fbpx
anti-eu2Die stof wil maar net nie gaan lê oor die groot toename in steun vir regse, konserwatiewe, nasionalistiese en Euroskeptiese partye tydens die onlangse Europese verkiesing nie. Koerante in Duitsland, Engeland, Frankryk en selfs die VSA vra nou al vir twee weke: Is daar ‘n opkoms van fascisme in Europa?Die Amerikaanse, paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, skryf in reaksie hierop dat dit belangrik is om te verstaan dat die gom wat die moderne liberale demokrasie in Europa aanmekaar hou juis die anti-fascistiese beweging is. Na die Tweede Wêreldoorlog het ‘n anti-fascistiese golf oor Europa gespoel en het ‘n nuwe liberale politieke elite die mag in meeste lande van Wes-Europa bekom en behou deur enigiemand wat anders as hulle dink as neo-fascisties af te maak.Gewone Europeërs het uit vrees vir ‘n herhaling van die fascisme van Hitler se Duitsland en die gevolglike oorlog by die politieke elite bly staan en hierdie nuwe liberale politieke mag bly versterk tot ‘n punt waar die liberalisme die politiek in Europa totaal begin oorheers het.

Enige individu of party wat die hegemoniese oortuigings van die liberale Europese politieke elite durf aanvat, word as neo-fascisties afgemaak. Die afgelope dekade of twee was daar ‘n grootskaalse aftakeling van tradisionele Europese waardes. Die regte van vroue, homoseksuele mense, asielsoekers, onwettige immigrante en selfs veroordeelde misdadigers is in sommige lande sover oordryf dat party gewone mense deesdae minderwaardig voel as jy nie tot een van hierdie spesiale groepe behoort nie.

Enige party wat egter nog ooit sou durf om hierdie grootskaalse kulturele revolusie aan te vat is tot die perifirie van die politieke landskap verskuif en soms op totaal ondemokratiese wyse geïsoleer en onder ‘n soort politieke kwarantyn geplaas. Op hierdie wyse is politieke partye soos Vlaams Belang in België byna vernietig en is Jean-Marie Le Pen in Frankryk tot ‘n nuwe soort Hitler veroordeel. Pim Fortuyn en Theo van Gogh moes in Nederland met hul lewens betaal weens hul kritiek op die heersende politieke ordes.

Dit is dus geen wonder dat die prestasie van Front National in Frankryk, die United Kingdom Independence Party in Brittanje en die Deense Volspartij in Denemarke ‘n groot skok vir die sisteem van die liberale politieke elite van Europa was nie. Al drie hierdie partye het tydens die Europese Verkiesing in hul lande eerste geëindig. Al drie partye is regs, maar belangriker al drie partye wyk sterk af van die heersende politieke ideologie in Europa.

Al drie partye staan vir ‘n soort nasionalisme, maar ook ‘n soort tradisionele denke wat lankal deur moderniste en post-moderniste in Europa afgeskryf is. Saam met hierdie drie partye het ander soortgelyke politieke partye ook in Hongarye, Nederland, België en selfs Duitsland opgang gemaak.

Vir lank het die politieke elite Europeërs se denke oorheers deur hulle te laat dink dat steun vir sulke partye ‘n teken van onverdraagsaamheid, bekrompenheid en slegte vooroordele is. Daardie tyd is nou verby. Hoewel die regerende liberale klas steeds sterk in die saal is in Europa is die uitslag van die Europese verkiesing juis nie ‘n teken van neo-fascisme nie, maar eerder ‘n teken van ‘n nuwe generasie wat vir hulself wil en kan dink eerder as om deur ‘n politieke elite voorgeskryf te word.