fbpx

Oor aborsie en sosiale verantwoordelikheid

GrafikaMet die Amerikaanse middeltermynverkiesing pas agter die rug het baie van die debatte wat daar gevoer word weer sterk na vore getree. Een debat wat baie emosie uitlok handel oor aborsies. Konserwatiewe Christene voel sterk daaroor dat aborsies ontoelaatbaar moet wees en as moord beskou moet word. In liberale kringe word die individu se reg op keuse hoër geag as die lewe van die ongebore fetus. `n Interessante argument wat vanuit die meer liberale kringe opduik is dat aborsies direk bydrae tot `n afname in misdaad. Daar word aangevoer dat diegene wat `n aborsie sou laat uitvoer oorwegend in `n situasie is waar hulle nie na die kind kan kyk nie en dat daar `n sterk moontlikheid bestaan dat die kind nie `n behoorlike opvoeding ontvang nie en in die misdaadwêreld sal verval.

So `n stelling is duidelik uiters omstrede en daar kan lank debat daaroor gevoer word. Die doel van dié stuk is egter nie om daardie stelling te debatteer nie maar om die regverdiging van aborsies aan die hand van daardie stelling te bevraagteken.

In Christelike kringe word aborsie in die algemeen nie goedgekeur nie. En dit is goed dat geloofsoortuigings so sterk is dat `n onverskrokke standpunt oor `n saak ingeneem word. Ons moet egter nie uit die oog verloor nie dat ons `n klimaat moet skep waar daardie standpunte lewensvatbaar is. Dit bring ons terug by die standpunt dat aborsies `n direkte bydrae kan lewer tot die afname in misdaad. Die standpunt is moontlik geldig in `n gemeenskap waar daar nie maatskaplike ondersteuning is nie en werksgeleenthede skaars is. In so `n gemeenskap sal daar geleentheid vir huisbraak, dwelmhandel en ander vorme van misdaad wees. Dalk selfs motordiefstal en kapings. In so `n gemeenskap bestaan daar `n moontlikheid dat bogenoemde stelling korrek kan wees.

In `n gemeenskap waar kerke egter `n belangrike deel van jou lewe en ondersteuningsnetwerk vorm en werksgeleenthede beskikbaar is, kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar word dat `n ongewensde swangerskap tot misdaad sal lei nie. In `n gemeenskap waar daar nie ruimte geskep word vir misdadige elemente nie en professionele beraders en opgeleide maatskaplike werkers beskikbaar is om ondersteuning te bied, kan so `n standpunt nie as vanselfsprekend gesien word nie.

In die wêreld waarin ons leef is dit dikwels so dat ons persoonlike oortuigings dalk mag verskil van dit wat die wet bepaal en ons onsself wil beywer vir `n gemeenskap waar dit nie so is nie. Dit is egter baie belangrik om te onthou dat dit nie genoeg is om bloot wetgewing te verander om by ons geloofsoortuigings te pas nie, maar dat dit belangriker is om `n omgewing te skep waar daardie oortuigings prakties uitgeleef kan word.

James Kemp is die Kommunikasie- en Bemarkingsbestuurder van die Orania Beweging.

Oorsensitiwiteit en dubbele standaarde

Wit gesigteTwee damestudente van die Universiteit van Pretoria, wat met swart geverfde gesigte `n privaat geleentheid bygewoon het, is uit hulle koshuis geskors nadat foto’s van die geleentheid op sosiale netwerke die rondte begin doen het. Dié studente is op verskeie sosiale platforms van growwe rassisme beskuldig. Terselfdertyd is daar `n pamflet op die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus versprei met die woorde Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans. Dit het egter nie daarin geslaag om dieselfde mediabelangstelling uit te lok as die eerste voorval nie. Ook was daar nie dieselfde reaksie vanaf die universiteitsbestuur soos in die eerste geval nie.

Buiten die feit dat daar duidelik dubbele standaarde voorgekom het met die hantering van die situasie, kan `n mens nie anders as om te wonder of die skorsing en gepaardgaande kommentaar nie `n totale oorreaksie is nie. Ek het al by geleentheid `n Chinese braai bygewoon en, soos die res van die gaste, was ek geklee in tradisionele Chinese drag. Party het selfs die kenmerkende lang snor laat aanbring en daar is in swak Engels met sterk Chinese aksente gekommunikeer. Die foto’s van dié geleentheid het ook op die sosiale media beland maar sonder enige reaksie, beskuldigings van rassisme en tugstappe.

Ons kan nie ontken dat daar in Suid-Afrika `n groot mate van selektiewe sensitiwiteit voorkom nie. Dit geld ook vir politieke korrektheid wat jou beperk tot die kleredrag en optrede wat van jou kultuur en agtergrond verwag word. Maar waar lê die grens? En op wie het die reëls betrekking? Trek ons die streep by die swart bedelaars in Voortrekkersweg in Pretoria met hulle wit geverfde gesigte wat snaakse danspassies uitvoer met die hoop om motoriste te oortuig om vir hulle kleingeld te gee? Of trek ons die streep by Afrikaners wat hulle politieke oortuigings deur die dra van die kenmerkende ‘Madiba’-hempde uitdra? Die bohaai oor die twee studente kon sekerlik nie oor hulle kleredrag gegaan het nie aangesien die swart nasionalistiese EFF-verteenwoordigers parlementsittings bywoon terwyl hulle so geklee is.

`n Land so divers soos Suid-Afrika het robuuste debat nodig wat nooit sal realiseer solank ons met polities korrekte balletskoentjies al om mekaar trippel uit vrees dat iemand deur ons optrede beledig sal word nie. Dit is belangrik om mekaar se kulture en oortuigings te respekteer, maar ons moet ook besef dat nie alle grappies ten doel het om iemand te beledig nie. As daar gekyk word na hoe mense, wit en swart, in `n volgepakte rolprentteater uitbundig lag vir Leon Schuster se grappies is dit duidelik dat die meerderheid nie onnodig sensitief is of na enige strooihalm vir politieke gewin sal gryp nie.