fbpx

NederlandSokkerDie Sokkerwêreldbeker wat tans in Brasilië plaasvind, wys op interessante wyses uit hoe Suid-Afrikaners volgens identiteit internasionaal identifiseer. Suid-Afrika se swak sokkerspan het nie eers vir dié toernooi gekwalifiseer nie en gevolglik behoort Suid-Afrikaners nie juis vreeslik direk in die Wêreldbeker belang te stel nie. Tog is ‘n daar baie Suid-Afrikaners wat vasgenael voor die kassie sit om sekere wedstryde dop te hou. Swart Suid-Afrikaners ondersteun enige Afrikaland, terwyl Afrikaners bankvas agter die Nederlandse span staan.

Die Nederlandse sokkerspan presteer vanjaar weer goed. Daarteenoor doen Afrikaspanne betreklik sleg. Sou jy die sosiale media hieroor gaan bestudeer, sien jy hoe verskeie Afrikaners elke Nederlandse oorwinning hul eie maak. Die Nederlandse span word ook elke Afrikaner se volksbesit. Netso assosieer swart Suid-Afrikaners sterk met die Afrikaspanne en selfs net met swart spelers in Westerse lande se spanne. Afrikaners beskou hulself lankal nie meer as vreeslik “Nederlands” nie en formele verhoudinge tussen die Afrikaner en Nederland is uiters beperk. Die Afrikaner se kultuur is ook in ‘n groot mate deur sy ervaringe in Afrika en deur Britse kolonialisme beïnvloed wat beteken dat daar vandag kulturele verskille tussen Afrikaners en Nederlanders is.

NederlandSokker2Tog assosieer Afrikaners met Nederland. Hierdie assosiasie beteken nie dat Afrikaners terughunker na Nederland of selfs net smag om meer “Nederlands” te wees nie. Nee die assosiasie met Nederland het veel meer te doen met die Afrikaner se totale vervreemding binne ‘n Suid-Afrika wat by die dag meer Afrikaniseer. Afrikaners voel ontuis in ‘n samelewing wat ver verwyderd is van dit waaraan hulle gewoond is. Regeringskorrupsie, nepotisme, kaderontplooiing, wrede misdadigheid en selfs net klein kultuurverskille soos “Afrikatyd” waaroor ons soms kan spot is alles deel van die vreemde Afrikabestel waarbinne ons moet funksioneer.

Die Afrikaner is ‘n Westerse volk wat soos ‘n klein boodjie op die Afrika-see ronddobber. Hy staan uit of hy nou wil of nie. Na elke oorwinning van die Nederlandse sokkerspan is daar swartmense wat op plekke soos Twitter en Facebook sarkasties sê dat Afrikaners seker nou feesvier. Politieskorrekte Afrikaners sal probeer om daarvan weg te skram. Dit is verkeerd. Afrikaners moet met trots met ander Westerse volke assosieer. Ons moet juis meer en nie minder nie ander Westerse volke ondersteun en vriendskapsbande mee smee.

Die Afrikaner se voortbestaan aan die suidpunt van Afrika is in die verlede nog elke keer verseker nie deur te Afrikaniseer nie, maar juis deur by ons sterk Westerse beginsels en kultuur te bly staan en dan waar nodig aan te pas om die uitdagings van Afrika te bowe te kom. Wanneer die Nederlandse sokkerspan of selfs die Belgiese of Duitse span speel mag en moet ons hulle ondersteun. Dit kan onder jonger generasies Afrikaners weer ‘n trots op hul Westerse kultuur en agtergrond wakker maak.

Soos wat swart Suid-Afrikaners solidariteit met ander Afrikane toon moet ons solidariteit met ander Westerlinge toon. Watter beter plek om daarmee te begin kan daar nou wees as op sagter nie politieke terreine soos sport?