Die privatisering van die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur het die afgelope paar dae nog meer duidelik geraak. Die afgelope twee naweke het 80 000 mense, die meeste nog, die Afrikaanse musiekkonsert, Afrikaans is Groot, bygewoon. Afrikaanse musiekverkope breek voortdurend rekords en die Afrikaanse filmbedryf lewer beter en meer suksesvolle films as ooit in die verlede.
Afrikaans gedy op privaattelevisiekanale soos kykNET en Afrikaanse gemeenskapsradiostasies soos Radio Pretoria toon groeiende luistertalle. Orals skiet klein privaat uitgewerye op wat Afrikaanse boeke en veral boeke oor die Afrikaner se geskiedenis en kultuur publiseer.
Ons het egter ook die afgelope paar dae beleef hoe die SAUK die bietjie, meestal swak, Afrikaans wat nog op hul kanale oor is verder afskaal. Die gewilde natuurleweprogram 50/50 het ‘n nuwe taalbeleid waarvolgens slegs 20% van die programinhoud voortaan in Afrikaans sal wees. Slegs enkele Afrikaanse programme van goeie gehalte op die SAUK se kanale bly oor en hierdie programme bestaan hoofsaaklik weens privaatinisiatiewe. Elzilda Becker, redakteur van die glanstydskrif DeKat, verdien ‘n pluimpie vir haar inisiatief om ‘n program, DeKat-TV, saam te stel. Sou dit nie vir hierdie soort privaatinisiatiewe gewees het nie, sou daar nog minder Afrikaans op die SAUK se kanale gewees het.
Een van die terreine waar die behoud en uitbou van ons taal en kultuur egter die meeste openbare veld verloor, is die akademie. Die probleem begin reeds op skoolvlak waar die meeste Afrikanerkinders vandag nie meer oor hul geskiedenis en kultuur onderrig word nie. ‘n Klein groepie privaatskale swem toenemend stroom op en doen belangrike werk om hierdie tendens teen te werk.
Die afgelope paar dae het dit ook aan die lig gekom dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans die primêre taal van onderrig is, nou ook getransformeer sal word. Die raad van die Universiteit van Stellenbosch het op teleurstellende wyse aangekondig dat Afrikaanse en Engels voortaan gelyke status by dié universiteit sal geniet.
Voorheen was Afrikaans die primêre onderrigtaal. By die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus was Afrikaans tot nou toe die primêre onderrigtaal. Die rektor Dan Kgwadi se transformasieplan, wat onlangs uitgelek het, bewys egter duidelik dat hy beplan om Afrikaans by dié universiteit af te skaal. Dit raak toenemend moontlik dat Afrikaans binne die volgende paar jaar totaal as onderrigtaal by openbare universiteite kan uitsterf.
In skrille kontras met die verval van Afrikaans aan openbare tersiêre onderriginstellings soos universiteite, universiteite van tegnologie en kolleges breek ‘n nuwe era vandag aan met die aankondiging van die uitbreiding van die privaatuniversiteit, Akademia, se aanbod. Die vakbond Solidariteit het ‘n paar jaar gelede die inisiatief geneem om Akademia op die been te bring en ons kan maar net almal hoop dat Akademia in die komende paar jaar die gaping in Afrikaanse naskoolse onderrig sal kan vul.
Die ANC-regering werk pro-aktief aan die uitwerk van Afrikaans en die Afrikanerkultuur uit alle openbare ruimtes. Ons het almal ‘n plig om elke inisiatief wat ons taal en kultuur in privaatruimtes bevorder, te ondersteun.
Ek wil so vêr gaan om te sê dat ons in Orania die privatisering nog verder vat, naamlik privatisering van ‘n staat in die kleine oftewel private mini-staatskepping. Net ‘n staat kan alle elemente wat verval en wat een vir een geprivatiseer word, soos onderwys, kuns, kultuur, vermaak ens, weer opvang en aan sy bewoners ‘n lewe binne hulle eie kulturele sfeer verseker.
Stem saam!
Ons moet meer Semi Oranias skep en terugkeer na ROEP (Red ons eie Platteland). Ons moet in hierdie dorpe aftree-oorde bou dus oral waar daar water- en sonenergie beskikbaar is. Dit sal nodig wees om ook by kleiner dorpe soos Mosselbaai en Saldnaha waar hawens toegang bied Soos hulle in Engels se Footprint. Dit moet op strategiese plekke geskied.
Absoluut Fanie! uitstekende idee ons kort definitief meer Orania’s