fbpx

Die ou gesegde lui dat die mensdom regverdige meesters verkies bo vryheid.

Hierdie siniese gesegde verklaar moontlik waarom die behoefte na selfbeskikking (die vermoë om self besluite te neem oor die aangeleenthede wat ons ten nouste raak) toeneem namate die persepsie van ons meesters se regverdigheid afneem.

So duik gesprekke oor selfbeskikking deesdae blykbaar ook in gerespekteerde geselskap op – iets wat haas ondenkbaar was tydens die ampstermyn van president Mandela.

Hierdie verwantskap tussen die behoefte na selfbeskikking en die huidige gedrag van ons heersers dien egter om ʼn problematiese, oppervlakkige siening van die wyse waarop selfbeskikking verkry word, te verstewig.

Selfbeskikking as gebeurtenis

Sommige wat aan die debat en kommentare oor selfbeskikking deelneem, huldig blykbaar die gedagte dat selfbeskikking ʼn gebeurtenis is.

Volgens hierdie siening word selfbeskikking verwesenlik wanneer die nodige morele gronde of welwillendheid bestaan vir ʼn volk om hul ‘reg op selfbeskikking’ op te neem. Dit beteken dat ʼn volk eers vry is nadat hierdie gebeurtenis plaasvind.

Hierdie verstaan van selfbeskikking is oppervlakkig omdat dit nie rekenskap hou met die eise wat selfbeskikking stel nie en vervreemd is van die geskiedenis en die wel en weë van suksesvolle selfbeskikkingsbewegings.

Die grootste probleem met hierdie benadering is egter die wyse waarop dit aspirant-selfbeskikkingsbewegings lamlê.

In die eerste opsig moedig hierdie siening uitstel aan. Mense hoop op en wag vir die ‘regte’ omstandighede wat die ‘gebeurtenis’ moontlik maak voordat hulle betrokke raak. Hulle hoop op iets soos ʼn regeringsverklaring of ʼn gunstige bevel van ʼn Internasionale Hof.

In die tweede opsig vul hierdie siening mense met vrees. Hul vrees dat selfbeskikking iets is wat deur die regering (in ons huidige geval die ANC) geduld moet word om te ‘gebeur’ en dat selfbeskikking, by die gebrek aan hierdie welwillendheid, in ʼn oogwink kan verdwyn. Daarom is dit beter om te wanhoop as om ‘valse’ hoop te koester wat soos mis voor die son mag verdwyn.

In beide gevalle vorder selfbeskikking nie verder as braaivleisvure en bloginskrywings oor die internasionale reg nie, of soos iemand anders gesê het: “vrees kelder baie meer drome as mislukking.”

Selfbeskikking as proses

Die geskiedenis wys egter dat ten spyte van die fanfare wat met die erkenning van selfbeskikking gepaardgaan, selfbeskikking ten diepste ʼn proses is.

Volgens hierdie siening is selfbeskikking dieselfde as enige ander menslike prestasie: dit word bewerk en in stand gehou deur volgehoue werk en deursettingsvermoë. Dit is ʼn reis waarin elke tree sy eie beloning bring en ʼn stukkie vryheid ontsluit.

Die vryheidsverklaring (in watter vorm ook al), wanneer dit dan plaasvind, is nie die begin van vryheid nie, maar slegs die akkreditasie daarvan.

Wat baie belangrik is, is dat in teenstelling met ʼn gebeurtenis, ʼn proses iets is wat momentum opbou, wat nie uitsluitlik van eksterne faktore afhanklik is vir sy sukses nie en waarin geen bydrae te klein is om ʼn groot verskil te maak nie.

ʼn Proses is ook meer volhoubaar omdat dit die verbeeldings van nuwe geslagte kan aangryp, want dit is nooit werklik afgehandel nie en bly oop vir vernuwing, uitbreiding, herverbeelding en verruiming.

Orania is verbind tot selfbeskikking as proses en daarmee wil ons elkeen wat ʼn ryk en vol Afrikanerbestaan kan indink, uitnooi om hul by ons aan te sluit en dit saam met ons te ervaar.