fbpx

10646984_10152876832787009_8267255284772692968_nAgri SA, Suid-Afrika se grootste landbou-organisasie het verlede week tydens hul jaarkongres ‘n ambisieuse grondhervormingsplan bekend gemaak. Die president van Agri SA, Johannes Möller, het hom sterk ten gunste van grondhervorming uitgespreek.

Dit is duidelik dat die strategie van Agri SA daarop geskoei is om ‘n pro-aktiewe benadering tot grondhervorming te volg. Die boodskap wat hulle dus uitstuur is een waar grootskaalse grondhervorming ‘n gegewe is en waar die redes daarvoor reeds bestudeer en aanvaar is. Hoewel Agri SA waarskynlik reg optree deur nie ‘n strategie van konfrontasie met die regering te volg nie, maak hy egter ‘n fout deur nie die motiewe agter die grondhervorminggeraasmakers se propaganda te bevraagteken nie.

Waarom vra die leierskap van Agri SA nie meer indringende vrae oor huidige grondbesit in Suid-Afrika nie? Waarom gebruik die organisasie nie die lae persentasie swart Suid-Afrikaners wat gedurende die vorige grondeiseproses vir grond bo geld gekies het, as bewys dat die regering se boodskap oor grondhervorming skeefgetrek is nie? Sou dit nie beter gewees het vir Agri SA om eerder ‘n sterk boodskap teen grootskaalse grondhervorming te formuleer as om eenvoudig so ‘n proses as ‘n gegewe te aanvaar nie?

Daar is heelwat rede om te glo dat grondhervorming ‘n beperkte bydrae tot die lewensgehalte van swart Suid-Afrikaners sal lewer. Ons sien vandag steeds grootskaalse verstedeliking in Suid-Afrika. Die meeste swart Suid-Afrikaners wil graag ‘n goeie stedelike lewe lei en daar is baie min swartmense by wie daar nog ‘n agrariese tradisie bestaan. Die grootste struikelblokke vir swart Suid-Afrikaners is onderwys, toegang tot naskoolse opleiding, ekonomiese vaardighede, kapitaal en dienslewering. Toegang tot grond beteken nie toegang tot welvaart nie en die invloed van klimaat, insetkoste, internasionale mededinging en tegnologiese vooruitgang maak boerdery ‘n moeilike en duur bedryf.

Indien die regering eerlik is oor swartmense se behoefte om grond te besit moet die vraag gevra word waarom die regering dan nie sy grondhervormingsproses begin deur eenvoudig die miljoene swartmense wat op staatsgrond en in staatshuise woon eiendomsreg te gee nie? Die ekonomiese impak hiervan sal reeds enorm groot wees omdat hierdie mense, baie van hulle in die ou tuislande, skielik toegang tot kapitaal sal kry wat kommersiële boerdery makliker sal maak.

Die idee dat meer swartmense kommersiële boere moet word is goed, maar om dit te forseer sou onsinnig wees. Op plekke waar suksesvolle swart kommersiële boere aangetref word, is dit meestal deur hul eie toedoen dat hul suksesvol geraak het en nie omdat die regering vir hulle ‘n stukkie grond gegee het nie. Daar is voortdurend ‘n toename in suksesvolle swartmense wat binne die vryemark plase aankoop. Dit gekoppel aan groter eiendomsreg sal op ‘n ongedwonge wyse swartmense se deelname aan kommersiële landbou verhoog.

Grootskaalse grondhervorming en nuwe grondeise skep onsekerheid wat wesenlike skade aan Suid-Afrika se landboubedryf kan aanrig. Landbou-organisasies moet pro-aktief dink en mag kreatiewe grondhervorming steun, maar hulle kan nie toelaat dat die regering en aktiviste met leuens verkeerde en selfs gevaarlike persepsies oor grond skep nie.

* Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging en skryf vanuit sy persoonlike hoedanigheid op die Orania Blog. Verskeie van sy plasings is as nuuskommentare vir ander media saamgestel en is algemene kommentaar oor plaaslike en internasionale nuus. Inskrywings moenie as beleidstellings van die Orania Beweging beskou word nie.