brilEk deel ‘n huis met ‘n paar ou koshuismaats.
My meisie vra my nou die dag wat dink een van hulle en ek gee sommer vir hom die foon om self per teks te antwoord. Soos dit maar soms gebeur as koshuismaats ‘n pinkie gegee word, ontvang ek toe my foon die volgende oggend terug na hy met haar gesprek gevoer het as “ek”.
Die situasie hou vir my ‘n klomp lesse in.
1) Ek het heelwat insig gekry in wat die idee is wat ek uitstraal

Ek dink ek het meer geleer oor wie hy dink ek is in die boodskappe wat hy gestuur het toe hy soos ek probeer skryf het, as wat ek sou leer as ons vir dae aaneen in diep gesprekke was. Die tipe taalgebruik, die frases wat ek dikwels gebruik wat hom opgeval het, die onderwerpe wat hy aangeraak het… Alles aan die gesprek het ‘n beeld vir my geskets van wie hy dink ek is. As sodanig het ek myself leer ken.

 

2) Kontra-intuïtief was dit nie ek wat blootgelê is nie maar hy

As jy iemand anders probeer wees en daardie iemand anders lees hoe jy hulle speel, dan val die filters weg. Ek het uitgevind wie hy is. Op ‘n heeltemal ander vlak as wat ek sou as ons met mekaar gepraat het.

Wanneer ek wegstroop wat ek weet my persoonlikheid is, bly daar net oor wie hy dink ek is, en wie hyself is. Plato het hierdie gedagte verwoord toe hy gesê het jy kan meer van iemand uitvind deur ‘n uur te speel as in ‘n jaar se gesprekke. Hierdie spesifieke speletjie is een wat fokus op wie hy dink ek is. Daarom is ek in ‘n onregverdige magsposisie om hom te ontleed. Daar is groot dele van hoe ons ‘n rol speel wat maar bloot onsself is.
3) ‘n Mens sluit jouself af vir antwoorde oor mense omdat jy dink dat jy hulle ken

Ek het dinge oor my meisie agtergekom wat ek gedink het ek weet. Daar is dinge wat ek nou al goeie raaie oor gemaak het, so ek vra nie meer nie.
Maar die pêl weet nie, so hy vra. En haar antwoorde was ‘n goudmyn. Naby aan my verwagting in die meeste gevalle en tog nie. Ek het so sterk begin oplet wat ek verwag dat haar ware antwoorde my op plekke verras het.

 

4) Eerste indrukke is verskriklik belangrik

As die vrae wat ek vra dan so beïnvloed word deur wat ek dink ek weet, is dit waarskynlik van almal waar. Elke feit wat jy oor iemand leer ken word gefilter deur die vorige kennis wat jy van daardie persoon het. Die enigste ongefilterde kennis is die eerste interaksie. Daarom is dit belangriker as enige ander enkele interaksie.

 

5) Niemand kan lank voorgee nie

In weerwil van punt 4, kan niemand vir ‘n aand lank voorgee om iemand te wees wat hy of sy nie is nie. Nie as die mens met wie jy praat die een ken wat jy naboots nie. Na ‘n paar minute van iemand anders wees verval ons in ons eie gewoontes. Dan word die vermomming deursigtig. Sy’t hom redelik vinnig uitgewerk.
Ons is in veel groter gevaar by diegene wat ons goed ken as by onbekendes daar ver.
6) Die vrug van openheid is veel groter as die risiko

Ek het ‘n risiko geneem toe ek die foon oorhandig het. Hy het hom immers ‘n hele aand lank gehou! Maar hy het ook ‘n kans gewaag om ek te wil wees, so natuurlik was hy net so versigtig soos ek.
Hy kon ook nie eintlik skade maak nie – die mens met wie hy praat ken my darem! Die feit dat daar dinge oor my is wat bekend is, beteken hy sou heelwat teenkanting gekry het as hy iets ongelooflik gesê het.
Die vrug was iets waarna CS Lewis verwys het ná sy vriend Charles Williams, se dood wat sy verhouding met ‘n ander vriend, Ronald Tolkien skade aangedoen het. Daar is dele van mense wat jy nie te voorskyn kan bring nie. Ek het eerstehands beleef dat dele van onsself nie bestaan tot ‘n ander persoon dit ontlok nie. Daar is dele van die mense om jou wat jy nie kan ontlok nie – iemand anders moet dit doen.

Wat het al hierdie punte met enigiemand wat nie ekself is nie te doen?  Elke punt wat ek hier maak oor persone kan ook direk oorgedra word op plekke, gemeenskappe en groepe. Daarom dink ek strategies vir Orania soos volg:

1) Dis noodsaaklik dat jy gaan kyk wie dink ander is jy. Jy móét lees wat dink die Citizen van Orania. Jy móét sien wat dink Praag. Jy moet baie fyn gaan kyk hoe reageer die ANC op Orania en wat dink Cosatu in die mate as hulle enigsins aan ons dink. My siening is dat hulle nie minder kan omgee oor ‘n ou in die Karoo as daardie ou nie ook ‘n mynbaas of bestuurder van ‘n groot maatskappy is nie. Die beeld wat ‘n plek uitstraal vir ‘n Numsa word nie in persverklarings gelees nie. As jy nie in ‘n optog is nie, let hulle jou nie op nie. Wat beide goed en sleg is.

‘n Mens moet sien of wat jy kommunikeer gehoor word. As ‘n deel gehoor is en die res nie, hoef jy nie volgende keer daardie deel te laat fokus dra nie. Kyk wat is gehoor. Die omgewingsbewustheid van die dorp is vir my ‘n goeie voorbeeld van iets wat dit selde tot in buitestaanders se persepsies maak.

As jy sien wat ander van jou dink ontsluit dit soms dinge oor jouself wat waar is, maar waarvoor jy blind was. Hierdie blindekolle kan’n mens seermaak as jy optree sonder daardie kennis, daarom wil jy hulle so klein moontlik maak. Dit was dus vir my baie waardevol om te lees wat dink ‘n ou in Europa oor ons interaksie met Europa (http://opinieplatform.co.za/2014/06/08/orania-se-internasionale-politiek-kan-anders/). Ek weet te min oor die interne politiek in Europa om die volle meriete te weeg, maar die opinie was waardevol.

2) Dit mag dalk goed wees om te vra wat ander groepe dink jou motiewe is. Gaan luister hoe dink ‘n Malema of ‘n Stephen Groottes oor mense wat hulleself gaan afsonder het tussen mense soos hulle. Nie om te gaan weerlê nie. Nie om ‘n bakleiery te gaan soek oor hulle jou wanvoorstel nie. Gaan luister wat dink hulle. Gaan vra wat maak dat hulle so dink.

En leer daaruit! Jy gaan omtrent ewe veel oor hulle leer as oor jouself. Ons ken immers die storie van Orania. Watter dele hulle dus vir hulleself gaan uitkies het, wys vir ons soveel wie hulle is as wat dit wys wie ons is.

Beter kennis oor wie die ander spelers op die bord is kan tot onverwagse vennootskappe lei. Mnyameni is ’n goeie voorbeeld. Hier moet ons bereid wees om ‘n paar onakkurate voorstellings van onsself te trotseer. Gaan voorbereid in die gesprek in met die volwassenheid om nie opgeruk te raak daaroor nie.

3) Kom ons maak nie of ons weet wat die motiewe van ‘n “derde mag” of ‘n “hulle” of “die kragte van vandag” of watter ongedefinieerde vae “vyand” is nie. My belewenis was tot dusver eenduidig dat niemand die tyd of energie het om ander se ondergang te beplan nie. Jy beplan vir jou eie voordeel.

Alle vooordele wat enige sogenaamde “vyandige” uit ‘n vernietiging van die Afrikaner kon kry het hulle reeds daarin dat daar nie ‘n Afrikaner aan die hoof van enige regeringsdepartement is nie. Hulle hoef ons nie te vernietig nie en het nie die doelwit nie. Optrede uit ‘n agterdogtige voorveronderstelling dat iemand TEEN ons is, lei tot ‘n versterking van alle teenkanting wat wel bestaan en dit kos ons vriende.

Maar soos ek sê: ek weet ook nie alles nie. ‘n Leergierige gees gaan niemand skade doen nie. Gewoonlik is die grootste struikelblok van kennis nie die nuwe goed wat ons moet leer nie, maar die gesukkel om iemand te leer wat dink hulle weet reeds. Dis nie goed as jy daardie rol vir jouself uitkies om te speel nie.

4) Eerste indrukke. Die Afrikaner het al van die Afrikaner-Nasionalisme (minstens) ‘n groot trots daarin dat hy nie sy beeld poets nie. Ek is soos ek is en jy kan daarvan hou of nie. Dan verras dit dikwels ‘n buitestaander om uit te vind jy is nie net ‘n harde volk wat wil baasspeel nie. Jy kan eintlik vriende maak en gasvry wees en jou kos is ongewoon, maar tog lekker. Kom ons maak dit nie ‘n verrassing dat ons aangenaam kan wees nie!

Ek lees by herhaling of voer gesprekke met swart vriende (en ook liberale vriende) wat uitspreek dat hulle oortuig is hulle sal nie welkom wees in Orania nie. Dis onwaar maar die eerste indruk wat ‘n opskrif “Whites Only”-town maak, is dat jy nie welkom sal wees nie. Alle teenvoorbeelde ten spyt, hou hierdie persepsie water. Ek dink ‘n uitnodiging om te kom kyk en te kom ondersoek of ons iewers ‘n weermag opbou moenie wag tot iemand weer hulle onkunde uitstal nie. Moenie ‘n “haai, kom kyk” spaar vir wanneer iemand nou klaar gesê het ons dink ons is beter as hulle en “mense wat soos ons dink” is die gif in die pragtige land nie.

Daardie uitnodigings moet proaktief wees. Daar is pas ‘n nuwe kabinet aangestel – nooi hulle. Dalk kom een, dalk twee, dalk almal, dalk niemand. As hulle egter oor drie of vier jaar skielik die jeuk kry om te gaan kyk of Orania verkramp is, kan hulle ‘n vriend naby hê om te vra of jy kan verwys na die oop uitnodiging en bevestig dat hy nog staan.

5) Wie jy is, gaan wys. Hiervoor is dit belangrik om duidelikheid te hê oor wie jy is. En Orania is nie ‘n “nie so en so” nie. Orania het ‘n positiewe standpunt VIR Afrikaans en die Afrikaner. Moenie dit verwar met ‘n “kwaad vir” of ‘n “darem nie”-posisie nie.

6) ‘n Mens vat ‘n kans elke keer wat jy toelaat dat iemand oor jou iets sê. Elke joernalis wat kom kuier en teruggaan en iets skryf, is ‘n risiko. Elke video oor hoe mense ‘n bestaan wil maak in Orania, is ‘n kans wat jy vat.

Maar as ek nou Paul McNally se artikel lees en ek sien hoe hy sy wese instort in ‘n spotboodskap en ek lees die kommentaar onderaan, dan moet ek die gevolgtrekking maak dat selfs die negatiefste publisiteit niemand oortuig wat hulle oë oop het nie. Die skrywer moes maar self inspring, anders was al die reaksies dat hy uitgelag word – selfs jare later. So, die kans wat jy vat is veel kleiner as wat dit voorkom.

Daar is reeds heelwat kennis in die wêreld van waarvoor hierdie dorp staan. Groot dele van die motiewe van die mense wat Orania gestig het en onderhou is algemeen bekend. Enigeen wat ver hiervan wil afwyk, gaan vir hom teenkanting op die hals haal.

Blog Single

Met ander oë

by | Jun 13, 2014 | Nuus | 2 comments

2 Comments

  1. Simon

    Skerp insig en interessante perspektief.

    Reply
  2. Hester

    Ek verstom my dikwels dat mense (meestal) ‘n opinie oor Orania het, ongeag hoeveel hulle van die dorp af weet. En dan verstom ek my nog meer dat mense Orania die moeite werd ag om ‘n opinie oor te hê… Dit sê al klaar iets van Orania.

    Henri, ek hou van jou voorstel om die nuwe kabinet hierheen uit te nooi – dit sal ons binne hulle verwysingsraamwerk plaas.

    In Orania leef ons die droom!

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

six + 18 =