Versoening, erkenning en Mandela

Buiten vir die Orania Beweging se reaksie op oud-President Mandela se toestand die afgelope tyd, het Afrikaners op twee, dalk drie maniere daarop gereageer. Aan die een kant was daar diegene wat van hom as’t ware ’n eietydse heilige wou maak, aan die ander kant was daar diegene vir wie hy tot vandag toe niks anders as ’n terroris is nie, en tussenin was daar ’n groot klomp swygsames wat hulle eenvoudig nie daarmee bemoei het nie.

Orania se reaksie, wat veral deur my, maar ook deur ander verwoord is, het beide ondersteuning én kritiek uitgelok. Dit het goeie wense en sterkte aan die familie en vriende behels, maar het ook ’n bepaalde politieke inhoud gehad, naamlik dat sy nalatenskap van versoening slegs van betekenis kan wees as dit op erkenning berus – en dat erkenning die sluitsteen van ons politieke aanspraak uitmaak.

’n Deel van die ondersteuning en die meeste van die kritiek het van mense gekom wat gedink het dat ons saamsing in die huldigingskoor, hoewel die meeste van ons lede en inwoners verstaan het dat ons as’t ware ’n derde, alternatiewe standpunt ingeneem het. Ons het hom naamlik nie bewierook óf verdoem nie, maar ons eie saak bevorder deur die soort erkenning te gee wat ons ook van ander verwag. Dit het ons op ’n waardige wyse probeer doen, terwyl ons die onderliggende spanning tussen dit wat hy verteenwoordig het en dit wat ons verteenwoordig, juis aangeroer het.

Omdat ons reaksie slegs in verpakte stukkies en brokkies deur die media gedra is, het ons van ons eie kanale gebruik gemaak om ’n meer volledige weergawe daarvan die wêreld in te stuur. Ongelukkig is dit steeds deur sommige gekritiseer sonder dat ‘n mens kan agterkom dat hulle behoorlike oorweging aan ons argumente gegee het. Ons het ’n politieke, historiese en geloofsperspektief op die hele saak gestel, wat naastenby op die volgende neergekom het:

Histories gesproke kan niemand ontken dat mnr Mandela by die gewapende stryd teen die blanke bedeling in Suid-Afrika betrokke was en aan terrorisme deelgeneem het nie. Dit is egter ontoereikend om te ignoreer dat hy daarbenewens ’n lang politieke loopbaan gehad het, wat ook uit ander dinge as terrorisme bestaan het en dat, selfs as ‘n mens die ANC-propaganda buite rekening laat, daar ook verdere perspektiewe op sy lewe is. As ons die heersende, enkelvoudige veroordeling van ons eie geskiedenis verwerp, behoort ons seker nie dieselfde fout met ander se geskiedenis te maak nie.

Die politieke perspektief sluit hierby aan want dit verwys na die manier waarop mnr Mandela se politieke nalatenskap aangebied word. Hy is naamlik wêreldberoemd vir sy politieke versoening eerder as wraak. Ons sê: goed en wel, maar versoening sonder erkenning is leë woorde, en erkenning kan iets so sentraal soos iemand se vryheidsin nie uitsluit nie. Dit is waarop ons ingevolge sy politieke testament aanspraak maak. Daarmee opponeer ons nie die wêreldwye pogings om die goeie in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis raak te sien nie, maar wil ons ander se uitsig verbreed om ons plek daarin ook raak te sien.

Ten slotte is ons geloofsperspektief eenvoudig: waar iemand, selfs ons aardse vyand, voor die ewige reg te staan kom, kom die oordeel ons nie toe nie. Mnr Mandela se familie, vriende en volgelinge word met die feit van menslike sterflikheid gekonfronteer soos ons elkeen ook al daarmee gekonfronteer is. Ons bid hulle Gods genade daarvoor toe, soos ander dit al vir ons toegebid het. Só verstaan ons die liefdesgebod.

Iemand vra my egter: Waarom het julle nie liewer hoegenaamd niks gesê nie? Daarop kan ek net antwoord dat Orania nie op wag-en-sien gebou is nie. Ons leierskap was nog altyd “van voor af” en op oortuiging gebou, nie om iemand se guns te wen of populêr te wees nie. Daarmee het ons die toets van die tyd deurstaan. Ons reaksie op mnr Mandela se toestand is eenvoudig ’n voortsetting daarvan en niks om oor te swyg nie.

 

*Carel Boshoff is president van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.

Die vryheidsidee

Die Vryheidsidee
Die Geskrifte van Charles van Doren en Andere Herbesoek na Veertig Jaar

Agtergrond

In 1971 word ek uitverplaas as assistentonderwyser na die Hluhluwe Staatskool, ‘n laerskool waar ek ook koshuisdiens verrig. Kort voor lank bou ek ‘n redelike boekversameling op wat hoofsaaklik bestaan uit die “Great Books”, uitgegee deur Encyclopedia Britannica. In essensie handel die stel boeke (54 volumes) oor die belangrikste skriftelike bydraes van Westerse skrywers. Die strekwydte van die outeurs dek die Griekse filosowe tot en met Sigmund Freud.

Bykomend tot die 54 volumes is daar sekondêre stelle boeke wat dieper delf in die geskrifte van die meesters. Daarby was daar elke jaar ‘n enkel jaarboek genoem ‘The Great Ideas Today”, wat aangeskaf kon word.

