Gedurende September vanjaar sal die “Toekoms Simfonie-instituut” in Baltimore in the VSA gestig word. Volgens Andrew Balio stigter van die instituut is die doel van die instituut om ‘n Renaissance van die simfonie-orkes mee te bring. Balio sien vandag ‘n moderne wêreld wat toenemend arm aan hoër kultuurfunksies is. In die Westerse wêreld is daar vandag ‘n totale verval van hoërkultuur. Musiek, kuns en literatuur vervlak voortdurend en mense se vermoë om hul eie taal keurig aan te wend bestaan in baie gevalle nie meer nie.
Vir die Afrikaner is die dae van NP van Wyk Louw, Miemie Coertse, Totius en ons verskeie simfonie-orkeste en kore bykans iets van die verlede. Ons musiek, literatuur en kuns het begin vervlak.
Balio vergelyk hierdie kulturele verval in die Weste in ‘n onlangse artikel met die vader van die veertiende-eeuse Italiaanse Renaissance, Francesco Petrarca, se belewenis van Rome in 1341. Petrarca ervaar die kulturele verval in Rome intens en is diep bekommerd oor die kulturele tradisie wat voor sy oë verdwyn. Hy skryf: “Hierdie tyd van ons het gevolglik bietjie vir bietjie van die rykste en soetste vrugte wat die boom van die kennis opgelewer het, laat wegval. Dit het die resultate van die arbeid van die mees roemryke manne, werke groter en beter as byna enigiets anders in die wêreld, weggegooi.” Petrarca is stomgeslaan oor die wyse waarop mense hul rug op hul ryk kultuurskatte gedraai het.
Hy beskou hierdie laagtepunt egter nie as finaal nie, maar eerder as ‘n geleentheid om ‘n nuwe visie te ontwikkel. Patrarca beskryf sy visie vir iets nuut en groot terwyl hy aanskou hoe Rome verval en hoe oorlog, hongersnood, burgerlike opstande, epidemies en ekonomiese agteruitgang die eens magtige ryk laat wegkrummel.
Hy skryf oor sy visie vir ‘n Italiaanse Renaissance: “Iemand kan sê: “Wat is dit alles, my vriend? Het jy besluit om ‘n gewoonte wat met inherente probleme oorlaai is en wat lankal in onbruik geraak het, te laat herleef en dit in die gesig van ‘n vyandige en weerspannige lotsbestemming? Waar sien jy die tekens van vertroue dat jy die Romeinse hoofstad met ‘n nuwe en ongewone lourierkrans sal wil versier? “Ja, ek sien, o my liewe menere; Ek sien inderdaad dit, o Romeinse burgers. Die intensiteit van my verlange is so groot dat dit my voldoende in staat stel om al die uitdagings van my taak te oorkom.”
Die vraag wat Balio vra is of ons vandag moet aanvaar dat ons konsertsale in die toekoms leeg en vervalle sal wees. Sal ons digbundels op die brandstapels beland? Sal ons kuns in kelders stof vergaar? Of sal ons vanuit hierdie kulturele laagtepunt die inspirasie kry om ‘n Renaissance te bewerkstellig? Francesco Petrarca het ‘n groot gees in die Italiaanse geskiedenis geword omdat hy kultuurherlewing kon bedink en inspireer.
Ons moet almal hoop dat Balia en sy “Toekoms Simfonie-Instituut” ‘n herlewing van die simfonie sal bewerkstellig. Ook as Afrikaners moet ons bly smag na ‘n herlewing van ons kultuur en tradisies.
Hierdie artikel maak my sommer meemoedig, maar dit is alles so waar. Mag ons besef hoe nodig ‘n Afrikaner-Renaissance is. Van die Afrika-Renaissance het niks gekom nie behalwe leë frases en ‘n suksesvolle skuldgevoel-bedelpoging in die Weste. Die Afrikaner-Renaissance (hergeboorte) val saam met die gedagte van die Derde Afrikaner, wat Carel Boshoff 4 beskryf.
Die Renaissance in die 15de eeu en daarna was net moontlik omdat in die sogenaamde donker Middeleue iewers sekere sentrums van uitnemendheid was, soos kloosters, waar die kennis en kultuur van die antieke tye bewaar en vertroetel is. Mag Orania so ‘n plek van uitnemendheid wees, wat ander Afrikaners inspirer om hulle kultuur weer op ‘n hoë vlak te neem.
Hoor hoor!
Dankie vir die geleentheid. Ek is ‘n 73 jarige Afrikaner wat nog aktief volkspele doen en ook ‘n lid is van ‘n volksanggroep.Ek beywer my ook sedert 1978 vir die bewaring van historiese geboue en plekke. Ek verpes kultuurpraters wat nie ook kultuurdoeners is nie. Terloops, ‘n ondersteuner van ‘n kultuuraksie, hetsy as deelnemer, toeskouer of donateur is ook ‘n kultuurdoener. Daar is hopeloos te veel ou mans wat net wil sit. Talle vroue wil graag by die volksspele of sanggroep inskakel “maar my ou man wil nie.” Siestog ! Ons is bevoorreg om twee aktiewe volkspelelaers te he. Die Sonskynlaer vir die seniors en die Goggabielaer vir die juniors. Albei laers oefen weekliks saam onder leiding van een van die beste spelleidsters in die land en ‘n uitstaande klavierspeelster. die Sonbesies Volksanggroep bestaan uit mense van alle ouderdomme. Dit bied ook geleentheid aan diegene wat nie meer wil of kan volkspele doen nie, aan gestremdes en aan almal wat sommer net lekker in Afrikaans wil sing.Die Sanggroep ondersteun die volkspelers met publieke optredes en hul saamtrek.Ons leuse is : Sing, Speel en Geniet in Afrikaans. Tiekiedraai-Groete, Pieter Olivier, Bethlehem
Oom Pieter,
ons wil graag weer ‘n volkspelegroep aan die gang kry. As oom eendag Orania toe kom en vir ons voorbrand maak en ‘n bietjie vertel en wys van volkspele, sal dit baie gaaf wees.