fbpx

Wit gesigteTwee damestudente van die Universiteit van Pretoria, wat met swart geverfde gesigte `n privaat geleentheid bygewoon het, is uit hulle koshuis geskors nadat foto’s van die geleentheid op sosiale netwerke die rondte begin doen het. Dié studente is op verskeie sosiale platforms van growwe rassisme beskuldig. Terselfdertyd is daar `n pamflet op die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus versprei met die woorde Kill the Boer, Kill the Racist, Kill Afrikaans. Dit het egter nie daarin geslaag om dieselfde mediabelangstelling uit te lok as die eerste voorval nie. Ook was daar nie dieselfde reaksie vanaf die universiteitsbestuur soos in die eerste geval nie.

Buiten die feit dat daar duidelik dubbele standaarde voorgekom het met die hantering van die situasie, kan `n mens nie anders as om te wonder of die skorsing en gepaardgaande kommentaar nie `n totale oorreaksie is nie. Ek het al by geleentheid `n Chinese braai bygewoon en, soos die res van die gaste, was ek geklee in tradisionele Chinese drag. Party het selfs die kenmerkende lang snor laat aanbring en daar is in swak Engels met sterk Chinese aksente gekommunikeer. Die foto’s van dié geleentheid het ook op die sosiale media beland maar sonder enige reaksie, beskuldigings van rassisme en tugstappe.

Ons kan nie ontken dat daar in Suid-Afrika `n groot mate van selektiewe sensitiwiteit voorkom nie. Dit geld ook vir politieke korrektheid wat jou beperk tot die kleredrag en optrede wat van jou kultuur en agtergrond verwag word. Maar waar lê die grens? En op wie het die reëls betrekking? Trek ons die streep by die swart bedelaars in Voortrekkersweg in Pretoria met hulle wit geverfde gesigte wat snaakse danspassies uitvoer met die hoop om motoriste te oortuig om vir hulle kleingeld te gee? Of trek ons die streep by Afrikaners wat hulle politieke oortuigings deur die dra van die kenmerkende ‘Madiba’-hempde uitdra? Die bohaai oor die twee studente kon sekerlik nie oor hulle kleredrag gegaan het nie aangesien die swart nasionalistiese EFF-verteenwoordigers parlementsittings bywoon terwyl hulle so geklee is.

`n Land so divers soos Suid-Afrika het robuuste debat nodig wat nooit sal realiseer solank ons met polities korrekte balletskoentjies al om mekaar trippel uit vrees dat iemand deur ons optrede beledig sal word nie. Dit is belangrik om mekaar se kulture en oortuigings te respekteer, maar ons moet ook besef dat nie alle grappies ten doel het om iemand te beledig nie. As daar gekyk word na hoe mense, wit en swart, in `n volgepakte rolprentteater uitbundig lag vir Leon Schuster se grappies is dit duidelik dat die meerderheid nie onnodig sensitief is of na enige strooihalm vir politieke gewin sal gryp nie.