fbpx

Wie is Orania?

Dit is ‘n vraag wat ek die afgelope tyd al meer vra: Wie is Orania?

As mense sê: “Julle moet…” Dan wil ek weet wie is “julle”? En dan kom die antwoord gewoonlik: “Orania moet..” En as ek dan vra: “Wie is Orania?” is mense gewoonlik verbaas, selfs stomgeslaan. Hoe kan ek dan nou nie weet wie Orania is nie. Ek woon tog bykans negentien jaar hier. Maar ek wil weet, wie dink húlle is Orania. En ek besef dan hulle weet nie. Orania is iets, iemand wat dinge moet doen, of dalk nie vinnig genoeg doen nie, of dalk heeltemal iets anders behoort te doen, dink hulle. Orania is soms amper iets misterieus vir mense.

Die volgende verhaaltjie illustreer die persepsie wat mense oor Orania het dalk baie duidelik: ‘n Ontstelde dame laat weet dat haar suster en dié se man by ‘n kusdorp vakansie gehou het en dat daar ook ‘n meisie van Orania was, en dat dié meisie haar suster se man afgevry het. En toe kom die vraag van haar: “Ek wil weet wat Orania daaraan gaan doen?” Sjoe, sou dieselfde vraag aan iemand in Hopetown gestel word of in Bloemfontein of in New York? Ek vind dit vreemd, uiters vreemd.

Op ‘n ander keer bel ‘n belangstellende vroeg die oggend na die Orania Beweging se kantoor. Dis duidelik dat hy die hele nag lank oor ‘n belangrike saak gedink het en hy wil onmiddellik antwoorde hê. Hy wil eiendom koop en geld belê op Orania, maar wie gaan sy belegging waarborg, want op sy dorp kan hy soveel verdien en elders soveel, maar hy wil nie ‘n kans vat op Orania as hy dalk alles kan verloor nie. Orania moet vir hom die waarborg gee voordat hy sy geld bring. “Wie is Orania, Meneer?” vra ek toe met ‘n suikerstem.

Die man dink ek skeer die gek met hom, maar ek hou vol. “Wie is Orania, Meneer?” En hy raak effe ongemaklik met my wat so vroeg in die oggend so moedswillig kan wees. Maar dit werk, want na ‘n rukkie vra hy: “ Nee, sê maar vir my wie Orania is.” Ek is nie moedswillig nie, ek wil bloot bitter graag verstaan hoe mense dink.

“Orania, Meneer, is ‘n klein handjievol mense wat in ‘n gemeenskaplike saak geglo het en besluit het om alles wat hulle het by te dra tot die saak waarin hulle glo. Sonder waarborge. Hulle het gekom om te gee, nie om te kry nie. En dit is waarskynlik een van die hoofredes waarom Orania suksesvol is, omdat mense onbaatsugtig ‘n bydrae lewer en daagliks stoei met vraagstukke waarvoor daar eenvoudig oplossings gevind móét word. Want ons werk aan ‘n saak groter as onsself. En niemand het vir ons waarborge gegee nie.” Dis lank stil aan die ander kant van die telefoon. O, hy het nie só daaraan gedink nie. Maar hy kan nie ‘n kans waag met sy geld nie. Ek het nie weer van hom gehoor nie.

Ek is regtig nie moedswillig as ek die vraag vra nie, ek wil vreeslik graag hê dat mense ‘n slag daaroor moet dink.

Nog ‘n geykte gesegde wat ons dikwels hoor is: “Is daar rêrig so baie kerke op Orania?” Mense is stomverbaas as hulle hoor dat hier meer as een kerkdenominasie op Orania is. Ons behoort, volgens die persepsie ‘n eenkerk-, eenskool-, eenbankgemeenskap te wees. Geen keuses behoort toegelaat te word nie. “Nee, Meneer. Ons gee graag keuses. Om die waarheid te sê, ons bevorder graag vryheid van keuse. En mag ek vra: Hoeveel kerke is op jou dorp, Meneer? Het jy al getel? Wéét jy ooit van al die verskillende denominasies wat daar in jou dorp is? Want die kerke het nie hier by ons ontstaan nie, hulle kom van julle af!”

En jy? Sê jy ook dalk: “Julle moet..”? Dan wil ek vandag vra: wil jy nie asseblief maar kom help nie? Hier is baie werk wat gedoen moet word en dit is dringend. Ek onthou nog so goed die dag toe prof Carel Boshoff tydens Orania Beweging se twintigste verjaardag gesê het: “My volk is terminaal siek.” Dit het my aan die hart geruk. Die tyd is nou. Daar is nog hoop, daar is nog iets wat gedoen kan word om vir Afrikaners ‘n blyplekkie in ons lieflike Afrika te verseker. ‘n Plek waar hulle sal tuisvoel en tuishoort. Maar die tyd is nou.

Ek lees dikwels van buitelandse universiteite wat projekte borg in townships. Dit is groepe wat navorsing doen om te kyk watter omstandighede hulle in townships kan verbeter. Daar word kunsprojekte aangepak, sosiaal-maatskaplike dienste gelewer, krieketafrigting gegee, konserte gehou, strate gemaak, mediese versorging aangebied, saam gebou aan bekostigbare behuising, ekonomiese inspuitings gegee. Die lys is eindeloos. Kan jy nie dalk ook ‘n bydrae hier kom lewer nie? Dalk tydens jou volgende vakansie? Wat is jou kundigheid? Hoe lyk die span wat jy kan saambring om Orania vinniger gereed te maak sodat jou nageslag hier kan nesskop? Het jy al in die Groeifonds belê? Dra jy by tot die Helpsaamfonds? Wat kan jy fisies kom doen? Watter projek kan jy identifiseer wat ons dalk nie meer raaksien nie omdat ons al aan die probleem gewoond geraak het? Kom bespreek dit met ons. Ons hoor regtig graag van jou voorstelle en oplossings. Maar kom om van jouself te gee. Kom word deel van die oplossing.

Wie is Orania? Ons gaan die vraag nog dikwels vra. Maar jy kan nou kom help om inhoud aan die antwoord te gee. Jy kan nou ‘n bydrae lewer tot wat Orania sal word. ‘n Nuwe identiteit vir ‘n volk wat vryheid kies.

NOU.

My gunsteling aanhalings oor Orania

My gunsteling aanhalings oor Orania

As Orania en die Afrikaner se vryheidstryd maar altyd in jou gedagtes lê, dan kry interessante aanhalings soms nuwe betekenis. Oor die jare het ek ‘n klompie treffende aanhalings raakgelees wat waarhede só raak sê, dat ‘n mens sommer lekkerkry.

Ek wil egter begin met ‘n negatiewe spreuk wat ons onsself so maklik toevoeg: Afrikaners is hardekoppe. Afrikaners kan nie saamwerk nie. As twee Afrikaners op ‘n eiland uitspoel, stig hulle drie politieke partye.

Rêrig? Ek wil eerder sê dat Afrikaners mense is van vaste oortuiging en vaste beginsels. Hulle was nog altyd bereid om op te staan vir die saak waarin hulle glo. Miskien het hierdie eiewysheid hulle juis laat oorleef in uiters moeilike omstandighede, want hulle kon vir hulleself verantwoordelikheid neem.

Het ander volke nie ook hardekoppe nie? Ek kan aan ‘n hele paar vriende van ander kulturele afkoms dink wat maar dieselfde eienskappe het. Hulle kasty hulleself nie daaroor nie en verwys ook nie afbrekend na hulleself nie.

Ek glo dat Afrikaners, net soos ander volke, ook ontwikkel en nuwe vaardighede aanleer. Ja, daar is Afrikaners wat ook op internasionale direksies dien omdat hulle die vermoë het om saam te werk. Ons het tog ook al moderne vaardighede aangeleer. Ons verskil van mekaar, maar ons doen dit darem meestal redelik beskaafd. En, ek is dankbaar dat ons tog steeds beginselvas vir onsself verantwoordelikheid neem.

‘n Besondere gunsteling, reeds van skooldae af, is Ek meneer, jy meneer, wie sal dan die wa smeer?
Dalk was hierdie spreuk spesiaal vir Orania bedoel, want deur die harde politieke werklikheid van Suid-Afrika moes ons leer dat ons ons vryheid prysgegee het deur ander volke ons handearbeid te laat verrig. Dit is so ‘n eenvoudige beginsel wat baie van ons nog steeds sukkel om te verstaan: Arbeiders is altyd die grootste groep in ‘n gemeenskap, dorp, land. Indien arbeiders ‘n ander politieke party ondersteun, is dit die party waarvoor hulle gestem het, wat aan bewind kom en heel moontlik anders regeer as waarvoor jy gehoop het. Deur vreemde arbeid te gebruik het Afrikaners afstand gedoen van hulle regte op onderwys, besteding van belasting, mediese dienste, instandhouding van paaie, openbare vervoer, die polisiediens en alles waaroor daar daagliks gekla word. Daar is maar net een manier waarop Afrikaners weer oor eie sake sal kan besluit: Hulle moet die meerderheid in ‘n geografiese gebied vorm. Ons kan slegs die meerderheid wees as ons hande uit die mou steek en ons vry werk.

Jare gelede, toe ons net in Orania aangekom het, het ons altyd gesê: Orania, hier sit elke siel skouer aan die wiel. Daar aan die begin was dit so waar. Almal het self gewerk, daar was min mense wat gekla het oor probleme met arbeid. Tog, ter wille van ontwikkeling is dit noodsaaklik dat ons ook arbeiders in ons gemeenskap sal hê, maar dit sal jammer wees as ons swart arbeid maar net met wit arbeid vervang sonder dat ons verstaan waarmee ons besig is.

Dit raak al hoe meer die norm dat Oraniërs groter huise begin bou en weer afhanklik raak van hulp in hulle huise . Ek wonder dikwels hoe gesond dit vir ‘n volk is as kinders nie van kleins af leer om hulle eie beddens op te maak, of hulle klere van die vloer af op te tel nie. Wat egter op die ou end vir ons deurslaggewend gaan wees, is in watter mate die skoonmakers en ander arbeiders in die filosofie van Orania glo. As ‘n mens in Orania kom woon omdat jy nêrens anders ‘n heenkome kon vind nie, omdat misdaad en geweld jou weggedryf het, omdat jy nie kon werk kry nie, of omdat jy vir die gereg vlug, gaan jy dalk nie met dieselfde ywer meedoen aan die ideale van Orania nie. Ons moet nou al besef dat die keuses wat ons maak ten opsigte van die grootte van ons huise, die tipe tuine wat ons aanplant en die tipe boerdery wat ons kies, ‘n invloed het op die arbeid wat ons benodig en daarmee saam ons vryheidsideaal beïnvloed.

PK Dick het geskryf: Die werklikheid hou nie op bestaan as jy ophou om daaraan te glo nie. Dit voel soms vir my of baie Afrikaners in totale ontkenning leef van wat in Suid-Afrika om hulle gebeur. Hulle word gekaap, beroof, moet vernedering beleef, Afrikaans word uit universiteite verdryf en korrupsie vier hoogty. Al wat gebeur is dat hulle al hoe meer vasklou aan hulle werk in ‘n gemeenskap waar hulle nie meer tuis voel nie. En daagliks hoop hulle vurig: Laat dit net nie ek wees wat gekaap/geskiet/verkrag word nie.

‘n Goeie gesegde wat nou hierby aansluit, is: Die meeste van ons kan die skrif aan die muur lees. Ons neem net aan dat dit aan iemand anders gerig is (Ivern Ball). Die skrif is elke dag aan die muur in koerante, oor radio en op televisie. Hoe lank gaan ons nog ontken wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur? Hoekom is ons bang om die werklikheid in die oë te kyk en te besluit watter oplossing ons gaan steun en dan aktief daarby betrokke raak? Op die ou end is daar drie keuses: Bly in Suid-Afrika en word geassimileer deur die groter geheel. Dan sal Afrikaners uiteindelik verdwyn. Emigreer – Afrikaners sal dan uiteindelik verdwyn. Kies Orania, die hartland van Afrikaners – kom help om ‘n nuwe tuiste te skep waar Afrikaners kan tuiskom.

Daar is ook diegene wat sê: Julle is so gelukkig, julle kon Orania toe kom. Nee, wil ek antwoord, dit het nie in ons skote geval nie. Ons het ‘N KEUSE GEMAAK. Die meeste van ons het finansieel heelwat prysgegee om in Orania te kom woon. Ons het elders groter huise gehad, luukser voertuie gery, baie meer verdien. Maar ons het ‘n bewustelike keuse gemaak dat Orania die plek is waar ons glo ons toekoms lê. Dink net, as een miljoen Afrikaners in 1991 besluit het om Orania toe te trek, dan het ons ‘n sterk ekonomie gehad, dan kon ons na hartelus werk skep, dan was ons al baie verder op die pad na ons vryheidsideaal. Daarom dat die aanhaling van Willis R Whitney vir my so treffend bly: Sommige mense het ‘n duisend redes waarom hulle nie kan doen wat hulle wil nie. Eintlik het hulle net een rede nodig waarom hulle wél kan.

Orania ‘n gek idee? Die spitsvondige Steve Jobs het op ‘n keer gesê: Die mense wat gek genoeg is om te dink dat hulle die wêreld kan verander, is die mense wat dit regkry. Steen vir steen, huis vir huis, instelling vir instelling is ons in Orania besig om die keuses vir Afrikaners te verander. Hier skep ons ‘n nuwe werklikheid, ‘n werklikheid waarin Afrikaners vry kan wees, ‘n werklikheid waarin Afrikaners tuis kan wees.

En terwyl ons oor gekheid praat, Patrick Holford het gesê: Die definisie van gekheid is om aan te hou om dieselfde te doen en dan ander resultate te verwag. As ‘n mens maar leef soos jy voor 1994 geleef het en glo dat iemand êrens iets gaan doen om alles weer te maak soos dit was, leef jy in ‘n gekkeparadys. As jy steeds dink om vinnig te ontwikkel, moet ons gebruik kan maak van ‘n klomp goedkoop arbeid, hou verby, Orania gaan nie aan jou verwagtinge voldoen nie. Daar is redes hoekom ons dinge op ‘n ander manier doen.

Steve Jobs was dalk ‘n bietjie eksentriek, maar hy het baie dinge gesê waarna ons maar kan luister. Een manier om te onthou wie jy is, is om te onthou wie jou helde is. En ‘n mens kan maar vra: wie is jou held, jou rolmodel? En wie hang jou kinders aan? Kyk na jou helde en weet dat hulle baie sê van wie jy as mens is, wat vir jou die belangrikste is, waar jy bereid is om jou geld te bestee, watter saak jy bevorder.

‘n Gesegde van prof Carel Boshoff wat ons in Orania baie herhaal is. Elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd. Carel Boshoff(iv) het die gedagte uitgebrei met: Hierdie is ons tyd. Ons is die geslag wat bepaalde keuses maak, wat nou nog namens ons jong kinders besluit. Hierdie is ons tyd. Wat sal die geskiedenisboeke van die toekoms sê oor ons, oor wat ons met ons verantwoordelikheid gemaak het? Gaan ons geprys word vir die goeie keuses wat ons gemaak het, of gaan geslagte vorentoe gebuk moet gaan onder die las wat ons gehelp het om te skep? Hierdie is ons tyd.

‘n Persoonlike gunsteling is ‘n uitlating van ons oudste dogter tydens ‘n televisieonderhoud. Sy het gesê: Ek wou altyd graag deel wees van ‘n groot gebeurtenis in die geskiedenis soos Jan van Riebeeck se koms na die Kaap, tot ek besef het in Orania is ons elke dag deel van ‘n wonderlike nuwe geskiedenis. In Orania is ons daagliks besig met oplossings om die toekoms vir onsself en vir ander Afrikaners te verander. Ons is daagliks besig om nuwe keuses vir onsself te skep. Hoe wonderlik is dit om deel te wees van ‘n nuwe hoofstuk in ons Afrikanergeskiedenis.

Terwyl Orania nog broos is, dink ek dikwels aan die woorde van Flip Buys: As iemand van jou verskil is dit nie nodig om van hom ‘n vyand te maak nie. Orania se vriendekring het nog baie ruimte vir groei. As ons die tipiese hardkoppigheid waarna ek hier bo verwys het, inspan om ‘n punt te maak oor hoe sleg/korrup/ onbetroubaar ander groepe is of wie almal terroriste is of wie almal boewe is, trek ons net meer vyandskap op Orania. En wat bereik ons daardeur? Dit gaan nie enige iets aan die werklikheid verander nie. Dit het wel die potensiaal om ons in die toekoms te pootjie. Kom ons benader mense wat van ons verskil net soos ons graag behandel sou wou word deur diegene wat weer van óns verskil. Met tipiese Afrikanerrespek en hoflikheid. Dit sê tog soveel van onsself.

Ten slotte die woorde van John Wooden Dis nie hoe groot jy is nie, dis hoe groot jy speel. Orania speel dikwels ver bo sy grootte. Pak op ‘n piepklein dorpie se begroting staatsfunksies aan, sorg vir sy eie armes, sorg vir uitmuntende onderwys, besit die eerste en grootste Koöperatiewe Bank in Suid-Afrika, hou ‘n eie Orania Karnaval, pak skakeltoere oorsee aan. Dan kan ek maar net afsluit soos die jonges sê: Orania kook!