001cd-netherlandsshariaIn die noordooste van Nederland, in die provinsie Drenthe, is die dorpie Oranje. Dié dorp met sy 140 inwoners was laas in die nuus toe die plaaslike aartappelverwerkingsfabriek gesluit het. Die afgelope tyd is Oranje egter weer in die nuus. Daar is besluit om 1400 Siriese asielsoekers in Oranje te huisves. Die asielsoekers het reeds begin arriveer en daarmee saam die wese van Oranje verander. ‘n Dorp met 140 inwoners wat skielik 1400 nuwe bewoners uit ‘n vreemde land, wat ‘n vreemde taal praat en wat glad nie ekonomies aktief is nie, moet huisves, kan nooit weer dieselfde wees nie.

Oranje is nou wel ‘n ekstreme voorbeeld van die toepassing van Nederland se asielbeleid, maar hoewel ekstreem is dit nie geïsoleerd nie. Regoor Nederland word duisende Siriese asielsoekers voortdurend in alles van ou fabrieke tot leë skoolgeboue, hotelle en ouetehuise geplaas.

Die sogenaamde “Centraal Orgaan Opvang Asielzoekers” (COA) is volgens wetgewing verantwoordelik vir die hantering van alle vlugtelinge wat in Nederland om asiel aansoek doen. Tans stroom meer as 800 mense per week na die oorvol sentrums van die COA om vir asiel aansoek te doen. Hierdie mense word regoor die land geplaas. Hoewel die meeste asielsoekers uit Sirië kom, stroom asielsoekers uit Irak, Libië, Egipte en toenemend ook Eritrea na Nederland.

Die verstommende realiteit is dat Nederland eintlik redelik ver van al hierdie lande geleë is. Waarom sal mense dus al die moeite doen om byvoorbeeld uit Eritrea na Nederland te reis om daar om asiel aansoek te doen? Die antwoord lê in die wyse waarop die Nederlandse regering asielsoekers hanteer. Relatief aangename behuising word vir hulle gevind en asielsoekers kry heelwat regte en voordele. Die meeste van hulle keer waarskynlik nooit na hul lande van oorsprong terug nie.

Die verhaal van Oranje en ander dorpe en stede regoor Nederland, is ook die verhaal van dorpe en stede in België, Duitsland, Frankryk en ander Europese lande. Honderde duisende asielsoekers uit geweldgeteisterde derdewêreldlande stroom jaarliks na Europa. Liberale wetgewing oor die hantering van vlugtelinge maak dit maklik vir hierdie mense om verblyf in van die veiligste lande met die hoogste lewenstandaard in die wêreld te kry.

Elke dorp en stad in Europa is besig om in ‘n multikulturele samelewing te ontaard. Die Europese droom van integrasie het reeds in duie gestort. Immigrante uit die derde wêreld weier meestal om hul nuwe land se taal en kultuur aan te leer en selfs hul kinders word nie geassimileer nie. Moskees word gebou en volle woonbuurte word beset. Daar word selfs op die toepassing van Sharia-wette aangedring. Die Westerse wêreld se oopgrense en ooparms beleid begin reeds byt. Misdaad, druk op die welsynstaat en agressie teenoor onder andere Jode en homoseksueles deur immigrante is enkele van die bewyse dat die multikulturele projek misluk het.

Westerlinge staan voor ‘n keuse. Of hulle maak die grense van hul lande digter toe en oorleef of hulle word binne enkele dekades ‘n minderheid in hul eie lande soos wat die 140 Nederlanders in Oranje binne enkele dae ‘n minderheid in hul eie dorp geword het.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel