‘n Stad hoef nie net ‘n droom te wees nie

IMG_2828Sedert die Orania Beweging ‘n tyd gelede ‘n strategiese besluit geneem het om die ontwikkeling van Orania tot ‘n stad te prioritiseer, het heelwat interessante gesprekke plaasgevind en inligting tot ons beskikking gekom wat ons help fokus op die hantering van struikelblokke in die proses van stadsbou.

Uitdagings waarvan ons goed bewus is, is ons afgeleë ligging, ons klimaat, die beperkte ekonomiese aktiwiteite in ons omgewing en die tekort aan uitgebreide infrastruktuur wat snelle ontwikkeling oor ‘n kort periode moontlik kan maak. Die tekort aan kapitaal en basiese dienste soos mediese dienste wat nog nie volledig gelewer word nie, staan ook tans in die pad van stadsbou in Orania.

Ons sterkpunte is ons duidelike visie en droom, asook sterk instellings wat goeie dienste lewer. Ons mense, wat inwoners en uitwoners insluit, is van ons beste bates. Ons droom van Afrikanerselfbeskikking help ons om te fokus en betrek baie van ons mense deur ‘n emosionele band. Orania se ekonomie het die afgelope paar jaar goed gediversifiseer en meer en meer werksgeleenthede word geskep. Vaardigheidsvlakke verbeter toenemend, hoewel vanaf ‘n lae basis, en byna alle werk wat in Orania gedoen moet word, kan vandag deur inwoners gedoen word. ‘n Goeie fondament is geskep.

Om Orania in ‘n stad te omskep moet ons eerstens mooi verstaan wat met ‘n stad bedoel word. In Suid-Afrika koppel ons te dikwels die woord “stad” aan ‘n groot metropool met etlike miljoene mense. Stede in Suid-Afrika, soos in die VSA, is oor groot gebiede uitgelê en die werklike, klassieke stadsgevoel is op baie min plekke sigbaar of eerder ervaarbaar. Wanneer ons dus van ‘n stad praat, praat ons van ‘n klassieke Europese stad en nie ‘n megastad nie.

So ‘n stad kan 10 000 inwoners hê, maar hopelik 50 000, of dalk selfs eendag 200 000. Die stad funksioneer nie geïsoleerd nie, maar het dikwels gebiede met kleiner dorpies en landbougrond om hom, wat sterk afhanklik is van produkte en dienste wat in die stad gelewer word, te ondersteun. Die stad moet ‘n universiteit en ‘n sterk kultuursentrum waar kuns en kultuur bewaar en beoefen word, hê. Die stad moet mens- eerder as motorvriendelik wees en bewoning moet met sosiale areas vermeng word. Die stad moenie ‘n dooie sentrum wees waar mense bedags werk nie. Daar moet ook nie uitbreide voorstede wees waar inwoners saans wegbreek nie.

Die vraag is dus of ons daarin gaan slaag om Orania in so ‘n stad te omskep. Tydens ‘n onlangse besoek aan Nederland het ons die stad Dokkum in Friesland besoek. Dokkum is in een van die mees afgeleë dele van Nederland. Die stad (hul inwoners aanvaar net die term stad!) het 12 600 inwoners en word omring deur plase en enkele klein dorpies met kwynende  geleë. Die afgeleë dele van Nederland verloor steeds voortdurend inwoners na die Randstad, die gebied waar al die groot stede is. In Dokkum is dit egter anders. Hier is huispryse hoog omdat daar ‘n groot vraag na eiendom bestaan.

Die stad het 190 winkels en verskeie suksesvolle klein industrieë. Hulle vergelyk ekonomies eintlik met ‘n stad van 20 000 tot 30 000 inwoners. Daar is goeie skole, die kleinste (dog baie goeie) hospitaal in Nederland, pragtige openbare ruimtes en goeie dienslewering. Mense wil in Dokkum woon en ander in ‘n groot radius om die stad wil daar gaan sake doen. Met 12 600 inwoners is Dokkum ook ‘n goed funksionerende stad.

Natuurlik kan daar geen direkte vergelyking tussen ‘n stadjie in die noorde van Nederland en Orania in Suid-Afrika getref word nie. Daar is egter baie lesse te leer uit hierdie en talle ander suksesvolle klein stede in Europa en die eerste les is dat dit moontlik is. Orania kan ‘n stad word en dit hoef nie eers oor 50 of 100 jaar te gebeur nie. Ons wil definitief nie by 12 600 inwoners eindig nie en ons droom is eintlik ook oor meer as net ‘n stad.

Maar dalk is ‘n droom om Orania binne 5 jaar, of dalk eerder 10 jaar, in ‘n klein Dokkum te omskep glad nie ‘n slegte droom nie.

Laat ons goeie trekvoëls wees

cygne chanteur Whooper Swan Cygnus cygnus cygnusGedurende die laat 1980’s het die Afrikaner Volkswag, toe nog ‘n groot en gedugte Afrikanerkultuurorganisasie die volgende, pragtige slagspreuk gebruik: “Winter haal nooit ‘n trekvoël in nie.”

Verlede week ontketen die liberale denker, skrywer en uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, Dr Frans Cronje, ‘n debat nadat hy in ‘n onderhoud noem dat hy dink dit vir Suid-Afrikaners nodig is om ‘n Plan B te hê. Sy Plan B behels om te emigreer. Selfs vir Cronje is die omstandighede in Suid-Afrika besig om so vinnig agteruit te gaan dat ‘n Plan B nodig is.

Toe die Afrikanervolkswag in die laat tagtigerjare gesê het dat die winter nooit ‘n trekvoël inhaal nie het hulle eintlik ‘n visionêre boodskap aan Afrikaners gelewer. Suid-Afrika sou verander. Die politieke veranderinge van die vroeë 1990’s was onstuitbaar, maar hierdie veranderinge sou van Afrikaners vereis om soos talle kere in sy verlede weer op te pak en te trek.

Verskeie navorsingsprojekte het die afgelope paar jaar probeer bepaal hoeveel Suid-Afrikaners en in besonder Afrikaners sedert die vroeë 90’s die land verlaat het. Party instellings beweer dat tot soveel as 800 000 of selfs 1 miljoen blankes emigreer het. Enigiets tussen 500 000 en 800 000 Afrikaners het waarskynlik groener weivelde gaan soek.

Die Afrikaner is tereg soos wat die Afrikanervolkswag beweer het, ‘n trekvoël. Die nuwe Groot Trek wat die afgelope 25 jaar plaasgevind het, was egter nie net ‘n trek na oorsese bestemmings nie. ‘n Studie van die laaste drie sensusopnames toon duidelik dat daar die afgelope paar jaar ook binne Suid-Afrika groot bevolkingsverskuiwings onder Afrikaners plaasgevind het. Gaan ry maar net deur ‘n klein plattelandse dorp en die enorme afname in die Afrikanerbevolking is duidelik sigbaar. Jong Afrikaners het selfs in groter getalle die afgelope tyd na skool na die groter stede verhuis. Min Afrikaners bly op die platteland oor. Plase word gekonsolideer en so word die aantal boere ook minder.

Ouer mense trek na die relatiewe veiligheid en steeds hoë vlakke van dienslewering wat in die Wes-Kaap ervaar kan word. Baie ander gaan na die stede om naby aan hul kinders en goeie mediese dienste te wees. Die veranderende demografie van die Wes-Kaap en al die groot stede maak dit egter slegs tydelike oplossings.

Selfs ook binne stede trek Afrikaners uit sommige woonbuurte na ander. In elke groot stad in Suid-Afrika is daar vandag voormalige Afrikanerwoonbuurte waar byna geen Afrikaners meer woon nie.

Sonder dat Afrikaners dit noodwendig besef staan hierdie verskuiwings van die afgelope paar jaar in die gees van konsentrasie. Daar waar Afrikaners in woonbuurte konsentreer kan taal, kultuur en tradisies behoue bly.

Die winter is al vir bykans 25 jaar besig om Afrikaners in te haal. En sonder dat ons dit besef het, het ons soos goeie trekvoëls bly oppak om van die koue te ontsnap. Die Afrikanervolkswag se slagspreuk het natuurlik na ‘n meer volhoubare trek verwys. Indien Afrikaners nie hierdie trek in die volgende paar jaar begin maak nie mag die winter hom dalk net inhaal. Meer van ons mense moet vinniger in Orania kom vestig.

Opgradering van elektrisiteitsnetwerk skep grondslag vir nuwe groei

electricityBehuising is seker die grootste onmiddellike behoefte vir Orania, en dit al vir ‘n geruime tyd. Die algemene sentiment onder talle inwoners en ondersteuners is dat meer huise gebou moet word en dit word verwag dat die Orania Dorpsraad en Orania Beweging dit moet doen. Wat egter dikwels vergeet word is dat ons nie net sommer links en regs huise kan bou nie, selfs al was ons fondse van so ‘n aard, sonder die nodige grondwerk nie. Voor ‘n huis gebou kan word moet die infrastruktuur eers daar wees. Daar is goeie konsepte soos die aardskip wat sy eie water, krag en riolering voorsien, of Sonpark met sy sonkraggedrewe vraghouerhuise, maar die meerderheid mense soek standaardhuise met munisipale dienste.

Orania Dorpsraad is tans besig om die hele kragnetwerk van Orania op te gradeer en na ‘n volgende fase te neem. Die huidige harde infrastruktuur (met ander woorde die kragnetwerk, rioolplase, waterpypleidings) dateer grootliks nog uit die 1960’s en het hulle leeftyd bereik. Die kragbehoefte vir Orania word ook al hoe meer weens nuwe uitbreidings. Daarom is daar met `n opgradering van die kragnetwerk begin wat nuwe kapasiteit beskikbaar stel. Die opgraderings van die kragnetwerk is 90% afgehandel en die uiteindelike koste beloop tien miljoen Rand wat vir ‘n klein gemeenskap soos Orania nogal ‘n taamlike bedrag is. Dit is egter ‘n noodsaaklike uitgawe wat nodig is om die grondslag vir die volgende fase van groei te lê.

Die opgraderings behels dat ‘n nuwe substasie as toevoerpunt gebou word en nuwe kraglyne, wat hoofsaaklik ondergronds gelê sal word. Tans het Orania twee lyne, ‘n landboulyn en ‘n dorpslyn. Hulle sal met mekaar verbind word en in die toekoms een lyn vorm. Die omskakeling van hoogspanning vanaf Eskom (22 000 volt) geskied tans in twee stappe: deur middel van transformators, eers na 3300 volt en dan na 220 volt op huishoudelike vlak. Met die opgradering word die tussenstap na 3300 volt uitgeskakel en die krag direk na 220 volt omgesit. Dit alles bring besparings en groter doeltreffendheid mee.

Vir die dorp en sy inwoners het die opgradering direkte voordele. Dit sal besparings meebring (na beraming sowat 5%), die moontlikheid van onderbrekings word verlaag deur die daarstel van `n meer betroubare kragtoevoer en deur die verhoogde kapasiteit is groter uitbreidings in die toekoms moontlik. Daar is reeds 18 nuwe erwe in Kleingeluk uitgesit wat tans gediens word, en naby die Dorpskantoor is nog erwe  in beplanning.

Verder word Orania se ideaal van groter selfstandigheid deur die opgraderings moontlik gemaak. Alhoewel dit nog steeds Eskom se aansluiting bly, bestaan die moontlikheid nou dat Orania sy eie krag, ten minste gedeeltelik, kan opwek en in die stelsel vir sy eie behoefte kan insit. Tans is daar reeds ‘n eksperimentele sonkragafdak wat aan die stelsel gekoppel is. Indien dit suksesvol is bestaan die moontlikheid van ‘n groter sonkragaanleg vir Orania. Dit sal egter deur private inisiatief gedoen word deur mense in Orania of met ‘n Orania-verbintenis.

