poets nie. Ek is soos ek is en jy kan daarvan hou of nie. Dan verras dit dikwels ‘n buitestaander om uit te vind jy is nie net ‘n harde volk wat wil baasspeel nie. Jy kan eintlik vriende maak en gasvry wees en jou kos is ongewoon, maar tog lekker. Kom ons maak dit nie ‘n verrassing dat ons aangenaam kan wees nie!
Ek lees by herhaling of voer gesprekke met swart vriende (en ook liberale vriende) wat uitspreek dat hulle oortuig is hulle sal nie welkom wees in Orania nie. Dis onwaar maar die eerste indruk wat ‘n opskrif “Whites Only”-town maak, is dat jy nie welkom sal wees nie. Alle teenvoorbeelde ten spyt, hou hierdie persepsie water. Ek dink ‘n uitnodiging om te kom kyk en te kom ondersoek of ons iewers ‘n weermag opbou moenie wag tot iemand weer hulle onkunde uitstal nie. Moenie ‘n “haai, kom kyk” spaar vir wanneer iemand nou klaar gesê het ons dink ons is beter as hulle en “mense wat soos ons dink” is die gif in die pragtige land nie.
Daardie uitnodigings moet proaktief wees. Daar is pas ‘n nuwe kabinet aangestel – nooi hulle. Dalk kom een, dalk twee, dalk almal, dalk niemand. As hulle egter oor drie of vier jaar skielik die jeuk kry om te gaan kyk of Orania verkramp is, kan hulle ‘n vriend naby hê om te vra of jy kan verwys na die oop uitnodiging en bevestig dat hy nog staan.
5) Wie jy is, gaan wys. Hiervoor is dit belangrik om duidelikheid te hê oor wie jy is. En Orania is nie ‘n “nie so en so” nie. Orania het ‘n positiewe standpunt VIR Afrikaans en die Afrikaner. Moenie dit verwar met ‘n “kwaad vir” of ‘n “darem nie”-posisie nie.
6) ‘n Mens vat ‘n kans elke keer wat jy toelaat dat iemand oor jou iets sê. Elke joernalis wat kom kuier en teruggaan en iets skryf, is ‘n risiko. Elke video oor hoe mense ‘n bestaan wil maak in Orania, is ‘n kans wat jy vat.
Maar as ek nou Paul McNally se artikel lees en ek sien hoe hy sy wese instort in ‘n spotboodskap en ek lees die kommentaar onderaan, dan moet ek die gevolgtrekking maak dat selfs die negatiefste publisiteit niemand oortuig wat hulle oë oop het nie. Die skrywer moes maar self inspring, anders was al die reaksies dat hy uitgelag word – selfs jare later. So, die kans wat jy vat is veel kleiner as wat dit voorkom.
Daar is reeds heelwat kennis in die wêreld van waarvoor hierdie dorp staan. Groot dele van die motiewe van die mense wat Orania gestig het en onderhou is algemeen bekend. Enigeen wat ver hiervan wil afwyk, gaan vir hom teenkanting op die hals haal.
by Jaco Kleynhans | Jun 10, 2014 | Nuus |

Die stof wil maar net nie gaan lê oor die groot toename in steun vir regse, konserwatiewe, nasionalistiese en Euroskeptiese partye tydens die onlangse Europese verkiesing nie. Koerante in Duitsland, Engeland, Frankryk en selfs die VSA vra nou al vir twee weke: Is daar ‘n opkoms van fascisme in Europa?Die Amerikaanse, paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, skryf in reaksie hierop dat dit belangrik is om te verstaan dat die gom wat die moderne liberale demokrasie in Europa aanmekaar hou juis die anti-fascistiese beweging is. Na die Tweede Wêreldoorlog het ‘n anti-fascistiese golf oor Europa gespoel en het ‘n nuwe liberale politieke elite die mag in meeste lande van Wes-Europa bekom en behou deur enigiemand wat anders as hulle dink as neo-fascisties af te maak.Gewone Europeërs het uit vrees vir ‘n herhaling van die fascisme van Hitler se Duitsland en die gevolglike oorlog by die politieke elite bly staan en hierdie nuwe liberale politieke mag bly versterk tot ‘n punt waar die liberalisme die politiek in Europa totaal begin oorheers het.
Enige individu of party wat die hegemoniese oortuigings van die liberale Europese politieke elite durf aanvat, word as neo-fascisties afgemaak. Die afgelope dekade of twee was daar ‘n grootskaalse aftakeling van tradisionele Europese waardes. Die regte van vroue, homoseksuele mense, asielsoekers, onwettige immigrante en selfs veroordeelde misdadigers is in sommige lande sover oordryf dat party gewone mense deesdae minderwaardig voel as jy nie tot een van hierdie spesiale groepe behoort nie.
Enige party wat egter nog ooit sou durf om hierdie grootskaalse kulturele revolusie aan te vat is tot die perifirie van die politieke landskap verskuif en soms op totaal ondemokratiese wyse geïsoleer en onder ‘n soort politieke kwarantyn geplaas. Op hierdie wyse is politieke partye soos Vlaams Belang in België byna vernietig en is Jean-Marie Le Pen in Frankryk tot ‘n nuwe soort Hitler veroordeel. Pim Fortuyn en Theo van Gogh moes in Nederland met hul lewens betaal weens hul kritiek op die heersende politieke ordes.
Dit is dus geen wonder dat die prestasie van Front National in Frankryk, die United Kingdom Independence Party in Brittanje en die Deense Volspartij in Denemarke ‘n groot skok vir die sisteem van die liberale politieke elite van Europa was nie. Al drie hierdie partye het tydens die Europese Verkiesing in hul lande eerste geëindig. Al drie partye is regs, maar belangriker al drie partye wyk sterk af van die heersende politieke ideologie in Europa.
Al drie partye staan vir ‘n soort nasionalisme, maar ook ‘n soort tradisionele denke wat lankal deur moderniste en post-moderniste in Europa afgeskryf is. Saam met hierdie drie partye het ander soortgelyke politieke partye ook in Hongarye, Nederland, België en selfs Duitsland opgang gemaak.
Vir lank het die politieke elite Europeërs se denke oorheers deur hulle te laat dink dat steun vir sulke partye ‘n teken van onverdraagsaamheid, bekrompenheid en slegte vooroordele is. Daardie tyd is nou verby. Hoewel die regerende liberale klas steeds sterk in die saal is in Europa is die uitslag van die Europese verkiesing juis nie ‘n teken van neo-fascisme nie, maar eerder ‘n teken van ‘n nuwe generasie wat vir hulself wil en kan dink eerder as om deur ‘n politieke elite voorgeskryf te word.
Nuutste Opmerkings