Tien eienskappe van Orania se gemeenskapsmodel

41tbxkopffl-_ss500_“At the present time we are suspended, so to speak, between two worlds of allegiance and association. On the one hand, and partly behind us, is the historic world in which loyalties to family, church, profession, local community, and interest association exert, however ineffectively, persuasion and guidance.  On the other is the world of values identical with the absolute political community – the community in which all symbolism, allegiance, responsibility, and sense of purpose have become indistinguishable from the operation of centralized political power.” – Robert Nisbet, The Quest for Community

Nisbet se beskrywing van ‘n tyd wat so te sê by ons verby is, verwys natuurlik na die grootskaalse verskuiwing in magsverhoudings en politieke stelsels wat met die Era van Verligting na vore getree het en veral na die Tweede Wêreldoorlog in ‘n versnelde tempo in Westerse lande ‘n houvas gekry het. Die tradisie van hegte gemeenskapsverbintenisse, samewerking en assosiasie is vervang met ‘n fokus op individuele regte, die moderne regstaat en die verligting. Wat die liberale Westerse individu van die negentiende eeu egter nie besef het nie, is dat individuele regte die rol van tusseninstellings wat ‘n belangrike rol in die verhouding tussen burger en staat behoort te speel, verswak het. Die regstaat plaas dalk die klem op regte, maar vereis ook inmenging in mense se lewens deur regulasie en sentralisering van nie net mag nie, maar ook beginsels en praktiese reëls wat voorheen onderling deur assosiasie bepaal is.

In Westerse lande sien ons vandag die massa magtelose burgers wat in ‘n afstandelike verhouding met die politieke elite staan. Die verhouding is hoofsaaklik gebou op die persoonlike vryheid wat met die verligting saamgekom het en wat in samehang met die materialisme en persoonlike drang na meer van alles, lande bestaande uit goed georganiseerde gemeenskappe in ‘n massa individue omskep het. Die Westerling van voor die verligting het vervulling gekry uit omgang met sy medemens in ‘n gemeenskapsverband en gereël binne tusseninstellings soos kerke, skole, markte, koöperasies, sport- en kultuurverenigings. Vandag se Westerling vind vervulling uit die veronderstelde absolute vryheid wat die moderne individualisme moontlik gemaak het en die voortdurende verkryging van materiële dinge wat korttermyngeluk moontlik maak.

Die probleem hiermee is egter dat materiële middele nooit langtermyngeluk kan bring nie. Die mens streef altyd na iets meer as net materiële geluk. Die oormatige wyse waarop die Westerse wêreld die individualisme omhels het, het tot ‘n verswakking en in baie gevalle vernietiging van die middelinstellings aanleiding gegee. Die individu staan vandag in baie gevalle in ‘n afstandige verhouding met ‘n sentrale mag wat in ‘n poging om individuele regte te onderhou juis die individu die reg tot talle persoonlike vryhede ontneem. Want soos die ou gesegde lui: My vryheid begin baie keer waar joune ophou.

In die VSA en Europa is daar ‘n groot breuk tussen die burgery en regerings, oftewel die politieke elite. Wie ookal regeer, staan op ‘n afstand van die burgery. In Europa word meer en meer wette deur ‘n Europese regering wat nog nooit verkies is nie, maar wat aangewys word, gemaak. Geen Europese burger beskik oor die vermoë om hierdie besluite te beïnvloed nie. Die politieke elite wil ‘n orde in stand hou en doen dit deur die regulering van individue wat soos marionette rondgelei word. In Suid-Afrika het die ANC op ‘n baie slim manier sedert 1994 daarin geslaag om ‘n meerderheid van die land se bevolking totaal afhanklik van die sentrale staat te maak. Gemeenskappe en tusseninstellings is doelbewus verswak en gewone burgers staan magteloos in verhouding tot die magtige sentrale regering. So magteloos soos wat Afrikaners toenemend voel, so magteloos voel meer en meer swart mense regoor Suid-Afrika. Die regering bied oorlewing, maar nie geluk nie.

