Die middeltermyn-verkiesing vind elke 4 jaar plaas, tradisioneel in die helfte van die president se termyn, en is gewoonlik ‘n toets vir die president se gewildheid en ’n beoordeling van sy bekwaamheid, al is hy nie self verkiesbaar nie. President Obama is deur die kiesers gestraf vir sy swak en besluitelose regering. Die Demokratiese Party se kandidate het bykans swakker gevaar as in 2010. Talle Demokratiese kandidate het probeer om hulle van Obama te distansieer, maar dit het nie gehelp nie. Daar is voor die tyd ‘n swaai na die Republikeine verwag, maar nie so duidelik soos wat dit uiteindelik afgespeel het nie. Bykans oral waar ‘n kop-aan-kop verkiesing voorspel is, het die Republikeine gewen.
Daar is gestem vir die Huis van Verteenwoordigers, talle setels van die senaat en die goewerneurskappe en kongresse in meeste van die 50 state.
Die Huis van Verteenwoordigers het 435 setels en bestaan uit die verteenwoordigers vir elke kiesafdeling in elke staat. Voor die verkiesing het die Republikeine reeds ‘n meerderheid gehad van 233 en het dit nog verder opgestoot na 244 teenoor 180 vir die Demokrate (en 3 setels nog onbeslis).
Interessant was veral die verkiesing vir die senaat. Die senaat bestaan uit 100 verteenwoordigers, 2 vir elkeen van die 50 state, ongeag bevolkingsgrootte of oppervlakte. Die Huis van Verteenwoordigers was reeds onder Republikeinse beheer, maar die senaat onder Demokratiese beheer en dus het die twee huise mekaar verlam en was die laaste 4 jaar deur politieke stagnasie gekenmerk. Die beheer oor die senaat was dus vir die Republikeine van groot belang en was die hooffokus van die verkiesing. Tot dusvêr was daar 53 Demokrate teenoor 45 Republikeinse senators (en 2 onafhanklikes), maar die Republikeine het nou ook die beheer oor die senaat gekry met 52 setels tot dusver en `n verdere vyf setels wat nog beslis moet word. Talle state wat voorheen die Demokrate gesteun het, het na die Republikeine gegaan, soos West Virginia, Colorado en Iowa. Die enigste ligpunt vir die Demokrate was New Hampshire, ‘n staat wat wel Demokraties leun maar ‘n “swing-state” is waar hulle naelskraap gewen het.
Wat die goewerneursverkiesings betref, het die Republikeine ook goed gedoen. Omtrent alle state waar hulle regeer het, het hulle behou en nog enkele state gewen. Hulle beheer nou 31 state, teenoor die Demokrate se 17 (in twee moet nog uitklopverkiesings plaasvind). Selfs in tradisioneel Demokratiese state soos Massachusetts, Illinois, Michigan, Wisconsin en Maryland kon hulle deurbrake maak. In Florida, een van die belangrikste state in die VSA en een wat altyd op die mespunt staan, kon die Republikeinse goewerneur net-net wen teen sy Demokratiese teenstander.
Die oorblywende twee jaar van mnr. Obama se termyn raak nou vir hom besonder moeilik en dit blyk dat hy nie een van sy groot verkiesingsbeloftes en projekte kan deurvoer nie. ‘n President in die VSA het selde die kans om beide huise van die kongres te beheer en moet dus kompromieë aangaan, iets waarmee mnr. Obama nie goed is nie. Sy hoofprojek, die hervorming van die gesondheidstelsel, het gesneuwel en ook van ander geliefkoosde projekte soos amnestie vir onwettige immigrante het nie veel gekom nie. Wat buitelandse sake betref het mnr. Obama min ondervinding en het geen konsekwente en duidelik sigbare beleid nie.
Amerika word deur hierdie verkiesing meer konserwatief, want talle konserwatiewe kandidate het liberale en linkse kandidate vervang. Nogtans het die verkiesing nie so seer oor waardes en groot, polariserende onderwerpe gegaan nie maar was veral ‘n afrekening met mnr. Obama en sy swak leierskap. Die Tea Party Beweging, wat met die vorige verkiesing ‘n groot rol gespeel het om konserwatiewe kiesers te mobiliseer, was die keer minder prominent. Die VSA het ‘n groot middelgrond onbesliste kiesers, sogenaamde onafhanklikes, wat in enige rigting kan swaai en wat die keer veral na die Republikeine geswaai het. Die Demokrate se lojale kiesers soos swart mense oftewel Afro-Amerikaners het die keer ook met ‘n redelik lae stempersentasie deelgeneem. Die Republikeinse oorwinning is aangevuur deur hulle lojale steunbasis, wit en veral ouer kiesers.
Die VSA sit egter ook met demografiese tendense wat vir die hele weste geld: die (Engelssprekende) witmense, tans nog ‘n meerderheid, word minder teenoor swartmense en sogenaamde Hispanics of Latinos, Spaanssprekendes met wortels in Latyns-Amerika. Die Republikeine begin egter uitreik na die Hispanics wat ‘n al hoe belangriker segment raak, veral in sleutelstate soos Florida, Colorado en Texas. Daar is egter redelike kulturele verskille tussen die klassieke ondersteuner van die Republikeine (wit, protestants, Engelssprekend en middelklas) en die Hispanics, wat eerder katoliek, Spaanssprekend en dikwels armer is. ‘n Sterk standpunt teen (Latyn-Amerikaanse) immigrasie en teen welsynstoelae wat deel uitmaak van die Republikeine se kernoortuigings, is ook nie gewild onder meeste Hispanics nie.
Sebastiaan Biehl is `n navorser verbonde aan die Orania Beweging.
Ons moet ook in ag neem slegs 36% van kwalifiserende kiesers het gestem. Daar is verkeie redes daarvoor. Eerstens was daar die afgelope twee jaar ‘n groot dryfkrag vir “voter ID” wette. Ons in SA neem dit vanselfsprekend dat jy jou ID moet wys as jy stem. Dis egter nie so in die VSA nie. Hulle het verkeie vorme van ID. Die hoof dryfkrag het gekom vanaf die Republikeine. Hulle offisiële rede was om stem bedrog te vermy, alhoewel die persentasie van stem bedrog 0.0001% of minder is, en is dus nie regtig ‘n problem nie. Baie vermoed die ware rede was om dit vir die minderheidsgroepe moeiliker te maak om te stem.
Tweedens, volgens meer en meer analiste, is die Amerikaners moeg vir die twee-party stelsel. Alhoewel die Demokrate and Republikeine weining saamstem in die publiek, maak dit nie regtig saak nie. Die nasionale en internasionale beleid bly maar grotendeels dieselfde, maak nie saak wie die meerderheid is nie. Daar is onafhanklike candidate wat regte hervorming idees het, maar die huidige twee party stelsel maak dit feitlik onmoontlik vir hulle om ‘n platform te kry in verkiesings.
Daar is meer en meer analiste wat glo die Amerikaanse regering is maar net ‘n mondstuk vir korporatiewe belange. Groot besighede, banke, ryk mense, enige iemand kan onbeperkte hoeveelhede geld in politieke kandidate of partye indruk on hulle eie belange te bevorder. Iets wat nog grotendeels onwettig is hier in SA, en hopelik nog so gaan bly.
Pierre jou kommentaar is in die kol.Die groot korporasies koop politici om hulle belange te bevorder,ingesluit belasting toegewens.Die gewone man op die straat word net meer belas terwyl die rykes daarmee wegkom.Ek is nou al n maand hier en het met belangstelling die verkiesing van kandidate dopgehou.Van die Demokrate het slegs daarop gekonsentreer om hulle Republikeinse kollegas af te kraak op televisie. Die Republikeinse kandidate het egter kop gehou en op positiewe beginsels gekonsentreer.Wat wel baie interessant gaan wees is Obama se houding oor die onwettige immigrante wat hy nie wil laat deporteer nie, wat vir hom groot probleme met die kiesers gaan veroorsaak.Ek vermoed hier is n bedekte agenda.Laat jou wonder want ons het dieselfde patroon in SA.