KoeranteDie verval van die tradisionele media, veral koerante, in Suid-Afrika is welbekend. Rapport verkoop deesdae minder as 200 000 koerante terwyl die koerant nog ‘n paar jaar gelede met verkope bo 300 000 kon spog. Op ‘n Saterdag koop minder as 60 000 mense Beeld. Nie lank gelede nie was dit meer as 100 000.

Die afgelope paar jaar moes die tradisionele gedrukte media heelwat personeel aflê, bylaes is gestaak en verspreiding is selfs in sommige gebiede opgeskort. Die kapasiteit om gespesialiseerde nuus en veral indiepte-ondersoeke te publiseer het begin kwyn.

Voorheen het koerante sukses behaal omdat hulle ‘n uiters geloofwaardige bron van nuus was. Die publiek het groot waardering gehad vir die wyse waarop koerante misdade kon oopvlek. Waar die nuus op radio en televisie oor slegs die heel belangrikste sake kon berig het koerante ‘n wye reeks temas gedek en so die leser ‘n wye hoek op die nuusgebeure gegee. Koerante het egter hul geloofwaardigheid verloor.

Sensasie was nog altyd deel van die media, maar dit was nie die dryfveer agter sirkulasie nie. Koerante het goeie verkope gehad omdat hulle aan mense se behoefte om nuus oor ‘n wye reeks kwessies te kry, voldoen het. Die meeste spesialisjoernaliste het die afgelope paar jaar koerante verlaat. Nuuskantore word toenemend beset onervare jong joernaliste wat pas uit die universiteit of kollege kom en wat meestal met bitter min spesialiskennis oor spesialisonderwerke moet berig.

Byna alle koerante in Suid-Afrika toon dalende sirkulasiesyfers en die mense aan die stuur van hierdie koerante beskik nie almal oor die vermoë om dit te keer nie. Dit is waar sensasionele beriggewing inkom. Sensasie het die waslap geword waarmee die onervare redakteurs en joernaliste die gat in die lekkende bad probeer toestop. Vanjaar het ons die sensasionele beriggewing deur Beeld oor die kamstige Nazi-kultuur by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit gesien. Nadat die stof gaan lê het weet ons almal dat daar geen Nazi-kultuur by die PUK is nie. Beeld het egter groot gegaan met ‘n storie deur ‘n onervare joernalis sonder om gefokuste indiepte-navorsing te doen. ‘n Sensasionele voorbladberig moes die sirkulasieverlies tydelik probeer stuit.

Meer onlangs het Beeld ‘n kontroversie probeer skep nadat Steve Hofmeyr by die Innibosfees Die Stem gesing het. Steve sing egter lankal by geleenthede Die Stem. Ander Afrikaanse kunstenaars soos Pieter Smith doen dit al vir jare. Die feit dat Steve Die Stem gesing het, was definitief nie voorbladnuus nie, maar Beeld het deur sensasionele beriggewing weer ‘n tydelike oplossing vir dalende sirkulasiesyfers probeer skep.

Verlede Sondag doen Rapport dieselfde deur ‘n opebrief waarin Dirk Hermann van Solidariteit oor sy stryd teen regstellende aksie aangevat word, te publiseer. Die opebrief beweer dat daar nie iets soos blanke werkloosheid in Suid-Afrika bestaan nie. Die opebrief lewer geen bydrae tot gesaghebbende nuusberiggewing nie en is op vermoedens eerder as ordentlike navorsing gebaseer. Tog word dit met lokflitse op die voorblad geadverteer. Alles in die hoop dat die duisende Solidariteit-lede wat lankal nie meer Rapport koop nie, dit weer eenmaal sal doen. Nog ‘n desperate poging om die gat in die bad toe te stop. Die gat in die bad sal net toebly wanneer koerante hul sensasionele berriggewing bietjie los en weer op geloofwaardige verslaggewing fokus.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel