fbpx

BeeldeBaie is al bespiegel oor Orania se inwonersgetalle, ouderdomsgroepe en geslagsverdeling en hoe die demografie van die omgewing lyk.
Die rede om die eerste groeipunt in Orania in die Noordwes-Kaap in 1991 te stig en om die aangewese volkstaatgebied tussen Oranjerivier en Weskus voor te stel was hoofsaaklik demografie, met ander woorde die feit dat dit ‘n baie yl bevolkte gebied is met min of geen bevolkingsgroei en waar met relatief klein getalle Afrikaners meerderheidsbesetting bereik kan word.
Met die syfers van Sensus 2011 en vergelykende syfers van Sensus 2001 en Orania se eie syfers, kon ‘n paar interessante bevindinge gemaak word rakende Orania en die omgewing se demografie.
Orania as dorp het 867 inwoners (data van Sensus 2011), maar as plaasgrond wat onder die beheer van Orania se maatskappye val, bygetel word, is die syfer amper ‘n duisend inwoners. Intussen het die bevolking nog gegroei, maar die syfer van om en by 1000 inwoners is veilig. Daar vind altyd ’n bietjie ondertellery plaas, maar dit is beter as skattings, wat geneig is om te hoog te wees. Wat nou reeds duidelik is, is dat Orania die grootste konsentrasie Afrikaners in die hele streek huisves.
Wat belangriker is as die getalle, is die feit dat Orania se bevolking geweldig gegroei het tussen 2001 en 2011, naamlik met 72%, en steeds groei. Wat nog meer sê, is dat dit groei is van mense wat hulleself kan onderhou en ekonomies aktief is, nie groei weens plakkery nie, soos wat op talle ander dorpe die geval is. Orania se groei is egter feitlik uitsluitlik weens nuwe intrekkers, nie weens natuurlike aanwas nie. Geboorte- en sterftesyfers is redelik in balans.
Wat die ouderdomsverspreiding betref, lyk Orania baie gesond. Daar is genoeg kinders, maar die grootste groep is mense in die ekonomies aktiewe ouderdomsgrope tussen 20 en 60. Hier is natuurlik ou mense ook, maar anders as wat die persepsie is, is hulle persentasie eintlik min as ’n mens dit vergelyk met die ouderdomsprofiel van die Afrikanervolk as geheel, of met die van ander Westerse volke. In ‘n Derde Wêreld opset, soos die meeste dorpe in die omgewing, is daar baie kinders, minder ekonomies aktiewe mense en baie min ou mense, die klassieke piramiede. In ‘n Westerse samelewing is daar te min kinders en te veel ou mense en die bevolkingssamelstelling neem die vorm van ‘n sampioen aan. Orania s’n is die goue middeweg tussen die twee uiterstes.
Orania het wel heelwat meer mans as vroue (60% teenoor 40%), wat egter vir ‘n pionierssamelewing en ‘n dorp wie se kernbedrywe landbou, konstruksie en herstelwerk is, nie ongewoon is nie. Soos wat hier meer dienstebedrywe en administratiewe poste ontstaan, sal die geslagswanbalans vanself regkom. Dit het reeds verbeter. Vir die bou van ‘n gesonde samelewing is die vorming van gesinne belangrik en dus ‘n balans tussen die twee geslagte.
Wat die omgewing betref (dorpe soos Hopetown, Strydenburg, Vanderkloof, Petrusville, Phillipstown en Luckhoff), is dit opvallend dat die streek oorwegend Afrikaanssprekend is (omtrent 80% praat Afrikaans as moedertaal) en oorwegend deur bruin mense bewoon word. Die getalle van witmense, wat in die streek feitlik almal Afrikaners is, gaan geleidelik agteruit, soos wat ongelukkig orals op die platteland weens trek na die stede te bespeur is. Slegs Vanderkloof trek in ‘n beperkte mate wit mense omdat dit ‘n aftreedorp is. Swartmense in die streek is ‘n minderheid, maar hulle getalle tel nogal merkwaardig op. Asiërs was in 2001 feitlik afwesig en hulle getalle is nog steeds baie klein, maar die toename is sterk. Dit het te doen met die verskynsel van Sjinese handelaars wat deesdae in elke dorp te vinde is. Terwyl die dorpe se getalle styg, ongeag of daar ekonomiese aktiwiteit is of nie, ontvolk die plase. Dit geld vir alle bevolkingsgroepe, maar veral vir bruin en swart plaaswerkers, wat dikwels na die naaste dorp toe trek. Weens meganisasie word plaaswerkers al hoe minder benodig.
Hierdie bevindinge beteken vir die strategie van die Orania Beweging dat op die uitbou van Orania tot ‘n klein stad gefokus moet word, eerder as om te probeer om dorpe in die omgewing oor te neem. Selfs vir die kleinste dorp in die omgewing, Strydenburg, is sowat 3000 Afrikaners nodig om ‘n meerderheid daar te stel. Die aankoop van plase is egter ‘n strategie wat toenemend die moeite werd is soos wat plase ontvolk en voedselsekuriteit belangrik raak. Orania beskik tans egter reeds oor ‘n groot plaasgedeelte.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.