fbpx

Is selfbeskikking ʼn gebeurtenis of ʼn proses?

Die ou gesegde lui dat die mensdom regverdige meesters verkies bo vryheid.

Hierdie siniese gesegde verklaar moontlik waarom die behoefte na selfbeskikking (die vermoë om self besluite te neem oor die aangeleenthede wat ons ten nouste raak) toeneem namate die persepsie van ons meesters se regverdigheid afneem.

So duik gesprekke oor selfbeskikking deesdae blykbaar ook in gerespekteerde geselskap op – iets wat haas ondenkbaar was tydens die ampstermyn van president Mandela.

Hierdie verwantskap tussen die behoefte na selfbeskikking en die huidige gedrag van ons heersers dien egter om ʼn problematiese, oppervlakkige siening van die wyse waarop selfbeskikking verkry word, te verstewig.

Selfbeskikking as gebeurtenis

Sommige wat aan die debat en kommentare oor selfbeskikking deelneem, huldig blykbaar die gedagte dat selfbeskikking ʼn gebeurtenis is.

Volgens hierdie siening word selfbeskikking verwesenlik wanneer die nodige morele gronde of welwillendheid bestaan vir ʼn volk om hul ‘reg op selfbeskikking’ op te neem. Dit beteken dat ʼn volk eers vry is nadat hierdie gebeurtenis plaasvind.

Hierdie verstaan van selfbeskikking is oppervlakkig omdat dit nie rekenskap hou met die eise wat selfbeskikking stel nie en vervreemd is van die geskiedenis en die wel en weë van suksesvolle selfbeskikkingsbewegings.

Die grootste probleem met hierdie benadering is egter die wyse waarop dit aspirant-selfbeskikkingsbewegings lamlê.

In die eerste opsig moedig hierdie siening uitstel aan. Mense hoop op en wag vir die ‘regte’ omstandighede wat die ‘gebeurtenis’ moontlik maak voordat hulle betrokke raak. Hulle hoop op iets soos ʼn regeringsverklaring of ʼn gunstige bevel van ʼn Internasionale Hof.

In die tweede opsig vul hierdie siening mense met vrees. Hul vrees dat selfbeskikking iets is wat deur die regering (in ons huidige geval die ANC) geduld moet word om te ‘gebeur’ en dat selfbeskikking, by die gebrek aan hierdie welwillendheid, in ʼn oogwink kan verdwyn. Daarom is dit beter om te wanhoop as om ‘valse’ hoop te koester wat soos mis voor die son mag verdwyn.

In beide gevalle vorder selfbeskikking nie verder as braaivleisvure en bloginskrywings oor die internasionale reg nie, of soos iemand anders gesê het: “vrees kelder baie meer drome as mislukking.”

Selfbeskikking as proses

Die geskiedenis wys egter dat ten spyte van die fanfare wat met die erkenning van selfbeskikking gepaardgaan, selfbeskikking ten diepste ʼn proses is.

Volgens hierdie siening is selfbeskikking dieselfde as enige ander menslike prestasie: dit word bewerk en in stand gehou deur volgehoue werk en deursettingsvermoë. Dit is ʼn reis waarin elke tree sy eie beloning bring en ʼn stukkie vryheid ontsluit.

Die vryheidsverklaring (in watter vorm ook al), wanneer dit dan plaasvind, is nie die begin van vryheid nie, maar slegs die akkreditasie daarvan.

Wat baie belangrik is, is dat in teenstelling met ʼn gebeurtenis, ʼn proses iets is wat momentum opbou, wat nie uitsluitlik van eksterne faktore afhanklik is vir sy sukses nie en waarin geen bydrae te klein is om ʼn groot verskil te maak nie.

ʼn Proses is ook meer volhoubaar omdat dit die verbeeldings van nuwe geslagte kan aangryp, want dit is nooit werklik afgehandel nie en bly oop vir vernuwing, uitbreiding, herverbeelding en verruiming.

Orania is verbind tot selfbeskikking as proses en daarmee wil ons elkeen wat ʼn ryk en vol Afrikanerbestaan kan indink, uitnooi om hul by ons aan te sluit en dit saam met ons te ervaar.

Eiendomsreg in Orania

Eiendomsreg in Orania

Orania het sedert sy herlewing as Afrikanerdorp van krag tot krag gegaan. ʼn Vervalle konstruksiekamp is in ʼn moderne dorp omskep en dienste word aan inwoners op ʼn hoë standaard gelewer. Die volgende grafieke wat die gemiddelde eiendomspryse en aantal inwoners van Orania aandui, vertel die verhaal[1]:

Gemiddelde huispryse

Orania bevolking

Groei soos hierdie in ʼn voorheen onbewoonde gebied sonder ʼn gevestigde ekonomie kom nie vanself nie; dit verg harde werk. Al die harde werk in die wêreld kan egter nie sukses behaal as dit nie op gepaste fondamente rus nie.

Een sodanige fondament is die rol van eiendomsreg. Private eiendomsreg isʼn uiters belangrike enjin van ekonomiese groei en is grootliks verantwoordelik vir die welvaart wat deur die Weste geskep is sedert die Renaissance.

Ook Orania maak daarop aanspraak dat hy hom beroep op die vrye mark en dit is duidelik uit bogenoemde grafieke dat Orania sterk groei, tog werk dinge nie heeltemal dieselfde in Orania as in ander dorpe in Suid-Afrika nie, hoofsaaklik omdat die dorpseiendom van Orania volgens die aktekantoor in Kaapstad aan Vluytjeskraal Aandeleblok (Eiendoms) Beperk behoort.

Hierdie artikel poog om die werking van die Aandeleblokskema op Orania te verduidelik en om ʼn paar misverstande wat die rondte doen uit te klaar.

Die geskiedenis van Vluytjeskraal Aandeleblok

Prof. Carel Boshoff skryf in sy biografie “Dis nou ek”, hoe Orania aanvanklik bekom is deur ondersteuners van die Orania Beweging in Desember 1990. Hy vertel op bladsy 385 dat daar donateurs gewerf is wat elkeen R25,000 bygedra het vir die koop van die plaas waarop die dorp deur Waterwese gebou was.

Hierdie donasies is gebruik om ʼn maatskappy met die naam Orania Bestuursdienste Eiendoms Beperk (OBD) in die lewe te roep en vir elke bydrae van R25,000 wat gemaak is, het die donateur ʼn aandeel ter waarde van R2,500 gekry en ʼn leningsbewys van R22,500.

OBD het hierdie geld gebruik om die plaas te koop. Die Direksie van OBD het ook besluit dat geen uitbetaling aan sy aandeelhouers of direkteure gemaak sal word nie en dat alle inkomste uit die verkope van eiendom op Orania vir die verdere ontwikkeling van Orania sal gaan.

Ten einde ʼn wettige manier te vind waarop Orania ontwikkel en as dorp bedryf kon word, het OBD met die destydse Administrateur van die Kaapprovinsie vergader. Op aanbeveling van die Administrateur is Orania ingerig as ʼn aandeleblokskema. Dit is bewerkstellig deur al die grond van Orania vanaf OBD oor te dra na ʼn nuwe maatskappy, Vluytjeskraal Aandeleblok Beperk (VAB) en OBD het in ruil hiervoor al die aandele in VAB gekry, asook ʼn lening wat die verskil was tussen die sigwaarde van die aandele en die waarde van die eiendom op daardie oomblik. Die volgende diagram verduidelik die stand van sake op daardie stadium:

VAB begin

Die werking van die Vluytjeskraal Aandeleblok:

VAB is ʼn geregistreerde Aandeleblokmaatskappy waarvan die werking gereguleer word deur die Wet op Beheer van Aandeleblokke, wet 59 van 1980. Hierdie vorm van eiendomsbesit en eiendomsontwikkeling dateer dus Orania vooruit en is ook op talle ander plekke gebruik, soos met die ontwikkeling van vakansie-eiendom aan die Natalse Suidkus, langs die Kromrivier naby Cape St. Francis en die bekende Mabalingwe private wildtuin naby die Waterberg.

Al die aandele in VAB word in blokke onderverdeel en elke aandeleblok word gekoppel aan gedeeltes van VAB se fisiese eiendom. Die eienaar van ʼn aandeleblok in VAB besit dan daarmee die eksklusiewe gebruik en voordeel van ʼn gedeelte van die eiendom wat aan sy aandeleblok gekoppel is. ʼn Aandelesertifikaat in VAB vervul dus ʼn soortgelyke funksie as ʼn titelakte.

Dit is belangrik om te verstaan dat eiendomsreg in bewaring gehou word deur bepaalde instellings. In Suid-Afrika hou die Aktekantoor van elke provinsie die eiendomsreg van eiendomseienaars in bewaring. Die Wet op Beheer van Aandeleblokke delegeer belangrike funksies van die Aktekantoor aan die Aandeleblokmaatskappy met betrekking tot die onderverdeelde eiendom van die Aandeleblokmaatskappy, soos om rekord te hou oor wie die onderverdeelde gedeeltes van die eiendom besit en om die vereistes vas te stel vir die verdere onderverdeling of saamvoeging van dele van daardie spesifieke eiendom. In Orania tree VAB op as die instelling wat die eiendomsreg van aandeelblokhouers in beskerming neem, volgens die vereistes van die Wet.

Soos in die grafiek hierbo aangedui, het OBD aanvanklik al die aandele in VAB besit. Namate eiendomme ontwikkel is, het OBD die aandeleblokke van daardie eiendomme wat hy in VAB besit het aan nuwe eienaars verkoop. So het OBD se aandeelhouding in VAB mettertyd al minder geword met elke verkoop van elke aandeelblok en is OBD se huidige aandeelhouding gelyk aan die eiendom op Orania wat nog ontwikkel moet word:

VAB later

Saam met elke aandeleblok wat ʼn nuwe eienaar ontvang, ontvang hy of sy ook ʼn pro-rata gedeelte van OBD se aanvanklike lening aan VAB. Dit is belangrik dat nuwe eienaars moet weet dat die aandele wat hy in VAB het, sy bewys van eienaarskap is en dat daardie aandele nie opgebreek en herverkoop kan word nie, tensy sy onderliggende eiendom opgebreek en herverkoop word. Net so is die nuwe eienaar se gedeelte van die lening aan VAB gekoppel aan sy eienaarskap en is daardie lening nie terugbetaalbaar nie. Die nuwe eienaar kan dus nie na die Dorpskantoor gaan en vra dat die gedeelte van sy lening terugbetaal moet word nie.

Die nominale waarde van die aandele en die gedeelte van die leningsrekening wat aan daardie aandele gekoppel word, het dus geen spesifieke betekenis op hul eie vir so lank die Aandeleblokmaatskappy bestaan nie. Eers indien die Aandeleblokmaatskappy tot niet gemaak word, sal die nominale waarde van die aandele en die leningsrekening van belang word, want dit sal bepaal hoe enige opgehoopte winste van die Aandeleblokmaatskappy verdeel sal word tussen die eienaars.

Die regte van nuwe eienaars

Die nuwe eienaars sou in ʼn gewone maatskappy die risiko loop dat hulle wense deur die meerderheidsaandeelhouer, in hierdie geval OBD, geïgnoreer sou kon word en dat die meerderheidsaandeelhouer besluite sou kon neem wat hulle belange kon skaad.

Daar is egter bepaalde wette en kontrakte wat die aktiwiteite van die Aandeleblokmaatskappy beheer en die regte van nuwe eienaars in beskerming neem. Hulle is as volg:

  • Die Maatskappywet bevat algemene, oorkoepelende bepalings vir die werking van maatskappye, ook maatskappye wat aandeleblokke bedryf.
  • Die Wet op Beheer van Aandeleblokke bevat algemene, oorkoepelende bepalings vir die werking van aandeleblokskemas.
  • Volgens die Maatskappywet, moet elke maatskappy (ook maatskappye wat aandeleblokke bedryf) ʼn Akte en Statute van Oprigting opstel wat die spesifieke bepalings vir die werking van daardie maatskappy daarstel.
  • Die Koopooreenkoms wat bepaal hoe en wanneer ʼn persoon aandele kan bekom en wat die persoon daarmee kan doen.
  • Die Gebruiksooreenkoms is ʼn ooreenkoms wat onderling deur die aandeelhouers van die aandeleblok met mekaar (insluitend OBD) en met die aandeleblok gesluit word. Hierdie dokument gee riglyne van hoe die aandeelhouers en die aandeleblok maatskappy teenoor mekaar moet optree in sekere omstandighede.
  • Die Orania Grondwet is ʼn vrywillige ooreenkoms wat onderling tussen al die inwoners van Orania gesluit word en wat bepaal hoe inwoners (eienaars of huurders) teenoor mekaar sal optree in sekere omstandighede.

Van die belangrikste maatreëls in bogenoemde wat die nuwe eienaars beskerm is as volg:

  • VAB kan slegs die Orania dorp verkoop met die instemming van die aandeelhouers by ʼn spesiale vergadering. Enige enkele aandeelhouer wat teen die besluit om die dorp te verkoop gekant is, kan volgens artikel 115 van die Maatskappywet die Hof vra om die voorgestelde verkooptransaksie te hersien en die verkooptransaksie mag dan eers voortgaan wanneer die hof sy goedkeuring gegee het.
  • VAB kan slegs sy eiendom beswaar of lenings aangaan indien die nuwe eienaars dit goedkeur. Artikel 14 van die Wet op Beheer van Aandeelblokke bepaal dat 75% van die aandeelhouers, uitsluitend die Ontwikkelaar (dus slegs nuwe eienaars) so ʼn besluit moet goedkeur. Tans het VAB geen ander lenings as sy aanvanklike aandeelhouerslening van OBD af nie.
  • Nuwe eienaars stel ʼn minimum van 2 direksielede aan volgens die Akte en Statute van VAB. In praktyk het Orania se nuwe eienaars die meerderheid van die Direksielede aangestel en stel OBD slegs 1 direksielid aan, soos aangedui in die notules van die jaarvergaderings van VAB.
  • Volgens die Wet op Beheer van Aandeleblokke, moet die Direksie van VAB al die nodige versekeringspolisse uitneem wat die gewone aandeelhouers by ʼn aandeelhouersvergadering voorgeskryf het. Indien die direksie versuim om die versekeringspolisse uit te neem, is hulle persoonlik aanspreeklik vir die skade wat in die afwesigheid van die nodige versekering deur aandeelhouers gelei word. Bylaag A tot Koopkontrakte van Orania dui aan watter versekering deur die Dorpsraad uitgeneem word.

Waarom ʼn aandeleblok?

Soos reeds genoem is Orania se ontwikkeling en eiendomsreg gebaseer op die Aandeleblokskema nadat die Administrateur van die Kaapprovinsie OBD aandbeveel het om hierdie model te gebruik.

Benewens die feit dat ek nie persoonlik hierdie gesprek bygewoon het nie, was ek slegs 8 jaar oud toe hierdie onderhandelinge gevoer is en kan ek nie die redes van die Administrateur weergee oor waarom die Aandeleblokskema die beste model vir ontwikkeling is nie.

Ek kan egter wel ʼn vergelyking tref tussen die Aandeleblokskema en die alternatiewe vorme van eiendomsreg vir ʼn ontwikkeling, te wete voltitel en deeltitel. Die volgende tabel som die belangrikste verskille op wat vir die voortgesette ontwikkeling van Orania van belang is:

Vergelyking van titeltipes

Uit bogenoemde kan gesien word dat die Wet op Beheer van Aandeleblokke belangrike bevoegdhede aan die direksie van die Aandeleblokmaatskappye gee. In Orania se geval staan die Direksie van VAB bekend as die Dorpsraad. Die Dorpsraad word tydens die Algemene Jaarvergadering aangewys as verteenwoordigers van aandeelhouers.

Die Dorpsraad beskik oor die vermoë om algemene heffings te hef vir munisipale dienste sonder dat BTW daarop betaal hoef te word. Die Direksie kan ook besluite neem wat Orania in staat stel om te ontwikkel.

Die nadeel van ʼn Aandeleblokskema is dat nie alle banke aandeleblokke as sekuriteit aanvaar nie. Die rede hiervoor is dat banke die bykomende administratiewe las het om ook die finansiële toestand van die Aandeleblokmaatskappy te oorweeg en dop te hou wanneer aandeleblokke as sekuriteit gehou word en die meeste groot banke verkies om dit nie te doen nie.

Daar is egter nie enige ander rede waarom aandeleblokke nie as sekuriteit kan dien nie, want die pandreg maak daarvoor voorsiening dat aandele as pand kan dien en daardeur sekuriteit vir ʼn lening kan vorm. Orania het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om sy eie Koöperatiewe Bank op te rig wat onder toesig van die Reserwebank eiendomsontwikkeling op Orania finansier.

Die OSK Koöperatiewe Bank is ʼn belangrike rolspeler in die voortgesette groei van Orania omdat hy dit moontlik maak vir mense om met lenings eiendom in Orania te bekom.

Is alle eiendom in Orania deel van die Aandeleblok?

Hoewel alle dorpseiendom binne in Orania deel van die Aandeleblok is, is daar plaasgedeeltes rondom Orania beskikbaar wat as voltitel eenhede verkoop word. Aangesien daar nie dorpsontwikkeling op hierdie eiendomme voorsien word nie, is hulle nie huidiglik deel van die Aandeleblokskema nie.

‘n Laaste woord

Ek hoop dat hierdie artikel u sal help om eiendomsreg op Orania te verstaan. Eiendomsreg is egter ʼn tegniese en ingewikkelde onderwerp en hierdie artikel is nie bedoel as advies nie. Ek maak geen aanbevelings nie en dit is belangrik dat u advies bekom vanaf u professionele raadgewers wat u persoonlike omstandighede in ag sal neem alvorens u besluite neem wat u finansiële posisie mag beïnvloed.


[1] Inligting rakende gemiddelde huispryse en bevolkingsgetalle word deur EPOG, ʼn navorsingsinstelling op Orania bygehou.

Verkiesing 2014

Afrikaners staan op die vooraand van die 2014 algemene verkiesing in Suid-Afrika by ‘n politieke kruispad. Die besluite wat ons met hierdie verkiesing neem kan verreikende gevolge hê vir ons vermoë om voordeel te trek uit die parlementêre politiek.

Tog is dinge nie meer so duidelik as voorheen nie. Waar die DA met alle krag en mag teen die beleide van die ANC geveg het wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se groeiende probleme, begin ‘n nuwe, jonger leierskap binne die DA om die status quo en politieke posisionering van die party uit te daag.

Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur die volgende grafiek wat deur www.emtanalytics.com opgestel is in hul onlangse ontleding oor die verkiesing:

Bron: http://www.etmanalytics.com

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se etniese minderhede (in die analise gedefinieer as blankes, gekleurdes, Indiërs en Asiate) se proporsionele stem gaandeweg besig is om te daal en daarmee saam word hul vermoë om die politieke diskoers te beïnvloed, ook al minder.

