Die konserwatiewe persoon is voor alles gemoeid met die herlewing van die geestelike en die karakter – met die godsdienstige sanksie waarop enige lewe wat die moeite werd is, gebou word. Dit is die konserwatiewe tradisie op sy beste – Russell Kirk
Afrikaners het ’n lang geskiedenis met die konserwatiewe tradisie. Die besef van wie jy is, watter waardes jou vorm, en hoe jou omgewing en die instellings waarvan jy deel is tot jou menswees bydra in die lang en moeisame pad om vir jouself en jou naastes ’n toekoms van geluk en sukses te verseker, was nog altyd deel van die Afrikaner se mondering. Russell Kirk se verwysing na die herlewing van die geestelike en die karakter kan ook raakgesien word in die wyse waarop die Afrikaner telkens na moeilike tye opgestaan het. Vas in die geloof en trots op ons Afrikanerwees het die Afrikaner nog elke keer na ’n krisistyd hergroepeer. Afrikaners was in ons geskiedenis tot dusver in ’n groot mate tradisionele of paleo-konserwatiewe mense. Afrikaners is vir lank gekenmerk deur ’n interne lokus van beheer, dus ’n tradisionele lewensbeskouding, eerder as ’n eksterne lokus van beheer waaroor ons beslis dieper moet nadink.
Konserwatiewe bewegings in talle Westerse lande, ook in Suid-Afrika, is sedert die Tweede Wêreldoorlog deur neo-konserwatiewes oorgeneem. Hierdie neo-konserwatiewes verskil wesenlik in hul uitkyk op die hantering van verskeie beleidskwessies van die meer tradisionele of paleo-konserwatiewe persoon.
Tradisionele konserwatiewes se negatiewe reaksie op neo-konserwatisme het heelwat te make met die wyse waarop konserwatisme as begrip skielik toegeëien is. Neo-konserwatiewes verskil van tradisionele konserwatiewes op ’n hele paar kenmerkende wyses wat direk verbond hou met ’n eksterne beskouing oor beheer. Daar is byvoorbeeld die kenmerkende intervensionistiese buitelandse beleid in die VSA. Onder leiding van neo-konserwatiewes soos George W Bush, Dick Cheney en Donald Rumsfeld is die oorloë in Irak en Afganistan aangemoedig. Neo-konserwatiewes glo ook in ’n sterk sentrale regering. Hoewel hulle nie sosialiste is nie, glo hulle dat ’n regering heelwat goeie dinge kan en moet doen. ’n Sterk sentrale regering verseker volgens hulle ’n soort sekerheid onder burgers. Neo-konserwatiewes is ook meer op die individu as die gemeenskap gefokus en glo aan die absolute vryemark sonder enige meganismes om ongelykhede in die globale mark in ag te neem.
Neo-konserwatiewes en tradisionele konserwatiewes verskil wesenlik oor buitelandse beleid. Tradisionele konserwatiewes glo dat lande hul by hul eie sake moet hou terwyl neo-konserwatiewes glo dat Westerse regerings demokrasie en die vryemark teen alle koste na lande met diktatorskappe en ondemokratiese regerings moet neem.
Die twee kampe verskil ook op sosiale terrein. Hoewel die meeste neo-konserwatiewes tot ’n mate konserwatiewe standpunte oor kwessies soos homoseksualiteit, aborsie en die rol van geloof in openbare ruimtes inneem, verkies hulle om nie op hierdie kwessies nie, maar eerder op ekonomiese en internasionale sake te fokus. Neo-konserwatiewes stel dus die geestelike aspek en die vormende aard van karakter sekondêr tot eksterne invloede.
’n Groot probleem wat tradisionele konserwatiewes verder met neo-konserwatiewes het, is hul totale miskenning van die belang van die gedesentraliseerde gemeenskap. ’n Gemeenskap van mense wat in dieselfde rigting dink weens hul interne lokus van beheer is buite die denkraamwerk van die neo-konserwatiewe persoon. Neo-konserwatiewes is geneig om mag op te wentel na die sentrale regering eerder as af te wentel na die gemeenskap. George W Bush se eerste wesenlike stuk wetgewing nadat hy president van die VSA geword het, was ’n nasionale plan om seker te maak dat kinders wat agterstande op skool ontwikkel, ekstra aandag geniet. Tradisionele konserwatiewes glo dat die federale regering in die VSA eintlik niks met onderwys te doen moet hê nie en dat onderwys aan die state en plaaslike gemeenskappe oorgelaat moet word. Opvoeding moet dus vanuit die interne eerder as die eksterne inisiatiewe plaasvind. Nog ’n voorbeeld van neo-konserwatiewes se benadering tot onderwys is die regering van Angela Merkel in Duitsland wat drakoniese stappe teen ouers wat aan hul kinders tuisonderrig wou bied, geneem het. Tuisskoling is onwettig in Duitsland omdat Merkel se regering glo dat slegs die regering weet hoe om kinders behoorlik op te voed.
Die Amerikaanse paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, gaan sover as om te sê dat neo-konserwatiewes ’n groter bedreiging as sosialiste inhou. Sy standpunt is gebaseer op die basis dat ons almal sosialisme min of meer verstaan en bewus is van die strewes van sosialiste. Die probleem met neo-konserwatiewes is dat hulle die woord konserwatief hul eie gemaak het terwyl hulle op verskeie terreine afgewyk het van die oorspronklike beginsels van die konserwatiewe tradisie.
Ook Afrikaners het die afgelope tyd in die slaggat van neo-konserwatisme begin trap deur toe te laat dat eksterne oorwegings ons rigting bepaal. Ons het van ’n interne lokus van beheer na ’n eksterne lokus van beheer verskuif, met verlies aan belangrike geestelike oorwegings. Verskeie Afrikaners bepaal deesdae hul prioriteite volgens wêreldse eise in plaas van om dit vanuit ’n herontdekking van die geestelike en die karakter te doen.
Ons instellings het ’n groot taak om ons mense weg van die neo-konserwatisme na ’n herontdekking van die geestelike, tradisie, en ons Afrikanerkarakter te lei. Hierin behoort die kerk ’n leidende rol te vervul.
*Jaco Kleynhans is uitvoerende hoof van die Orania Beweging en skryf vir verskeie publikasies oor temas wat direk, maar veral ook indirek verband hou met die Afrikaner se strewe na selfbeskikking. Hierdie artikel is vir die Afrikaanse Protestantse Kerk se webblad (www.apk.co.za) geskryf.
Jammer Jaco, maar my woordeboke is blykbaar te oud om die betekenis van ‘lokus’ te weergee. Help asb
Innige groete
oom ref
As ek sommer die vraag kan beantwoord: Lokus beteken plek, uit Latyn locus. Verwante begrippe is lokaal, lokalisme ens.
Ek gebruik maar net hierdie artikel om te sê wat ek wil sê. Die artikel self dink ek is niks wêrd nie. Waaroor gaan die artikel eintlik, Suid-Afrika, Amerika of Duitsland? Dis ‘n konserwatiewe deurmekaarspul.
Kom ek vertel julle van die Boer, die Boer is nie konserwatief nie, die Boer is nie Regs nie, die Boer is links en als aller eerste: Sosiaal.
Die Boer is die beste voorbeeld van die deurgevoerde revolusie, dit is hy wat Europa aan die brand gesteek het in die 17de eeu. Hy’t nie tyd vir enige gesag nie, sentraal of desentraal, kerk of staat, alles mag dien, niks mag regeer nie.
Hy sê van homself: “Teen die hele wêreld vry” en hy sal homself eerder dood sien voordat hy selfs oor homself moet regeer.
In een dorpie sal daar 33 kerke opskiet want die Boer weier om hom te buig voor jou idee of jou god of jou geloof. Hy bou liewers sy eie en hoekom nie? Dit is wat hy nog altyd doen, bou en bou en bou en bou aan iets wat nie regeer mag word nie. Amerika? Wie is dit anders as mense wat oor die Boer wil regeer? Europa? Wie is dit anders as mense wat oor die Boer wil regeer?
Die swakste Boere is hulle wat wil regeer en wat wil regeer word, die vreesbevange regses en konserwatiewes wat van die begin af bang was vir Vryheid (die boer se hoogste doel!). Die Boer was nog altyd vry tenspyte van regerings en magmense en angstiges waarteen die vrede bewaar moet word. Die domstes regeer altyd want dit is hulle wat regering as doel en idiaal het en wat het hulle vir die Boer bewerk? Ha! Hulle kon nie eers oor Zulus en Xhosas regeer nie!
Wie is die Boer se helde? Nie presidente en konings en bevelvoerders nie maar eerder hulle wat presidente en konings grondtoe ruk. Mense wat bevel oor hul eie sintuie het eerder as oor ‘n weermag, wakker mense, vry mense.
Laat niemand die Boer vertel hoe hy moet dink of wat hy moet sê of vir wie hy moet bang wees nie, veral nie die swakes nie, die konserwatiewes.
Lank leef die revolusie! Lank leef die Boer!
Daar is natuurlik daardie sterk element van persoonlike vryheid wat die Boere van ouds gekenmerk het, en wat die hedendagse Afrikaners nog steeds in ‘n mate kenmerk. Dit is egter net een trek van die Boere, en iets wat nie onbepaald positief is nie. Die strewe na Vryheid is goed en edel, maar die strewe slegs na individuele Vryheid en die bou van my eie klein koningryk het gemaak dat die Boere so verspreid geraak het en nie behoorlik die aanslae van die vyande kon weerstaan nie. Ook die dwarstrekkery tydens die Groot Trek is bekend wat baie verlammend was vir ‘n groot poging. Die Na-oorlogse Afrikaners het juis die oormaat aan anargistiese, individualistiese neigings oorkom en ‘n suksesvolle staat opgebou. Vryheid is tog nie net individueel nie, maar gekoppel aan ‘n groep eenderdenkendes wat vir hulle ‘n leefruimte uitkap wat ‘n individu nie kan doen nie. My persoonlike Vryheid wat ek by my huis en op my werf het, eindig wanneer ek nie meer my kinders na ‘n skool en universiteit wat my taal en geloof onderlê kan toe stuur, wanneer my vryheid om my taal te gebruik beperk word deur die eise van die massas om alles in Engels te wil hê, wanneer ek nie meer alleen my veiligheid kan waarborg nie omdat ek omring is deur vreemdes ens. Om vryheid alleen te beperk tot die soort argaise “ek is baas op my plaas en de hel met die res” skiet te kort. So wonderlik soos wat die sort vryheid van die wilde, ongerpete ooptes van ouds in Afrika of Amerika was, daar is nie meer genoeg plek vir almal om so te lewe nie en vryheid word in die gemeenskap van eensgesindes uitgeleef.
Die “hedendaagse Afrikaners” word nie meer gekenmerk deur die begeerte na Vryheid nie. Eerder presies die teenoorgestelde: Hulle soek leiers en strukture en versekering en kontrole en ‘n staat en vir laasgenoemde is hulle op hul knieë voor Europa en wat nog. Ek skaam my dood.
“Die Na-oorlogse Afrikaners het juis die oormaat aan anargisese, individualistiese neigings oorkom en ‘n suksesvolle staat opgebou.”
Onsin! Twak!
Die Boere het ‘n oorlog verloor en na die oorlog was hulle onderwerp aan England! Dit was geen suksesvolle staat nie, dit was ‘n Boer wat om sy neus gelê het terwyl England hom op die kop trap en dit is jou voorbeeld van “Na-oorlog Afrikaner oorwinning”?!
In ’62 toe die Boere vry geword het van England, was dit maar net die begin! Hulle moes nog die parlement en die politiek en die hele engelse sisteem wat hulle geerf het uit kak, soos wat dit uiteindelik in ’94 gebeur het. Daar het die Boere vry geword!
Vir ewig pleit die vreesbevanges vir ‘n staat en eenheid onder eendersdenkendes. Wat het dit vir die Boere bewerk? Het hulle hul eenheid gekry? Nog nooit nie. Want die Boere eenheid bestaan juis daarin dat hulle teenstaan. Eers dan staan hulle saam as hulle teenstaan. Die probleem is bloot dat hulle nie meer die vyand kan erken nie, want hy’s so naby soos wat hy nog nooit was nie. Hy’s die konserwatiewe control freak wat spelling kontroleer en staat skree!
Boere eenheid is of dit is nie. Dis niks wat gedefinieer of vas gehou moet word nie. Hulle weet wie hulle is.
Jaco ek geniet altyd jou artikels, maar met hierdie een kan ek nie saamstem nie. Ek is bevrees jy verval in die cliches van ons tyd. Die sg. New-Konserwatiewes is maar niks anders as Groot Besigheid met ‘n konserwatiewe masker nie.
Jy se: “neo-konserwatiewes glo dat Westerse regerings demokrasie en die vryemark teen alle koste na lande met diktatorskappe en ondemokratiese regerings moet neem.”
Ek kan jou waarborg hulle glo dit net as die diktatorskap baie olie het… Dus, hierdie is bloot ‘n verskoning wat deur hulle gebruik word.
Paleo-Konserwatiewes: Wat is dit? Dit klink vir my na die fundamentalistiese Christene. Baie Afrikaners is nie meer geloofs fundamentaliste nie. Dit beteken nie dat almal materialiste is nie. Sonder twyfel is materialisme ‘n probleem onder Afrikaners maar so is fundamentalisme. Die grootste onenigheid is juis onder die Christelik fundamentalistiese Afrikaners wat oor niks kan saam stem nie. Elkeen se intepretasie is die absolute werklikheid, ‘die Woord van God’.
Ek dink die Afrikaner as volk is baie meer kompleks en meer veelsydig as die twee kategoriee wat jy opper. Ek ken nasionalistiese Afrikaners wat Buhdiste is – verklaar dit…
Ons lewe in ‘n internasionale era, waar mense die geleentheid het om veral via inligingstegnologie kennis op bou wat kulturele impak het. Terwyl die kerk ‘n rol kan spieel dink ek nie dat Christlike geestelikheid die Afrikaner van swart oorheersing gaan bevry nie.
Kyk na al die Afrikaner mans by Angus Buchan se Mighty Men. Daar vertel die ou man vir hulle (500 000) om hul nie oor die politiek te bekommer nie en eerder om te sien na hul geestelike heil. Dis baie sleg vir ons as volk, want dit pasifiseer meer as ‘n halfmiljoen geheel en al in ‘n tyd wat mobilisase rondom vryheidstrewende politieke idees dringend nodig is.
Is Buchan se aanhangesr Afrikaners? Ja, meestal. Is hulle Christelik geestelik? Ja beslis, selfs meer as baie at nie sy byeenkomste bywoon nie. Strewe hul na Afrikanervryheid? NEE! Inteendeel, en juis a.g.v. hulle geestelike herontwakening.
Daar is baie ander sulke kerke soos Buchan se beweging, bv. die Sjovar ens. Al hierdie mense kan werklik as ‘Paleo-Konserwatiewes’ beskryf word. Hulle is Christelik, geestelik, anti-materialisties, gemeenskapgeorienteerd ens.
Ek wil sover gaan as om te se dat dit juis die Afrikaner die Afrikaanse Kerke is wat die Afrikaner na gevangenis gelei het. Die kerke het vir die Afrikaner gese om ander SA’ers te omhels. En nou dat Afrikaners ‘n besette volk is, is geloofinterpretering juis ‘n kern element in die verdeling tussen s.g. konserwatiewe Afrikaners.
Vir Afrikaners om vorentoe te beweeg as ‘n eenheid sal hulle mekaar oor Christelike faksies moet vind en streef na die gemeenskaplike etniese karakter, ongeag geestlike orientasie. Taal is vandag ‘n baie sterker motiveerder as geloof. Daarmee se ek nie dat geloof onbelangrik is nie.
Jacques,
Ek sien Sebastiaan het reeds ‘n goeie antwoord hieronder gegee. Ek stem eintlik met baie van wat jy sê saam. In ‘n kort artikel is daar ongelukkig nie altyd genoeg ruimte om oor elke punt indiepte uit te brei nie. Een so ‘n punt is presies die vraag oor wat neo-konserwatisme behels. Ek dink jy is heeltemal reg dat neo-konserwatisme baie met “Groot Besigheid” se drang na hulpbronne en markte te doen het. Dit gaan egter ook oor die denke van ‘n utopiese wêreld waar Amerikaanse demokrasie die antwoord op elke probleem is.
Wat paleokonserwatisme aanbetref moet ek eerstens sê dat jy moet onthou dat hierdie artikel vir die Afrikaanse Protestantse Kerk se webblad geskryf is. Ek het vanjaar vier artikels vir hul webblad geskryf en heelwat van hulle is ook in hul tydskrif, Boodskapper, gepubliseer. Die artikel fokus dus veral op die rol van die konserwatiewe kerk. Paleo-konserwatisme strek egter baie wyer as net die kerk. Paleo-konserwatisme is in sy wese ‘n denkrigting wat oor die tradisie gaan. Die persepsie bestaan dat dit verwys van konserwatiewe Protestantse Amerikaners. Glad nie! Twee van die beweging se grootste denkers Pat Buchanan en Paul Gottfried is onderskeidelik ‘n Katoliek en ‘n Jood. Geloof en tradisie is egter twee belangrike elemente van Afrikanerwees en moet in my opinie primêr staan in die herlewing van die Afrikaner.
Dit klink vir my asof jou probleem is dat daar mense is wat hulself nie as onvry beskou nie. Maar ek dink hulle is reg en ek sien dit ook so, Boere is vandag so vry soos wat hulle nog nooit was nie, behalwe dalk vir voor of gedurende die oorloë. Onvry en gebind is die konserwatiewes, gebind aan wat hulle probeer konserweer, iets wat sonder moeite i.e.g. by die vryes aanwesend is. Orania sal progress maak sodra hulle progresief word eerder as vreesbevange. Natuurlik sukkel Orania om Vryheid aan vry mense te verkoop. So bevestig Orania bloot onvryheid. As Orania in haar kop so vry kan word soos wat sy in haar lyf is sal sy by aantreklikker wees en selfs dalk ‘n kreatiewe man kan kry. 🙂
Ja en nee. Daar is die neighing van sekere, veral charismatiese kerke, om volkskap heeltemal te ontken en net nog van ‘n wêreldwye Christen-broederskap te praat, asof Christenskap, wat wel universeel is, nie veral in die konteks van ‘n mens se taal en kultuur uitgeleef word nie. Mynsinsiens is dit juis deel van die Christenskap se groot sukses, naamlik dat die boodskap van Jesus se verlossing universeel is en dat alle volke dit kan aanneem sonder om Jode of Westerlinge hoef te word. Die Islam daarteenoor verwag van sy aanhangers om ‘n Arabiese kultuur aan te hang. Ook die Buddhisme, wat ontstamde Westerlinge nou begin aanhang, is ‘n Oosterse godsdiens wat eintlik nie sin maak buite die Oosterse konteks en dneke nie. Wat Angus Buchan betref, wie se boodskap en bedoelings suiwer is, lê sy sukses seker daarin dat Afrikaners iemand van ‘n ander kultuur wat na hulle uitreik, en wat in Engels praat, meer glo as hulle eie mense (wat nogal jammer is). Maar dit is seker ‘n reaksie op die verwarring wat in talle Afrikaanse kerke heers (soos nou weer met belhar in die Ngkerk).
Daar is egter wel ‘n saak uit te maak vir ‘n sterk band tussen Afrikanerskap en Christenskap en iemand soos DF Malan, wie se denke ons gerus weer kan bestudeer, is ‘n voorbeeld daarvan.Ek sien geen teenstrydigheid daarin om onder ander volke die woord te verkondig en terywl jy onder hulle is, soos hulle te lewe om hulle te wen, maar om jou eie by die huis te koester en om jou te beywer vir ‘n christelike gemeenskap waar jy tuis is.
Goeie artikel Jaco, ek kan nie fout vind nie.
Die probleem wat Afrikanerskap, Christenskap, en Vryheid onderlê, lê ek voor die voete daarvan dat die geestelike tuiste van die meeste Afrikaners, in die oorgangsjare Volksskap tot sonde moes maak, sodat oorgawe geregverdig kon word.
Dis waarskynlik die enkele gedagte wat tot die vernietiging van die NG Kerk, die afdwaling van derduisende uit die kudde, die omhelsing van post-modernisme, en Buchans en Belhars gelei het.
Wanneer jy ‘n volk se geestelike tuiste onder hom uitruk, en die kern van die mens se gemeenskapslewe tot iets vuils verklaar, gaan hulle ander, vriendeliker, neutrale tuistes soek.
Dankie Johan. Ek stem 100% saam met jou samevatting van waar dinge verkeerd geloop het.
In die kol!