Charles van Doren en andere se poging om helderheid aan die vryheidsidee te gee, word vervat in die 1972 en 1973-jaarboeke. Die struktuur van die vryheidsidee, soos uiteengesit deur Van Doren et al, sal weergegee word en die strategie sou wees om die bepalings van die idee te toets aan Orania se Volkstaatstrewe.

Die Vryheidsidee – Charles van Doren. Mede-professor, Instituut vir Filosofiese Navorsing

Bron: The Great Ideas Today, Great Books © 1972 en 1973 Encyclopedia Britannica, Ingelyf.

Die Vryheidsidee

Om tred te hou met die ontvouing van die struktuur word sterk gesteun op kruisverwysings.
Die buitelyne van die vryheidsidee word gekenmerk deur drie soorte vryhede, naamlik:

1. Die vryheid om te doen wat ‘n mens wens om te doen, of anders gestel die omstandigheidsvryheid van self-realisasie.

2. Die vryheid om jou wil uit te druk soos dit hoort, of anders gestel die verworwe vryheid van selfperfeksie(verbetering).

3. Die vryheid om te bepaal wat ‘n mens sal doen of sal word, of anders gestel die natuurlike vryheid van selfbeskikking.

Bogenoemde drie vryhede word onderwerp aan ‘n hipotese om die gewone betekenis van menslike vryheid (noem dit X) te begryp.

Die hipotese word getoets deur elke vryheid in ‘n toetsformule te plaas, dus ‘n mens wat in staat is om:

1. Onder gunstige omstandighede vir eie voordeel en soos hy dit ervaar, te handel, of

2. deur verworwe kennis of goedheid te leef soos dit hoort in ooreenstemming met die menslike reg of ‘n ideaal wat pas by die menslike natuur, of
3. deur ‘n mag inherent aan die menslike natuur, om sy eie karakter op ‘n kreatiewe wyse te verander deur vir homself te besluit wat hy doen of word.
Dié mens is vry in die sin dat hy/sy:
(Noem dit X) Die vermoë besit of die reg uitoefen waardeur dit wat hy/sy kan doen, sy/haar eie handeling te verrig en dit wat hy/sy bereik, sy/haar eiendom te maak.
Die hedendaagse toepassing van die vryheidsidee op Orania se situasie kan ook gemeet word aan die drie vryhede.
In “Die omstandigheidsvryheid van selfrealisasie” (1) blyk dit dat die houvas op die gemeenskap (taal- en kultuurversmoring, regstellende praktyke ens.) die omstandighede ongunstig maak vir die realisering van dié vryheid.
“Die verworwe vryheid van selfperfeksie(verbetering)” (2) is vanuit die Orania-perspektief ‘n haalbare vryheid, aangesien die Orania-Afrikaner ‘n morele persoon is wat die akte van bestaan in ‘n Volkstaat verwerf het deur op beginsels te staan, beginsels soos selfwerksaamheid.

Die laaste vryheid, die van “Die natuurlike vryheid van self-beskikking” (3), is seker in die omgang van die vryheidsgesprek die mees bekende. Dit laat die inwoners van die Volkstaat op ‘n unieke manier ‘n ideaal aanhang ter uitsluiting van vreemde invloede sodat na hoër vlakke van vryheid geaspireer kan word.

Samevattend is die apparatuur in plek op Orania om te beantwoord aan “Die vereistes van die gewone betekenis van menslike Vryheid” (noem dit ), alhoewel met enkele uitsonderings.

‘n Paar slotopmerkings:

1. Die onderwerp is omvangryk, tegnies in fyner besonderhede en gerugsteun deur skrywers van groot invloed, te wete die Griekse filosowe en meer resente outeurs soos Hobbes en Rousseau.

2. Daar is groot verskille by skrywers oor die onderwerp en daar is talle aanvalle op die gestelde konsepte. Ook is daar variante van die genoemde vryhede. Politieke vryheid is dus ‘n variant van selfrealisasie en kollektiewe vryheid ‘n variant van selfperfeksie(verbetering).

3. Nou word lesers uitgenooi om op die struktuur kommentaar te lewer en selfs opheldering en verdere voorbeelde aan te bied ter verbreding van kennis oor die onderwerp.

