Die regerende eerste minister, mnr Recep Tayyip Erdogan, het sopas die presidentsverkiesing in die eerste ronde met 52% van die stemme gewen. Die ander kandidate, die gematigde Ekmeleddin Ihsanoglu, wat die sekulêre opposisie verteenwoordig, alhoewel hy self ‘n gelowige Moslem is, het 38% van die stemme op hom verenig en die linksgesinde Koerd, Selahattin Demirkas, het 10% van die stemme gekry. Talle teenstanders van mnr Erdogan het egter verkies om weg te bly van die stembus en die stempersentasie was relatief laag. Die huidige president, mnr Abdullah Gül, het hom nie meer verkiesbaar gestel nie om plek te maak vir sy partyleier mnr Erdogan. Die direkte verkiesing van die president deur die bevolking, iets wat ongewoon is vir ‘n seremoniële hoof, is in 2007 deur ‘n referendum wat mnr Erdogan geïnisieer het, moontlik gemaak. Mnr Gül, ‘n partygenoot van mnr Erdogan, was toe die eerste direk verkose president van Turkye.
Mnr Erdogan was 11 jaar (3 termyne) eerste minister en kon volgens die Turkse grondwet nie nog ‘n keer staan nie. Om egter nog steeds mag te behou het hy gestaan vir president. Die president in Turkye is veral ‘n seremoniële hoof en die ware mag lê by die eerste minister. Die magte van die president is egter vaag omskryf en die grondwet laat speling vir die president toe om meer aktief op te tree. Mnr Erdogan het reeds aangekondig dat hy sy mag as president maksimaal sal gebruik en die groot oorwinning wat hy behaal het, bevestig ook dat die meerderheid van die bevolking daarmee tevrede is. Hy het ook aangekondig dat hy beoog om nog baie jare te regeer en dat hy die bevoegdhede van die presidentsamp wil verhoog en ‘n grondwetverandering daaroor wil laat aanbring om Turkye se politieke stelsel van die huidige parlementêre na ‘n presidiale stelsel te verander.
Mnr Erdogan was ‘n uiters suksesvolle eerste minister, maar is ook omstrede en word van ondemokratiese optrede beskuldig. Onder mnr Erdogan se bewind het Turkye ekonomies geweldig vooruitgegaan en is armoede en ongelykhede verlig. Mnr Erdogan en sy party, die konserwatief-godsdienstige AKP, het vir die afgelope dekade Turkye in ‘n ander rigting gelei, weg van die Westerse uitkyk na ‘n orientering na die Midde-Ooste en die Moslemwêreld. Die land het uiterlik gemoderniseer as dit kom by infrastruktuur en voorkoms, maar het innerlik meer konserwatief geraak. Die ou sekulêre verwesterde elite uit veral die grootste stad Istanbul, is uitgeskuif en ‘n meer konserwatiewe en godsdienstige elite het begin vorm aanneem. Die mense van Anatolië, Turkye se sentrale en armer deel, is die groot ondersteuners van mnr Erdogan, want hy gee vir hulle trots en selfvertroue. Hulle sien mnr Erdogan as waarborg vir voorspoed en stabiliteit en vergewe hom graag sy outoritêre optrede. Daar is egter ook heelwat kritiek teen mnr Erdogan se outokratiese regeringstyl, korrupsieskandale wat onder die mat ingevee is, sy onverdraagsaamheid teenoor kritiese stemme en sy pogings om die media aan bande te lê. Verlede jaar is protesoptogte teen die vernietiging van ‘n stadspark in Istanbul hardhandig onderdruk.
Dit is die verklaarde doel van die nuwe president om ‘n nuwe Turkye te skep en dit wat hy reeds begin het, te voltooi. Hy wil weg beweeg van die ander groot leier van die 20ste eeu se Turkye, Kemal Atatuerk, se ideaal van ‘n sekulêre en Westerse Turkye na ‘n land wat sy Islamerfenis vertroetel en sy plek in die Midde-Ooste het, verkieslik as ‘n streeksmoondheid.
Mnr Erdogan het nogal baie ooreenkomste met mnr Wladimir Putin van Rusland. Ook mnr Putin is ‘n outokratiese leier wat hom as geroepene sien om sy land tot nuwe glorie te lei. Mnr Putin het eweneens na twee termyne as president die posisie van eerste minster opgeneem om aan die grondwetlike vereistes te voldoen, maar was in praktyk president en het na ‘n termyn as eerste minister weer president geword. In Rusland is die magsorde andersom, die president het die meeste mag, nie die eerste minister nie.
Agtergrond: Die parlementêre teenoor die presidiale stelsel.
In demokrasieë is daar breedweg twee stelsels, die parlementêre een en die presidiale een.
In die parlementêre stelsel kies die burgers die parlementslede en die parlement kies ‘n eerste minister of kanselier uit hulle geledere en kan so ‘n persoon ook weer ontsetel word, wat egter selde gebeur. Die eerste minister het uitvoerende gesag, maar die mag lê by die parlement. Die termyne van parlement en eerste minister is gelyklopend. Gewoonlik is ‘n seremoniële hoof, óf ‘n koning óf ‘n president, nominaal bo die eerste minister geplaas, maar het geen uitvoerende gesag nie. Lande wat die parlementêre stelsel het is onder andere Groot-Brittanje, Duitsland, Nederland, Spanje, Swede, Italië en Oostenryk. Suid-Afrika het so ‘n stelsel gehad tot 1984, en het sedertdien ‘n presidiale stelsel.
In die presidiale stelsel bestaan wel ook ‘n parlement, maar die meeste mag is by die president gesetel. Die president word gewoonlik direk deur die bevolking verkies en sy gesag kom dus nie van die parlement nie, maar direk van die bevolking. Die president en die parlement kan mekaar in sekere gevalle wedersyds aan bande lê, veral as die president aan ‘n ander party behoort as die meerderheid van die parlement. Die termyne van die president en die parlement is dikwels nie gelyklopend nie. Die posisie van ‘n premier, of eerste minister, bestaan in sommige gevalle wel, maar dié posisie is ondergeskik aan die president, nominaal en wat gesag betref. Voorbeelde van die presidiale stelsel is die VSA, Frankryk, Rusland en die meeste Latyn-Amerikaanse lande.