Orania kan nie anders as om saam met ander gemeenskappe en volkere van regoor die wêreld teen hierdie tendens in te gaan nie. Orania moet vir die volgende staan:

1.    ‘n Gesonde verhouding tussen die gemeenskap en die individu
Orania is nie ‘n kibboets nie en die Afrikaner nie ‘n nomadiese volk nie. Afrikaners hang ook verskeie individuele regte aan, maar dit beteken nie dat ons nie ‘n volk met ‘n sterk gemeenskapsbesef is en moet wees nie. In Orania handhaaf ons ‘n gesonde balans tussen die regte van die individu en die beginsels van die gemeenskap. Dit lei eerder tot die versterking as die verswakking van gemeenskapsinstellings.

2.    Desentralisering eerder as sentralisering
In Orania word magte eerder afgewentel as opgewentel. Die vraag is dus nie wat kan die regering vir my doen nie, maar wat kan ek vir die regering doen. Elke burger het ‘n groter plig eerder as ‘n regering wat baie belangrik voel.

3.    ‘n Veelheid van leierskap eerder as ‘n klem op sentrale figure
Orania het nie een groot leier nie. Ons het ‘n voorsitter van die Dorpsraad, voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad, ‘n president van die Orania Beweging, voorsitter van die Orania Sakekamer en verskeie ander leiers wat almal verskillende persone is en almal leiersfigure eerder as heersers is. Hoe meer leiers hoe beter.

4.    ‘n Regering moet doen wat hy moet doen en nie wat hy kan doen nie
Dit is in die mens se wese om van ‘n regering te verwag om oplossings te bied. Moet die Orania Dorpsraad personeel aanstel om rommel op te tel? Wat van permanente veiligheidwagte wat saans patrollies kan doen? Moet ons nie ‘n verkeerdsbeampte kry nie? In hierdie gevalle en talle ander is die antwoord: Nee. Die gemeenskap sorg self dat die dorp skoon is, doen self patrollies in die aand en spreek mekaar aan oor verkeersoortredings. Die regering hoef nie vir elke probleem die een te wees wat die antwoord moet bied nie.

5.    Konsultasie skep eensgesindheid eerder as verdeeldheid
Regerings is meestal bang vir die burgery en vermy graag konsultasie. In Orania word burgers in die meeste belangrike besluite geken en dit skep eerder samewerking en eensgesindheid as in verdeeldheid en negatiewe reaksies.

6.    Volhoubaarheid moet ‘n leefwyse wees
‘n Gonswoord deesdae is volhoubaarheid. Min mense leef egter op volhoubare maniere. In Orania wil ons volhoubaarheid ‘n leefwyse maak. Volhoubaarheid lê nie net op die terreine van omgewingsbewaring en energiebesparing nie, maar ook in ons vermoë om sterk instellings te skep wat ‘n gemeenskap daarstel wat vir volgende generasies ‘n tuiste kan wees.

7.    Daar is niks fout daarmee om trots op jou kultuur te wees nie
Afrikaners leef daagliks in vrees dat ‘n openbare trots vir hul kultuur tot benadeling aanleiding kan gee. In Orania word ‘n trots op jou eie kultuur en ‘n volwaardige uitlewing daarvan as ‘n goeie karaktereienskap beskou wat vir jou groot voordele kan inhou.

8.    Regulering hoort by verskillende instellings eerder as een sentrale mag
In Orania het ons sterk instellings soos die Orania Dorpsraad, Orania Beweging, skole en kerke. Daar is egter nie net een instelling wat die mag het om regulasies toe te pas nie. Elke instelling het sy rol. Die Dorpsraad as ‘n soort regering reguleer nie waardes nie. Dit hoort by die kerke. Kinders leer van dissipline in die gesinsverband, die skool en die kerk. So het elke instelling sy gedesentraliseerde rol in gemeenskapsregulering.

9.    Lewensgehalte is belangriker as lewenstyl
Regoor Suid-Afrika leef Afrikaners in luukse huise, ry in duur motors en verdien groot salarisse terwyl hulle uiters ongelukkig is. Nie alle welgestelde mense is ongelukkig nie, maar net ‘n hoë lewenstyl kan nie geluk bring nie. ‘n Goeie lewensgehalte word verkry deur toegang tot die nodig lewensmiddele, ‘n goeie selfbeeld, ‘n kultuurtrots, ‘n sterk gemeenskapsband en inskakeling by instellings. In Orania woon baie mense wat op lewenstyl moes inboet, maar wie se lewensgehalte hier toegeneem het.

10.    Samewerking eerder as konflik
Partykeer lyk dit asof Afrikaners meer baklei hoe slegter dit gaan. In Orania glo ons in samewerking eerder as om op ons verskille te fokus. Ons werk saam met verskeie organisasies en individue, sommiges naby aan ons, andere meer verwyderd. Die doelwit is altyd die bevordering van Afrikanervryheid in ‘n eie grondgebied. Ons glo in groeiende selfbeskikking en glo dit kan net vermag word deur ons mense saam met ons te vat as om meer en meer van ons te vervreem.

Mag ons toenemend die Orania-model as ‘n werklike oplossing vir ons mense aanbied en mag ons daarin slaag om saam met ander gemeenskappe en volkere die gemeenskapsidee, waar ons self oor ons eie waardes, verhoudinge, verantwoordelikhede en behoud beheer kan neem en suksesvol op ‘n groter skaal implementeer.

Landbougrond ‘n speelbal vir swak regering

Fotokompetisie 1 compMin swartmense wil boer. In elk geval min swartmense wil kommersiële boere wees. Ry jy vandag deur die ou tuislande en veral deur die Transkei en Ciskei in die Oos-Kaap kry jy bevestiging daarvan dat die meeste swartmense in Suid-Afrika nie wil boer nie. Orals in hierdie gebiede lê ryk landbougrond onbenut. Huise staan leeg. Die mense is Kaapstad of Johannesburg toe en daar woon hulle eerder in ‘n plakkershut in die hoop op ‘n werk en ‘n lewe in die stad.

Die vorige grondeiseproses het hierdie argument ook bewys. Toe het 93% van grondeiesers verkies dat die waarde van die grond wat hulle geëis het aan hulle uitbetaal word, eerder as wat die grond aan hulle teruggegee word. Verskeie studies het ook al bewys dat swartmense eerder in die stede wil woon as om landbouers op die platteland te wees. Die wyse waarop talle suksesvolle kommersiële plase wat weens grondeise aan swartmense oorgedra is, van hul bates gestroop is ten einde kontant vir die eienaars wat verkies om in dorps- en stadsgebiede te woon, beskikbaar te stel, is nog ‘n bewys.

Tog slaag die ANC en EFF meesterlik daarin om die persepsie te skep dat miljoene swartmense na landbougrond smag en dat grondhervorming een van die belangrikste prioriteite in Suid-Afrika moet wees. Die onlangse heropening van grondeise is volgens die ANC juis ‘n stap om hierdie kamma-regverdige drang na landbougrond te beantwoord.

Tog vertel gewone, arm swartmense ‘n ander storie. Hulle behoeftes is dié van goeie skole, beter behuising, effektiewe munisipale en mediese dienste, naskoolse opleidingsgeleenthede en ekonomiese groei wat volhoubare werksgeleenthede in stede en dorpe, waar hulle graag wil woon, kan bied.

Die ANC slaag klaaglik in letterlik elkeen van hierdie behoeftes. Onderwys in swart gebiede is vandag in baie gevalle swakker as voor 1994. Baie van die huisies wat deur die staat gebou word verkrummel en lewer byna geen bydrae tot ‘n menswaardige bestaan. Munisipale dienslewering regoor Suid-Afrika is so swak dat swartmense voortdurend in dorpe en stede opruk om hul misnoeë daarmee te toon. Staatshospitale het ‘n tekort aan dokters, verpleegsters, medisyne en selfs elektrisiteit. Die groot aantal swart babas wat gedurig in staatshospitale sterf is ‘n aanduiding van hoe sleg dit in staatshospitale gaan. Wat die ekonomie aanbetref bly werkloosheid styg en groei die Suid-Afrikaanse ekonomie so stadig dat dit nie eers voorsiening maak vir die gewone bevolkingsgroei nie. Die kans vir ‘n jong swart persoon om ‘n werk te kry is baie skraal.

Tog is al hierdie klaaglike mislukkings van die ANC die afgelope tyd oorheers deur die groot gronddebat. Die persepsie word deur die ANC en EFF, net soos deur Mugabe 14 jaar gelede, geskep dat die antwoord op al die probleme wat swartmense beleef in die herverdeling van grond lê. Ons weet dat dit nie die geval is nie, maar sê ons dit genoeg? Die uitdaging vir die landbousektor en Afrikanerorganisasies is om beter en meer gekoördineerd ‘n teenveldtog te loods sodat swartmense op grondvlak hul slegte omstandighede aan ‘n swak regering eerder as die feit dat die meeste landbougrond aan witmense behoort, kan toeskryf.

‘n Konserwatiewe beskouing om benadeling aan te spreek

9780307455772_custom-fba7ccb0ce7b42867a246fcac57023e059ab570d-s6-c30Die liberale Amerikaanse skrywer Jonathan Haidt, skryf in sy boek, The Righteous Mind, dat die morele geheue van liberale mense op twee beginsels geskoei word. Eerstens kyk liberaliste na benadeling en tweedens na regverdigheid. Alle benadeling in die wêreld soos armoede, inkomste-ongelykhede en onderdrukking moet reggestel word en ‘n bedeling geskoei op absolute regverdigheid moet geskep word.

Vir liberaliste lê die oplossing vir benadeling in aktiewe planne om ongelykhede uit te wis en om te verseker dat nuwe ongelykhede nie geskep kan word nie. Sulke aktiewe planne vereis meestal ‘n effektiewe regering wat deur regulasie, belasting en die penalisering van individue of instellings wat ongelykhede veroorsaak, die speelveld voortdurend gelyk maak. Liberaliste is meestal skepties oor privaat en gemeenskapsinisiatiewe wat streef om ongelykhede reg te stel en voel dat slegs ‘n regering wie met ‘n spesifieke mandaat om ongelykhede reg te tel verkies word, wel daarin kan slaag.

Volgens Haidt is die beginsels van benadeling en regverdigheid ook belangrik vir konserwatiewe mense, maar hulle voeg egter nog drie verdere morele beginsels by, naamlik lojaliteit, gesag en suiwerheid. Konserwatiewe mense baseer hul morele beginsels baie meer op geloof en die rol van die kerk en gemeenskapsinstellings in hul lewens. Probleme van benadeling en die skep van ‘n regverdige bedeling word deur konserwatiewe mense vanuit die oogpunt van naasteliefde en gemeenskapsdiens beskou.

Vir liberale mense is dit moeilik om te dink dat ‘n beter wêreld vanuit die gemeenskap geskep kan word, terwyl konserwatiewe mense juis dink dat ‘n beter wêreld slegs moontlik is wanneer die kerk, skool, kultuurvereniging maatskaplike inisiatiewe en ander gemeenskapsinstellings verantwoordelikheid vir die hantering van ongelykhede in die gemeenskap neem.

Een goeie voorbeeld waar hierdie konflik afspeel is in die onderwys. Konserwatiewe ouers voel dat dit juis die ouergemeenskap moet wees wat moet bepaal op watter beginsels hul kinders se skool bedryf moet word. Ouers, die kerk en kultuurorganisasies moet saamwerk met privaat individue en ondernemings om ‘n suksesvolle skool daar te stel. Liberaliste daarteenoor voel sterk oor universele beginsels en sentrale beheer. Die betrokkenheid van die kerk en kultuurorganisasies in onderwys word verwerp.

Die gevolgtrekking kan gemaak word dat liberale mense die wêreld uiters eenvoudig beskou en so ook die skep van oplossings vir benadeling as ‘n eenvoudige proses sien. Tog het hierdie eenvoudige uitkyk op probleme van benadeling homself keer op keer in die wêreld verkeerd bewys. Min mense het waardering vir oplossings wat nie uit hulself en die instellings waarmee hulle assosieer kom nie. So het min mense waardering vir die oplossings van ‘n regering en word hierdie oplossings meestal as te min te laat beskou. Hoeveel mense wat welsynsgeld kry voel dit is voldoende? Hoeveel ouers in staatskole voel dat die regering genoeg befondsing vir onderwys bied?

Oplossings wat vanuit eie inisiatief kom word egter sterk gewaardeer en is veel meer volhoubaar omdat mense besef watter insette nodig was om hierdie inisiatiewe te laat slaag. Die toenemende liberale neiging in Suid-Afrika om die hantering van benadeling as ‘n eksterne proses te sien, is onvolhoubaar. Konserwatiewe beginsels soos gesag, lojaliteit en suiwer Bybelse waardes is dalk net wat nodig is om ‘n beter, volhoubare bedeling te skep.

Namens wie praat die Afrikaner-elite?

Vraag

Ons het al gewoond geraak daaraan dat bo en onder omgekeer geword het. Wat vroeër hoofstroom was, is nou ekstremisties, wat vroeër vreemde randverskynsels was, is nou “hip” en “cool”. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, dit geld vir die hele Westerse wêreld.

Een gebied waar dit veral opvallend is, is by die sogenaamde “intelligentsia” of “elite”, by name onder Afrikaners, oftewel Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Die elite van ‘n volk is veronderstel om die beste van die volk te verteenwoordig, om die “avant garde” te wees wat wyer kyk as die gewone mense, dieper insigte het en leiding kan gee tot voordeel van die volk.

In die vorige bedeling tot so om en by die 1970’s, was die Afrikaner-elite amper sinoniem met die Afrikaner Broederbond. Hier was mense met invloed, uit die kringe van die kerk, onderwys, akademie en sakegemeenskap en met onbesproke rekords saamgetrek, tot diens van die volk, aldus hulle eie aanspraak. Vir talle van hulle het dit wel gegeld, soos die stigter van die Broederbond, Henning Klopper, of prominente voorsitters soos prof Carel Boshoff, prof HB Thom, dr Piet Meyer, ea. Later het die Broederbond egter ‘n klomp opportuniste getrek en mense soos Roelf Meyer, Pik Botha, FW de Klerk en Leon Wessels opgelewer, wat nie meer hulle volk gedien het nie en wat geen vaste beginsels gehad het nie. Die groot rol wat die Broederbond by die mislukte hervormingsproses gespeel het, het gemaak dat dit vandag vir seker die meeste Afrikaners ‘n negatiewe konnotasie het en dat die ou elite heeltemal afgeskryf is. Sonder ‘n rigtinggewende elite het Afrikaners sinies geraak en besluit om eerder individualisties op te tree en hulle eie heil uit te werk, wat natuurlik ook meegebring het dat ‘n samehangende plan vir die volk as geheel ontbreek het.

Omdat die regering, media of buitelandse meningsvormers egter nie met elke spreekwoordelike Jan Rap en sy maat kan praat nie, moes daar ‘n nuwe, kunsmatige Afrikaner-elite geskep word. Anders as die ou elite, wat hulle in die meeste gevalle bewys het en ‘n langdurige en skoon rekord gehad het, het veral die media nou ‘n nuwe elite geskep wat niks met die volk of die vorige elite gemeen het nie, behalwe dat hulle ook Afrikaans praat (of ‘n vorm daarvan, gewoonlik deurspek met “hip” Engelse woorde). Mense wat die volk verag en alles doen om juis nie Afrikaners te wil wees nie, soos Max du Preez, Deon Maas, Adriaan Basson, dr. Piet Croucamp en linkse skrywers, akteurs of dosente wat gewoonlik niemand nie behalwe hulleself verteenwoordig, het nou skielik na vore gekom as selfaangestelde of deur die media aangewysde spreekbuis vir Afrikaners. Diegene wat werklik die sentimente van die meerderheid Afrikaners verteenwoordig, word geïgnoreer en tot ‘n karikatuur gereduseer en word hoogstens na debatte genooi sodat die aanbieders en die nuwe elite ‘n teiken het.

Die selfaangestelde elite leef op heeltemal ‘n ander planeet as die gemiddelde Afrikaner en hulle uitsprake is gewoonlik anti-Afrikaner. Terwyl die meerderheid Afrikaners lief is vir hulle taal en dit ook graag tot op tersiêre vlak in gebruik wil sien, is die selfaangestelde elite se houding dikwels dat Afrikaanse universiteite versoening en nasiebou benadeel en dat die “wonderlike internasionale taal Engels” vir Afrikaners vlerke gee om van hulle selfgesentreerdheid en slegte verlede te ontsnap. Insgelyks moet Afrikanerkultuurskatte soos “die Stem van Suid-Afrika” en ander volksliedere, museums en monumente, ens volgens die elite liewers opgeoffer word om nie aanstoot te gee aan die meerderheid van die bevolking nie, al voel vele Afrikaners sterk daaroor. Die meeste Afrikaners is Christene en steun goeie gesinswaardes (al pas almal dit nie toe nie), maar die elite sal dit afkraak en eerder “alternatiewe leefstyle” verdedig.

Omdat die media feitlik uitsluitlik met die elite wat hulle self geskep het praat, kry hulle ‘n skeefgetrekte beeld van die Afrikaner. As dan iewers ‘n werklike groep Afrikaners saamgetrek is, soos onlangs op die kunstefees “Innibos” en opgewonde “Die Stem” saamsing, dan weet die media nie wat aangaan nie en probeer duisende gewone mense soos ek en jy afmaak as ‘n paar verlooptes wat in die verlede leef.

Die selfaangestelde elite sal nie tot ander insigte kom nie en hulle sal ook nie hulle goedbetaalde poste as meningsvormers vrywillig ontruim nie. Op die gewone Afrikaner wat vervreem voel van so ‘n elite, lê die verantwoordelikheid om die politieke korrektheid hok te slaan, deur dit te doen wat hy of sy weet reg is en wat nog altyd deel was van Afrikaner wees, en om dit onbeskaamd te verkondig, soos wat sekere prominente figure, wat afsydig van die elite staan, dit reeds doen.

Willem van Oranje ook ‘n Afrikanerheld

WillemVanOranje“ ‘n Mens hoef nie te hoop om te onderneem, of te slaag om te bly volhard nie.” Dit is die wyse woorde van een van die grootste leiers uit ons verlede, Willem van Oranje. Op 10 Julie vanjaar was dit presies 430 jaar na die lafhartige moord op die Vader des Vaderlands, soos wat Willem van Oranje onder sy mense bekend gestaan het. Willem van Oranje was ‘n groot leier vir Protenstantse Nederlanders. Hy het ‘n belangrike rol gespeel in die Nederlanders se sukses tydens die tagtigjarige-oorlog. Koning Philips II van die Spaanse ryk het met ‘n ystergreep oor die Nederlande regeer en die Katolieke geloof is op burgers afgedwing. Die Nederlanders moes hoë belasting aan die koning betaal terwyl hul weinig daarvoor inruil ontvang het. Die Nederlanders het gedurende die sestiende eeu grootskaalse sukses deur handel behaal wat hul belastinglas voortdurend verhoog het.
Die Spaanse Ryk was tot en met die jaar 1700 deel van die Habsburg Monargie. Die Habsburg Monargie was daarop uit om die hele wêreld te regeer deur die Katolieke geloof op oorwonne volkere af te dwing. Die Nederlande is in 1543 deur die Spaanse Ryk verower. In 1568 breek die tagtigjarige oorlog uit. Hoewel Koning Philips aanvanklik sukses bepaal gee die noordelike Nederlande, wat intussen toenemend Protestants geraak het, nie moed op nie en hou aan veg. In 1581 behaal hulle sukses en word die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande geskep.
Die tagtigjarige oorlog kom eers in 1648 tot ‘n algehele einde. Drie jaar na die totstandkoming van die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande word Willem van Oranje op 10 Julie 1584 deur ‘n Fransman in sy woning in Delft doodgeskiet. Wat is die relevansie hiervan vir die Afrikaner? Willem van Oranje was en is vandag nog dié sentrale figuur in die Nederlanders se stryd om selfbeskikking. Die tagtigjarige oorlog het gegaan oor die vryheid van ‘n volk om oor homself te regeer.
Die oorlog het egter ook oor godsdiensvryheid gegaan. Die onderdrukking van Protestante in Wes-Europa gedurende die sestiende en sewentiende eeu is welbekend. Baie van hierdie Protestante het na die vestiging van ‘n handelspos en uiteindelik ‘n volwaardige kolonie deur die Nederlanders, in die Kaap kom vestig. Baie van die einste Protestante wat aan die Kaap kom vestig het en dus ons as Afrikaners se voorsate is, was op hul beurt nasate van die Nederlanders wat saam met Willem van Oranje om vryheid vir die Nederlande geveg het. Ons het dus ‘n direkte band met Willem van Oranje en die stryd om vryheid wat hy meer as 400 jaar gelede gelei het.
Willem van Oranje is nie net vir Nederlanders nie, maar ook vir Afrikaners ‘n groot historiese leier wat onthou en herdenk moet word. Willem van Oranje se leuse was altyd: “Ek sal handhaaf!” Hy het ons daaraan herinner dat selfs wanneer daar geen hoop om sukses is nie, ons steeds moet volhou en volhard. Afrikaners kan gerus Willem van Oranje as volksheld herontdek en leer uit sy voorbeeld, deursettingsvermoë, nederigheid en bowenal sy diep geloof en vertroue in God. Dan sal vryheid ‘n werklikheid kan word.