Hierdie tendens gaan ook nie verander nie, aangesien die land se minderhede relatief gesproke steeds heelwat minder kinders as die swart groepering kry, soos aangedui deur die volgende bevolkingspiramide van www.emtanalytics.com:

Bron: http://www.etmanalytics.com/

Uit bogenoemde is dit duidelik dat dit wat vir die minderhede as geheel geld, nog te meer van toepassing op Afrikaners is. Indien ons moedertaal as bepaler inspan, verteenwoordig ons slegs 60% van die rooi streep op die bevolkingspiramide.

Dit is uit die grafiek duidelik dat ‘n politieke party wat die regering wil oorneem, die grootste gedeelte van die swart stem op homself moet verenig. So ‘n party het dan geen ander keuse nie as om simpatiek te wees teenoor die waardes, verwagtinge en geskiedenisbeskouing van die swart meerderheid .

Dit beteken in praktiese terme dat wanneer die swart kieserskorps glo dat grond van hulle gesteel is deur witmense en dit vir hulle belangrik is om daardie grond terug te kry, enige party wat graag ‘n regering wil vorm, simpatiek teenoor hul eise sal wees (ongeag of hul standpunt histories akkuraat is of nie).

Dit verklaar waarom die 3 politieke partye wat tans beplan om nou (of in die toekoms) die regering te vorm, te wete die ANC, DA en EFF, almal ten gunste is van beleide wat skadelik is vir die land se ekonomie en veral ook vir Afrikaners, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie en Grondhervorming.

Dit verklaar ook hoekom die DA nie sy posisie in die Wes-Kaapse regering gebruik het om druk op die Stellenbosch Universiteit te plaas om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar en uit te bou nie. Ook waarom die DA in die Wes-Kaap nie Solidariteit gesteun het in sy hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste se toepassing van Regstellende Aksie nie. Dit ten spyte daarvan dat die agteruitgang van Afrikaans en die diskriminasie teen bruin en wit werkers deur werkgewers in die Wes-Kaap, lynreg bots met die belange van die meerderheid van die DA se kiesers in die Wes-Kaap.

Dit is dus duidelik dat demografiese verandering beteken dat Afrikaners wat vir die ANC, DA of EFF stem, geen voordeel in ruil daarvoor in die beleidsrigtings van daardie partye kan verwag nie.

Beteken dit dat Afrikaners apaties teenoor partypolitiek moet raak?

Om hierdie vraag te beantwoord moet daar oorweeg word of daar enige alternatiewe wyse is waarop Afrikaners voordeel uit die parlementêre politiek kan kry.

By die bestudering van ouer demokrasieë, is dit duidelik dat minderheidspartye wel die boerpot kan wen  wanneer dit as sogenaamde koningsmaker kan optree.

Dit gebeur wanneer die twee dominante partye nie self ‘n meerderheid van die stem gekry het nie, en die hulp van ‘n minderheidsparty benodig om ‘n regering te kan vorm. Daardie minderheidsparty kan dan voorwaardes stel in ruil vir sy ondersteuning van die party waarmee hy gaan saamwerk om die regering te vorm.

Een so ‘n voorbeeld is die rol wat die Groen Party in Australië vervul het om dit vir die Arbeidersparty moontlik te maak om ‘n regering te vorm tussen 2010 en 2013. Tydens die verkiesingsveldtog in 2010 het die Arbeidersparty belowe dat daar nie ‘n Koolstofbelasting ingestel sal word indien hulle die regering sou vorm nie. In die verkiesing het die Arbeidersparty 72 setels in die parlement gewen en die Liberale Party (grootste opposisie) het ook 72 setels gewen. Die Groen Party (met slegs 1 setel) het toe sy steun aan die Arbeidersparty gegee op voorwaarde dat daar ‘n Koolfstofbelasting ingestel word. Die Arbeidersparty het toe met behulp van die Groen Party die regering gevorm en in 2012 is ‘n Koolstofbelasting in werking gestel.

Die Liberale Demokratiese Party in die Verenigde Koninkryk (VK) is ook ‘n voorbeeld. Nadat hulle die Konserwatiewe Party in 2010 aan bewind gestel het deur hul 57 setels by die 306 van die Konserwatiewe party te voeg, het die Konserwatiewe Party ingestem om ‘n referendum te hou oor die verkiesingstelsel wat in die VK gebruik word. Hierdie referendum is deur die Liberale Demokrate gevra omdat die huidige stelsel hulle tot 9% van die setels beperk al wen hulle 23% van die stemme.

In beide hierdie voorbeelde het die grootste party eise toegestaan wat hulle self skade berokken het, omdat dit hulle in staat gestel het om ‘n regering te kan vorm. Die moontlikheid van mag is dus ‘n baie sterk hefboom wat ‘n klein party in sulke omstandighede kan inspan om uitsonderlike toegewings aan hul kieserskorps te wen. Daardie magshefboom bly ook tot en met die volgende verkiesing in plek, want die minderheidsparty kan te eniger tyd besluit om nie meer die regerende party te steun nie en ‘n nuwe verkiesing teweeg te bring. Dit maak dit onmoontlik vir die regerende party om nie aan die minderheidsparty se redelike eise te voldoen nie. In Kontinentale Europa is die skep van sulke na-verkiesings-koalisies om die regering te vorm en die gepaardgaande uitruil van gunste en gawes algemene praktyk.

Volgens die verslag van www.emtanalytics.com is daar ‘n 85% kans dat die Suid-Afrikanse politieke bestel in die toekoms weg sal beweeg vanaf ‘n eenpartystelsel na ‘n twee- of meerpartystelsel. In beide die twee- en die meerpartystelsel kan ‘n klein Afrikanerparty as koningmaker optree en sy pond vleis vir sy ondersteuners eis:

Bron: http://www.etmanalytics.com (aangepas om huidige stand korrek weer te gee)

Die verwagte tydsberekening van die oorgang na ‘n twee- of meerpartystelsel word as volg deur www.emtanalytics.com uitgedruk: Given the potential outcomes of the next decade, the final takeaway from this analysis should be the recognition that any current political uncertainty is just the opening salvo in a process of realignment that is likely to consume the rest of the decade. Current indications are that the ANC will be in a position to retain power in 2019, but by 2024, the landscape may have shifted sufficiently for the first post-1994 transfer of power via the ballot box.”

Indien Afrikaners vir ‘n party stem wat onbeskaamd Afrikanersake bevorder en geen aspirasies het om eendag die meerderheidsparty  in die regering te wees nie, kan ons teen 2024 selfs 16 setels in die parlement hou (indien ons die kwynende proporsionele stem van Afrikaners in berekening hou), wat deurslaggewend kan wees vir enige party wat setels kort om aan bewind te kom. Ons party kan dan enige van ‘n aantal voorwaardes stel aan die ANC of DA wat aan bewind wil kom. Voorbeelde kan insluit (in geen spesifieke volgorde nie):

  • Die befondsing van een of meer enkelmedium Afrikaanse universiteite as private instellings
  • Die kwytskelding van sekere dele van die land aan die vereistes van Regstellende Aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en Grondhervorming
  • ‘n Sonsondergangsklousule vir Regstellende Aksie wat kinders wat na 1994 gebore is kwytskel daarvan
  • Die oordrag van Afrikaanse medium skole vanaf die Departement van Onderwys na die Afrikaanse Taalraad, met meegaande befondsing, om as onafhanklike skole te bestuur
  • Die gewaarborgde beskikbaarstelling van Afrikaans deur die staatsdienste in die provinsies waar Afrikaans deur ‘n beduidende deel van die bevolking gepraat word
  • Praktiese stappe om uitvoering te gee aan Afrikaners se reg op Selfbeskikking, soos die implementering van voorstelle wat deur die Volkstaatraad aan die regering gemaak is
  • Groter bevoegdhede vir Orania en die befondsing vir infrastruktuurontwikkeling op Orania
  • Groter aftrekbaarheid van uitgawes vir medies, veiligheidsdienste en onderwys van persoonlike inkomstebelasting, ens.

Die Vryheidsfront Plus het in die verlede bewys dat hy met beide die DA en die ANC kan saamwerk. Die VF+ het die DA in staat gestel om in 2007 die munisipaliteit van Kaapstad te regeer en in 2009 is dr. Pieter Mulder deur die ANC as adjunk-minister aangestel. Die party kan hierdie ervaring gebruik in toekomstige onderhandelinge.

Ook in die tyd wat aanloop tot potensiële regeringsverandering kan ‘n Afrikanerparty heelwat vir Afrikaners beteken, soos die VF+ tot op hede gedoen het. Elke Nasionale setel beteken ongeveer R1 miljoen se befondsing aan ‘n party per jaar wat aangewend kan word vir navorsing, belegging in projekte wat Afrikaners ekonomies kan bemagtig en die dryf van hofsake ten behoewe van Afrikaners. Voorbeelde van sulke hofsake waarby die VF+  betrokke was, is die saak om Suid-Afrikaners in die buiteland toe te laat om te stem, die herstel van Transnet pensionarisse se aftreevoordele en om die sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak te verklaar.

Volgens www.emtanalytics.com kan die DA in hierdie verkiesing tussen 2% en 4% van die nasionale stem verloor as gevolg van sy rondvallery met Regstellende Aksie en Agang. Dit is egter nie vanselfsprekend dat die VF+ daarin sal slaag om hierdie kiesers op te vang nie. Die 52% daling in steun wat die VF+ ervaar het tussen die 2006 en 2011 munisipale verkiesings dui aan dat die VF+ ‘n ernstige geloofwaardigheidsknou onder Afrikanerkiesers gekry het toe dr. Pieter Mulder die adjunkministerspos aanvaar het sonder ‘n mandaat van sy kiesers of ‘n kwantifiseerbare voordeel wat die party vir sy kiesers in ruil daarvoor beding het, terwyl ‘n aantal prominente en gewilde leiers van die party uitgeboender is na afloop van die besluit om die pos te aanvaar.

Ten einde Afrikanerkiesers se aandag te trek sal die VF+ sy vlak van aktivisme drasties moet verhoog, minder staat moet maak op akademiese toesprake en mediaverklarings om sy boodskap by die kiesers uit te kry, sy organisatoriese vermoë (spesifiek takke) moet uitbrei en ‘n verkiesingsveldtog bestuur wat om die regte redes verras. Die VF+ sal moet leer uit die suksesse van AfriForum en kreatiewe maniere vind om die ANC en die DA in die verleentheid te stel weens hul rasgedrewe beleide. Die VF+ sal ook beter daarin moet slaag om dinamiese leiers te behou en soos ander ernstige partye sy beleid op skrif moet stel en toeganklike moet maak. Dit is elkeen uitdagende take wat die leierskap en die partystrukture op die proef sal stel.

Die geleentheid om wesenlike voordeel uit die parlementêre politiek te trek gaan egter nie vir lank met ons wees nie. Soos wat Afrikaners ‘n al kleinerwordende gedeelte van Suid-Afrika se kiesers word (verwys na die eerste grafieke) gaan ons al minder kan bereik binne die parlement.

Daarom is daar geen langtermyn plaasvervanger vir selfbeskikking nie en moet Afrikaners, ten spyte van dikwels uiteenlopende politieke oortuigings, daadwerklik bydra tot die vestiging en uitbou van ons eie gebied rondom Orania.

Waarom Orania ons steun verdien

Dit bly vir my uiters interessant hoe daar talle Afrikaners is wat nie bloot neutraal teenoor Orania staan nie, maar die dorp en sy ideaal aktief teenstaan.

In hierdie skrywe wil ek graag aandui waarom ek glo dat elke Afrikaner Orania behoort te steun.

Orania verryk ons wêreld

As Afrikaners beskik ons oor geen publieke ruimte waaraan ons deur ons besluitneming en vaardighede beslag kan gee nie. Dit is Orania se strewe om hierdie leemte vir ons te vul.

Orania poog om ʼn gebied daar te stel waar ons kan besluit hoe dorpe en stede uitgelê moet word, watter publieke infrastruktuur opgerig moet word en hoe dit moet lyk. ʼn Gebied waar ons kan bepaal watter misdade as prioriteitsmisdade beveg behoort te word, waar ons die voertaal en leerplanne van ons skole, tegniese kolleges en universiteite bepaal, waar ons beheer oor die aanwending van ons belastinggeld het en waar ons die regering van die dag tot verantwoording kan roep, of selfs by die stembus kan vervang.

Orania stel vir ons ʼn plek in die vooruitsig waar ons nie verskoning hoef te vra om onsself te wees nie.

Orania neem nie by ons weg nie

Wanneer ʼn nuwe pigment aan die skilderkuns beskikbaar gestel word, doen dit nie afbreek aan bestaande pigmente nie. Dit verminder nie die verskeidenheid van skilderye wat geskilder kan word nie.

Dieselfde geld vir Orania. Afrikaners wat graag iets anders wil doen, wat deel van ʼn multikulturele samelewing wil wees hoef nie hul drome op te gee en na Orania te trek nie. Orania staan nie in Afrikaners se pad wat graag eendag op hul familieplaas wil boer of in hul ouers se besighede wil staan nie. Orania skryf nie eens voor in watter land Afrikaners moet bly nie.

Die groei en ontwikkeling van Orania kan nie Afrikaners se geldige drome en aansprake elders verwater nie.

Orania bied wel vir ons ʼn alternatief indien ons drome nie uitwerk nie, want ongeag wat in die wêreld met ons en ons drome mag gebeur, Orania sal ons altyd verwelkom.

Orania doen nie afbreek aan ander nie

Baie mense wat krities teenoor Afrikaners se verlede staan, dink dalk dat Orania poog om ʼn voortsetting van apartheid te wees; ʼn futiele verlange na ʼn vergane era.

Selfs die toevallige besoeker sal egter baie gou oplet dat daar reuse verskille tussen Orania en die ou Suid-Afrika is. “Blankes” word nie as ʼn groep in Orania erken of beskerm nie. Hier is nie afsonderlike ingange by die winkels of Dorpskantoor vir “blankes” en “nie-blankes” nie. Geen groep word tot permanente onderhorigheid of arbeidersklas gedwing op grond van hul velkleur nie. Elke besoeker word as gelyke ontvang en gerespekteer.

Dat Afrikaners se velkleur wit voorkom, is netsoveel buite ons beheer as dat Xhosas swart voorkom. Ons beweeg verby hierdie sake wat buite ons beheer val en oordeel nie mense op grond van hul velkleur nie maar op grond van hul begeerte om met ons te assosieer, ons kultuur in beskerming te neem en Orania se doelstelling te ondersteun. Orania stel Afrikaners eerste. Ons is baie eerlik daaroor en ons is nie skaam daaroor nie, want ons gun dit ook vir Mnyameni om Xhosas eerste te stel en vir Ulundi om Zoeloes eerste te stel. Ons ondersteun hulle ook in hul strewes waar ons kan en waar ons genooi word.

Orania se strewe en sy aktiwiteite is in lyn met die gees van selfverantwoordelikheid wat selfbeskikking onderlê, ʼn gees wat vandag meer aktueel (en deel van die internasionale hoofstroom) as ooit is, want daar was nog nooit ‘n groter aantal onafhanklike state in die wêreld as juis nou nie.

Om Afrikanerselfbeskikking volgens die doelstellings van Orania te steun is nie in stryd met Suid-Afrika of Suid-Afrikaners nie. Om Suid-Afrika tweede te stel is om aan die moontlikheid van ʼn alternatiewe Suid-Afrika te bou, een wat ruimte bied vir volhoubare verskeidenheid. Verskeidenheid met wedersydse respek en erkenning. Verskeidenheid met die innerlike vermoë om te leef, te groei en te gedy.

Orania is in ons hande om te vorm

Die vraag is nie hoe Orania vandag lyk nie. Dit is nie of ons bereid is om te word soos Orania vandag voorkom nie.

Die vraag is eerder watter impak ons betrokkenheid kan maak op hoe Orania in die toekoms mag lyk.

Dit is waar dat Orania van ʼn baie lae basis moes ontwikkel. Dat Orania nie esteties vergelyk met Sandton, Melrose Arch, Woodhill of Stellenbosch nie. Die dorp en sy infrastruktuur was vervalle toe dit oorgeneem is, terwyl dit vir baie lank onderbenut was en slegs gedeeltelik herstel en onderhou kon word terwyl sy burgery min was.

Tog is Orania se estetiese voorkoms besig om daagliks te verbeter namate al meer ondersteuners betrokke raak. Orania is reeds besig om bo sy onmiddellike bure uit te troon en dit sal net tyd en betrokkenheid verg voordat Orania die juweel van die bo-karoo, ja selfs van die hele Afrikanerwêreld, word.

Orania is ons kind en verdien ons beskerming en versorging. Rome, London en New York is nie in een dag gebou nie. Nie dat hierde stede noodwendig ons rolmodelle is nie.

Hoe weeg dit op?

Orania is vindingryk en verskil drasties van enige alternatief wat deur advokate of politici aan ons gebied word. Orania het die ou Suid-Afrika oorleef. Dit het die Madiba-euforie oorleef. Orania het die NP oorleef. Orania het die AWB en die KP oorleef. Orania is die volhoubare keuse.

Kan ons op jou steun staatmaak? Besoek Orania, gee vrye teuels aan jou verbeelding en besluit self.

Finansiële geletterdheid

Die boekie “The richest man in Babylon” is ‘n stukkie klassieke literatuur wat reeds in 1926 gepubliseer is. Dit maak gebruik van vergelykings en ‘n verhalende trant om belangrike finansiële lesse te verduidelik en vas te lê waarsonder volhoubare welvaart sekerlik nie moontlik is nie.

Die aard daarvan maak dit ook baie nuttig om aan kinders die beginsels van gesonde finansiële bestuur oor te dra en behoort myns insiens as voorgeskrewe werk deur elke tiener op skool of tuisskool behandel en beredeneer te word. Verder het die outeursregte op die boekie verstryk en kan dit sonder enige koste versprei en gedupliseer word.

In die Bybel leer ons dat ons nie God en Mammon tegelykertyd kan dien nie. Die boekie voed egter nie die verbruikersmentaliteit wat die begeerte na groot rykdom onderlê nie, maar stel juis ‘n gesonde verhouding met geld voor; een waarin geld nie jou meester is nie, waar finansiële sekuriteit moontlik word deur spaarsamigheid, dissipline en ‘n gesonde, produktiewe lewe (wat insluit om tyd en geld aan God, liefdadigheid en familie af te staan).

Die verhaal in die boekie speel af in antieke Babilonië. Dat daardie stad en beskawing vandag nie meer bestaan nie, is self ook ‘n les wat as deel van die lees van die boekie ondersoek behoort te word. (Moenie die voorwoord oorslaan nie.)

Wat is die betrekking hiervan op Orania? Wel, ‘n voorspoedige stad of land is slegs moontlik indien die grootste deel van sy inwoners voorspoedig is. Natuurlik is daardie voorspoed nie alleen finansiëel van aard nie, maar sonder middele is dit ook maar ‘n opdraende stryd.

Die skakel na die boekie is as volg (en kan maklik in ‘n agtermiddag kafgedraf word): http://thediamondsmine.com/files/Ebooks/Clason-RichestManInBabylon.pdf

Lekker lees en laat weet gerus wat julle daarvan dink.