Katalonië: `n Les vir Afrikaners

CataloniaVroeër die maand het meer as twee miljoene Katalane aan `n referendum oor `n onafhanklike Katalonië deelgeneem en meer as 80 persent van daardie deelnemers het aangedui dat hulle ten gunste is van onafhanklikheid van Spanje. Dit kan egter nie as `n amptelike referendum beskou word nie aangesien so `n stemming slegs deur Madrid uitgeroep kan word. Dit maak dit egter meer indrukwekkend aangesien dit sonder die finansiële en logistieke ondersteuning van die staat plaasgevind het. Daar was twee vrae op die stembrief: Moet Katalonië tot `n staat verklaar word en indien wel moet dit `n onafhanklike staat wees? Katalonië, wat die gewilde toerismebestemming Barcelona insluit, is gedurende die laat 1700’s deur Spanje verower.

Gedurende die twintigste eeu het Katalonië `n mate van outonomie geniet wat later ook weer herroep is. As `n gebied wat ekonomies sterk staan word dit `n toenemende frustrasie vir die bykans sewe miljoen Katalane om aan die Spaanse regering onderhewig te wees. Verskeie buitelandse besoekers verkeer onder die indruk dat daar geen verskil is tussen Katalane en Spanjaarde nie. Die waarheid is egter dat Katalane `n eie taal en kultuur het en dat daar reuse verskille tussen die twee groepe is. Oor die afgelope jare het die Katalane op verskeie maniere hul ongelukkigheid met Spaanse heerskappy betoon. Die bekendste is die drapering van `n banier by `n Formule 1-wedren met die woorde: “Catalonia is not Spain.” Talle ander oorspronklike vorms van protes het gevolg. Tydens een protesaksie het drie miljoen Katalane `n ‘V’ vir ‘Victory’ in die strate van Barcelona gevorm. Die veldtog het aanhou momentum opbou en selfs `n weiering deur die owerheid van die dag kon nie verhoed dat hulle by die stembus aandui wat hulle in die toekoms wil sien gebeur nie.

Daar is `n paar lesse wat Afrikaners wat selfbeskikking nastreef by Katalonië kan leer. Eerstens het hulle daarin geslaag om miljoene mense te mobiliseer om aan protesaksies deel te neem. Op een slag bykans 50% van die bevolking. Die protesaksies het die verbeelding aangegryp maar, selfs belangriker, was nie militant nie en het vreedsaam verloop. As daar na foto’s van die Katalaanse stryd om onafhanklikheid gekyk word sien ons ook dat die jonger geslag betrek is en dat aksies kleurvol en modern was. Selfbeskikking is `n edele strewe. Ook `n baie moderne tendens as daar na die res van die wêreld gekyk word. Dit is belangrik dat dié edele strewe nie besoedel word deur militante, rassistiese en onwettige optrede nie.

‘n Verswakte ANC nie noodwendig goed vir ons

Zuma ANC JeugligaPresident Zuma se erkenning verlede week dat die ANC in die moeilikheid is, het heelwat mense verras. Niemand is verras oor die feit dat die ANC in die moeilikheid is nie, maar wel omdat Zuma bereid was om dit op ‘n openbare verhoog te erken.

Die ANC is besig om al hoe dieper in die moeilikheid te beland. Gedurende die eerste vyftien tot twintig jaar na 1994 kon die party in ‘n redelike mate aan die verwagtinge van sy ondersteuners voldoen. Suid-Afrika het na 1994 ‘n tyd van goeie ekonomiese groei en buitelandse beleggings beleef. Die staat se inkomste het vir jare skerp gestyg wat die toekenning van welsynstoelaes aan miljoene mense, die bou van huise, skole, hospitale en ander infrastruktuur moontlik gemaak het.

Die afgelope tyd het dit al hoe moeiliker begin raak. Suid-Afrika doen al hoe slegter op internasionale ranglyste wat lande volgens misdaad, korrupsie en ekonomiese omstandighede beoordeel. Dit gekoppel aan die talryke skandes en probleme met dienslewering en infrastruktuur soos die land se elektrisiteitsnetwerk, veroorsaak dat oorsese beleggers toenemend skepties is om in Suid-Afrika te belê. Die land se ekonomie sukkel om skaars teen 2% per jaar te groei en met ‘n skerp bevolkingsaanwas beteken dit dat die probleme van armoede en werkloosheid onder swart Suid-Afrikaners al hoe minder aangespreek kan word.

Die vakbond Numsa se aankondiging dat hulle ‘n linkse werkersparty op die been gaan bring sorg vir heelwat bekommernisse onder die leierskap van die ANC. Selfs al kry hierdie nuwe party net 4 tot 5% van die steun in ‘n nasionale verkiesing kan die ANC se steun tot net-net bo 50% afgeforseer word.

Die grootste fout wat Afrikaners egter kan maak is om te dink dat ‘n verswakte ANC goed vir ons is. Die vraag wat ons moet probeer beantwoord indien ons risiko’s vir ons eie voortbestaan wil identifiseer, is hoe die ANC sal optree indien hy 5 – 10% minder stemme moet kry. Gestel die ANC kry in die volgende nasionale verkiesing slegs 53% van die stemme, hoe sal die party se beleid verander?

‘n Hele paar ander sogenaamde bevrydingsbewegings in Afrika het dieselfde pad as die ANC gestap. Vir die eerste paar jaar is die party gewild en wen verkiesings met groot meerderhede. Dan begin korrupsie, swak ekonomiese groei en beleid wat oorsese beleggers verwilder, veroorsaak dat die party se ondersteuners onrustig raak. Nuwe, veral populistiese, partye kom tot stand en die regerende party se steun begin daal. Sodra sy steun naby aan 50% kom begin die party te radikaliseer, sondebokke uit te sonder en op hardhandige wyse op te tree. Kyk maar net wat in Kenia en Zimbabwe gebeur het.

Die uitdaging vir Afrikaners is om betyds te konsolideer, konsentreer en binne sterk instellings te organiseer voordat Suid-Afrika ook hierdie stadium bereik. Intussen moet ons nie te bly raak indien dit lyk of die ANC verswak nie. Die Afrikaner kan tans nie ‘n gekweste ANC-regering bekostig nie.

Hoekom is daar ‘n Verwoerdhuis in Orania?

Verwoerd4Daar is feitlik geen artikel van ‘n buitelandse joernalis wat nie prominent die Verwoerdhuis en die granietbeeld van dr Verwoerd vertoon nie. Dikwels met ‘n negatiewe bedoeling om te wys dat “Orania in die verlede leef en die argitek van apartheid vereer en daarmee sy haat en minagting vir die reënboognasie uitdruk” of iets soortgelyks.

Waarom is daar ‘n Verwoerdmuseum in Orania? Is dit ’n stelling teen die “nuwe” Suid-Afrika en ‘n “bewys” dat ons nie vrede maak met die hede nie?

Allermins. Die rede waarom daar ’n Verwoerdhuis in Orania is, is in die eerste plek dat dit ‘n historiese monument is wat bewaar moet word vir die die nageslag en vir diegene wat meer oor dr Verwoerd wil weet. Ongeag of ‘n mens ‘n bewonderaar van dr Verwoerd is of nie, die feit bly staan dat hy seker die persoon was wat Suid-Afrika in die 20ste eeu die meeste gevorm het en wat nie eenvoudig verswyg kan word nie. Al word alle Verwoerdbeelde en alle verwysings na hom deur die ANC-regering verwyder, bly sy handskrif in die vorming van die moderne Suid-Afrika nog altyd bestaan.

Die Verwoerdhuis in Orania was van 1992 tot 2000 die woning van sy weduwee mev Betsie Verwoerd, ‘n merkwaardige persoon in eie reg wie se verbintenis met Orania en die Afrikaner se vryheidstrewe ook nie misken moet word nie. Anders as menige vroue van politici, wat maar net hulle mans se vroue was, het mev Verwoerd ook na haar man se tragiese dood betrokke gebly op allerhande terreine van die Afrikanerkultuur soos die Voortrekkers, SABRA, die Afrikaner-Volkswag en Avstig, om maar enkele voorbeelde te noem. Na haar vreedsame afsterwe in 2000 op 98-jarige ouderdom het haar klein, beskeie maar smaakvolle woning behoue gebly en is die tweede deel van die huis, die opsigterswoning, omskep in ‘n museum wat dr. Verwoerd se nalatenskap uitstal.

Elke gewese eerste minister of president van ‘n land het gewoonlik ‘n museum in sy geboortehuis of die huis waar hy die langste tyd gewoon het. Aangesien dr Verword in Amsterdam, Nederland gebore is en in Suid-Afrika weens sy politieke betrokkenheid veel rondgetrek het en weens die feit dat hy vermoor is ook nie ‘n plek vir sy oudag gehad het nie, is daar geen plek  wat hom leun tot ‘n Verwoerdmuseum nie, behalwe sy weduwee se laaste woonplek. Ander eerste ministers of presidente soos Paul Kruger, Jan Smuts, JG Strijdom, JBM Hertzog en ander het almal ‘n huis wat aan hulle herinner en daar word geen ophef van gemaak nie, want dit is historiese figure en hulle word as sodanig behandel. Dat Orania ‘n Verwoerdmuseum het, beteken dus nie dat ons dr Verwoerd se beleid een vir een onderskryf nie, maar ons is ook nie skaam vir die groot rol wat hy gespeel het nie. Hy is net so deel van die Afrikanererfenis soos Andries Pretorius, Paul Kruger, Christiaan de Wet of Koos de la Rey.

Sonder om te veel in te gaan in dr Verwoerd se beleid en sy tyd moet eenvoudig erken word dat hy in sy tyd uiters suksesvol en gewild was onder sy volk en ook deur vele swart mense gerespekteer is. Dit was ‘n tyd van voorspoed en relatiewe vrede en alle volksgroepe het daarby gebaat. Die ANC en ander swart nasionalistiese groepe het destyds nie die meerderheid swart mense verteenwoordig nie en was boonop deurspek met kommuniste wat gestaan het vir ‘n wêreldrevolusie en die vernietiging van ‘n Westerse en geordende samelewing. Eers heelwat later het die ANC meer gematig geword. Om dus die 1960’s te beoordeel na die hand van die huidige siening van menseregte en individualistiese vryhede wat heers sedert die val van die ystergordyn is amper absurd.

Die belangrikste nalatenskap van dr Verwoerd vir Orania is die Oranjerivier-Waterskema met sy damme en kanale, waarsonder hierdie streek nie die oase met die landboumoontlikhede sou wees wat dit is nie. Sonder die waterskema sou ook geen dorp Orania destyds in die 1960’s gestig gewees het nie en sou die tweede stigting in 1991 as volkstaatdorp nie moontlik gewees het nie.

Besoekers aan die Verwoerdhuis is elke keer aangegryp. Ouer mense word herinner aan ‘n era wat hulle as besonder voorspoedig beleef het en die groot skok wat die sluipmoord op dr Verwoerd vir die destydse samelewing was. Jonger mense raak geïnteresseerd om meer te lees oor ‘n persoon en sy tyd waarvan hulle min weet en gewoonlik net enkele trefwoorde buite konteks gehoor het. Vir diegene wat navorsing doen oor die era van Verwoerd is die museum ook ‘n belangrike bron van eerstehandse inligting.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel