fbpx

KoeranteDie verval van die tradisionele media, veral koerante, in Suid-Afrika is welbekend. Rapport verkoop deesdae minder as 200 000 koerante terwyl die koerant nog ‘n paar jaar gelede met verkope bo 300 000 kon spog. Op ‘n Saterdag koop minder as 60 000 mense Beeld. Nie lank gelede nie was dit meer as 100 000.

Die afgelope paar jaar moes die tradisionele gedrukte media heelwat personeel aflê, bylaes is gestaak en verspreiding is selfs in sommige gebiede opgeskort. Die kapasiteit om gespesialiseerde nuus en veral indiepte-ondersoeke te publiseer het begin kwyn.

Voorheen het koerante sukses behaal omdat hulle ‘n uiters geloofwaardige bron van nuus was. Die publiek het groot waardering gehad vir die wyse waarop koerante misdade kon oopvlek. Waar die nuus op radio en televisie oor slegs die heel belangrikste sake kon berig het koerante ‘n wye reeks temas gedek en so die leser ‘n wye hoek op die nuusgebeure gegee. Koerante het egter hul geloofwaardigheid verloor.

Sensasie was nog altyd deel van die media, maar dit was nie die dryfveer agter sirkulasie nie. Koerante het goeie verkope gehad omdat hulle aan mense se behoefte om nuus oor ‘n wye reeks kwessies te kry, voldoen het. Die meeste spesialisjoernaliste het die afgelope paar jaar koerante verlaat. Nuuskantore word toenemend beset onervare jong joernaliste wat pas uit die universiteit of kollege kom en wat meestal met bitter min spesialiskennis oor spesialisonderwerke moet berig.

Byna alle koerante in Suid-Afrika toon dalende sirkulasiesyfers en die mense aan die stuur van hierdie koerante beskik nie almal oor die vermoë om dit te keer nie. Dit is waar sensasionele beriggewing inkom. Sensasie het die waslap geword waarmee die onervare redakteurs en joernaliste die gat in die lekkende bad probeer toestop. Vanjaar het ons die sensasionele beriggewing deur Beeld oor die kamstige Nazi-kultuur by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit gesien. Nadat die stof gaan lê het weet ons almal dat daar geen Nazi-kultuur by die PUK is nie. Beeld het egter groot gegaan met ‘n storie deur ‘n onervare joernalis sonder om gefokuste indiepte-navorsing te doen. ‘n Sensasionele voorbladberig moes die sirkulasieverlies tydelik probeer stuit.

Meer onlangs het Beeld ‘n kontroversie probeer skep nadat Steve Hofmeyr by die Innibosfees Die Stem gesing het. Steve sing egter lankal by geleenthede Die Stem. Ander Afrikaanse kunstenaars soos Pieter Smith doen dit al vir jare. Die feit dat Steve Die Stem gesing het, was definitief nie voorbladnuus nie, maar Beeld het deur sensasionele beriggewing weer ‘n tydelike oplossing vir dalende sirkulasiesyfers probeer skep.

Verlede Sondag doen Rapport dieselfde deur ‘n opebrief waarin Dirk Hermann van Solidariteit oor sy stryd teen regstellende aksie aangevat word, te publiseer. Die opebrief beweer dat daar nie iets soos blanke werkloosheid in Suid-Afrika bestaan nie. Die opebrief lewer geen bydrae tot gesaghebbende nuusberiggewing nie en is op vermoedens eerder as ordentlike navorsing gebaseer. Tog word dit met lokflitse op die voorblad geadverteer. Alles in die hoop dat die duisende Solidariteit-lede wat lankal nie meer Rapport koop nie, dit weer eenmaal sal doen. Nog ‘n desperate poging om die gat in die bad toe te stop. Die gat in die bad sal net toebly wanneer koerante hul sensasionele berriggewing bietjie los en weer op geloofwaardige verslaggewing fokus.

10 Comments

  1. Hendrik

    Jaco ek stem saam jou, maar ‘n ander rede is ook die elektroniese media, ons firma het twee jaar terug alle koerante kontrakte gestaak, wat ek wel sien gebeur is die verslag oor ‘n moord vinnig van die webblad verwyder en sensatie berugte langer op die hoofblad bly van nuus webbladsye. Dieselfde gebeur met sellulêre nuus programme.
    Groete daar waar my hart lê

    Reply
    • Jaco Kleynhans

      Jy is heeltemal reg. Die tradisionele media moes eintlik ook die elektroniese geleenthede opgeneem het. Hulle het egter nie.

      Reply
  2. Appie Pienaar

    Dankie vir die artikel Jaco. ‘n Koerant bevat harde nuus (feitelike beriggewing oor nuuswaardige gebeure) en sagte nuus (menings, interpretasie van gebeure ens.) Ek dink daar is twee faktore wat die dalende syfers aanhelp, en hierdie faktore hou verband met die harde en sagte nuus.

    Wat die harde nuus betref: Die opkoms van elektroniese nuusblaaie soos Maroela Media verskaf gratis en onmiddellik ‘n opsomming van die daaglikse nuusgebeure. Wanneer die koerant more op straat verskyn is gister se gebeure ounuus.

    Wat die sagte nuus betref: Die Afrikaanse koerante vervreem hulleself van hulle lesers. Terwyl mens nie omgee dat jou eie standpunte van tyd tot tyd uitgedaag word nie, is jy nie lus om die hele tyd te lees hoe dom en agterlik jy nou eintlik is nie. Ek het laas maand ‘n keer Die Burger gekoop toe ek in die Kaap met vakansie was. Die middelblad het dit op die betrokke dag teen die sing van die Stem gehad. Drie lesersbriewe wat Steve kritiseer, twee diepte-artikels en die hoofartikel. Die honderde briewe ter ondersteuning waarvan mens in die sosiale media gelees het, word gewoon verswyg. Of neem nou die aanval op Dirk Herman. Die gemiddelde Afrikaanse koerantleser voel kwaad en bedreig deur onregverdige aanstellings en afdankings in die werksplek. In plaas daarvan dat die koerant die stryd teen onregverdige werkspraktyke ondersteun, maak hy dit sy taak om jou te kritiseer as jy opstaan vir jou regte. Nou waarom sal mens hulle langer ondersteun?

    Mens kan maar net hoop dat veral die Afrikaanse koerante hulleself sal kan regruk. In ‘n tyd waar Afrikaans onder beleg is, kan ons dit nie bekostig dat ons Afrikaanse koerante tot niet gaan nie. Mens bly verbaas dat sakebreine soos die wat Naspers bestuur, nie kan insien watter skade ‘n paar koerantskrywers besig is om aan te rig nie.

    Reply
  3. Chris du Plessis

    Meeste koerante dryf n agenda wat deur hul eienaars bepaal word. Naspers koerante bedryf spesefiek n anti-Afrikaner nasionalisme agenda ter ondersteuning van FW de Klerk se multikultie demokrasie droomland.
    Slegs opinies van linkse opinievormers word dekking gegee. Dis werklik tyd om hierdie media te marginaliseer tot waar dit hoort.

    Reply
  4. Johan Coertzen

    Sjoe mense ek dink nie die probleem met Afrikaanse koerante is so eenvoudig soos Jaco dit uiteensit nie. Jaco se skrywe bevat volgens my elemente van waarheid maar nie die volle waarheid nie. ‘n Paar feite:
    1. Koerante , Afrikaanse koerante ook, was nog solank ek my verstand het, uitgekryt as te sensasioneel, teen die konserwatiewe Afrikaner gekant ens.
    2. Afrikaanse koerante het nog altyd ‘n stryd gevoer om hul sirkulasiesyfers teen agteruitgang te beskerm met allerhande geslaagde en minder geslaagde projekte.
    3. Konserwatiewe Afrikaners poog al sedert die HNP se ontstaan in 1969/70 om Afrikaanse dagblaaie te boikot en dood te maak – sonder sukses.
    My siening van sake is dit:
    1. Meeste van ons het geen idee van hoe groot die nuwe elektronika se invloed op ons Afrikaanse koerante (en ander koerante, en wêreldwyd) het nie. Dis groot.
    2. Jaco is reg as hy sê vandag se Afrikaanse koerante sit met heelwat onervare en dalk minder bekwame verslaggewers. Daar is darem nog ervare hande ook. Maar as ek kyk na die soms ooglopende swak redigering, berigte deurspek met eie mening asook ander klein jakkalsies, kan ek nie help om saam te stem dat dit ‘n geveg is om ware gehalte te handhaaf nie. Dalk te min ervare hande??
    Slotsom: Afrikaanse koerante gaan toenemend onder druk kom, maar sal nog baie jare met ons wees. As hulle uitsterf, sal dit ander redes wees en nie omdat die konserwatiewe Afrikaner die koerante suksesvol dood-geboikot het nie.
    (Terloops: ek is konserwatief en het 25 jaar se koerant-ervaring agter my)

    Reply
  5. Hannodb

    So…die koerante probeer hulle sirkulasie verhoog deur berigte te plaas wat hulle lesers vervreem en kwaad maak.

    Hoe werk dit so ver vir hulle?

    Reply
    • Sebastiaan

      Hulle dink almal is soos hulle en geniet dit om hulle eie derms uit te reig.

      Reply
  6. Theuns

    ‘n Groot faktor is patetiese bemarking. In Kwa-Zulu is daar bv by die CNA net 5 Rapporte op ‘n Sondag beskikbaar en 20 by Pick en Pay! Daar is 10 000 Afrikaanse gesinne in die gebied!!!. Dis dus totaal uit voeling met hul mark en verspreidings opsies. Klagtes by hul klagte lyn met mense op die lyn wat kwalik Afrikaans kan praat, help niks. Beeld is gestop in KZN oor te lae leseresgetalle, maar is daagliks laat afgelewer soms 15h00, sommige dae glad nie afgelewer nie ens. Dan kla hulle oor die aantal lesers- asof mense teen 3 uur die middag nog gister se berigte wil lees!! Wat moet jy lees as daar te min kopiee / geen koerante/ te min koerante beskikbaar is vir die aanvraag? Media24 is Anti- Afrikaans met uiters ongeloofwaardige redakteurs wat hul eie agendas dryf- Potch en Tuks verdraaiings bewys dit- sonder enige visie of verbintenis tot bevordering van Afrikaans en geloofwaardige beriggewing. Swak keuses vir leiers lei tot swak resultate- nes die ANC. Maak skoon by die redakteurs en Beeld/ Rapport sal groei na waar hul kan wees net ervare en doelgerigte leiers/ redakteurs.

    Reply
    • AmBeeld

      Goed so vir die swak sirkulasie, geen opregte Afrikaner sal vrywilliglik aan die Rapport of Beeld (insl. Media 24) se X-Afrikaner eienaars geld wil gee om die Afrikaner opsetlik swart te smeer nie.

      Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

5 × 2 =