fbpx

ArbeidDat daar in die wêreld rykes en armes, wyses en dwase, slimmes en dommes, werkgewers en werknemers is, is ’n natuurlike verskynsel wat sedert die begin van die skepping af bestaan en tot eendag by die wederkoms sal bestaan. Mens kan egter baie maklik die fout maak om te dink dat rykes, wyses, slimmes en werkgewers in een groep is teenoor die armes, dwase, dommes en werknemers. Dit het egter baie meer met seëninge te doen. so kan ’n slim persoon maklik die werknemer van `n dom werkgewer wees. Net so kry mens dalk meer arm wyses en ryk dwase as omgekeerd.

As daar vandag gepraat word van rykdom en armoede moet ons ook besef dat dit baie relatiewe begrippe is. Jy is so ryk as wat die armes om jou is. So kan ’n persoon in Sandton met ’n inkomste van R20 000 per maand arm voorkom, teenoor sy buurman se R200 000 per maand.

Rykdom en armoede is ook veranderlik oor tyd. Vandag se armes is dikwels beter af as die rykes van die Middeleeue. Dink maar aan dinge soos sanitasie, water en krag, mediese dienste en lewensverwagting.

Die kwessie van ryk teenoor arm en werkgewer vs werknemer is in Suid-Afrika ’n tydbom. Ons verneem dat die EFF veg vir ekonomiese vryheid vir swartmense en vir wette wat boere sal verplig om 50% van hul plase aan swart werkers af te staan.  Dan is daar nog Swart Ekonomiese Bemagtiging, Affirmative Action en dreigende nasionalisering wat op baie meer as net myne en boere van toepassing sal wees.

Dit alles terwyl tot soveel as 25% (600 000 tot 800 000) van ons Afrikaners reeds verarm is. Wit plakkerskampe en bedelaars by stopstrate is al ou nuus terwyl die onlangse krisis in Rustenburg ’n hele nuwe vlak van verarming teweeggebring het.

Die feit van die saak is, dit gaan nog baie slegter gaan voor dit beter sal word. Vandag se bangmaakstories mag gouer as later realiteit word. As Afrikaners kan ons dit nie bekostig om soos ’n volstruis ons koppe in die sand te steek en te dink dat die arbeid probleem in Suid-Afrika sonder meer sal verbygaan nie. Alhoewel Orania alreeds ’n veiliger hawe vir Afrikaners is en waarskynlik net ’n al groter rol sal speel in die toekoms, is Orania nie vrygestel van die probleem nie. Inteendeel, Orania is in sekere opsigte aan die voorfront van die probleem deur leiding te gee in die bemagtiging van arm Afrikaners deur volkseie arbeid.

Daar is ’n Engelse spreekwoord wat sê ‘charity begins at home.’ Die Suid-Afrikaanse regering pas dit met mening toe wanneer hulle wette soos SEBen Affirmative action  toepas. Afrikaners word met mag en mening uitgeskuif. Nie net uit ons werk en een van die dae dalk ook eiendom nie. Ook ons armes word doelbewus afgeskeep. Klop maar by enige weeshuis aan en hoor wat van hulle vereis word om te kwalifiseer vir staatsfondse. Hoe goed sien ons na ons armes om en is daar `n oplossing?

Ons het nie ’n staatstruktuur aan wie ons, ons verantwoordelikheid kan afskuif nie. Ook kan ons nie verwag dat ons al armer kerke of enkele welsynsorganisasies soos Helpende hand of Orania se Helpsaamfonds alleen die probleem hokslaan nie. Nee, die verantwoordelikheid lê op elke Afrikaners se skouers. Kyk wat staan in Psalm 82:3 – 4:

Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.

Ons het ’n Christelike verantwoordelikheid teenoor ons armes. Hieroor spreek die Bybel hom gereeld uit, maar dit is dikwels vir ons ’n ongemaklike onderwerp. Dalk omdat ons onkundig is of dalk omdat die probleem vir ons te groot voorkom. Dalk is ons te gemaksugtig?

Armoedeverligting behels meer as jou tiende aan die kerk gee. Ook is jy nie besig met armoedeverligting wanneer jy R5 vir ’n bedelaar op straat te gee nie.

Die pad van opheffing loop van ARMOEDE deur ARBEIDER en SOSIALE BYSTAND na SELFRESPEK. En daar is nie kitsoplossings nie.

Volkseie arbeid is iets wat al jare bespreek en deur baie bevorder word. Goeie redes hiervoor is natuurlik veiligheid (veral op plase) en in Orania se geval die demografiese vestiging van ’n meerderheid in ’n beplande volkstaatgebied. Ons Christelike verantwoordelikheid is egter ’n veel groter rede.

In die onstabiliteit wat ons tans in Suid-Afrika beleef is dit hoogtyd dat ons afsien van ons eeue oue verknogtheid aan goedkoop swart arbeid.

Ons moet besef dat ons internasionaal nie die reël is nie, maar die uitsondering. In Duitsland doen gewone Duitsers die fabriekswerk. In Amerika bou gewone Amerikaners die MacDonalds hamburgers in die kombuis. In Frankryk is dit gewone Franse wat die plase bewerk. In Nederland is dit gewone Nederlanders wat in die huise en tuine werk. Daar word op niemand neergesien nie en die mense wat hierdie werk doen voel ook nie minderwaardig nie. Daar is nie iets soos ’n swart man se werk nie!

Ons kan nie nou die gevolgtrekking maak dat die fout net by die armes is, wat te sleg is om te werk nie. Ja, daar is sulke gevalle, maar die meerderheid middelklas Afrikaners het oor geslagte heen aangeleer om neer te sien op ’n sogenaamde “arbeidersklas”

Die uitdaging is dus tweeledig.

  • Eerstens om van verarmde Afrikaners trotse arbeiders te maak wat met selfrespek arbeid kan verrig sonder om te voel dis minder waardig as om te bedel langs die pad.
  • Tweedens om werkgewers te leer dat Afrikaner arbeid menswaardig behandel moet word. Anders as wat die eeue oue gewoonte is met swart arbeid wat as minderwaardig beskou is.

Dit is ’n delikate proses om hierdie verhouding reg te ontwikkel, omdat beide partye eintlik ’n nuwe wêreld betree. Al is dit wêreldwyd die norm is ons nie gewoond daaraan nie.

Werklike opheffing is ook nie net om iemand aan te stel en ’n billike salaris te betaal nie. Selfs groter as die finansiële opheffing is ons SOSIALE verantwoordelikheid. Die dae van ’n Zoeloevrou in die kombuis wat skoonmaak, kosmaak en kinders grootmaak sonder dat ons eens weet hoe haar kinders lyk is verby.

Barmhartigheid is dus persoonlike begeleiding. Die hartseer is dat ons deur dekades heen ons armes so verwaarloos het dat baie in ’n kultuur van armoede verval het. Dwelm- en drankmisbruik word van een geslag na die volgende oorgedra. Gesonde finansiële bestuur is dikwels totaal afwesig en die belangrikheid van goeie opvoeding en skoolopleiding word nie besef nie.

Wysheid is, soos ons in die Bybel leer, om te weet hoe om God se wil op aarde uit te voer. Ons het wyse werkgewers nodig wat deur middel van verantwoordelike barmhartigheid en geregtigheid opheffingswerk deur volkseie arbeid verrig.

Opsommend: Opheffing van verarmde Afrikaners is nie net belangrik vir die voortbestaan van die Afrikanervolk nie. Dis ook nie net ’n manier om onsself te beveilig teen die regering en die moordbendes wat Suid-Afrika, ons buurte en ons plase regeer nie. Dit is ’n Christelike plig.

Daar is nie meer tyd vir filosofeerr en vergaderings hou sonder uitvoering nie. Dit het tyd geword dat elke Afrikaner wat nog ’n liefde vir sy God en volk het die daad by die woord sal voeg. Stel Afrikaners aan as werkers op ons plase, by ons huise, by ons besighede en in ons fabrieke. Betaal die arbeider wat hy werd is soos die Bybel ons leer. Lewer die nodige sosiale bystand en doen die opheffingswerk waar nodig. Doen dit met ’n ferm hand maar ook met geduld en liefde.

So red ons, as die Here wil, nie net ons volk nie, maar werk ons ook as werktuie in die hand van God om die swakkes en behoeftiges te red uit die hand van die goddelose.