Nalatenskap van Eerste Wêreldoorlog vandag nog sigbaar

Die wêreld herdenk vandeesmaand die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog 100 jaar gelede. Meer as nege miljoen mense het, in wat as een van die bloedigste oorloë tot nog toe beskou kan word, hul lewens verloor. Die Eerste Wêreldoorlog behoort onthou te word, nie vir die kortstondige vrede wat na die Verdrag van Versailles gevolg het nie, maar eerder vir die mate waartoe die afloop van die oorlog en sy verskeie vredesverdrae tot langtermyn onstabiliteit, veral in Oos-Europa en die Midde-Ooste gelei het en hoe dit die weg gebaan het vir die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Dit is juis die groot verlies aan grondgebied en die totale vernedering van onder andere die Duitsers en Russe wat aanleiding gegee het tot nasionalisme, fascisme, haat en uiteindelik revolusie. Sou die oorwinnaars eerder vredemakers as oorwinnaars wou wees, sou die Tweede Wêreldoorlog verhoed kon word.
Behalwe hiervoor het die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog meegebring dat talle minderhede skielik onder die beheer van vreemde regerings geval het. Miljoene Hongare was skielik ‘n minderheid in Roemenië, Joego-Slawië en Tsjeggo-Slowakye. Honderde duisende Tirolers moes skielik Italianers word. Ook in die Midde-Ooste is volkere wat nie bymekaar hoort nie in een land saamgeflans omdat dit die oorwinnaars se imperialistiese motiewe gepas het. Die val van die Ottomaanse Ryk het tot grootskaalse konflik in die Midde-Ooste gelei. Vir lank het die Ottomaanse Ryk daarin geslaag om redelike stabiliteit in die Midde-Ooste te verseker. Na die Eerste Wêreldoorlog het ‘n magsvakuum in die Midde-Ooste ontstaan.
Dit was veral die Britte onderleiding van hul minister van kolonies, Winston Churchill wat na die oorlog verantwoordelik was vir die opstel van nuwe landsgrense in die Midde-Ooste. Churchill se fokus was nie die bevordering van demokrasie, die regte van minderheidsvolkere of selfs net die bevordering van vrede en stabiliteit nie, maar eerder die versekering dat nuwe landsgrense vir die Britte maklik bestuurbaar was sodat hulle beheer oor oliebronne kon neem. Was die uitkomste van die Eerste Wêreld-Oorlog dus werklik ‘n strewe na ‘n meer stabiele en vreedsame samelewing? Sonder twyfel nie. Die uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog was eerder ‘n vernedering van eens trotste volkere soos die Hongare, Duitsers en Russe. Dit was die teken van landsgrense wat oorwinnaars gepas het, maar vir dekades daarna nog tot onderdrukking, revolusies en politieke konflik sou lei. En helaas was die belangrikste uitkoms van die Eerste Wêreldoorlog dat die fondament vir die bloedigste konflik wat die wêreld nog gesien het, naamlik die Tweede Wêreldoorlog, gelê is.
Die les hieruit is dat oorlog altyd vermy moet word en dat dit meestal vermy kan word. Die Eerste Wêreldoorlog, net soos die Tweede Wêreldoorlog was onnodig. In beide oorloë het onder andere Brittanje en die VSA betrokke geraak in oorloë waarvan hulle eintlik nie deel moes wees nie. Sou hierdie magtige lande in 1914 hulself eerder vir vrede as konflik beywer het, sou die twintigste eeu dalk meer vreedsaam kon wees en sou ons vandag ‘n meer stabiele Midde-Ooste en meer sinvolle landsgrense daar en in Oos-Europa gesien het. Ongelukkig is die negatiewe nalatenskap van die Eerste Wêreldoorlog vandag nog op verskeie plekke sigbaar.
0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel