by Jaco Kleynhans | Aug 26, 2014 | Nuus |
Gedurende September vanjaar sal die “Toekoms Simfonie-instituut” in Baltimore in the VSA gestig word. Volgens Andrew Balio stigter van die instituut is die doel van die instituut om ‘n Renaissance van die simfonie-orkes mee te bring. Balio sien vandag ‘n moderne wêreld wat toenemend arm aan hoër kultuurfunksies is. In die Westerse wêreld is daar vandag ‘n totale verval van hoërkultuur. Musiek, kuns en literatuur vervlak voortdurend en mense se vermoë om hul eie taal keurig aan te wend bestaan in baie gevalle nie meer nie.
Vir die Afrikaner is die dae van NP van Wyk Louw, Miemie Coertse, Totius en ons verskeie simfonie-orkeste en kore bykans iets van die verlede. Ons musiek, literatuur en kuns het begin vervlak.
Balio vergelyk hierdie kulturele verval in die Weste in ‘n onlangse artikel met die vader van die veertiende-eeuse Italiaanse Renaissance, Francesco Petrarca, se belewenis van Rome in 1341. Petrarca ervaar die kulturele verval in Rome intens en is diep bekommerd oor die kulturele tradisie wat voor sy oë verdwyn. Hy skryf: “Hierdie tyd van ons het gevolglik bietjie vir bietjie van die rykste en soetste vrugte wat die boom van die kennis opgelewer het, laat wegval. Dit het die resultate van die arbeid van die mees roemryke manne, werke groter en beter as byna enigiets anders in die wêreld, weggegooi.” Petrarca is stomgeslaan oor die wyse waarop mense hul rug op hul ryk kultuurskatte gedraai het.
Hy beskou hierdie laagtepunt egter nie as finaal nie, maar eerder as ‘n geleentheid om ‘n nuwe visie te ontwikkel. Patrarca beskryf sy visie vir iets nuut en groot terwyl hy aanskou hoe Rome verval en hoe oorlog, hongersnood, burgerlike opstande, epidemies en ekonomiese agteruitgang die eens magtige ryk laat wegkrummel.
Hy skryf oor sy visie vir ‘n Italiaanse Renaissance: “Iemand kan sê: “Wat is dit alles, my vriend? Het jy besluit om ‘n gewoonte wat met inherente probleme oorlaai is en wat lankal in onbruik geraak het, te laat herleef en dit in die gesig van ‘n vyandige en weerspannige lotsbestemming? Waar sien jy die tekens van vertroue dat jy die Romeinse hoofstad met ‘n nuwe en ongewone lourierkrans sal wil versier? “Ja, ek sien, o my liewe menere; Ek sien inderdaad dit, o Romeinse burgers. Die intensiteit van my verlange is so groot dat dit my voldoende in staat stel om al die uitdagings van my taak te oorkom.”
Die vraag wat Balio vra is of ons vandag moet aanvaar dat ons konsertsale in die toekoms leeg en vervalle sal wees. Sal ons digbundels op die brandstapels beland? Sal ons kuns in kelders stof vergaar? Of sal ons vanuit hierdie kulturele laagtepunt die inspirasie kry om ‘n Renaissance te bewerkstellig? Francesco Petrarca het ‘n groot gees in die Italiaanse geskiedenis geword omdat hy kultuurherlewing kon bedink en inspireer.
Ons moet almal hoop dat Balia en sy “Toekoms Simfonie-Instituut” ‘n herlewing van die simfonie sal bewerkstellig. Ook as Afrikaners moet ons bly smag na ‘n herlewing van ons kultuur en tradisies.
by Jaco Kleynhans | Aug 19, 2014 | Nuus |
Die verval van die tradisionele media, veral koerante, in Suid-Afrika is welbekend. Rapport verkoop deesdae minder as 200 000 koerante terwyl die koerant nog ‘n paar jaar gelede met verkope bo 300 000 kon spog. Op ‘n Saterdag koop minder as 60 000 mense Beeld. Nie lank gelede nie was dit meer as 100 000.
Die afgelope paar jaar moes die tradisionele gedrukte media heelwat personeel aflê, bylaes is gestaak en verspreiding is selfs in sommige gebiede opgeskort. Die kapasiteit om gespesialiseerde nuus en veral indiepte-ondersoeke te publiseer het begin kwyn.
Voorheen het koerante sukses behaal omdat hulle ‘n uiters geloofwaardige bron van nuus was. Die publiek het groot waardering gehad vir die wyse waarop koerante misdade kon oopvlek. Waar die nuus op radio en televisie oor slegs die heel belangrikste sake kon berig het koerante ‘n wye reeks temas gedek en so die leser ‘n wye hoek op die nuusgebeure gegee. Koerante het egter hul geloofwaardigheid verloor.
Sensasie was nog altyd deel van die media, maar dit was nie die dryfveer agter sirkulasie nie. Koerante het goeie verkope gehad omdat hulle aan mense se behoefte om nuus oor ‘n wye reeks kwessies te kry, voldoen het. Die meeste spesialisjoernaliste het die afgelope paar jaar koerante verlaat. Nuuskantore word toenemend beset onervare jong joernaliste wat pas uit die universiteit of kollege kom en wat meestal met bitter min spesialiskennis oor spesialisonderwerke moet berig.
Byna alle koerante in Suid-Afrika toon dalende sirkulasiesyfers en die mense aan die stuur van hierdie koerante beskik nie almal oor die vermoë om dit te keer nie. Dit is waar sensasionele beriggewing inkom. Sensasie het die waslap geword waarmee die onervare redakteurs en joernaliste die gat in die lekkende bad probeer toestop. Vanjaar het ons die sensasionele beriggewing deur Beeld oor die kamstige Nazi-kultuur by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit gesien. Nadat die stof gaan lê het weet ons almal dat daar geen Nazi-kultuur by die PUK is nie. Beeld het egter groot gegaan met ‘n storie deur ‘n onervare joernalis sonder om gefokuste indiepte-navorsing te doen. ‘n Sensasionele voorbladberig moes die sirkulasieverlies tydelik probeer stuit.
Meer onlangs het Beeld ‘n kontroversie probeer skep nadat Steve Hofmeyr by die Innibosfees Die Stem gesing het. Steve sing egter lankal by geleenthede Die Stem. Ander Afrikaanse kunstenaars soos Pieter Smith doen dit al vir jare. Die feit dat Steve Die Stem gesing het, was definitief nie voorbladnuus nie, maar Beeld het deur sensasionele beriggewing weer ‘n tydelike oplossing vir dalende sirkulasiesyfers probeer skep.
Verlede Sondag doen Rapport dieselfde deur ‘n opebrief waarin Dirk Hermann van Solidariteit oor sy stryd teen regstellende aksie aangevat word, te publiseer. Die opebrief beweer dat daar nie iets soos blanke werkloosheid in Suid-Afrika bestaan nie. Die opebrief lewer geen bydrae tot gesaghebbende nuusberiggewing nie en is op vermoedens eerder as ordentlike navorsing gebaseer. Tog word dit met lokflitse op die voorblad geadverteer. Alles in die hoop dat die duisende Solidariteit-lede wat lankal nie meer Rapport koop nie, dit weer eenmaal sal doen. Nog ‘n desperate poging om die gat in die bad toe te stop. Die gat in die bad sal net toebly wanneer koerante hul sensasionele berriggewing bietjie los en weer op geloofwaardige verslaggewing fokus.
by Sebastiaan Biehl | Aug 18, 2014 | Nuus |
Die regerende eerste minister, mnr Recep Tayyip Erdogan, het sopas die presidentsverkiesing in die eerste ronde met 52% van die stemme gewen. Die ander kandidate, die gematigde Ekmeleddin Ihsanoglu, wat die sekulêre opposisie verteenwoordig, alhoewel hy self ‘n gelowige Moslem is, het 38% van die stemme op hom verenig en die linksgesinde Koerd, Selahattin Demirkas, het 10% van die stemme gekry. Talle teenstanders van mnr Erdogan het egter verkies om weg te bly van die stembus en die stempersentasie was relatief laag. Die huidige president, mnr Abdullah Gül, het hom nie meer verkiesbaar gestel nie om plek te maak vir sy partyleier mnr Erdogan. Die direkte verkiesing van die president deur die bevolking, iets wat ongewoon is vir ‘n seremoniële hoof, is in 2007 deur ‘n referendum wat mnr Erdogan geïnisieer het, moontlik gemaak. Mnr Gül, ‘n partygenoot van mnr Erdogan, was toe die eerste direk verkose president van Turkye.
Mnr Erdogan was 11 jaar (3 termyne) eerste minister en kon volgens die Turkse grondwet nie nog ‘n keer staan nie. Om egter nog steeds mag te behou het hy gestaan vir president. Die president in Turkye is veral ‘n seremoniële hoof en die ware mag lê by die eerste minister. Die magte van die president is egter vaag omskryf en die grondwet laat speling vir die president toe om meer aktief op te tree. Mnr Erdogan het reeds aangekondig dat hy sy mag as president maksimaal sal gebruik en die groot oorwinning wat hy behaal het, bevestig ook dat die meerderheid van die bevolking daarmee tevrede is. Hy het ook aangekondig dat hy beoog om nog baie jare te regeer en dat hy die bevoegdhede van die presidentsamp wil verhoog en ‘n grondwetverandering daaroor wil laat aanbring om Turkye se politieke stelsel van die huidige parlementêre na ‘n presidiale stelsel te verander.
Mnr Erdogan was ‘n uiters suksesvolle eerste minister, maar is ook omstrede en word van ondemokratiese optrede beskuldig. Onder mnr Erdogan se bewind het Turkye ekonomies geweldig vooruitgegaan en is armoede en ongelykhede verlig. Mnr Erdogan en sy party, die konserwatief-godsdienstige AKP, het vir die afgelope dekade Turkye in ‘n ander rigting gelei, weg van die Westerse uitkyk na ‘n orientering na die Midde-Ooste en die Moslemwêreld. Die land het uiterlik gemoderniseer as dit kom by infrastruktuur en voorkoms, maar het innerlik meer konserwatief geraak. Die ou sekulêre verwesterde elite uit veral die grootste stad Istanbul, is uitgeskuif en ‘n meer konserwatiewe en godsdienstige elite het begin vorm aanneem. Die mense van Anatolië, Turkye se sentrale en armer deel, is die groot ondersteuners van mnr Erdogan, want hy gee vir hulle trots en selfvertroue. Hulle sien mnr Erdogan as waarborg vir voorspoed en stabiliteit en vergewe hom graag sy outoritêre optrede. Daar is egter ook heelwat kritiek teen mnr Erdogan se outokratiese regeringstyl, korrupsieskandale wat onder die mat ingevee is, sy onverdraagsaamheid teenoor kritiese stemme en sy pogings om die media aan bande te lê. Verlede jaar is protesoptogte teen die vernietiging van ‘n stadspark in Istanbul hardhandig onderdruk.
Dit is die verklaarde doel van die nuwe president om ‘n nuwe Turkye te skep en dit wat hy reeds begin het, te voltooi. Hy wil weg beweeg van die ander groot leier van die 20ste eeu se Turkye, Kemal Atatuerk, se ideaal van ‘n sekulêre en Westerse Turkye na ‘n land wat sy Islamerfenis vertroetel en sy plek in die Midde-Ooste het, verkieslik as ‘n streeksmoondheid.
Mnr Erdogan het nogal baie ooreenkomste met mnr Wladimir Putin van Rusland. Ook mnr Putin is ‘n outokratiese leier wat hom as geroepene sien om sy land tot nuwe glorie te lei. Mnr Putin het eweneens na twee termyne as president die posisie van eerste minster opgeneem om aan die grondwetlike vereistes te voldoen, maar was in praktyk president en het na ‘n termyn as eerste minister weer president geword. In Rusland is die magsorde andersom, die president het die meeste mag, nie die eerste minister nie.
Agtergrond: Die parlementêre teenoor die presidiale stelsel.
In demokrasieë is daar breedweg twee stelsels, die parlementêre een en die presidiale een.
In die parlementêre stelsel kies die burgers die parlementslede en die parlement kies ‘n eerste minister of kanselier uit hulle geledere en kan so ‘n persoon ook weer ontsetel word, wat egter selde gebeur. Die eerste minister het uitvoerende gesag, maar die mag lê by die parlement. Die termyne van parlement en eerste minister is gelyklopend. Gewoonlik is ‘n seremoniële hoof, óf ‘n koning óf ‘n president, nominaal bo die eerste minister geplaas, maar het geen uitvoerende gesag nie. Lande wat die parlementêre stelsel het is onder andere Groot-Brittanje, Duitsland, Nederland, Spanje, Swede, Italië en Oostenryk. Suid-Afrika het so ‘n stelsel gehad tot 1984, en het sedertdien ‘n presidiale stelsel.
In die presidiale stelsel bestaan wel ook ‘n parlement, maar die meeste mag is by die president gesetel. Die president word gewoonlik direk deur die bevolking verkies en sy gesag kom dus nie van die parlement nie, maar direk van die bevolking. Die president en die parlement kan mekaar in sekere gevalle wedersyds aan bande lê, veral as die president aan ‘n ander party behoort as die meerderheid van die parlement. Die termyne van die president en die parlement is dikwels nie gelyklopend nie. Die posisie van ‘n premier, of eerste minister, bestaan in sommige gevalle wel, maar dié posisie is ondergeskik aan die president, nominaal en wat gesag betref. Voorbeelde van die presidiale stelsel is die VSA, Frankryk, Rusland en die meeste Latyn-Amerikaanse lande.
by Sebastiaan Biehl | Aug 13, 2014 | Nuus |
Sjina het ‘n stelsel wat mense klassifiseer volgens hulle afkoms van die stad of die platteland, die sogenaamde hukou-stelsel. Daarvolgens word aan mense sekere vergunnings toegedeel, maar ook teen hulle gediskrimineer. Die stelsel is in die hoogtyd van kommunisme onder Mao Tse-Tung in 1958 ingestel.
Die hoofdoel daarvan was en is om verstedeliking te beheer. Stedelinge wat reeds daar gevestig was, het voorkeurbehandeling gekry ten opsigte van toegang tot skole, universiteite, werk en medies. Mense uit die platteland is in die stede soos tydelike trekarbeiders behandel en het gesukkel om ‘n goed betaalde werk te kry. Die idee was om hulle aan te moedig om weer terug te keer na die platteland as hulle hulle werk gedoen het. As ‘n voordeel vir die plattelanders was daar ‘n stuk grond wat die staat aan hulle beskikbaar gestel het as ‘n soort bruikleen en wat hulle aan hulle plattelandse dorp sou bind.
Die hukou-stelsel bepaal dat mense se afkoms in hulle ID-boeke vermeld word en dus teen Sjinese van die platteland opgetree kan word soos teen tydelike gasarbeiders in ander lande. Die stelsel is in die 1980’s hervorm, toe Sjina se ekonomiese opbloei begin het en groot getalle werkers in die stede nodig was. Die stedelinge het egter daarop aangedring dat hulle nog steeds voorkeurbehandeling kry as dit gaan oor toegang tot sekere geriewe. Selfs mense wat in stede gebore is, maar kinders van plattelandse immigrante is, word nog as plattelanders geklassifiseer. Die hukou-status van plattelander na stedeling kan wel verander word, maar dit is ‘n moeilike proses. In Sjina is daar blykbaar nog steeds ‘n onderliggende klasseverdeling, met gevestigde stedelinge wat hulle as meerderwaardig teenoor die plattelanders beskou en nie graag met hulle meng nie. Plattelandse migrante word ook as bron van misdaad en swak higiëniese toestande gesien, ‘n beskuldiging wat nie heeltemal ongegrond is nie. Die stelsel is veral streng toegepas in megastede soos Sjanghai en Beijing, wat groot getalle mense trek en wat oor hoogstaande geriewe beskik.
Die hukou-stelsel is deur sommige meningsvormers vergelyk met die instromingsbeheerstelsel tydens apartheid in Suid-Afrika. Tydens die apartheidera het swartes wat al lank in die stede gevestig was, sekere voorregte gekry wat nie vir die swartmense wat uit die platteland afkomstig was, gegeld het nie. Die idee was om die ongekontroleerde verstedeliking en die vorming van krotbuurte te voorkom en om mense aan te moedig om hulle langtermyntoekoms eerder in die platteland te bou.
Die argument vir die hukou-stelsel is dat Sjina verstedeliking beter kon beheer as byvoorbeeld Indië en dat krotbuurte rondom die stede baie kleiner is en beter lyk as in Indië of ander ontwikkelende lande wat geen instromingsbeheer het nie.
Die hukou-stelsel word nie net eensklaps afgeskaf nie, maar groot getalle stedelikke migrante sal stedelike status ontvang, wat egter nog steeds aan ‘n paar voorwaardes soos ‘n vaste werk en blyplek gekoppel is. Dit herinner weereens aan die geleidelike versagting van instromingsbeheer in Suid-Afrika.
Die beoogde afskaffing van die hukou-stelsel het egter gemengde reaksie ontlok. Soos verwag kon word, hou stedelinge nie daarvan dat hulle voorkeurbehandeling iets van die verlede gaan wees nie. Daar is egter ook ‘n hele paar plattelanders wat die voordele van die stelsel sien, naamlik ‘n stuk grond waarheen hulle kan terugkeer en wat in tye van voedselskaarste en duur grondpryse ‘n bate is. Ten minste wil hulle die reg hê om die grond te verkoop as hulle stad toe trek en dit nie net eenvoudig verloor nie.
Saam met die hukou-stelsel, wat sy oorsprong in kommunistiese reglementering het, is ook die bekende een-kind-stelsel besig om geleidelik uit te faseer. In albei gevalle weeg menseregte en individuele vryhede, waarvan Sjina baie min gehad het in sy geskiedenis, swaarder as die voordele vir die samelewing as geheel, dit wil sê om oorbevolking en stedelike ellende te bekamp.
by Sebastiaan Biehl | Aug 8, 2014 | Nuus |
Een van die standaardvrae wat elke joernalis en menige besoekers aan Orania vra, soms uit egte belangstelling, maar meesal om ons uit te lok, is: “Mag ‘n Swarte/Bruine/Sjinees/Indiër/Engelssprekende ook hier bly?” Die geïmpliseerde vraag is: “Hoe kan julle dit waag om teen mense te diskrimineer op grond van hulle velkleur of etnisiteit?”
Nou goed, vir diegene wat dit nog nie weet nie: nêrens in Orania se grondwet of in sy keuringsdokumente word enige melding van velkleur gemaak, of enige uiterlike kenmerke gestel waaraan voornemende inwoners moet voldoen nie. Vir links-liberales is onderskeid, dus diskriminasie, mos die oersonde. Toegegee, diskriminasie wat mense te na kom is nie iets wat ‘n mens wil of kan verdedig nie.
Orania is ‘n gemeenskap wat deur assosiasie ontstaan het. Nuwe inkomers moet uit die aard van die saak inpas by die bestaande gemeenskap, wat oor die jare gevorm is deur mense wat hulle met die strewe van Orania kon vereenselwig, en wat die eise wat dit stel mee kon volhou. Die houding van die gemeenskap is dat almal wat met Orania wil vereenselwig, ‘n kans gegun word, maar dat die tyd sal leer of daardie aanvanklike voorneme ernstig bedoel was of nie.
Orania se bevolking word gekenmerk as Afrikaanssprekend, Christelik en wit. Daar is enkeles wat van huis af nie Afrikaanssprekend is nie, maar wat wel Afrikaans in die openbaar praat. Ander mag slegs nominaal Christene wees en dit nie werklik uitleef nie, maar dit bly elke person se eie verantwoordelikheid en sy eie gewete moet daaroor oordeel.
Om wit te wees in die nuwe Suid-Afrika is ‘n Kainsmerk en iets wat veral deur links-liberales as smet gesien word. Dit is wel iets wat jy nie kan verander nie, jy word so gebore, al verwens jy jouself en jou ouers daarvoor. Jou geloof, jou taal en jou kultuur kan jy wel met veel moeite verander, nie jou velkleur nie. Op iets wat aangebore, is hoef jy egter nóg trots te wees, nóg skaam voor te voel. Dis hoe en wie jy is. En dit is eenmaal so dat mense wat hulle Afrikaners noem, en deur ander as sulke beskou word, in hulle oorgrote meerderheid wit is.
Die feit dat diegene wat hulle met Orania se strewe vereenselwig en hulle Afrikaners noem onder andere ook wit is, is ‘n kenmerk van vele, beslis niks wat ons beter maak nie, maar ook beslis niks om oor skaam te wees en verskoning voor te maak nie.
Moet almal wat in Orania woon dus wit wees? vra ons links-liberale besoekers. Ons is ‘n Afrikanerdorp, en alhoewel nie alle Afrikaners wit hoef te wees nie, is daar tog ‘n duidelike korrelasie. Nie alle swane is wit nie, maar by verre die meeste. En as jy ‘n swaan beskryf, sal jy nie net noem dat hy vere en ‘n lang nek het en op water dryf nie, maar ook dat hy gewoonlik wit is.
Die gemeenskap het dus sy eienskappe vasgestel en wil dit graag so handhaaf, want dit verseker harmonie en wedersydse begrip. Soos wat die dorp groter raak, sal daar wel enkeles wees wat nie meer aan die drie hoofeienskappe voldoen nie, maar dit sal die uitsondering wees.
Onlangs was daar ‘n artikel in die Volksblad oor ‘n seun op die Vrystaatse platteland wat van Taiwanese afkoms is, en wat in elke opsig ‘n Afrikaner is, behalwe vir sy voorkoms. Hy doen alles wat die tipiese Afrikanerseun in die Vrystaatse platteland, waar hy opgegroei het, ook doen: hy praat Afrikaans, speel rugby, drink graag brandewyn en coke, luister na Afrikaanse musiek, hou van pap en braaivleis, ens.
As die seun in Orania wil bly, sal hy toegelaat word? Ja natuurlik, ek kan aan geen rede dink hoekom nie. Maar dit bly ‘n uiterste uitsondering, anders was dit nie ‘n hele blad koerantartikel met verwysing op die voorblad werd nie. Omdat daar een Sjinees is wat ‘n Afrikaner geword het en in Orania sou kon tuisvoel, beteken dit egter nie dat alle Sjinese in Orania sal aanpas nie. Dieselfde geld vir die ‘n Swarte wat om watter rede ook al ‘n Afrikaner geword het. Dit is egter uiters selde dat lede van ‘n dominante meerderheid hulle by die gemarginaliseerde minderheid aansluit. Die Taiwanese seun het as lid van ‘n absolute minderheid by die taamlik prominente en in getalle heelwat groter Afrikaner-minderheid aangesluit, omdat hy in ‘n plattelandse Afrikaanse omgewing grootgeword het. In ‘n multi-kulturele opset soos in Johannesburg sou dit waarskynlik nie die geval gewees het nie en hy sou deel van die Engelssprekende, geglobaliseerde hoofstroom geword het. Om die rede bly dit ook ‘n teoretiese moontlikheid dat juis ‘n Swarte as lid van die bevolkingsgroep wat Suid-Afrika in elke opsig beheer en alle magsmiddele tot hulle beskikking het, juis by ‘n gemarginaliseerde groep wat alles van vooraf moet opbou, wil aansluit.
Die probleem wat diegene wat die vraag vra met Orania het, is nie dat hier dalk sekere mense uitgesluit en teen hulle gediskrimineer word nie. Die probleem wat hulle met Orania het is dat hier ‘n gemeenskap is wat nie werk volgens die links-liberale logika van hoe ‘n samelewing moet wees nie. Ons praat Afrikaans, nie Engels nie; ons is etnies homogeen, nie ‘n mengelmoes identiteitlose mense nie; en ons is Christene, nie nihiliste nie.
by James Kemp | Aug 8, 2014 | Nuus |
Twee damestudente van die Universiteit van Pretoria, wat met swart geverfde gesigte `n privaat geleentheid bygewoon het, is uit hulle koshuis geskors nadat foto’s van die geleentheid op sosiale netwerke die rondte begin doen het. Dié studente is op verskeie sosiale platforms van growwe rassisme beskuldig. Terselfdertyd is daar `n pamflet op die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus versprei met die woorde Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans. Dit het egter nie daarin geslaag om dieselfde mediabelangstelling uit te lok as die eerste voorval nie. Ook was daar nie dieselfde reaksie vanaf die universiteitsbestuur soos in die eerste geval nie.
Buiten die feit dat daar duidelik dubbele standaarde voorgekom het met die hantering van die situasie, kan `n mens nie anders as om te wonder of die skorsing en gepaardgaande kommentaar nie `n totale oorreaksie is nie. Ek het al by geleentheid `n Chinese braai bygewoon en, soos die res van die gaste, was ek geklee in tradisionele Chinese drag. Party het selfs die kenmerkende lang snor laat aanbring en daar is in swak Engels met sterk Chinese aksente gekommunikeer. Die foto’s van dié geleentheid het ook op die sosiale media beland maar sonder enige reaksie, beskuldigings van rassisme en tugstappe.
Ons kan nie ontken dat daar in Suid-Afrika `n groot mate van selektiewe sensitiwiteit voorkom nie. Dit geld ook vir politieke korrektheid wat jou beperk tot die kleredrag en optrede wat van jou kultuur en agtergrond verwag word. Maar waar lê die grens? En op wie het die reëls betrekking? Trek ons die streep by die swart bedelaars in Voortrekkersweg in Pretoria met hulle wit geverfde gesigte wat snaakse danspassies uitvoer met die hoop om motoriste te oortuig om vir hulle kleingeld te gee? Of trek ons die streep by Afrikaners wat hulle politieke oortuigings deur die dra van die kenmerkende ‘Madiba’-hempde uitdra? Die bohaai oor die twee studente kon sekerlik nie oor hulle kleredrag gegaan het nie aangesien die swart nasionalistiese EFF-verteenwoordigers parlementsittings bywoon terwyl hulle so geklee is.
`n Land so divers soos Suid-Afrika het robuuste debat nodig wat nooit sal realiseer solank ons met polities korrekte balletskoentjies al om mekaar trippel uit vrees dat iemand deur ons optrede beledig sal word nie. Dit is belangrik om mekaar se kulture en oortuigings te respekteer, maar ons moet ook besef dat nie alle grappies ten doel het om iemand te beledig nie. As daar gekyk word na hoe mense, wit en swart, in `n volgepakte rolprentteater uitbundig lag vir Leon Schuster se grappies is dit duidelik dat die meerderheid nie onnodig sensitief is of na enige strooihalm vir politieke gewin sal gryp nie.
Nuutste Opmerkings