fbpx

Klein reusEen van die standaardvrae wat elke joernalis en menige besoekers aan Orania vra, soms uit egte belangstelling, maar meesal om ons uit te lok, is: “Mag ‘n Swarte/Bruine/Sjinees/Indiër/Engelssprekende ook hier bly?” Die geïmpliseerde vraag is: “Hoe kan julle dit waag om teen mense te diskrimineer op grond van hulle velkleur of etnisiteit?”

Nou goed, vir diegene wat dit nog nie weet nie: nêrens in Orania se grondwet of in sy keuringsdokumente word enige melding van velkleur gemaak, of enige uiterlike kenmerke gestel waaraan voornemende inwoners moet voldoen nie. Vir links-liberales is onderskeid, dus diskriminasie, mos die oersonde. Toegegee, diskriminasie wat mense te na kom is nie iets wat ‘n mens wil of kan verdedig nie.

Orania is ‘n gemeenskap wat deur assosiasie ontstaan het. Nuwe inkomers moet uit die aard van die saak inpas by die bestaande gemeenskap, wat oor die jare gevorm is deur mense wat hulle met die strewe van Orania kon vereenselwig, en wat die eise wat dit stel mee kon volhou. Die houding van die gemeenskap is dat almal wat met Orania wil vereenselwig, ‘n kans gegun word, maar dat die tyd sal leer of daardie aanvanklike voorneme ernstig bedoel was of nie.

Orania se bevolking word gekenmerk as Afrikaanssprekend, Christelik en wit. Daar is enkeles wat van huis af nie Afrikaanssprekend is nie, maar wat wel Afrikaans in die openbaar praat. Ander mag slegs nominaal Christene wees en dit nie werklik uitleef nie, maar dit bly elke person se eie verantwoordelikheid en sy eie gewete moet daaroor oordeel.

Om wit te wees in die nuwe Suid-Afrika is ‘n Kainsmerk en iets wat veral deur links-liberales as smet gesien word. Dit is wel iets wat jy nie kan verander nie, jy word so gebore, al verwens jy jouself en jou ouers daarvoor. Jou geloof, jou taal en jou kultuur kan jy wel met veel moeite verander, nie jou velkleur nie. Op iets wat aangebore, is hoef jy egter nóg trots te wees, nóg skaam voor te voel. Dis hoe en wie jy is. En dit is eenmaal so dat mense wat hulle Afrikaners noem, en deur ander as sulke beskou word, in hulle oorgrote meerderheid wit is.

Die feit dat diegene wat hulle met Orania se strewe vereenselwig en hulle Afrikaners noem onder andere ook wit is, is ‘n kenmerk van vele, beslis niks wat ons beter maak nie, maar ook beslis niks om oor skaam te wees en verskoning voor te maak nie.

Moet almal wat in Orania woon dus wit wees? vra ons links-liberale besoekers. Ons is ‘n Afrikanerdorp, en alhoewel nie alle Afrikaners wit hoef te wees nie, is daar tog ‘n duidelike korrelasie. Nie alle swane is wit nie, maar by verre die meeste. En as jy ‘n swaan beskryf, sal jy nie net noem dat hy vere en ‘n lang nek het en op water dryf nie, maar ook dat hy gewoonlik wit is.

Die gemeenskap het dus sy eienskappe vasgestel en wil dit graag so handhaaf, want dit verseker harmonie en wedersydse begrip. Soos wat die dorp groter raak, sal daar wel enkeles wees wat nie meer aan die drie hoofeienskappe voldoen nie, maar dit sal die uitsondering wees.

Onlangs was daar ‘n artikel in die Volksblad oor ‘n seun op die Vrystaatse platteland wat van Taiwanese afkoms is, en wat in elke opsig ‘n Afrikaner is, behalwe vir sy voorkoms. Hy doen alles wat die tipiese Afrikanerseun in die Vrystaatse platteland, waar hy opgegroei het, ook doen: hy praat Afrikaans, speel rugby, drink graag brandewyn en coke, luister na Afrikaanse musiek, hou van pap en braaivleis, ens.

As die seun in Orania wil bly, sal hy toegelaat word? Ja natuurlik, ek kan aan geen rede dink hoekom nie. Maar dit bly ‘n uiterste uitsondering, anders was dit nie ‘n hele blad koerantartikel met verwysing op die voorblad werd nie. Omdat daar een Sjinees is wat ‘n Afrikaner geword het en in Orania sou kon tuisvoel, beteken dit egter nie dat alle Sjinese in Orania sal aanpas nie. Dieselfde geld vir die ‘n Swarte wat om watter rede ook al ‘n Afrikaner geword het. Dit is egter uiters selde dat lede van ‘n dominante meerderheid hulle by die gemarginaliseerde minderheid aansluit. Die Taiwanese seun het as lid van ‘n absolute minderheid by die taamlik prominente en in getalle heelwat groter Afrikaner-minderheid aangesluit, omdat hy in ‘n plattelandse Afrikaanse omgewing grootgeword het. In ‘n multi-kulturele opset soos in Johannesburg sou dit waarskynlik nie die geval gewees het nie en hy sou deel van die Engelssprekende, geglobaliseerde hoofstroom geword het. Om die rede bly dit ook ‘n teoretiese moontlikheid dat juis ‘n Swarte as lid van die bevolkingsgroep wat Suid-Afrika in elke opsig beheer en alle magsmiddele tot hulle beskikking het, juis by ‘n gemarginaliseerde groep wat alles van vooraf moet opbou, wil aansluit.

Die probleem wat diegene wat die vraag vra met Orania het, is nie dat hier dalk sekere mense uitgesluit en teen hulle gediskrimineer word nie. Die probleem wat hulle met Orania het is dat hier ‘n gemeenskap is wat nie werk volgens die links-liberale logika van hoe ‘n samelewing moet wees nie. Ons praat Afrikaans, nie Engels nie; ons is etnies homogeen, nie ‘n mengelmoes identiteitlose mense nie; en ons is Christene, nie nihiliste nie.