by Jaco Kleynhans | Nov 27, 2014 | Nuus |
Die konserwatiewe persoon is voor alles gemoeid met die herlewing van die geestelike en die karakter – met die godsdienstige sanksie waarop enige lewe wat die moeite werd is, gebou word. Dit is die konserwatiewe tradisie op sy beste – Russell Kirk
Afrikaners het ’n lang geskiedenis met die konserwatiewe tradisie. Die besef van wie jy is, watter waardes jou vorm, en hoe jou omgewing en die instellings waarvan jy deel is tot jou menswees bydra in die lang en moeisame pad om vir jouself en jou naastes ’n toekoms van geluk en sukses te verseker, was nog altyd deel van die Afrikaner se mondering. Russell Kirk se verwysing na die herlewing van die geestelike en die karakter kan ook raakgesien word in die wyse waarop die Afrikaner telkens na moeilike tye opgestaan het. Vas in die geloof en trots op ons Afrikanerwees het die Afrikaner nog elke keer na ’n krisistyd hergroepeer. Afrikaners was in ons geskiedenis tot dusver in ’n groot mate tradisionele of paleo-konserwatiewe mense. Afrikaners is vir lank gekenmerk deur ’n interne lokus van beheer, dus ’n tradisionele lewensbeskouding, eerder as ’n eksterne lokus van beheer waaroor ons beslis dieper moet nadink.
Konserwatiewe bewegings in talle Westerse lande, ook in Suid-Afrika, is sedert die Tweede Wêreldoorlog deur neo-konserwatiewes oorgeneem. Hierdie neo-konserwatiewes verskil wesenlik in hul uitkyk op die hantering van verskeie beleidskwessies van die meer tradisionele of paleo-konserwatiewe persoon.
Tradisionele konserwatiewes se negatiewe reaksie op neo-konserwatisme het heelwat te make met die wyse waarop konserwatisme as begrip skielik toegeëien is. Neo-konserwatiewes verskil van tradisionele konserwatiewes op ’n hele paar kenmerkende wyses wat direk verbond hou met ’n eksterne beskouing oor beheer. Daar is byvoorbeeld die kenmerkende intervensionistiese buitelandse beleid in die VSA. Onder leiding van neo-konserwatiewes soos George W Bush, Dick Cheney en Donald Rumsfeld is die oorloë in Irak en Afganistan aangemoedig. Neo-konserwatiewes glo ook in ’n sterk sentrale regering. Hoewel hulle nie sosialiste is nie, glo hulle dat ’n regering heelwat goeie dinge kan en moet doen. ’n Sterk sentrale regering verseker volgens hulle ’n soort sekerheid onder burgers. Neo-konserwatiewes is ook meer op die individu as die gemeenskap gefokus en glo aan die absolute vryemark sonder enige meganismes om ongelykhede in die globale mark in ag te neem.
Neo-konserwatiewes en tradisionele konserwatiewes verskil wesenlik oor buitelandse beleid. Tradisionele konserwatiewes glo dat lande hul by hul eie sake moet hou terwyl neo-konserwatiewes glo dat Westerse regerings demokrasie en die vryemark teen alle koste na lande met diktatorskappe en ondemokratiese regerings moet neem.
Die twee kampe verskil ook op sosiale terrein. Hoewel die meeste neo-konserwatiewes tot ’n mate konserwatiewe standpunte oor kwessies soos homoseksualiteit, aborsie en die rol van geloof in openbare ruimtes inneem, verkies hulle om nie op hierdie kwessies nie, maar eerder op ekonomiese en internasionale sake te fokus. Neo-konserwatiewes stel dus die geestelike aspek en die vormende aard van karakter sekondêr tot eksterne invloede.
’n Groot probleem wat tradisionele konserwatiewes verder met neo-konserwatiewes het, is hul totale miskenning van die belang van die gedesentraliseerde gemeenskap. ’n Gemeenskap van mense wat in dieselfde rigting dink weens hul interne lokus van beheer is buite die denkraamwerk van die neo-konserwatiewe persoon. Neo-konserwatiewes is geneig om mag op te wentel na die sentrale regering eerder as af te wentel na die gemeenskap. George W Bush se eerste wesenlike stuk wetgewing nadat hy president van die VSA geword het, was ’n nasionale plan om seker te maak dat kinders wat agterstande op skool ontwikkel, ekstra aandag geniet. Tradisionele konserwatiewes glo dat die federale regering in die VSA eintlik niks met onderwys te doen moet hê nie en dat onderwys aan die state en plaaslike gemeenskappe oorgelaat moet word. Opvoeding moet dus vanuit die interne eerder as die eksterne inisiatiewe plaasvind. Nog ’n voorbeeld van neo-konserwatiewes se benadering tot onderwys is die regering van Angela Merkel in Duitsland wat drakoniese stappe teen ouers wat aan hul kinders tuisonderrig wou bied, geneem het. Tuisskoling is onwettig in Duitsland omdat Merkel se regering glo dat slegs die regering weet hoe om kinders behoorlik op te voed.
Die Amerikaanse paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, gaan sover as om te sê dat neo-konserwatiewes ’n groter bedreiging as sosialiste inhou. Sy standpunt is gebaseer op die basis dat ons almal sosialisme min of meer verstaan en bewus is van die strewes van sosialiste. Die probleem met neo-konserwatiewes is dat hulle die woord konserwatief hul eie gemaak het terwyl hulle op verskeie terreine afgewyk het van die oorspronklike beginsels van die konserwatiewe tradisie.
Ook Afrikaners het die afgelope tyd in die slaggat van neo-konserwatisme begin trap deur toe te laat dat eksterne oorwegings ons rigting bepaal. Ons het van ’n interne lokus van beheer na ’n eksterne lokus van beheer verskuif, met verlies aan belangrike geestelike oorwegings. Verskeie Afrikaners bepaal deesdae hul prioriteite volgens wêreldse eise in plaas van om dit vanuit ’n herontdekking van die geestelike en die karakter te doen.
Ons instellings het ’n groot taak om ons mense weg van die neo-konserwatisme na ’n herontdekking van die geestelike, tradisie, en ons Afrikanerkarakter te lei. Hierin behoort die kerk ’n leidende rol te vervul.
*Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging en skryf vir verskeie publikasies oor temas wat direk, maar veral ook indirek verband hou met die Afrikaner se strewe na selfbeskikking. Hierdie artikel is vir die Afrikaanse Protestantse Kerk se webblad (www.apk.co.za) geskryf.
by Jaco Kleynhans | Nov 25, 2014 | Nuus |
Die privatisering van die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur het die afgelope paar dae nog meer duidelik geraak. Die afgelope twee naweke het 80 000 mense, die meeste nog, die Afrikaanse musiekkonsert, Afrikaans is Groot, bygewoon. Afrikaanse musiekverkope breek voortdurend rekords en die Afrikaanse filmbedryf lewer beter en meer suksesvolle films as ooit in die verlede.
Afrikaans gedy op privaattelevisiekanale soos kykNET en Afrikaanse gemeenskapsradiostasies soos Radio Pretoria toon groeiende luistertalle. Orals skiet klein privaat uitgewerye op wat Afrikaanse boeke en veral boeke oor die Afrikaner se geskiedenis en kultuur publiseer.
Ons het egter ook die afgelope paar dae beleef hoe die SAUK die bietjie, meestal swak, Afrikaans wat nog op hul kanale oor is verder afskaal. Die gewilde natuurleweprogram 50/50 het ‘n nuwe taalbeleid waarvolgens slegs 20% van die programinhoud voortaan in Afrikaans sal wees. Slegs enkele Afrikaanse programme van goeie gehalte op die SAUK se kanale bly oor en hierdie programme bestaan hoofsaaklik weens privaatinisiatiewe. Elzilda Becker, redakteur van die glanstydskrif DeKat, verdien ‘n pluimpie vir haar inisiatief om ‘n program, DeKat-TV, saam te stel. Sou dit nie vir hierdie soort privaatinisiatiewe gewees het nie, sou daar nog minder Afrikaans op die SAUK se kanale gewees het.
Een van die terreine waar die behoud en uitbou van ons taal en kultuur egter die meeste openbare veld verloor, is die akademie. Die probleem begin reeds op skoolvlak waar die meeste Afrikanerkinders vandag nie meer oor hul geskiedenis en kultuur onderrig word nie. ‘n Klein groepie privaatskale swem toenemend stroom op en doen belangrike werk om hierdie tendens teen te werk.
Die afgelope paar dae het dit ook aan die lig gekom dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans die primêre taal van onderrig is, nou ook getransformeer sal word. Die raad van die Universiteit van Stellenbosch het op teleurstellende wyse aangekondig dat Afrikaanse en Engels voortaan gelyke status by dié universiteit sal geniet.
Voorheen was Afrikaans die primêre onderrigtaal. By die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus was Afrikaans tot nou toe die primêre onderrigtaal. Die rektor Dan Kgwadi se transformasieplan, wat onlangs uitgelek het, bewys egter duidelik dat hy beplan om Afrikaans by dié universiteit af te skaal. Dit raak toenemend moontlik dat Afrikaans binne die volgende paar jaar totaal as onderrigtaal by openbare universiteite kan uitsterf.
In skrille kontras met die verval van Afrikaans aan openbare tersiêre onderriginstellings soos universiteite, universiteite van tegnologie en kolleges breek ‘n nuwe era vandag aan met die aankondiging van die uitbreiding van die privaatuniversiteit, Akademia, se aanbod. Die vakbond Solidariteit het ‘n paar jaar gelede die inisiatief geneem om Akademia op die been te bring en ons kan maar net almal hoop dat Akademia in die komende paar jaar die gaping in Afrikaanse naskoolse onderrig sal kan vul.
Die ANC-regering werk pro-aktief aan die uitwerk van Afrikaans en die Afrikanerkultuur uit alle openbare ruimtes. Ons het almal ‘n plig om elke inisiatief wat ons taal en kultuur in privaatruimtes bevorder, te ondersteun.
by Sebastiaan Biehl | Nov 25, 2014 | Nuus |
As ons die meningsvormers van ons tyd, soos dr Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg moet glo, is tradisie, geloof en kultuur dinge wat ons terughou en wat oorkom moet word deur progressiewe denke, oftewel liberalisme. Hy noem uiterste voorbeelde van die misbruik wat in die naam van tradisie, kultuur en geloof gepleeg word, soos die onderdrukking van vroue in die Moslemwêreld in die naam van geloof. Hy is reg dat nie enige wanpraktyk stilswyend aanvaar of selfs goedgekeur moet word net omdat dit in die naam van kultuur, tradisie en geloof plaasvind nie.
Om egter die drie begrippe te reduseer tot wanpraktyke en om die bevryding van kultuur, godsdiens en tradisie deur middel van liberalisme te bepleit, skiet vêr te kort. ‘n Baie dieper denker as Croucamp is Edmund Burke, wat in die 18de-eeuse Engeland polities en veral as denker en filosoof aktief was en wie se denke nog vandag geldigheid het. Die mensdom het wel sedertdien tegnologies geweldig ontwikkel, maar sy denkpatrone het deur die eeue breedweg dieselfde gebly. Reeds in die antieke tydperk was daar diegene wat ten alle koste aan ‘n onwerkbare stelsel wou vashou, diegene wat dit radikaal omvêr wou werp en diegene wat wanpraktyke wou afskaf sonder om die baba met die badwater uit te gooi. Laasgenoemde groep is die konserwatiewes en Burke was by uitstek ‘n verteenwoordiger van die denke en houding. Anders as wat algemeen daaronder verstaan word (en deur misplaaste name soos die “Konserwatiewe Party” van weleer versterk word) is konserwatiewes nie per se teen verandering nie en wil nie enige uitgediende stelsel teen alle koste verdedig nie. Konserwatiewes in die tradisie van Burke beroep hulle op die tradisie juis om wanpraktyke en onwerkbare afwykings van ‘n stelsel weer reg te stel. Die stelsel word hervorm om dit te behou, nie om dit af te skaf nie. Radikale (linkses) daarenteen wil die stelsel omverwerp en met iets wat ongetoets is, vervang. Reaksionêre wil ten alle koste aan alles, ook aan wanpraktyke vashou en lok daarmee juis revolusies uit.
Burke bespreek breedvoerig twee tipes “rewolusies” wat in sy tyd, of kort voor sy tyd, plaasgevind het. Die “Glorieryke Revolusie” van 1688 in Brittanje kry die steun van Burke want dit het, na ‘n tydperk van ‘n burgeroorlog, weer die balans tussen koning en parlement herstel. Die burgeroorlog het ontstaan omdat die koning, James II, juis van die oeroue tradisie van balans afgewyk het en homself absolute mag wou toeëien en boonop die katolieke godsdiens in Engeland wou invoer. Die parlement, gesteun deur adelikes, het toe die Nederlandse stadhouder Willem van Oranje gevra om hulle verligte koning te wees en het in ‘n onbloedige revolusie koning James gedwing om te bedank. Willem van Oranje het koning Willem III geword en het die magsbalans weer herstel en saam met die parlement regeer soos wat dit eeue oue Britse praktyk was.
Dieselfde geld vir die Amerikaanse Revolusie (1775-1783). Volgens Burke, wat begrip vir die Amerikaanse koloniste gehad het, al was hy ‘n lid van die Britse parlement, is inbraak gemaak op die fundamentele regte en vryhede van die koloniste en was hulle opstand ten magsmisbruik deur die Britse regering en veral die koning dus geregverdig. Hulle wou nie ‘n ander bestel hê nie, en ook nie bande met Brittanje verbreek nie, maar wou bloot terugkeer na die vryhede waaraan hulle gewoond was. Die aanvoerder van die koloniste, George Washington, was ‘n konserwatiewe en hoogs gekultiveerde mens en het gewerk vanuit waardes soos verantwoordelikheid en vryheid met geregtigheid. Die hardhandige houding van die Britse regering het egter daartoe gelei dat die koloniste geen ander uitweg gesien het as om in opstand te kom en hulle vry te verklaar. Die Verenigde State wat daaruit gebore is was egter ‘n staat wat die waardes wat konserwatiewes koester juis in beskerming geneem het en die Amerikaanse grondwet is ‘n voorbeeld van die balans van persoonlike vryhede en verantwoordelikhede. Nadat die Amerikaners hulle onafhanklikheid bekom het, het hulle hulle staat van onder af opgebou en bestaande strukture eerbiedig en die Britse tradisie eerbiedig.
Die Franse Revolusie (1789-1792), daarenteen, wou nie net wanpraktyke soos die absolute mag van die koningshuis en die adellikes, en verskriklike armoede aanspreek nie, maar het ‘n radikaal ander bestel sonder enige historiese voorbeeld nagestreef. Die revolusionêre leiers soos Danton en Robespierre was gedryf deur die skepping van ‘n utopiese samelewing wat wegdoen met tradisie en godsdiens en kan as voorlopers van menige, verwoestende kommunistiese revolusies beskou word. Meer nog, die revolusionêre ywer het nie gestop in Frankryk nie, maar het ‘n streeksoorlog teen die heersende orde in Europa ontketen. Die Glorieryke Revolusie en die Amerikaanse Revolusie was gemik op misbruike in die betrokke lande en het nie die aanspraak gehad om ‘n wêreldrevolusie te ontketen nie.
Tradisie verteenwoordig iets wat ingewortel is in ‘n volk en net soos kultuur en godsdiens ‘n baie lang pad kom. Kultuur verander oor tyd, sekere tradisies sterf uit en ook godsdienstige praktyke bly nie altyd dieselfde nie. Wanpraktyke soos die wat deur dr Croucamp beskryf word moet beveg word. Liberaliste wil egter nie net wanpraktyke beveg nie, maar wil wegdoen met die fondasie daarvan en gebruik wanpraktyke as regverdiging daarvoor. Sodoende maak hulle die deur oop vir diegene wat die stelsel omvêrgooi. ‘n Stelsel sonder die tempering van kultuur, godsdiens en tradisie ontaard feitlik altyd in ‘n orgie van chaos en geweld, omdat dit geen fondasie het nie en die onderste boontoe gekeer word. Ons sien dit in vandag se tyd waar ongeletterde aanhitsers die agenda bepaal en die samelewing in barbarisme verval.
Orania se sukses en vermoë om in vyandige omstandighede te floreer het baie te doen met sy grondslag, naamlik die Christendom met sy waardes en die Afrikanerkultuur en tradisie.
Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.
by Jaco Kleynhans | Nov 20, 2014 | Nuus |
Leiers van die G20-lande het die afgelope naweek in Brisbane Australië byeengekom. Sedert die vorige byeenkoms van die G20-leiers verlede jaar in St Petersburg in Rusland het heelwat dinge gebeur wat verhoudinge tussen die leiers van die wêreld se sterkste ekonomieë beïnvloed het.
Die belangrikste gebeure is die krisis in Oekraïne, die voortspelende geweld in Sirië en Irak, die Europese verkiesing en meer onlangs President Obama se pakslae by die stembus in die VSA. Hierdie gebeure staan egter binne die konteks van ‘n wêreld met groter geo-politieke veranderinge.
Hoewel Westerse leiers dit nie wil besef nie, is die afgelope jaar se internasionale gebeure deur veral twee kategorieë van probleme gekenmerk. Die eerste is die feit dat kiesers in byna elke Westerse land kwaad is en ‘n groot verwydering tussen hulself en die politieke elite beleef. Euroskeptiese partye het groot opgang in die Europese verkiesing gemaak en daardeur ‘n duidelik boodskap aan leiers in Europa gestuur. Die onlangse verkiesing in Amerika was ook ‘n boodskap van Amerikaanse kiesers dat hul omgekrap is met die huidige politieke stelsel. Westerse burgers is onrustig weens die ekonomiese agteruitgang in hul lande, onbeheerde immigrasie en ‘n algemene rigtingloosheid van Westerse leiers.
Die tweede kenmerk van die afgelope twaaf maande se politieke gebeure staan binne die drang na groter selfbeskikking in verskillende wêrelddele. Die krisis in Irak en Sirië het meer te make met territoriale state wat nie sin maak nie as wat dit met Moslemekstremisme te make het. Irak moet opgebreek word om nuwe nasiestate te skep. Dieselfde geld vir Sirië en selfs Oekraïne. Die meeste van hierdie lande is maaksels van Westerse imperialisme. Die referendum om onafhanklikheid in Skotland het binne dieselfde konteks plaasgevind. Westerse leiers vrees ‘n opbreek van multi-kulturele territoriale state regoor die wêreld, aangesien dit hul magsposisie kan bedreig. Daarom veg hulle op die vuilste maniere denkbaar om die status-quo te handhaaf.
Uit die afgelope naweek se gebeure in Brisbane is dit duidelik dat die Weste sy leierskapsrol in die wêreld verloor en voortdurend na strooihalms gryp om sy posisie van mag te probeer behou. Die voortdurende aanvalle op Vladimir Putin is een manier waarop Westerse leiers die morele hoëgrond probeer handhaaf. Die feit dat Westerse leiers dus die naweek soos ‘n trop wildehonde op Putin toegesak het, kom as geen verrassing nie. Hul doel was duidelik: Maak Putin die skuldige-party in die krisis in Oekraïne en beveg so die argument dat selfbeskikking vir die verskillende volkere in Oekraïne eintlik die oplossing is.
Op ekonomiese terrein moet Westerse leiers reeds voor leiers uit Oosterse lande kruip. Australië se ekonomie is deesdae grootliks afhanklik van die uitvoer van natuurlike hulpbronne aan China. Die VSA skuld die Chinese soveel geld dat Obama nie anders kan as om mooi broodjies by die Chinese te bak nie.
Die oplossing vir talle wêreldkrisisse lê nie in die behoud van die status quo nie, maar eerder in die afbreek van uitgediende territoriale state en die reg van nasies om hulself, selfstandig te regeer.
by Ebert Terblanche | Nov 16, 2014 | Nuus |
Die ou gesegde lui dat die mensdom regverdige meesters verkies bo vryheid.
Hierdie siniese gesegde verklaar moontlik waarom die behoefte na selfbeskikking (die vermoë om self besluite te neem oor die aangeleenthede wat ons ten nouste raak) toeneem namate die persepsie van ons meesters se regverdigheid afneem.
So duik gesprekke oor selfbeskikking deesdae blykbaar ook in gerespekteerde geselskap op – iets wat haas ondenkbaar was tydens die ampstermyn van president Mandela.
Hierdie verwantskap tussen die behoefte na selfbeskikking en die huidige gedrag van ons heersers dien egter om ʼn problematiese, oppervlakkige siening van die wyse waarop selfbeskikking verkry word, te verstewig.
Selfbeskikking as gebeurtenis
Sommige wat aan die debat en kommentare oor selfbeskikking deelneem, huldig blykbaar die gedagte dat selfbeskikking ʼn gebeurtenis is.
Volgens hierdie siening word selfbeskikking verwesenlik wanneer die nodige morele gronde of welwillendheid bestaan vir ʼn volk om hul ‘reg op selfbeskikking’ op te neem. Dit beteken dat ʼn volk eers vry is nadat hierdie gebeurtenis plaasvind.
Hierdie verstaan van selfbeskikking is oppervlakkig omdat dit nie rekenskap hou met die eise wat selfbeskikking stel nie en vervreemd is van die geskiedenis en die wel en weë van suksesvolle selfbeskikkingsbewegings.
Die grootste probleem met hierdie benadering is egter die wyse waarop dit aspirant-selfbeskikkingsbewegings lamlê.
In die eerste opsig moedig hierdie siening uitstel aan. Mense hoop op en wag vir die ‘regte’ omstandighede wat die ‘gebeurtenis’ moontlik maak voordat hulle betrokke raak. Hulle hoop op iets soos ʼn regeringsverklaring of ʼn gunstige bevel van ʼn Internasionale Hof.
In die tweede opsig vul hierdie siening mense met vrees. Hul vrees dat selfbeskikking iets is wat deur die regering (in ons huidige geval die ANC) geduld moet word om te ‘gebeur’ en dat selfbeskikking, by die gebrek aan hierdie welwillendheid, in ʼn oogwink kan verdwyn. Daarom is dit beter om te wanhoop as om ‘valse’ hoop te koester wat soos mis voor die son mag verdwyn.
In beide gevalle vorder selfbeskikking nie verder as braaivleisvure en bloginskrywings oor die internasionale reg nie, of soos iemand anders gesê het: “vrees kelder baie meer drome as mislukking.”
Selfbeskikking as proses
Die geskiedenis wys egter dat ten spyte van die fanfare wat met die erkenning van selfbeskikking gepaardgaan, selfbeskikking ten diepste ʼn proses is.
Volgens hierdie siening is selfbeskikking dieselfde as enige ander menslike prestasie: dit word bewerk en in stand gehou deur volgehoue werk en deursettingsvermoë. Dit is ʼn reis waarin elke tree sy eie beloning bring en ʼn stukkie vryheid ontsluit.
Die vryheidsverklaring (in watter vorm ook al), wanneer dit dan plaasvind, is nie die begin van vryheid nie, maar slegs die akkreditasie daarvan.
Wat baie belangrik is, is dat in teenstelling met ʼn gebeurtenis, ʼn proses iets is wat momentum opbou, wat nie uitsluitlik van eksterne faktore afhanklik is vir sy sukses nie en waarin geen bydrae te klein is om ʼn groot verskil te maak nie.
ʼn Proses is ook meer volhoubaar omdat dit die verbeeldings van nuwe geslagte kan aangryp, want dit is nooit werklik afgehandel nie en bly oop vir vernuwing, uitbreiding, herverbeelding en verruiming.
Orania is verbind tot selfbeskikking as proses en daarmee wil ons elkeen wat ʼn ryk en vol Afrikanerbestaan kan indink, uitnooi om hul by ons aan te sluit en dit saam met ons te ervaar.
by James Kemp | Nov 13, 2014 | Nuus |
Met die Amerikaanse middeltermynverkiesing pas agter die rug het baie van die debatte wat daar gevoer word weer sterk na vore getree. Een debat wat baie emosie uitlok handel oor aborsies. Konserwatiewe Christene voel sterk daaroor dat aborsies ontoelaatbaar moet wees en as moord beskou moet word. In liberale kringe word die individu se reg op keuse hoër geag as die lewe van die ongebore fetus. `n Interessante argument wat vanuit die meer liberale kringe opduik is dat aborsies direk bydrae tot `n afname in misdaad. Daar word aangevoer dat diegene wat `n aborsie sou laat uitvoer oorwegend in `n situasie is waar hulle nie na die kind kan kyk nie en dat daar `n sterk moontlikheid bestaan dat die kind nie `n behoorlike opvoeding ontvang nie en in die misdaadwêreld sal verval.
So `n stelling is duidelik uiters omstrede en daar kan lank debat daaroor gevoer word. Die doel van dié stuk is egter nie om daardie stelling te debatteer nie maar om die regverdiging van aborsies aan die hand van daardie stelling te bevraagteken.
In Christelike kringe word aborsie in die algemeen nie goedgekeur nie. En dit is goed dat geloofsoortuigings so sterk is dat `n onverskrokke standpunt oor `n saak ingeneem word. Ons moet egter nie uit die oog verloor nie dat ons `n klimaat moet skep waar daardie standpunte lewensvatbaar is. Dit bring ons terug by die standpunt dat aborsies `n direkte bydrae kan lewer tot die afname in misdaad. Die standpunt is moontlik geldig in `n gemeenskap waar daar nie maatskaplike ondersteuning is nie en werksgeleenthede skaars is. In so `n gemeenskap sal daar geleentheid vir huisbraak, dwelmhandel en ander vorme van misdaad wees. Dalk selfs motordiefstal en kapings. In so `n gemeenskap bestaan daar `n moontlikheid dat bogenoemde stelling korrek kan wees.
In `n gemeenskap waar kerke egter `n belangrike deel van jou lewe en ondersteuningsnetwerk vorm en werksgeleenthede beskikbaar is, kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar word dat `n ongewensde swangerskap tot misdaad sal lei nie. In `n gemeenskap waar daar nie ruimte geskep word vir misdadige elemente nie en professionele beraders en opgeleide maatskaplike werkers beskikbaar is om ondersteuning te bied, kan so `n standpunt nie as vanselfsprekend gesien word nie.
In die wêreld waarin ons leef is dit dikwels so dat ons persoonlike oortuigings dalk mag verskil van dit wat die wet bepaal en ons onsself wil beywer vir `n gemeenskap waar dit nie so is nie. Dit is egter baie belangrik om te onthou dat dit nie genoeg is om bloot wetgewing te verander om by ons geloofsoortuigings te pas nie, maar dat dit belangriker is om `n omgewing te skep waar daardie oortuigings prakties uitgeleef kan word.
James Kemp is die Kommunikasie- en Bemarkingsbestuurder van die Orania Beweging.
Nuutste Opmerkings