Ons vergete vryheidsvennote

“The hills are bare now
And autumn leaves lie thick and still
O’er land that is lost now
Which those so dearly held
And stood against him
Proud Edward’s army
And sent him homeward
Tae think again”
Ek identifiseer maklik met die nie-amptelike Skotse volkslied (hulle amptelike volkslied is natuurlik God Save the Queen), waarskynlik omdat dit praat van ‘n eens magtige, eens trotse volk wat nou moet veg om oorlewing.
Dit het my laat wonder waarom ons nie nouer met die Skotte saamwerk in ons eie soeke na vryheid nie. Ek begryp dat die Europese volke waarmee ons nóú saamwerk, soos die Vlaminge en die Suid-Tirolers, meer tot ons harte spreek en soos “ons mense” voel. Mnr. Jaco Kleynhans het egter ‘n tydjie terug op ‘n Afriforum-jeugtoer waarop ek was, genoem dat die Afrikaner se grootste bedreiging nie lê in onderdrukking of oorlog nie, maar in apatie en daardeur assimilasie in die reënboognasie.
Volgens my beskeie mening kan ons van die Skotte baie leer oor hoe om assimilasie teë te werk. Dat die Skotte volledig geïntegreer is in die Britse bevolking is daar min oor te twyfel: tussen 15% en 20% van mense wat in Skotland gebore is, woon tans in Engeland. As ‘n Skot gedefinieer kan word as ‘n persoon wat volgens internasionale reëls vir Skotland op die sportveld mag uitdraf, woon daar meer Skotte in London as in Skotland. Verder is Engels die huistaal van die meeste Skotte.
Alhoewel Groot-Brittanje eers in 1707 amptelik ontstaan het, is die koning van Engeland outomaties ook die koning van Skotland sedert 1603. Alhoewel die eerste koning om op albei trone te sit ‘n Stuart (en dus ‘n Skot) was, was die suidelike Skotse adel lank reeds tot ‘n groot mate verengels. Die feit dat ‘n Skot die Engelse troon bestyg het, het wel tot groter ekonomiese geleenthede vir baie Skotte gelei, maar dit het net gegeld vir “verbritste” Skotte en het ‘n geleidelike wegkalwing van die Skotse identiteit tot gevolg gehad.
Na die sogenaamde “bonnie Prince Charlie” se opstand van 1745 om die Skotse Stuarts weer op die troon van Groot-Brittanje te kry, is daar hard neergekom op die Skotse identiteit en is die dra van kilts en die speel van doedelsakke buite die weermag totaal en al verbied. Die sesde vers van “God save the Queen” bid krag op ene veldmaarskalk Wade toe om “rebellious Scots to crush”. Alhoewel dit nooit amptelike beleid geword het nie, bestaan staaltjies van diskriminasie teen mense met ‘n Skotse aksent in die openbare sektor tot laat in die 20ste eeu en in die private sektor in Engeland tot vandag toe.
As hierdie niegewelddadige miskenning van Skotse kultuur en subtiele opstoking van Engelse teen Skotte nie ‘n klokkie lui vir Afrikaners nie, woon hulle moontlik in ‘n ander Suid-Afrika. Net soos die Skotte van die 18de eeu is daar ongelooflike ekonomiese geleenthede vir die Afrikaner wat bereid is om sy Afrikaneridentiteit op te gee in ruil vir ‘n Suid-Afrikaanse identiteit. Soos die Skotte (en anders as bv. die Vlaminge en Suid-Tirolers) het ons geen groter Afrikaner- of Afrikaanssprekende gemeenskap om na te verlang of kragte mee saam te span nie. Soos die Skotte moet ons tot ‘n mate óf assimileer óf gemarginaliseer word.
Tog, ten spyte van diskriminasie, is Skotse nasionalisme sterker as ooit in die moderne tyd. Die voormalige Vlaamse wêreld nommer een tennisspeler, Kim Clijsters, se tuisblad is wel in Nederlands, maar vra enige tenniskyker wat haar nasionaliteit is en hulle sal onmiddellik antwoord: “Belgies”. Andy Murray, daarenteen, praat Engels en neem deel onder die Union Jack, maar selfs mense wat tennis nie so deeglik volg nie, sal hom as ‘n Skot, eerder as ‘n Engelsman of Brit, eien. David Coulthard het in sy tyd as F1-bestuurder sy valhelm in die St. Andrew’s-kruis laat verf. Sir Sean Connery is een van die grootste donateurs tot die Skotse onafhanklikheidspoging. Hy het onderneem om persoonlik ‘n bedankingsbrief te onderteken vir mense wat ‘n sekere bedrag skenk tot hierdie doel. Terloops, hierdie optrede is deur ‘n lid van die Britse parlement as “nauseating” beskryf.
Verbeel u ‘n Springbokrugbyspeler wat ‘n kopskerm dra met die Vierkleur op gedruk, of ‘n Protea met ‘n Klein Reus op sy kolf geplak! Alhoewel daar geen reël is wat so iets verbied nie, sal so ‘n speler waarskynlik nooit weer in ‘n nasionale span toegelaat word nie.
Op 18 September 2014, byna presies ‘n jaar van nou af, gaan daar ‘n referendum in Skotland gehou word oor of hulle moet afstig van Groot-Brittanje. Engelse media lag die referendum af en voorspel ‘n groot nederlaag vir die nasionaliste, terwyl Skotse media oor die algemeen saamstem dat dit ‘n taai stryd gaan wees, maar dat die sesessiestem uiteindelik sal seëvier. Of die nasionalistiese party daarin slaag of nie, om volgende jaar die steun van die bevolking te kry is dit die naaste wat een van ons “vennote” in die soeke na vryheid kom om hul eie staat te bewerkstellig. Dalk moet ons meer aandag skenk aan hoe hulle tot op hierdie punt gevorder het.
Die een strategiese voordeel wat die Skotte (en inderdaad ook die Suid-Tirolers en Vlaminge) bo die Afrikaners van vandag het, is eie grondgebied, al is dit nie amptelik nie, wel de facto. Die enigste manier om ‘n volk heeltemal te beskerm teen assimilasie en die daaropvolgende vernietiging van die volk as ‘n aparte entiteit, is om altyd ‘n “huis” te hê. Daar is ‘n gesegde in Skotland wat sê dat die Skotse nasate in Amerika en Australasië “more Scottish than the Scots” is. Dit kan net gebeur omdat hulle altyd met ‘n geromantiseerde blik kan terugkyk na hulle “tuisland”. Daarom is dit só belangrik dat Orania suksesvol is.
Selfs met ‘n eie grondgebied het dit die Skotte 400 jaar geneem om weer tot op ‘n punt te kom waar staatkundige vryheid ‘n realiteit is. Ek vind raad en hoop vir Afrikaners in die laaste vers van Flower of Scotland:
“Those days are passed now
And in the past they must remain
But we can still rise now
And be the nation again
That stood against him:
Proud Edward’s army
And sent him homewards
Tae think again”

‘n Perspektief op Selfwerksaamheid

Die beginsel van selfwerksaamheid word reeds baie suksesvol toegepas in streke soos Wes-Europa en Japan.  Dit is interessant om op te let dat dit hier nie ‘n beginselsaak is soos in Orania nie, maar ‘n ekonomiese besluit. Waar ‘n onderneming met minder en beter bemagtigde werkers  besigheid kan doen, word geld bespaar en die kwaliteit van produkte verbeter.
In Orania is dit ‘n beginselsaak omdat die kultuur in Suid-Afrika so sterk gevestig is dat enige probleem wat opduik, opgelos kan word deur meer arbeiders toe te voeg.  Oor ‘n lang tydperk van die beskikbaarheid van goedkoop arbeid en arbeiders  wat nie altyd menswaardig behandel is nie, het ons verleer om te gaan sit en dink oor effektiewe bestuur en die vermindering van arbeid.  In die Nuwe Suid-Afrika is arbeid nou so ‘n groot probleem met wetgewing, stakings en vakbonde wat werkgewers so lewe bemoeilik, dat ons nou is waar die bogenoemde lande reeds was:  selfwerksaamheid is bloot goeie besigheid.

Dit is om hierdie rede dat Nigel Metal Industries (met die uitsondering van een oorgeërfde vragmotorbestuurder) slegs van volkseie arbeid gebruik maak.  Soos die Engelse sê:  the proof is in the pudding. Sonder dat ons daartoe gedwing word, kompeteer ons met maatskappye met hordes goedkoop swartwerkers op grond van kwaliteit én prys.  Ons arbeiders word meer betaal as die markstandaard en ons verhouding van arbeiders tot omset is laer as soortgelyke fabrieke.  Ek wend hier ‘n poging aan om beginsels wat ons in staat stel om in Gauteng op ‘n volkseie basis te kompeteer uit te brei na algemene beginsels wat kan dien as riglyne vir Orania en mense wat Orania se beginsels aanvaar. Dink aan die volgende:

1.    Hou die groter prentjie in gedagte
Dit is ‘n grondbeginsel van die bedryfsingenieurswese en dus voel ek dat dit krities is vir enige projek of ontwikkeling dat die groter prentjie nooit uit die oog verloor moet word nie.  Mense hou daarvan om oor te gaan tot aksie. Beplanning is vervelig vir hulle en hulle voel dikwels onproduktief as hulle daarmee besig is.

Kom ons neem as voorbeeld ‘n persoon met ‘n groot grasperk.  Hy het reeds ‘n grassnyer, dus hou hy maar aan om elke Saterdag ‘n werker te kry om sy gras te sny.  Hy oorweeg dit nou om ‘n trekkertjie aan te koop en weeg die kapitale uitleg op teen die besparings wat hy sal geniet.  Die Groter Prentjie sal in hierdie geval beteken dat hy sal moet besluit of hy so ‘n groot grasperk wil hê. As hy sy grasperk kleiner kan maak, geniet hy die besparings sonder die kapitale uitleg.

Dit is ‘n eenvoudige voorbeeld, maar illustreer dat dinge wat ons as gegewe beskou, soms ‘n beter oplossing kan bied as ons bereid is om ons nette wyer uit te gooi. Wat is Orania se groter prentjie?

2.    Meganiseer
Ek glo dat almal teen hierdie tyd vertroud is met die begrip meganisasie.  Een van die groot vrese wat tans weer in lande soos die VSA gesien word met betrekking tot meganisasie, is dat dit werk van mense wegneem en dit na robotte oorplaas.  Daar is egter ‘n fundamentele denkfout agter hierdie manier van dink – die ekonomie is nie ‘n beperkte “koek” nie.  As een persoon ‘n groter stuk koek kry, beteken dit nie hy moet dit by iemand afneem nie.

Kom ons oorweeg weer die voorbeeld van die persoon met die grasperk.  Ons neem dié keer aan dat hy wel besluit het om sy grasperk te hou.  As hy ‘n meganiese grassnyer koop, verminder hy die tyd en moeite om die gras klaar te sny.  Dit het tot gevolg dat hy die tweede tuinarbeider nie nodig het nie, dit beteken dat hy die eerste arbeider meer kan betaal,daar is dus meer geld in omloop in die omgewing, wat ‘n groter vraag na produkte skep en dit skep ‘n werk vir die tweede, oorbodige tuinwerker.  Deur te meganiseer word die totale rykdom in die gemeenskap dus verhoog.

3.    Skep ‘n veeldoelige werksspan
Ons sien te dikwels die verskynsel in Suid-Afrika dat gekwalifiseerde ambagsmanne werkloos sit eerder as om te gaan strate vee.  By Nigel Metal Industries, en ook by ons ontwikkelingsmaatskappy in Orania, Estellae Eiendomme, volg ons die beginsel dat almal in die span bereid moet wees om alles te doen.  In Nigel vee die gekwalifiseerde ketelmaker smiddags voor uitskeityd sy eie area skoon en by Estella Aftree-oord help die messelaar gereeld die sement meng.

Werkers moet ook bemagtig word om verskeie take te kan verrig: In ons fabriek is daar geen werker wat net een masjien ken of net een taak kan verrig nie.  Dit verminder die totale aantal werkers wat benodig word en bemagtig hulle om meer te wees as ‘n outomaat wat vyf weke verlof per jaar kry.  Aangesien hulle reeds oor verskillende vaardighede beskik, kan hulle maklik iewers anders ingespan word en word die hoeveelheid personeel wat in moeilike ekonomiese toestande afgedank moet word verminder.

4.    Skep stabiliteit
‘n Werknemer wat sukkel om verblyf te kry, of ongelukkig is in sy omgewing, lewer dikwels swak werk, het ‘n hoë afwesigheidskoers en is meer geneig om te bedank of te dros.  Deur ‘n langtermynverhouding met werknemers te smee word hulle menswaardigheid opgebou en word hulle die geleentheid gegun om te ontwikkel na iets meer as wat hulle was.  Benewens hierdie sosio-ekonomiese invloed van stabiliteit kry die werkgewer ook die maksimum opbrengs op die belegging in die werker so opleiding wat hy gemaak het.  Met laer afwesigheidskoerse kan die besigheid meer voorspelbaar presteer en die lae personeelomset maak dat ‘n spangees onder die werknemers posvat en ‘n lojaliteit teenoor die werkgewer opgebou word.

In Nigel kry ons dit reg deur huise bekostigbaar beskikbaar te stel, afleggings en korttyd te vermy en werklik belang te stel en deel te neem in die lewens van werknemers.  Die resultaat is dat personeel uit hul eie kom met beter werksmetodes of geldbesparingsmetodes.
Orania, met sy besonder gesonde gemeenskapstrukture, skep ‘n omgewing wat baie geskik is vir die kweek van langtermynverhoudings met werkgewers.  Die helfte van die stabiliteit word reeds geskep deur kerke, instellings soos Elim, skole waar ryk en arm elke pouse saamspeel en ‘n baie betrokke gemeenskap.  Dit is dus vir werkgewers in Orania baie makliker om lojaliteit by hulle werkers te kweek.

5.    Verminder hantering
Die mees primitiewe manier van meganisasie was om ‘n wiel onder iets swaar te sit, of gravitasie te gebruik om ‘n voorwerp te skuif.  Met robotte en rekenaars word sulke eenvoudige beginsels deesdae dikwels vergeet.  Groot besparings in mannekrag kan egter hier gemaak word sonder enige besonderse kapitale insette.  Navorsing toon dat die effektiwiteit wat gewen kan word tydens materiaalhantering baie hoër is as wat gewen kan word met die werklike werk wat waarde toevoeg.
Die grootste besparings kan dikwels gemaak word tydens die beplanningsfase.  ‘n Eenvoudige voorbeeld hiervan is supermarkrakke wat effens afwaarts loop.  As ‘n produk voor uitgehaal word, skuif die tweede produk vanself vorentoe, ens.  Dit beteken dat daar nie konstant ‘n persoon moet rondloop en produkte vorentoe skuif nie.

Indien hierdie beginsels gehandhaaf word, kan Orania met sy reeds suksesvolle selfwerksaamheidsbeginsels, groter doeltreffendheid bereik.
(Carel Boshoff het op Orania grootgeword. Hy is tans ‘n honneursstudent in Bedryfsingenieurswese.)

Waarom Orania ons steun verdien

Dit bly vir my uiters interessant hoe daar talle Afrikaners is wat nie bloot neutraal teenoor Orania staan nie, maar die dorp en sy ideaal aktief teenstaan.

In hierdie skrywe wil ek graag aandui waarom ek glo dat elke Afrikaner Orania behoort te steun.

Orania verryk ons wêreld

As Afrikaners beskik ons oor geen publieke ruimte waaraan ons deur ons besluitneming en vaardighede beslag kan gee nie. Dit is Orania se strewe om hierdie leemte vir ons te vul.

Orania poog om ʼn gebied daar te stel waar ons kan besluit hoe dorpe en stede uitgelê moet word, watter publieke infrastruktuur opgerig moet word en hoe dit moet lyk. ʼn Gebied waar ons kan bepaal watter misdade as prioriteitsmisdade beveg behoort te word, waar ons die voertaal en leerplanne van ons skole, tegniese kolleges en universiteite bepaal, waar ons beheer oor die aanwending van ons belastinggeld het en waar ons die regering van die dag tot verantwoording kan roep, of selfs by die stembus kan vervang.

Orania stel vir ons ʼn plek in die vooruitsig waar ons nie verskoning hoef te vra om onsself te wees nie.

Orania neem nie by ons weg nie

Wanneer ʼn nuwe pigment aan die skilderkuns beskikbaar gestel word, doen dit nie afbreek aan bestaande pigmente nie. Dit verminder nie die verskeidenheid van skilderye wat geskilder kan word nie.

Dieselfde geld vir Orania. Afrikaners wat graag iets anders wil doen, wat deel van ʼn multikulturele samelewing wil wees hoef nie hul drome op te gee en na Orania te trek nie. Orania staan nie in Afrikaners se pad wat graag eendag op hul familieplaas wil boer of in hul ouers se besighede wil staan nie. Orania skryf nie eens voor in watter land Afrikaners moet bly nie.

Die groei en ontwikkeling van Orania kan nie Afrikaners se geldige drome en aansprake elders verwater nie.

Orania bied wel vir ons ʼn alternatief indien ons drome nie uitwerk nie, want ongeag wat in die wêreld met ons en ons drome mag gebeur, Orania sal ons altyd verwelkom.

Orania doen nie afbreek aan ander nie

Baie mense wat krities teenoor Afrikaners se verlede staan, dink dalk dat Orania poog om ʼn voortsetting van apartheid te wees; ʼn futiele verlange na ʼn vergane era.

Selfs die toevallige besoeker sal egter baie gou oplet dat daar reuse verskille tussen Orania en die ou Suid-Afrika is. “Blankes” word nie as ʼn groep in Orania erken of beskerm nie. Hier is nie afsonderlike ingange by die winkels of Dorpskantoor vir “blankes” en “nie-blankes” nie. Geen groep word tot permanente onderhorigheid of arbeidersklas gedwing op grond van hul velkleur nie. Elke besoeker word as gelyke ontvang en gerespekteer.

Dat Afrikaners se velkleur wit voorkom, is netsoveel buite ons beheer as dat Xhosas swart voorkom. Ons beweeg verby hierdie sake wat buite ons beheer val en oordeel nie mense op grond van hul velkleur nie maar op grond van hul begeerte om met ons te assosieer, ons kultuur in beskerming te neem en Orania se doelstelling te ondersteun. Orania stel Afrikaners eerste. Ons is baie eerlik daaroor en ons is nie skaam daaroor nie, want ons gun dit ook vir Mnyameni om Xhosas eerste te stel en vir Ulundi om Zoeloes eerste te stel. Ons ondersteun hulle ook in hul strewes waar ons kan en waar ons genooi word.

Orania se strewe en sy aktiwiteite is in lyn met die gees van selfverantwoordelikheid wat selfbeskikking onderlê, ʼn gees wat vandag meer aktueel (en deel van die internasionale hoofstroom) as ooit is, want daar was nog nooit ‘n groter aantal onafhanklike state in die wêreld as juis nou nie.

Om Afrikanerselfbeskikking volgens die doelstellings van Orania te steun is nie in stryd met Suid-Afrika of Suid-Afrikaners nie. Om Suid-Afrika tweede te stel is om aan die moontlikheid van ʼn alternatiewe Suid-Afrika te bou, een wat ruimte bied vir volhoubare verskeidenheid. Verskeidenheid met wedersydse respek en erkenning. Verskeidenheid met die innerlike vermoë om te leef, te groei en te gedy.

Orania is in ons hande om te vorm

Die vraag is nie hoe Orania vandag lyk nie. Dit is nie of ons bereid is om te word soos Orania vandag voorkom nie.

Die vraag is eerder watter impak ons betrokkenheid kan maak op hoe Orania in die toekoms mag lyk.

Dit is waar dat Orania van ʼn baie lae basis moes ontwikkel. Dat Orania nie esteties vergelyk met Sandton, Melrose Arch, Woodhill of Stellenbosch nie. Die dorp en sy infrastruktuur was vervalle toe dit oorgeneem is, terwyl dit vir baie lank onderbenut was en slegs gedeeltelik herstel en onderhou kon word terwyl sy burgery min was.

Tog is Orania se estetiese voorkoms besig om daagliks te verbeter namate al meer ondersteuners betrokke raak. Orania is reeds besig om bo sy onmiddellike bure uit te troon en dit sal net tyd en betrokkenheid verg voordat Orania die juweel van die bo-karoo, ja selfs van die hele Afrikanerwêreld, word.

Orania is ons kind en verdien ons beskerming en versorging. Rome, London en New York is nie in een dag gebou nie. Nie dat hierde stede noodwendig ons rolmodelle is nie.

Hoe weeg dit op?

Orania is vindingryk en verskil drasties van enige alternatief wat deur advokate of politici aan ons gebied word. Orania het die ou Suid-Afrika oorleef. Dit het die Madiba-euforie oorleef. Orania het die NP oorleef. Orania het die AWB en die KP oorleef. Orania is die volhoubare keuse.

Kan ons op jou steun staatmaak? Besoek Orania, gee vrye teuels aan jou verbeelding en besluit self.

My gunsteling aanhalings oor Orania

My gunsteling aanhalings oor Orania

As Orania en die Afrikaner se vryheidstryd maar altyd in jou gedagtes lê, dan kry interessante aanhalings soms nuwe betekenis. Oor die jare het ek ‘n klompie treffende aanhalings raakgelees wat waarhede só raak sê, dat ‘n mens sommer lekkerkry.

Ek wil egter begin met ‘n negatiewe spreuk wat ons onsself so maklik toevoeg: Afrikaners is hardekoppe. Afrikaners kan nie saamwerk nie. As twee Afrikaners op ‘n eiland uitspoel, stig hulle drie politieke partye.

Rêrig? Ek wil eerder sê dat Afrikaners mense is van vaste oortuiging en vaste beginsels. Hulle was nog altyd bereid om op te staan vir die saak waarin hulle glo. Miskien het hierdie eiewysheid hulle juis laat oorleef in uiters moeilike omstandighede, want hulle kon vir hulleself verantwoordelikheid neem.

Het ander volke nie ook hardekoppe nie? Ek kan aan ‘n hele paar vriende van ander kulturele afkoms dink wat maar dieselfde eienskappe het. Hulle kasty hulleself nie daaroor nie en verwys ook nie afbrekend na hulleself nie.

Ek glo dat Afrikaners, net soos ander volke, ook ontwikkel en nuwe vaardighede aanleer. Ja, daar is Afrikaners wat ook op internasionale direksies dien omdat hulle die vermoë het om saam te werk. Ons het tog ook al moderne vaardighede aangeleer. Ons verskil van mekaar, maar ons doen dit darem meestal redelik beskaafd. En, ek is dankbaar dat ons tog steeds beginselvas vir onsself verantwoordelikheid neem.

‘n Besondere gunsteling, reeds van skooldae af, is Ek meneer, jy meneer, wie sal dan die wa smeer?
Dalk was hierdie spreuk spesiaal vir Orania bedoel, want deur die harde politieke werklikheid van Suid-Afrika moes ons leer dat ons ons vryheid prysgegee het deur ander volke ons handearbeid te laat verrig. Dit is so ‘n eenvoudige beginsel wat baie van ons nog steeds sukkel om te verstaan: Arbeiders is altyd die grootste groep in ‘n gemeenskap, dorp, land. Indien arbeiders ‘n ander politieke party ondersteun, is dit die party waarvoor hulle gestem het, wat aan bewind kom en heel moontlik anders regeer as waarvoor jy gehoop het. Deur vreemde arbeid te gebruik het Afrikaners afstand gedoen van hulle regte op onderwys, besteding van belasting, mediese dienste, instandhouding van paaie, openbare vervoer, die polisiediens en alles waaroor daar daagliks gekla word. Daar is maar net een manier waarop Afrikaners weer oor eie sake sal kan besluit: Hulle moet die meerderheid in ‘n geografiese gebied vorm. Ons kan slegs die meerderheid wees as ons hande uit die mou steek en ons vry werk.

Jare gelede, toe ons net in Orania aangekom het, het ons altyd gesê: Orania, hier sit elke siel skouer aan die wiel. Daar aan die begin was dit so waar. Almal het self gewerk, daar was min mense wat gekla het oor probleme met arbeid. Tog, ter wille van ontwikkeling is dit noodsaaklik dat ons ook arbeiders in ons gemeenskap sal hê, maar dit sal jammer wees as ons swart arbeid maar net met wit arbeid vervang sonder dat ons verstaan waarmee ons besig is.

Dit raak al hoe meer die norm dat Oraniërs groter huise begin bou en weer afhanklik raak van hulp in hulle huise . Ek wonder dikwels hoe gesond dit vir ‘n volk is as kinders nie van kleins af leer om hulle eie beddens op te maak, of hulle klere van die vloer af op te tel nie. Wat egter op die ou end vir ons deurslaggewend gaan wees, is in watter mate die skoonmakers en ander arbeiders in die filosofie van Orania glo. As ‘n mens in Orania kom woon omdat jy nêrens anders ‘n heenkome kon vind nie, omdat misdaad en geweld jou weggedryf het, omdat jy nie kon werk kry nie, of omdat jy vir die gereg vlug, gaan jy dalk nie met dieselfde ywer meedoen aan die ideale van Orania nie. Ons moet nou al besef dat die keuses wat ons maak ten opsigte van die grootte van ons huise, die tipe tuine wat ons aanplant en die tipe boerdery wat ons kies, ‘n invloed het op die arbeid wat ons benodig en daarmee saam ons vryheidsideaal beïnvloed.

PK Dick het geskryf: Die werklikheid hou nie op bestaan as jy ophou om daaraan te glo nie. Dit voel soms vir my of baie Afrikaners in totale ontkenning leef van wat in Suid-Afrika om hulle gebeur. Hulle word gekaap, beroof, moet vernedering beleef, Afrikaans word uit universiteite verdryf en korrupsie vier hoogty. Al wat gebeur is dat hulle al hoe meer vasklou aan hulle werk in ‘n gemeenskap waar hulle nie meer tuis voel nie. En daagliks hoop hulle vurig: Laat dit net nie ek wees wat gekaap/geskiet/verkrag word nie.

‘n Goeie gesegde wat nou hierby aansluit, is: Die meeste van ons kan die skrif aan die muur lees. Ons neem net aan dat dit aan iemand anders gerig is (Ivern Ball). Die skrif is elke dag aan die muur in koerante, oor radio en op televisie. Hoe lank gaan ons nog ontken wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur? Hoekom is ons bang om die werklikheid in die oë te kyk en te besluit watter oplossing ons gaan steun en dan aktief daarby betrokke raak? Op die ou end is daar drie keuses: Bly in Suid-Afrika en word geassimileer deur die groter geheel. Dan sal Afrikaners uiteindelik verdwyn. Emigreer – Afrikaners sal dan uiteindelik verdwyn. Kies Orania, die hartland van Afrikaners – kom help om ‘n nuwe tuiste te skep waar Afrikaners kan tuiskom.

Daar is ook diegene wat sê: Julle is so gelukkig, julle kon Orania toe kom. Nee, wil ek antwoord, dit het nie in ons skote geval nie. Ons het ‘N KEUSE GEMAAK. Die meeste van ons het finansieel heelwat prysgegee om in Orania te kom woon. Ons het elders groter huise gehad, luukser voertuie gery, baie meer verdien. Maar ons het ‘n bewustelike keuse gemaak dat Orania die plek is waar ons glo ons toekoms lê. Dink net, as een miljoen Afrikaners in 1991 besluit het om Orania toe te trek, dan het ons ‘n sterk ekonomie gehad, dan kon ons na hartelus werk skep, dan was ons al baie verder op die pad na ons vryheidsideaal. Daarom dat die aanhaling van Willis R Whitney vir my so treffend bly: Sommige mense het ‘n duisend redes waarom hulle nie kan doen wat hulle wil nie. Eintlik het hulle net een rede nodig waarom hulle wél kan.

Orania ‘n gek idee? Die spitsvondige Steve Jobs het op ‘n keer gesê: Die mense wat gek genoeg is om te dink dat hulle die wêreld kan verander, is die mense wat dit regkry. Steen vir steen, huis vir huis, instelling vir instelling is ons in Orania besig om die keuses vir Afrikaners te verander. Hier skep ons ‘n nuwe werklikheid, ‘n werklikheid waarin Afrikaners vry kan wees, ‘n werklikheid waarin Afrikaners tuis kan wees.

En terwyl ons oor gekheid praat, Patrick Holford het gesê: Die definisie van gekheid is om aan te hou om dieselfde te doen en dan ander resultate te verwag. As ‘n mens maar leef soos jy voor 1994 geleef het en glo dat iemand êrens iets gaan doen om alles weer te maak soos dit was, leef jy in ‘n gekkeparadys. As jy steeds dink om vinnig te ontwikkel, moet ons gebruik kan maak van ‘n klomp goedkoop arbeid, hou verby, Orania gaan nie aan jou verwagtinge voldoen nie. Daar is redes hoekom ons dinge op ‘n ander manier doen.

Steve Jobs was dalk ‘n bietjie eksentriek, maar hy het baie dinge gesê waarna ons maar kan luister. Een manier om te onthou wie jy is, is om te onthou wie jou helde is. En ‘n mens kan maar vra: wie is jou held, jou rolmodel? En wie hang jou kinders aan? Kyk na jou helde en weet dat hulle baie sê van wie jy as mens is, wat vir jou die belangrikste is, waar jy bereid is om jou geld te bestee, watter saak jy bevorder.

‘n Gesegde van prof Carel Boshoff wat ons in Orania baie herhaal is. Elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd. Carel Boshoff(iv) het die gedagte uitgebrei met: Hierdie is ons tyd. Ons is die geslag wat bepaalde keuses maak, wat nou nog namens ons jong kinders besluit. Hierdie is ons tyd. Wat sal die geskiedenisboeke van die toekoms sê oor ons, oor wat ons met ons verantwoordelikheid gemaak het? Gaan ons geprys word vir die goeie keuses wat ons gemaak het, of gaan geslagte vorentoe gebuk moet gaan onder die las wat ons gehelp het om te skep? Hierdie is ons tyd.

‘n Persoonlike gunsteling is ‘n uitlating van ons oudste dogter tydens ‘n televisieonderhoud. Sy het gesê: Ek wou altyd graag deel wees van ‘n groot gebeurtenis in die geskiedenis soos Jan van Riebeeck se koms na die Kaap, tot ek besef het in Orania is ons elke dag deel van ‘n wonderlike nuwe geskiedenis. In Orania is ons daagliks besig met oplossings om die toekoms vir onsself en vir ander Afrikaners te verander. Ons is daagliks besig om nuwe keuses vir onsself te skep. Hoe wonderlik is dit om deel te wees van ‘n nuwe hoofstuk in ons Afrikanergeskiedenis.

Terwyl Orania nog broos is, dink ek dikwels aan die woorde van Flip Buys: As iemand van jou verskil is dit nie nodig om van hom ‘n vyand te maak nie. Orania se vriendekring het nog baie ruimte vir groei. As ons die tipiese hardkoppigheid waarna ek hier bo verwys het, inspan om ‘n punt te maak oor hoe sleg/korrup/ onbetroubaar ander groepe is of wie almal terroriste is of wie almal boewe is, trek ons net meer vyandskap op Orania. En wat bereik ons daardeur? Dit gaan nie enige iets aan die werklikheid verander nie. Dit het wel die potensiaal om ons in die toekoms te pootjie. Kom ons benader mense wat van ons verskil net soos ons graag behandel sou wou word deur diegene wat weer van óns verskil. Met tipiese Afrikanerrespek en hoflikheid. Dit sê tog soveel van onsself.

Ten slotte die woorde van John Wooden Dis nie hoe groot jy is nie, dis hoe groot jy speel. Orania speel dikwels ver bo sy grootte. Pak op ‘n piepklein dorpie se begroting staatsfunksies aan, sorg vir sy eie armes, sorg vir uitmuntende onderwys, besit die eerste en grootste Koöperatiewe Bank in Suid-Afrika, hou ‘n eie Orania Karnaval, pak skakeltoere oorsee aan. Dan kan ek maar net afsluit soos die jonges sê: Orania kook!

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel